About the Author(s)


Pieter Verster Email symbol
Department of Practical and Missional Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Verster, P., 2023, ‘Voorbeskikking, goed en kwaad, menslike verantwoordelikheid, en die sending’, In die Skriflig 57(1), a2986. https://doi.org/10.4102/ids.v57i1.2986

Original Research

Voorbeskikking, goed en kwaad, menslike verantwoordelikheid, en die sending

Pieter Verster

Received: 17 May 2023; Accepted: 25 Aug. 2023; Published: 13 Nov. 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Predestination, good and evil, human responsibility, and mission. The background of this article is the challenge that Paul deals with in Romans, namely predestination and the reference to good and evil in theology. It seems as if God ordained good and evil. God is, however, holy and totally good. Sources by Augustine, Calvin, Weaver, Van de Beek and others highlight the questions in this regard. The central implications of the cross of Jesus, as well as the issue of human responsibility are extremely relevant in this regard. The objectives are to give a sound theological evaluation of the question of good and evil from the perspective of reformed theology in interaction with Scripture. Interaction with Scripture and theologians leads to a literature study and thereafter exegetical, hermeneutical and systematic theology issues are addressed. The results established that different positions are taken, but God is just and not the author of sin. This implicates a clear view on mission: reject sin and turn to God. The conclusions are: God is holy, but all mankind should reject evil and accept that God is the fountian of good. Mission is the act of the Triune God (missio Dei) in Jesus Christ, through the Holy Spirit, to lead sinners from darkness to God. The good in Jesus Christ, by his death on the cross and in his resurrection, overcame evil.

Contribution: The article illuminates the issue of good and evil in a new way and offers insight into its significance for the mission. This has significance for the current missiological engagement.

Keywords: good; evil; election; predestination; human responsibility; theological tradition; God’s rule; the cross; Jesus Christ; mission.

Inleiding

’n Teologiese benadering van voorbeskikking, menslike verantwoordelikheid en die implikasies daarvan in die verhouding tussen goed en kwaad is nodig, omdat dit dikwels onduidelik is wat hierdie verhouding behels. ’n Teologiese benadering dui op ’n spesifieke begrip van God en God se ingrepe in die wêreld en dit word met die Christelike Godsbeskouing in verband gebring. Die mens word met die werklikheid, waarin sowel goed as kwaad voorkom, gekonfronteer. Die vraag moet gevra word hoe goed en kwaad beskik word en of God dit self alles voorbeskik het. Die menslike verantwoordelikheid is in hierdie verband van groot belang. Die etiese oordeel hang saam met die vraag na die algemene goeie, en word dikwels selfs deur ateïste gebruik om aan te dui wat reg en verkeerd is. Vanuit die teologie word die etiese met God se geregtigheid in verband gebring. Wat is die teologiese verantwoording van die vraag na goed en kwaad?

Interaksie met die Nuwe Testament en verskeie teoloë oor voorbeskikking

Vanuit ’n bepaalde gereformeerde benadering, naamlik met erkenning aan die reformatoriese teoloë en die belydenisskrifte van die Reformasie, kan teologiese perspektiewe op die voorgrond geplaas word. Daar moet egter ook met teoloë self hieroor in gesprek getree word. Daar moet besin word oor die kompleksiteit van goed en kwaad. Die mens word met soveel kwaad in die wêreld gekonfronteer dat die bestuur van God juis ook bevraagteken word. Daar word bely dat God goed is en dat God liefde is, maar dit is soms nie werklik sigbaar nie. Daarom is ʼn diepgaande besinning daaroor nodig.

Perspektiewe vanuit Romeine

Veral die brief aan die Romeine hanteer die vraagstuk van voorbeskikking en menslike verantwoordelikheid, en die vraag na goed en kwaad op ’n baie spesifieke wyse (Rom 2):

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. (vv. 1–2)

Dit hang saam met gedeeltes in Romeine 9 waar Paulus oor die verhouding tussen die gelowiges en die Joodse volk skryf, en hy dan uiteindelik sê dat die pottebakker klei kan gebruik om vir hom ’n mooi pot te maak, of die klei kan weggewerp word. God kan dus besluit wie aan Hom behoort en wie verwerp moet word. God verhard wie Hy wil, en aanvaar wie Hy wil (Rom 9):

In die Skrif sê God immers vir die farao: ‘Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word’. Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil. Nou sal jy vir my sê: ‘Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?’ Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’ Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? (vv. 17–21)

Dit skep natuurlik diepgaande probleme rondom die vraagstuk van die eie vrye wil en die verantwoordelikheid van die mens. Kan die mens dan nog verantwoordelik gehou word hy sondig?

Die benadering van Paulus is deur verskeie kommentators en teoloë ondersoek. Die klassieke kommentaar van Nygren ([1944] 1975) is in dié verband belangrik. Hy toon aan dat die geregtigheid van God alleen deur die geloof kom en dat geen mens hom of haar kan verontskuldig nie (Rom 1). Paulus, as wetgeleerde, het maar al te goed besef dat sy redding uit genade alleen is. In Romeine 5 word die liefde van God vir die sondaar, wat self op geen manier daarop kan aanspraak maak nie, beskryf. Nygren ([1944] 1975) skryf na aanleiding van Romeine 9:1–11, dat Paulus bevestig:

Against all who would call God to account, it is enough for him to recall that God is God and they are men. Every theodicy is a blasphemy. To attempt to defend God’s action is to attack Him in His deity. (p. 255)

Van groot belang in Romeine 9 is die vraag of goed en kwaad deur God beskik word. Daarmee saam hang die vraag na die uitverkiesing, en of God die verlossing én die verwerping van die mens so beskik dat hulle self daarin ’n beperkte rol speel. Dit is veral Calvyn se verstaan van Romeine 9 wat deeglik beskou word. White (2006:37) verwys na God se oneindige genade en meen dat Calvyn die teks uit Eksodus 33:19 verkeerd interpreteer om dit daardeur deterministies te verstaan (White 2006:42). Daar word ook na Augustinus se verstaan verwys, wat naamlik bepaal dat die mens reeds die mens reeds oor die vermoë beskik om goed of kwaad te doen (Roach 2008:133). Die verharding van Farao se hart word ook as God se ewige raadsbesluit beskou (Beale 1984:153). Daar is egter diegene wat meen dat dit nie die genade van God onderspeel nie (Ryliškytė 2019:92). God se doel om sommige tot geloof te bring, word bevestig (Venema 2015:52; kyk ook Taylor 2013:40). Schreiner (2006:373) verwys na die volheid van God se genade in sy nuwe verbond om te red en te verlos. Rakocy (2010) verwys samevattend soos volg daarna:

Due to this, the promise made to Abraham and his descendants is tied by the apostle with Christ, meaning that the descendant of Abraham is Christ. Why? The promise made to Abraham is fulfilled in Christ, neither in the choosing of Israel nor in giving him the Law. As it is fulfilled in Christ, it concerns salvation regarding the whole humanity. God’s including all of humanity into the plan of salvation already in the covenant with Abraham is precedent in respect to the choice of ethnic Israel. God’s election, being a saving reality, stands above the choice of ethnic Israel, and the election of the biblical remnant constitutes a component part of election as inclusion of all peoples in the universal plan of salvation. From the very beginning, the dominating category was the category of salvation. In this way, from the very dawn of creation, God’s work included all of mankind in His salvific plan. (p. 44)

In hierde verband moet dus aangedui word dat God oor die bestaan van die mens heers, dat God goed en kwaad in diens neem, en dat God oor verlossing beskik. God beskik ook oor die kwaad sonder om self die kwaad te doen. God is verhewe bo alles, maar Hy beskik oor mense se optrede. God is nooit die outeur van die sonde nie. Die toekoms is in God se hande. God se beskikking is tot die heil van mense.

Mense se optrede van goed en kwaad en God se voorbeskikking

Moraliteit in menslike verband is anders as die moraliteit van God, wat gans anders optree (Pavelich 2019:685).

Aangaande hierdie saak het daar in die teologie ernstige vrae na vore gekom. Die kruis van Jesus Christus, waaraan Hy as Christus sterf en die sonde van die wêreld wegneem, word op verskeie punte bevraagteken. Dit is veral die Christus Victor-beweging van die laat 20ste eeu en wat geweldloosheid beklemtoon het, wat vra of God dan nie onbarmhartig teenoor sy eie Seun is nie. Weaver (2001:21–24) staan die geweldlose versoening voor. God self het nie die dood van sy Seun gevra soos Anselmus aandui nie, maar die bose strukture van die wêreld waarin God misken word, het tot die dood van Jesus Christus gelei. God self is geweldloos in Jesus Christus. Ons, en nie God nie, is skuldig aan die dood van Jesus (Weaver 2001:215).

Vir Van de Beek (2018b:11–20) is dit van besondere belang om te beklemtoon dat God uiteindelik vanuit sy Godheid die wêreld bestuur, en dat die kruis sentraal daarin staan. So openbaar God Hom in die wêreld. Aan die kruis is God teenwoordig; daar dra God die werklikheid, die wêreld en die mense se nood en angs.

Van de Beek (2018a:152) is ook van mening dat die Christelike geloof ’n geloof van die lewe is, want die dood is in Christus se opstanding oorwin. Die dood is iets van die verlede. Daarom mag daar ook nie doodgemaak word nie. Menslike verantwoordelikheid is juis om die lewe te bewaar. Selfs militêre optrede waarin lewens geneem word, is vir Van de Beek onaanvaarbaar.

Die menslike verantwoordelikheid word deur God in die kruis en in die verlossing in Jesus Christus opgeneem. Van de Beek (2018b) vat sy standpunt soos volg saam:

God gaat nog verder met zijn geschiedenis met mensen. Mensen worden in de geschiedenis van Jezus, die de geschiedenis van God is, betrokken, in zijn kruis en zijn opwekking, in zijn dood en zijn verrijzenis. Dat is de geschiedenis van de Geest van God en de kerk. God is nogmaals gekomen, na zijn lijfelike aanwezigheid in Christus. Hij is gekomen om te wonen in mensen, om hen met heel hun leven deel te laten hebben aan zijn geschiedenis, de geschiedenis van Jezus, leden te worden van zijn lichaam, met Hem gestorven, met hem opgewekt. (p. 61)

Die beklemtoning van die kruis bied inderdaad ’n antwoord op die indringende vraag na goed en kwaad. Per slot van rekening kan mens slegs in die kruis God se bestuur van die wêreld verstaan.

Historiese ontwikkelings van die morele vraag

Augustinus (s.j.:244e.v.) het hierdie vraag ten diepste ondersoek. Teenoor die vryheid van die mens en sy selfbeslissing het Augustinus die verantwoordelikheid van die mens in die sonde vasgepen. Hy het gesê dat die mens die radikale genade van God nodig het. Hy leer dat die sonde, vanweë die erfsonde, inderdaad ook by suigelinge voorkom (Augustinus s.j.:15). Die mens kan nie vanuit eie krag sy verlossing bereik nie. Hy stel die verlossing, wat direk van God kom, en die genade in Christus Jesus, voor.

Majawa (2017) skryf:

St. Augustine sees human nature as deeply wounded, corrupted, disordered, changed, mutable, given to concupiscence, born guilty and selfish and fallen from Grace as a result of Adam’s first sin. As a direct result of Original sin, the human race is in damnation, utterly incapable of saving itself, yet not without hope. (p. 68)

Puffer (2017:74) wys egter daarop dat Augustinus nie van mening is dat die beeld van God in die mens totaal verlore gegaan het nie, maar dat dit slegs versluier is. Die mens, alhoewel totaal in sonde gedompel, is nog steeds ’n verantwoordelike wese. Daarmee kan inderdaad saamgestem word.

Pârvan (2017:492) wys ook daarop dat Augustinus die oordeel van God bevestig. Die verlossing vind dus nie deur die mens se eie gedagte, of die mens se eie beweging plaas nie, maar kom alleen deur die genade wat van God kom, en wat in God self na vore kom. Die genade word in die kruis van Christus na vore gebring, asook in sy opstanding. Augustinus (s.j.:129) wil baie sterk beklemtoon dat die skuld, die unde malum, nooit kan beteken dat God die skuld vir die sonde van die wêreld dra nie. Aan die ander kant wil hy beklemtoon dat daar nie ’n vrye keuse is om vir of teen God te kies nie, maar dat dit ten diepste in ’n verhouding met God na vore kom (Augustinus s.j.:135). Augustinus (s.j.:) vat die Middelaarsrol van Christus soos volg saam:

… Christus Jezus, is verschenen tusschen de sterfelijke zondaren en den onsterfelijken Rechtvaardige, sterfelijk met de menschen, rechtvaardig met God, opdat, daar de bezoldiging der rechtvaardigheid het leven en de vrede is, Hij door de met God verbonden rechtvaardigheid, zou te niet doen den dood, dood der gerechtvaardigde goddeloozen, dien Hij met hen gemeen wilde hebben. (p. 245)

In die Reformasie het hierdie groot vraagstuk, veral by Calvyn sterk na vore getree. Volgens Calvyn is ware selfkennis noodsaaklik. Hy sluit hom af van filosowe wat ook selfkennis bevorder omdat daardie selfkennis tot hoogmoed lei. Ware selfkennis volgens die Skrif, lei volgens Calvyn (a & b,1,2,1:239 e.v.) tot selfondersoek en die besef dat die mens niks het om op te roem nie, maar dat die mens volledig sondig is. Calvyn (a & b, 1, 2, 111:254e.v.) was ook van mening dat die mens die vrye wil opgeoffer het in die daad van sonde, en dat die sonde die mens se vrye wil weggeneem het. Die mens het eintlik net een wil, naamlik om afgode te maak en om sonde te doen. Daardie wil is wesenlik in die sondegevalle mens. Die vraag is dan of die mens inderdaad verantwoordelik kan optree en of die mens vir sy dade verantwoordelik gehou kan word. Die mens is besmet met die sonde en kan eintlik nie uit die sonde kom nie, tensy daar deur die wonderbare genade van God verlossing vir die mens kom (Calvyn a & b, 1, 2, vg1:354e.v.). Die sonde van die aartsvader, Adam, het weens die erfsonde gevolge vir almal wat ná hom gekom het. Calvyn maak dit egter duidelik dat die mens nie vir Adam se sonde gestraf word nie, maar vir sy eie en daarom bly die mens ’n verantwoordelike wese. Die sonde is egter wel sedert Adam se oortreding noodwendig. Dit word ook nie deur navolging van Adam bevestig nie, maar weens die staat van sonde van die hele mensdom daarna. God se voorbeskikking is dus die wyse waarop die verlossing plaasvind, wanneer die verlossing in Christus, wat aan die kruis gesterf het, slegs deur die genade van God aan mense toegeken word (Calvyn a & b, 2, 3, xx1:463e.v.). God se besluit is regverdig, maar ook finaal. Miller (2018) skryf hieroor:

On Calvin’s account, even the most obstinate and sinful creature ‒ Satan himself ‒ can be described as God’s Satan. This is because even as Satan seeks to destroy and corrupt God’s creation, nothing he does falls outside of the bounds of God’s will. God’s most vociferous enemies are still his servants. (p. 124)

Beteken dit dat Calvyn deterministies is? Miller (2018) skryf in hierdie verband:

One might falsely conclude that Calvin is a determinist as defined by Greek philosophy. However, Calvin accentuates his doctrine of providence with the view that man is fully responsible for his actions. Further, man is free to do what he desires to do. That is, Calvin’s understanding of free will is not libertarian. Instead, free will is defined and bordered by God’s providence. Included in this providence is the fact that man acts as he pleases. (p. 125)

Miller is inderdaad korrek, en Calvyn is veel meer evangelies as wat vermoed word en minder deterministies. Hawkes (2020) beklemtoon juis dat Calvyn God se liefde radikaal bevestig. Daardie liefde is vir almal sigbaar. Nie alleen is God se liefde in die skepping sigbaar nie, maar ook in sy Seun deur die Heilige Gees:

Calvin, knowing that it was God’s love which served as the magnetic force attracting us to God and moving us forward in holiness, never failed to emphasize God’s love, even as he often contrasted it with the wrath humanity rightly deserves. From this study we may draw a single simple conclusion: Calvin may well be called the prophet of God’s love. (p. 60)

Beach (2017:28–29) toon ook aan dat Calvyn tog van God se sorg praat, asook bewaring en goedheid teenoor alle mense. God toon sy liefde aan almal, hoewel anders aan die ongelowiges as aan die uitverkorenes. Daarom bly die mens steeds ’n verantwoordelike wese. Die mens het egter niks om daarop voor God te roem nie en die verlossing is totaal uit genade (Smith 2017:261). Alle eer kom God toe.

Hancock (2016:322) wys egter daarop dat Calvyn inderdaad leer dat die hele mensdom totaal verdorwe is. Die mens kan nie self uit die ellende kom nie. Die sonde is volledig. In die lig hiervan is daar by hom geen verontskuldiging nie.

Nuwe ontwikkeling in die vraag na goed en kwaad

Wanneer ander teoloë hieroor nadink, is daar wel ʼn verskil in mening; ook by Barth, wat meen dat die mens se eie godsdienstigheid sonde is en dat ’n mens alleen deur die genade van God gered kan word. Die oordeel van God is die oordeel waaronder ons staan omdat ons nie die Regter, naamlik God self, liefhet nie (Barth 1972:42). Ons verhouding met God is deel van ons goddeloosheid (Barth 1972:44). Die radikale vrye genade wat ook universeel uitgestort word, beteken dat daar ’n universele benadering van heil by Bart (1972:93) is, wat volledig in Christus gevind kan word. Barth (1972) skryf verder:

The righteousness of God is the action which sets free the truth that we have imprisoned (i, 18), and which is wholly independent of every attempt, or imaginable attempt, that we could make to achieve liberty. The righteousness of God is therefore the sovereign and regal display of the power of God: it is the miracle of resurrection. (pp. 93–94)

Dit beteken dat ook die persoon wat in totale sonde val en ’n totale oordeel oor homself bring, deur God en sy genade gered kan word en die vryheid kan ervaar. God se genade is ’n genade van radikale versoening, sodat daar in die opstanding van Christus vryheid kom om God se ja vir alle mense uit te spreek, sodat mense in Christus dan die volledige ja van God kan beleef.

Latere teoloë het die klem van die verantwoordelikheid van die mens in die sonde voor God, verskuif na die verantwoordelikheid van die mens in strukturele onreg. Die skuif is vergestalt deur Moltmann (kyk Weiland 1971:87–89 en ook deur Guttierez 1974:144 e.v.), wat vra dat ’n mens verantwoordelik voor God moet lewe. Die sonde lê nie soseer in die persoonlike sonde voor God nie, maar dit lê in die groot onreg wat gepleeg word deurdat die mens onreg teenoor ander pleeg. Die mens wat onreg ontvang, word dus as ’t ware die mens teen wie gesondig word, en die geregtigheid van God word dus iets anders. Die geregtigheid van God in Jesus Christus is die reg van die swakke, die verontregte, die lydende. Dit beteken ook dat die kruis heeltemal anders verstaan word. Die reg van die mens lê nie daarin dat Christus die oordeel van God gedra het nie, maar daarin dat mense onderling opgeroep word om Christus na te volg, en die geregtigheid kan in navolging van Christus gevind word. Dit hang saam met die benadering van Abelardus, wat gesê het dat dit in die verlossing oor die navolging van Christus gaan. ’n Mens sou Christus kon navolg en dan uiteindelik so die verlossing verkry (cf. Heick 1973:268e.v.).

Vir die nuwer geslag teoloë is die groot vraag of ons God nog op so ‘n wyse kan verstaan, naamlik dat Hy die sonde oordeel en dat die geregtigheid gevind kan word in die dood van sy Seun aan die kruis.

Wat is nou die antwoord op die vraag na die bestuur van God in Christus self? Verskillende teoloë het bepaalde perspektiewe oor hoe Christus self sy lewe oorgee, en ook oor hul begrip van die wyse waarop dit plaasvind. Die mens het skuld aan die menslike toestand van sonde, maar die individu se ellende bly ’n groot vraagstuk. Vanuit die gereformeerde tradisie kan alleen maar saam met Van de Beek na die kruis verwys word. Die menslike verantwoordelikheid word nie weggeneem nie.

Goed en kwaad en menslike verantwoordelikheid in sendingwerk

Sendingwerk is tans sterk onder verdenking, veral wanneer die uiteinde van sendingwerk verstaan word as die bekering van die persoon tot Christus en die wegbeweeg vanaf sy vorige godsdiens. Iemand soos Tutu (2011:14–18) is van mening dat geen godsdiens alleen die waarheid kan dien nie, en dat sendingwerk veel eerder verstaan moet word as die gesamentlike stryd teen onreg. Geregtigheid moet nagejaag word en in die sendingwerk kan daar gesamentlik met ander godsdienste gestry word. Bosch (1991:409–420) laat egter die moontlikheid tot evangelisasie oop, wanneer hy die elemente van die nuwe paradigma van ekumeniese sending bespreek. Bevans en Schroeder (2006:317e.v. en 353e.v.), in hulle soeke na konstantes in hierdie konteks, beskou die soeke na geregtigheid as belangrik vir sendingwerk, maar erken ook dat die verkondiging van die evangelie tot redding van baie, essensieel is. Kritzinger (2011:32–59) ontleed die verskillende standpunte en kom tot die gevolgtrekking dat daar nie ’n keuse gemaak moet word tussen die moontlikhede nie. Beide bly volgens hom geldig. Tutu staan negatief teenoor evangelisasie as die verandering in geloof. Die vraag is egter, hoe moet goed en kwaad en menslike verantwoordelikheid in die sendingwerk verstaan word. Wat word in hierdie verband onder sendingwerk verstaan?

Sendingwerk is die handeling van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat in Jesus Christus heil en verlossing vir die mense en die wêreld bring. Dit is die verkondiging dat Jesus die ware Here is, en dat Hy as Here erken moet word, asook dat Hy deur die Heilige Gees mense uit die duisternis tot God se wonderbare lig lei, sodat hulle in hierdie lewe die volheid van die lewe kan ervaar, maar ook die ewige lewe kan beërwe, omdat hulle in Jesus Christus meer as oorwinnaars is. Die kerk deel in die handelinge van God. Sendingwerk impliseer lewe vanuit hierdie belydenis, sodat die kerk deur die Heilige Gees, in liefde dien, help en seën, in sy verwagting op die ewigheid (Verster 2020:22).

Dit beteken dat die verantwoordelikheid van die mens wel sterk beklemtoon word, maar dat dit ten diepste God is wat die verlossing bring. Daarin is God die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. Die goeie kom uit God voort. Die skuld vir die sonde lê by die mens. Sendingwerk wil die mens uit die duisternis tot God se wonderbare lig lei. ʼn Volle lewe en die oorwinning oor die kwaad is in God moontlik.

Ten eerste, die missio Dei word erken. Sendingwerk is die handelinge van die Drie-enige God. As primêre outeur van sendingwerk, maak God die sending moontlik. Hy oorwin die kwaad in Jesus Christus, sy Seun. Hy bring die totale verlossing teweeg. Daarmee word erken dat sendingwerk die goeie bring.

Tweedens, in sendingwerk word erken dat Jesus die Here is. Dit word in ootmoed erken en betuig. Die totale uniekheid van Jesus staan daarom sentraal. Hy, as God uit God en Lig uit Lig en waaragtige God uit waaragtige God (Nicéa), is daarom onvergelykbaar. Die verkondiging dat Hy die Here is, geskied nooit in hoogmoed nie, maar in alle nederigheid, omdat Hy die Nederige is.

Derdens, mense word deur die Heilige Gees uit die duisternis na God se wonderbare lig gelei. Dit geskied weereens in die grootste ootmoed denkbaar, sonder om enigsins ander te veroordeel, maar juis om ander ook na die lewe te lei.

Vierdens, omdat die volheid van die lewe belangrik is, moet alle geregtigheid nagestreef word. Juis deur die Heilige Gees breek die goeie tydperk van geregtigheid aan. Die Heilige Gees lei die kerk tot diens van die goeie.

Vyfdens het sendingwerk alles te make met die ewige lewe in Jesus Christus, omdat Hy die oorwinning oor die lewe en dood gee. Daarmee word die kwaad oorwin en triomfeer die goeie finaal.

Laastens, dien, help en seën die kerk die wêreld vanuit die belydenis dat God die Verlosser is, wat in sy Seun alle magte van die kwaad en die sonde oorwin het, sodat daar ware lewe kan wees.

Die vraag is dus of daar enige menslike verantwoordelikheid is ten opsigte van sendingwerk. Heyns (1978:76) het aangedui dat God wel ruimte vir die mens skep om voor Hom te lewe. Die oproep tot ware lewe met God gaan dus steeds uit. God hou die mens ten volle vir sy of haar sonde verantwoordelik. Sendingwerk maak bekering slegs moontlik omdat God dit moontlik maak. Die goeie oorwin die kwaad in Jesus Christus, en die mens word daartoe opgeroep.

Gevolgtrekking

Goed en kwaad en menslike verantwoordelikheid kan in die sendingwerk vanuit die missio Dei hanteer word. In Jesus Christus word die kwaad aan die kruis oorwin. Die goedheid en die liefde van God is daar sigbaar. Die goeie vloei juis uit die ellende van die kruis voort. Hierop moet die mens antwoord. Hy en sy word verantwoordelik gehou om op die kruis en die opstanding van Jesus te reageer. Geregtigheid moet spruit uit die beslissing wat volg. Nuwe lewe is veral moontlik uit die goeie wat uit die kruis en uit die opstanding van Jesus na vore kom. Menslike verantwoordelikheid sluit ook in dat geregtigheid in God se lig nagejaag sal word. Sendingwerk geskied dus ten volle holisties.

Erkennings

Mededingende belange

Die skrywer, P.V., verklaar dat hul geen finansiële of persoonlike verhouding(e) het wat hul nadelig beïnvloed het met die skryf van hierdie artikel nie.

Outeur se bydrae

P.V. is die enigste outeur van hierdie artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde vir navorsing gevolg sonder direkte kontak met mense.

Befondsingsinligting

Die skrywer het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheid

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data deur hierdie artikel geskep is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die outeur, en is die produk van professionele navorsing. Dit weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se bevindings en inhoud.

Bibliografie

Augustinus, s.j., Belijdenissen, Vertaald door A.S. Sizoo, Meinema, Delft.

Barth, K., 1972, The epistle to the Romans, Translated by E.C. Hoskyns, Oxford University Press, Oxford.

Beach, J.M., 2017, ‘The idea of “a general grace of God” in Calvin and some of his reformed contemporaries’, Mid-America Journal of Theology 28, 7–42, viewed 06 October 2020, from https://www.midamerica.edu/uploads/files/pdf/journal/01_beach_journal2017.pdf

Beale, G.K., 1984, ‘An exegetical and theological consideration of the hardening of Pharaoh’s heart in Exodus 4–14 and Romans 9’, Trinity Journal 5(2), 129–154, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLA0000948950&site=ehost-live&scope=site

Bevans, S.B. & Schroeder, R.P., 2006, Constants in context: A theology of mission for today, Orbis, Maryknoll, NY.

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission, Orbis, Maryknoll, NY.

Calvyn, J., s.j.a, Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst, Deel 1, Vertaald door A. Sizoo, 3de dr., Meinema, Delft.

Calvyn, J., s.j.b, Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst, Deel 2, Vertaald door A. Sizoo, 3de dr., Meinema, Delft.

Guttierez, G., 1974, Theologie van de bevrijding, Ten Have, Baarn.

Hancock, A.T., 2016, ‘The grace of God and faithful Christian education: Comparing the Synod of Dort and John Calvin on depravity and addressing the problem of the corruption of the mind’, Christian Education Journal 13(2), 315–330, https://doi.org/10.1177/073989131601300206

Hawkes, T.D., 2020, ‘John Calvin: Prophet of God’s love’, Westminster Theological Journal 82(1), 39–60, viewed 06 October 2020, from https://d3h3guilcrzx4v.cloudfront.net/uploads/publications/WTJ/TOC%20WTJ%2082.1.pdf

Heick, O.W., 1973, A history of Christian thought, Part 1, Fortress, Philadelphia, PA.

Heyns, J.A., 1978, Dogmatiek, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Kritzinger, J.N.J., 2011, ‘Mission as … must we choose? A dialogue with Bosch, Bevans & Schroeder and Schreiter in the South African context’, Missionalia 39(1, 2), 32–59.

Majawa, C.C.A., 2017, ‘The dialectical method of Augustine and Pelagius: Lessons for peacebuilding processes in Africa’, African Ecclesiastical Review 59(1–2), 61–88, viewed 06 October 2020, from https://ezproxy.ufs.ac.za:8766/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLAn4138928&site=ehost-live&scope=site

Miller, T.E., 2018, ‘Reformed theodicy: Calvin’s view of the problem of evil’, Puritan Reformed Journal 10(1), 119–139, viewed 06 October 2020, from https://www.academia.edu/39075573/Reformed_Theodicy_Calvin_s_View_of_the_Problem_of_Evil

Nygren, A., [1944] 1975, Commentary on Romans, Translated by C.C. Rasmussen, Fortress, Philadelphia, PA.

Pârvan, A., 2017, ‘Revelation 20:12–15: Augustine on the “book of life”, and the conflicting picture of predestination in De civitate dei 20, 14–15’, Zeitschrift für antikes Christentum 21(3), 472–495. https://doi.org/10.1515/zac-2017-0031

Pavelich, A., 2019, ‘The moral problem with the free will defense against the problem of evil’, Heythrop Journal 60(5), 678–688. https://doi.org/10.1111/heyj.12654

Puffer, M.W., 2017, ‘Human dignity after Augustine’s Imago Dei: On the sources and uses of two ethical terms’, Journal of the Society of Christian Ethics 37(1), 65–82. https://doi.org/10.1353/sce.2017.0010

Rakocy, W., 2010, ‘“Election” as a salvific category according to Romans 9: Study of a biblical concept’, Roczniki Biblijne 2, 27–46, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLAi5QC200720000713&site=ehost-live&scope=site

Roach, D., 2008, ‘From free choice to God’s choice: Augustine’s exegesis of Romans 9’, The Evangelical Quarterly. 80(2), 129–141. https://doi.org/10.1163/27725472-08002003

Ryliškytė, L., 2019, ‘God’s mercy: The key thematic undercurrent of Paul’s letter to the Romans’, The Catholic Biblical Quarterly 81(1), 85–105. https://doi.org/10.1353/cbq.2019.0052

Schreiner, T.R., 2006, ‘Corporate and individual election in Romans 9: A response to Brian Abasciano’, Journal of the Evangelical Theological Society 49(2), 373–386, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLA0001528384&site=ehost-live&scope=site

Smith, P., 2017, ‘Calvin’s understanding of justification and its new perspective critics’, Puritan Reformed Journal 9(1), 249–264, viewed 06 October 2020, from https://prts.edu/wp-content/uploads/2019/04/PRJ_Vol-9_No-2_2017.pdf

Taylor, J.W., 2013, ‘The freedom of God and the hope of Israel: Theological interpretation of Romans 9’, Southwestern Journal of Theology 56(1), 25–41, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLA0001991824&site=ehost-live&scope=site

Tutu, D.M., 2011, God is not a Christian: Speaking truth in a time of crisis, J. Allen (ed.), Rider, London.

Van de Beek, A., 2018a, ‘Where is our home?’, Acta Theologica 38(2), 145–159. https://doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i2.9

Van de Beek, A., 2018b, Altijd dat kruis, Kok Boekencentrum, Utrecht.

Venema, C.P., 2015, ‘“Jacob I loved, but Esau I hated”: Corporate or individual election in Paul’s argument in Romans 9?’, Mid-America Journal of Theology 26, 7–58, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLAn3850360&site=ehost-live&scope=site

Verster, P., 2020, Die wonderbare Heilige Gees en die Vader van liefde, Sunbonani Scholar, Bloemfontein.

Weaver, J.D., 2001, The non-violent atonement, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Weiland, J.S., 1971, Voortgezette oriëntatie: Nieuwe wegen in de theologie, Het Wereldvenster, Baarn.

White, C.E., 2006, ‘John Calvin’s five-point misunderstanding of Romans 9: An intertextual analysis’, Wesleyan Theological Journal 41(2), 28–50, viewed 08 August 2022, from https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLA0001542435&site=ehost-live&scope=site



Crossref Citations

No related citations found.