About the Author(s)


Antionette Janse van Rensburg Email symbol
Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Janse van Rensburg, A., 2024, ‘Belangrikheid van troos in die Heidelbergse Kategismus’, In die Skriflig 58(1), a2999. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.2999

Review Article

Belangrikheid van troos in die Heidelbergse Kategismus

Antionette Janse van Rensburg

Received: 08 July 2023; Accepted: 13 Oct. 2023; Published: 25 Jan. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

The importance of comfort in the Heidelberg Catechism. It is known that the Heidelberg Catechism is one of the many catechisms that originated during the 16th-century Reformation. It is also known that the authors of the Heidelberg Catechism made use of existing catechisms. The Heidelberg Catechism consists of three sections, with the famous introduction dealing with us as humans our only comfort in life and death, and that our body and soul belong to our Saviour, Jesus Christ. Knowledge of this consolation is divided into three sections: knowledge of our sin and misery, knowledge of our deliverance, and knowledge of how we should be thankful for our deliverance. Throughout the Catechism, the theme of comfort plays an important role. Furthermore, the core of the Heidelberg Catechism deals with our comfort as human beings, as Barth formulates the question: ‘Who is the person who is comforted and how is this comfort given and what does it consist of?’ The question, ‘How is humankind comforted?’ is also a central question, with the answer that through Jesus Christ as our Saviour, we are comforted. Therefore, this article focuses on the importance of comfort as a central theme in the Heidelberg Catechism, and even though we know that comfort plays an important role in the Catechism, it is important to be reminded thereof. This article provides a short overview on the Heidelberg Catechism and focuses on the importance of comfort. The findings of the article are clear that comfort plays an important role in the Heidelberg Catechism and to be comforted by Jesus Christ, gives us peace in our everyday life, as stated in the Heidelberg Catechism. This is not new information, but in the light of the fact that the celebration of the Reformation is around the corner, it is important to remember and to celebrate the Heidelberg Catechism and the importance thereof in Reformed theology.

Contribution: This article focuses on the importance of comfort throughout the Heidelberg Catechism by means of a literature study, highlighting the theme of comfort and the importance thereof. The emphasis on comfort makes the Heidelberg Catechism a unique document and this gives the Catechism its own accent.

Keywords: Heidelberg Catechism; three-part structure; comfort, ecumenical; sin; redemption; gratitude.

Inleiding

Nadat Luther volgens kerklike tradisie, in 1517 sy 95 stellings aan die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het die Kerkhervorming op verskillende plekke in die huidige Europa begin posvat. Een van die probleme waarmee die kerkhervormers geworstel het, was dat mense bly vashou het aan die Roomse leer en oortuig moes word van die reformatoriese uitgangspunte. Dit was dus noodsaaklik om ’n kort en eenvoudige samevatting van die belangrikste hoofpunte van die suiwer Christelike leer wat uit die Bybel kom, op te stel en aan die gemeentelede te leer. Om hierdie doel te bereik, is verskeie kategismusse in reformatoriese dorpe en stede opgestel.

Sommige gedeeltes van Duitsland wat aan Nederland grens, het tydens die Kerkhervorming Calvinisties geword. Een van daardie gedeeltes was Palts met Heidelberg as hoofstad. Palts was tydens die opstel van die Heidelbergse Kategismus (HK) regeer deur Keurvors Frederik III. Hy het opdrag gegee om ʼn kategismus op te stel sodat daar eenvormiger onderrig aan sy mense gebied kon word.

Op 19 Januarie 1563 is die HK amptelik deur Frederik III onderteken, waarna dit vir die gebruik in skole, kategese en eredienste in Palts beskikbaar gestel is.

Gedurende die 400-jarige herdenking van die HK, het die Christian Century (Klooster 1963) ’n artikel geskryf wat lof bring aan die HK wat in 1563 voltooi is. Die Kategismus word besing as ’n dokument wat nie net met sy skoonheid, opbou en struktuur beïndruk nie, maar ook as ’n lofwaardige poging om die eenheid tussen die Lutherane en die Calviniste te bevorder. Die Kategismus is opgestel as bemiddeling tussen die Lutherane en die Calviniste in ’n tyd toe Palts deur teologiese verskille uitmekaargeskeur is (Klooster 1963).

Karl Barth (1964:25) het die volgende oor die Kategismus geskryf, ‘The Heidelberg Catechism is a document which express a general evangelical comprehension.’

Verder is die HK een van die Drie Formuliere van Eenheid wat die belydenisgrondslag van talle gereformeerde en hervormde kerke in Suid-Afrika en wêreldwyd vorm. Dit vorm ook die basis van katkisasie in verskeie kerke. Vir baie lank het kategismusprediking ’n vaste deel van die Hervormde Kerk en ook ander kerke se prediking gevorm, wat ingehou het dat die Kategismus sistematies en in opvolgende Sondagsafdelings in die prediking aan die orde gekom het.

Soos goed bekend is, maak Vraag en Antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus daarvan ’n unieke dokument. Barth (1960:16) wys daarop dat die res van die HK eintlik ’n kommentaar op Sondag 1 is. Agter die troosperspektief van Vraag en Antwoord 1, lê niks minder nie as die mens se behoefte aan troos (Barth 1960:5–6).

Die kern van die HK handel oor ons troos, ‘Wie is die mens wat getroos word en hoe word hierdie troos gegee en waaruit bestaan dit?’ (Barth 1964:124). Die klem op troos maak van die HK ’n unieke dokument. Troos is die unieke aksent en boodskap van die HK. Dit word deur die hele HK verder uitgewerk en verduidelik. Die kern van die troos in Vraag en Antwoord 1, lê daarin dat gelowige nie sy of haar eie eiendom is nie, maar dat hulle aan Christus behoort. Hierdie troos ‘is in het leven ingegaan gelijk Christus in het leven ingegaan is’ (De Graaff 1954:17).

Belangrikheid van troos in die Heidelbergse Kategismus

Tydens die Kerkhervorming het daar baie leerboeke ontstaan waarvan die HK een was. Die opstellers van die HK het verskeie kategismusse wat alreeds bestaan het, as bron vir die HK gebruik. Van die belangrikste kategismusse wat gebruik is, was die werk van Melanchthon, Zürich, Genève, Emden en Straatsburg. Die HK is ook beïnvloed deur Beza se ‘Confession Brevis’, Calvyn se ‘Institution Christianae Religionis’, asook die geskrifte van Bullinger. So het die Kategismus verteenwoordigend geword van ’n breë spektrum van reformatoriese teologie (Engelbrecht 1943; 1944:165; Oberholzer 1986:2).

Die HK is drieledig gestruktureer: die inleiding handel oor die mens se enigste troos in lewe en dood. Hierdie troos berus eerstens op die kennis van ons sonde, tweedens op die kennis van ons verlossing, en derdens op die kennis van hoe die mens in dankbaarheid teenoor God moet leef. Die voltooide HK is op 13 Januarie 1563 aanvaar. Op 19 Januarie 1563 is dit deur Keurvors Frederik onderteken.

Die Kategismus is soos volg ingedeel (Oberholzer 1986:3):

  • Samevatting van die Goddelike wet, waaruit ons ons sonde en ellende ken.
  • Die artikels van ons Christelike geloof, as samevatting van die evangelie waaruit ons van ons verlossing leer: die Apostolicum, die instelling van die heilige sakramente waardeur die Heilige Gees hierdie verlossing aan ons verseker, die instelling van die heilige doop, en die instelling van die heilige nagmaal van Christus.
  • Die wet of die tien gebooie van God, waaruit ons leer hoe ons God ons hele lewe lank vir hierdie daad dankbaar moet wees. Om ons dankbaarheid daarmee teenoor God te betuig, en om alles wat ons nodig het om te lewe, van God af te verwag.

Troos speel ’n baie belangrike rol in die HK (cf. Tabel 1). Reeds in die inleidende deel van die HK kry ’n mens te doen met troos.

TABEL 1: Die rol van troos soos uitgedruk in die Heidelbergse Kategismus se spesifieke vrae en antwoorde.

Troos is belangrik in die HK, en word deur die struktuur van die hele HK beklemtoon. Om te kan lewe en te kan sterwe in hierdie troos, moet ons ons ellende ken; dan weet ons hoe ons verlos kan word, en laastens verstaan ons die inhoud van ons dankbaarheid (Bierma 2013a:15).

Dit is vir lank voorgestel dat Ursinus se Kleiner Kategismus (1561; 1562) en tot ’n mindere mate sy Groter Kategismus (1562) as die basis van die struktuur vir die HK gedien het (Lang 1954:347). In albei hierdie Kategismusse kom die tema van troos ook na vore.

Ursinus se Klein en Groot Kategismus

Alhoewel HK Vraag 1 die taal volg van die Klein en die Groot Kategismus van Ursinus (cf. Tabel 2), verskil die antwoord van HK Vraag 1 tog daarmee. Die Kleiner Kategismus kom ook nie ooreen met die ander vrae (HK 52, HK 53, HK 57, HK 58 [cf. Tabel 1]) waar daar oor troos gepraat word nie. In die Kleiner Kategismus kom troos net drie kere in Vraag 1 voor en dan ook weer in Vraag 51 en 52. In die Groter Kategismus kom troos ses kere voor en wel in Vraag 1, 103, 110 en 131. Hierdie vrae het ooreenkomste met die vrae in HK 1, 52, 53 en 58. Die ander twee rakende Christus, in Antwoord 141 handel oor regverdiging. In teenstelling met die HK, verbind die Groter Kategismus van Ursinus troos nie as deel van sy basiese struktuur nie (Bierma 2013a:16).

TABEL 2: Vergelyking van Ursinus se Klein en Groot Kategismus 1.

Goeters (1967:34) en Neuser (1979:181–182) merk ook op dat die eerste sinne van HK Vraag 1 se antwoord groot ooreenkomste vertoon met Luther se verduideliking van die tweede artikel van die Twaalf Artikels.

Wat opmerklik is, is die taal wat Luther gebruik om aan te dui dat ons aan Christus behoort. Dit is beeldspraak wat ’n sleutelrol speel in die troos van HK Vraag 1. Daar is ook parallelle formulerings in ander Lutherse kategismusse, byvoorbeeld in een wat deur Joachim Mӧrlin in 1547 opgestel is (Bierma 2013:17). Sien Reu (1976) se stelling in Tabel 3.

TABEL 3: Parallelle formulering in ander Lutherse kategismusse.

Dit is ook opmerklik dat in drie jaar, twee van Philipp Melanchthon se studente, Ursinus en Mӧrlin, se kategismusse met dieselfde tipe vraag geopen het. Troos as ’n versekering van redding, was ook ’n tema in Melanchthon se korpus (Sturm 1972:249). Daar is twee van Melanchthon se werke wat in hierdie verband uitstaan. In Lutherse grondgebied as gevolg van die beperkings van die Vrede van Augsburg, het die Palts wel Melanchthon se Augsburg Konfessie gesien as ’n amptelike dogmatiese verklaring. In die Latynse teks van die Augsburg Konfessie kom die woord ‘troos’ 14 keer in verskillende kontekste voor, en in die Duitse teks 11 keer (Bierma 2013:17). In Artikel III wat handel oor die Seun van God, word gesê dat die Heilige Gees troos bring vir die mens. Artikel XII handel oor berou. Daar word ook melding gemaak van troos, naamlik dat geloof troos in ons harte bring. Artikel XX van die Augsburg Konfessie handel oor geloof en goeie werke. Daar word dit gestel dat redding alleen deur Christus kan plaasvind en nie deur goeie werke nie, en daarin vind ons juis troos. Die tema rakende troos kom ook in sommige van Melanchthon se ander werke voor, naamlik die Examen Ordinandorum. Die Examen Ordinandorum was kategetiese stof wat opgeneem sou word in die Palts se Kerkorde van 1556. In die laat 1550’s het Ursinus ook die Examen Ordinanadorum gebruik vir sy lesings aan die Universiteit van Breslau (Bierma 2013b:18). Melanchton (1552) stel die volgende:

When the conscience falls into a terror and despair so great that it brings with it bodily and eternal death if no comfort is forthcoming through knowledge of Christ the Lord from the Gospel … The Gospel proclaims this eternal, gracious comfort: that God surely and for the sake of his Son Jesus Christ, by Grace and without any merit of our own, wishes to grant us forgiveness of sins, impute to us righteousness and accept us, and through his Son Jesus Christ give us the Holy Spirit and make us heirs of eternal salvation. (pp. 185–187)

Die taal wat Melanchthon gebruik, praat van troos, ellende, bevryding, versekering en gehoorsaamheid.

Daar is ook ander bronne wat in ag geneem moet word. In die sestiende eeu is werke deur Johannes à Lasco vrygestel. Hy het dit saam met sy medewerkers, Marten Micronius en Jan Utenhove, geskryf vir die Reformatoriese kerk in Emden en Londen. à Lasco se Groot Kategismus van 1546 is in 1551 in Duits vertaal en die relevante vrae en antwoorde in die uiteensetting van die Apostoliese Geloofsbelydenis is in Tabel 4 uiteengesit.

TABEL 4: à Lasco se Groot Kategismus van 1546 se vrae en antwoorde in die uiteensetting van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Wat interessant is, is dat die enigste troos in lewe en dood ook hier voorkom soos dit in Ursinus se Kleiner Kategismus en Groter Kategismus en die HK voorkom.

’n Paar jaar later het Micronius sy Een corte undersouckinghe des gheloofs (1553) [’n kort ondersoek van geloof, 1553] begin skryf. Dit was ’n Nederlandse vertaling uit ’n deel van à Lasco se Forma ac Ratio (1553) met Vraag en Antwoord uit die pen van Micronius (1553) (cf. Tabel 5).

TABEL 5: Nederlandse vertaling uit ’n deel van à Lasco se Forma ac Ratio (1553) deur Micronius.

Die kategismusse wat genoem is, dien as voorbeelde om te wys dat die openingsvraag van die HK oor ons enigste troos in lewe en in sterwe, soortgelyk is aan wat in ander Reformatoriese kategismusse en teologiese werke aangetref word. Verder is dit belangrik om te sien dat die spesifieke inhoud van troos die onderbou en struktuur verskaf vir die res van die Kategismus (Bierma 2013a:21; Bierma 2013b).

Die eie aksent van die Heidelbergse Kategismus

Die belangrikheid van troos kom voor in die eerste vraag van die HK, en word dan op ’n besondere manier verder uitgewerk in die HK. Daarvoor is geen ooreenkoms by Luther sowel as Calvyn nie (Schulze 1994:205). Die uniekheid van die HK is te vind in die manier waarop daar met die materiaal omgegaan word.

Die HK begin met die vraag na troos soos ook in Ursinus se Groot Kategismus en Klein Kategismus. Schulze (1994:205) wys daarop dat die Groot Kategismus die troos binne die kader van die verbond plaas, terwyl die Klein Kategismus hierdie verband weglaat:

Vraag: ‘Wat is jou troos waardeur jou hart hom in lewe en sterwe staande hou?’

Antwoord: ‘Dat God my al my sonde om Christus wil vergeef het en my die ewige lewe geskenk het, waarin ek Hom vir ewig sal verheerlik.’

Die antwoord wys op God se heilshandeling in Christus. In die HK is die troosgedagte nog dieper in ‘n formulering uitgewerk. Hierdie formulering is Christosentries, naamlik ‘dat ek aan my getroue Verlosser behoort’ (Schulze 1994:205). Daarna volg die trinitariese vermelding van God se genadewerk vir en aan ons, met die volgorde: Christus, Vader, die Heilige Gees. As ons mooi na die formulerings van die HK kyk, dan vervaag die stempel van Ursinus. Die troosgedagte is wel daar, maar beslis anders as in Ursinus se Maior en Minor.

Ook Joachim Mӧrlin se 1547-Kategismus begin met ’n soortgelyke vraag: ‘Was ist dein Trost für aller Welt auf Erden?’ (Weber 1986:134). Dit is wel te betwyfel of Mӧrlin se kategismus in Heidelberg bekend was.

Nog ’n belangrike aspek in die HK, is kennis. Troos is nie bloot ’n gevoelsaak nie, maar ’n wete; dit is op kennis gegrond, naamlik kennis van die mens se sonde, sy verlossing en sy dankbaarheid (Schulze 1994:208). Die gedagte dat heiligmaking in die gestalte van dankbaarheid na vore kom, word reeds in die Apologie van die Augsburg Konfessie genoem: ‘Darum sollen gute Werke dem Glauben folgen als Danksagung gegen Gott’ (Neuser 1979:188).

Uit bogenoemde is dit duidelik dat troos ’n kerngedagte in die HK is. Die belangrikheid van troos in die HK maak dit ’n unieke dokument, nie omdat dit net in die HK voorkom nie, maar omdat dit die Christelike geloof op ’n besondere wyse verwoord. Die HK open met die uitspraak dat ons as mense aan God behoort. Die basiese struktuur van die HK maak dit ’n aantreklike en tydlose dokument, met die sentrale tema van die Kategismus: ‘troos’ (Smit 2014:53). Die implikasie is dus dat die eerste deel, oor die kennis van ons ellende, eweneens deel van ons troos is en slegs moontlik is deur die verlossing wat Jesus bewerk. Die derde deel oor dankbaarheid, is ook deel van hierdie troos, deurdat Jesus Christus ons self deur sy Woord en Gees van harte dankbaar maak (Smit 2014:55). Die selfkennis oor ons ellende eis ook die vrug van dankbaarheid, en alles vorm deel van hierdie troos (Smit 2014:55).

Die HK dink nie in terme van drie fases of agtereenvolgende stappe van geestelike ervaring nie, maar oor een werklikheid. Die drie woorde verwys nie na chronologiese orde nie, maar na ’n logiese orde (Berkhof 1963:96). Die tema van troos vorm daarom die deurlopende motief in die HK. Wat die rangskikking betref, word die wet nie vooraf behandel en gesien as tugmeester nie, maar as deel van die dankbare lewe waartoe die Heilige Gees gelowiges roep (Smit 2014:56). Ons ellende is nie dat ons individuele gebooie oortree en spesifieke sondes begaan nie, maar dat ons vervreemd leef van die liefde waarvoor ons bedoel is en wat deur Jesus weer aan ons geskenk word. Deur die vertroue op die beloftes wat in die geloofsbelydenis aan ons gegee word, en deur die genademiddele van die Woord en sakrament wat die Heilige Gees gebruik, kry ons deel aan hierdie troos (Smit 2014:56 [cf. Tabel 6]). So word al die dele in een groot geheel geïntegreer, wat alles dien tot uitbouing van hierdie troos wat reeds in die eerste antwoord gegee is (Smit 2014:56).

TABEL 6: Die beloftes in die geloofsbelydenis vir troos volgens Vraag 65, naamlik deur die genademiddele van die Woord en sakramente wat die Heilige Gees gebruik.

Barth erken ook die belangrikheid van troos in die HK. Volgens Barth 1964:124) handel die HK oor troos, ons troos: ‘Wie is die mens wat getroos word, en hoe word hierdie troos gegee, en waaruit bestaan dit.’

‘Wie is die trooster?’, is volgens Karl Barth (1964) ’n sentrale vraag in die HK. Met Trooster dui hy nie op die Heilige Gees nie, maar op Christus, ons verlosser, soos dit in die HK staan. Die antwoord is dat Jesus Christus ons verlos, omdat Hy ons plek voor God ingeneem het. Hy kon dit doen omdat Hy die geliefde Seun van God is, wat soos ons geword het. Hy los ons ook nie alleen nie. Die Gees en Jesus se bloed speel ’n belangrike rol in die HK (Barth 1964:127). Jesus stuur ook sy Heilige Gees om ons in die tyd tot sy wederkoms te vertroos en van ons verlossing te verseker. Die persoon wat vertroos word, is ook die persoon wat verlos is.

Die HK is in nog ’n opsig ook uniek: Anders as ander belydenisskrifte wat uit óf Calvinistiese óf Lutherse tradisies gegroei het, het die HK ontstaan as ’n ‘ekumeniese’ dokument van onmiddellike belang vir die lewe en werk van die kerk (Barth 1964:22). Die HK handel oor die lewe van die kerk, en die kerk leer oor sonde, verlossing en dankbaarheid.

Met die Kerkorde van 1563, wou Frederik III in sy hoedanigheid as Keurvors, die eenheid van die kerk bevorder. Die Kategismus was egter nie die werk van ’n prins of een outeur nie, maar van die geloofsgemeenskap. Dit is ’n teks wat uit die geloofsgemeenskap na vore gekom het (Barth 1964:23). Gevolglik het die HK wyd invloed uitgeoefen. Dit was vir eeue, en is nog steeds deel van talle kerke se kategese en belydenis.

Die drie kernpunte van die HK (sonde, verlossing en dankbaarheid) kan by uitstek as ’n samevatting van die reformatoriese leer beskou word, en bring ook op ’n besondere manier die algemene evangeliese geloof tot uitdrukking (Barth 1964:25). Die HK is nie ’n stuk teorie nie, maar ’n dokument wat gebruik word om die evangelie te verkondig.

Die HK is in sy eenvoud ’n vernuftige herhaling van die essensie van die hele Reformasie (Barth 1964:122). Kategismusse het gewoonlik begin met die vraag: ‘Wie is God?’, of ‘Wie is die mens?’ Die HK is anders – dit begin met die vraag: ‘Wat is jou enigste troos in lewe en in dood?’ (Barth 1964:123). Hierdie vraag veronderstel dat die mens troos nodig het, en dat daar wel troos vir die mens in die lewe en in die dood beskikbaar is (Barth 1964:123).

Gevolgtrekking

Die HK is na my oordeel ’n tydlose dokument wat troos as ’n sentrale tema bevat en wat die evangelie in drie dele saamvat, naamlik sonde, verlossing en dankbaarheid. Die HK is ’n klassieke dokument van geloof vir die kerk wat saamgestel is volgens die Woord van God. Hoekom is die HK ‘n dokument wat in die huidige tyd nog troos aan elkeen kan bring? Die HK maak dit duidelik dat Jesus Christus die inhoud van die troos en die inhoud van die HK is. Barth het die HK se inhoud herrangskik, deur die opskrifte van die drie dele te herformuleer: ‘Who is the Comforter? Who is die comforted? How is comfort given, and in what does it consist of?’ (Barth 1964:124). Sy bedoeling was om duidelik te maak dat die volle troos van die evangelie daaruit bestaan dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan Jesus Christus (Smit 2014:64).

Die troos waarvan die HK praat, is steeds aangrypend: ons behoort nie aan onsself nie, maar aan Jesus Christus. Die tema van troos bepaal die hele struktuur en opbou van die HK (Smit 2014:55). Die implikasie is dus dat die eerste deel handel oor die kennis van ons ellende, ’n wesenlike deel van ons troos is, en slegs moontlik is deur die verlossing van Jesus. Die derde deel oor dankbaarheid, is ook deel van hierdie troos, deurdat Jesus Christus ons self deur sy Woord en Gees van harte dankbaar maak. Die HK is nie ’n stuk teorie nie, maar ’n dokument wat gebruik word om die evangelie te verkondig: met troos as die sentrale tema.

Aan die begin van die een-en-twintigste eeu handhaaf baie kerke in Afrika, Asië, Europa en Amerika nog steeds die HK as belydenis. Die kategismus bly ’n outentieke uitdrukking van die Protestantse geloof waarmee Christene van verskillende denominasies kan identifiseer (Klooster 1965:23). Volgens verskeie geleerdes het die skrywers van die HK doelbewus gebruik gemaak van uiteenlopende publikasies soos die werk van Calvyn, Bullinger, Beza, Melanchthon, Luther en andere. Desnieteenstaande, is die tema van troos steeds ’n deurlopende tema.

In die eenvoudige buurt van Neukölln in die Suidooste van Berlyn, staan ʼn onopvallende gebou, bekend as die Betsaal Rixdorf van die Gereformeerde Bethlehem Gemeente (Smit 2014:68). Dit is die kerkgebou van die Protestantse vlugtelingsgemeente uit Boheme wat hulleself in 1797 daar kom vestig het, op uitnodiging van koning Frederik Wilhelm I, nadat hulle vanuit hulle eie gebied in Tsjeggië, deur Sakse, na Pruise gevlug het (Smit 2014:68). Daar het hulle klein saaltjie gebou om te dien as skool en as aanbiddingsplek. Rondom 1835 het hulle die nuwe saaltjie op die fondament van die vorige een gebou. Dit word steeds vir die eredienste van die gemeente gebruik, maar ook vir Presbiteriane wat uit Iran gevlug het. Hulle bied dus weer skuiling en ondersteuning aan hedendaagse vlugtelinge (Smit 2014:68).

Die gebou is baie eenvoudig. Alles is in wit, sonder enige versiering, met slegs die woorde uit Vraag 1 (cf. Tabel 1) van die Heidelbergse Kategismus voor teen die muur. Hierdie eenvoudige woorde teen die muur, vertel die verhaal. In Kare Huber se boek oor kerke in Berlyn, Berliner Kirchen und ihre Hüter, beskryf sy Frank Walter Steinmeier, die gewese Duitse Minister van Buitelandse Sake en Kanselierskandidaat, se groot waardering vir die lewe van hierdie klein gemeente in hierdie eenvoudige buurt, en hulle herinnerings aan hulle eie dogter wat daar gedoop is (Huber 2012:148–151).

Dalk is hierdie voorbeeld die boodskap van die HK vir vandag. Die evangelie kom in alle eenvoud, maar telkens met nuwe aktualiteit. Die troos waaroor die Heidelbergse Kategismus praat, is steeds aangrypend: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan Jesus Christus.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenisse bestaan wat die skryf van hierdie artikel negatief kon beïnvloed nie.

Outeursbydrae

A.J.v.R. is alleen outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir die inhoud van hierdie artikel.

Bibliografie

à Lasco, J., 1511, De catechismus, oft kinder leere, diemen te Londen, in de Duytsche ghemeynte, is ghebruyckend, transl. J. Utenhove, Steven Myerdaman, London, viewed from http://eebo.chadwyck.com

Barth, K., 1960, Einfuhrung in den Heidelberger Katcchismus, EVZ Verlag, Zurich.

Barth, K., 1964, Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism, transl. S.C. Guthrie, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Berkhof, H., 1963, ‘The catechism as an expression of our faith’, in B. Thompson, H. Berkhof, E. Schweizer & H.G. Hageman (eds.), Essays on the Heidelberg catechism, pp. 93–122, United Church Press, Philadelphia, PA.

Bierma, L.D., 2013a, ‘The origins of the threefold structure of the Heidelberg catechism: Another look’, in K. Apperloo-Boersma & H.J. Selderhuis (eds.), Power of faith: 450 years Heidelberg Catechism, p. 450, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bierma, L.D., 2013b, The theology of the Heidelberg catechism: A reformation synthesis, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.

De Graaf, S.G., 1954, Het ware geloof: Beschouwingen over Zondag 1–22 van de Heidelbergse Catechismus, Kok, Kampen.

Engelbrecht, S.P., 1943–1944, ‘Die Heidelbergse Kategimus as kerklikle simbool’, HTS Teologiese Studies 1(4), 160–173. https://doi.org/10.4102/hts.v1i4.3327

Goeters, J.F.G., 1967, Das Kreuz Jesu Christi als Grund des Heils Schriftenreihe des Theologischen Ausschusses der Evang. Kirche der Union, Mohn, Gütersloh.

Huber, K., 2012, Berliner Kirchen und ihre Hüter, Braus, Berlin.

Klooster, F.H., 1963, The heidelberg cathechism - An ecumenical creed, viewed n.d., from https://www.etsjets.org/files/JETS-PDFs/8/8-1/BETS_8_1_23-33_Klooster.pdf.

Lang, A. (ed.), 1907, Der Heidelberger Katechismus und vier verwandte Katechismen, Deichert, Leipzig.

Lang, A., 1914, ‘The religious and theological character of the Heidelberg catechism’, in T.F. Herman, D.D. John & S. Stahr (eds.), The reformed Church review, 4, p. 462, The Reformed Church Publication Board, Philadelphia.

Lang, A., 1967, Der Heidelberger Katechismus und vier verwandte Katechismen, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Luther, M., 1966, D Martin Luthers Werke: Kritische Gesamtausgabe, Bd 7, Bohlaus, Weimar.

Micronius, M., 1553, ‘Een corte undersouckinghe des gheloofs in der Fassung von 1555’, in J.M.J.L. van Ravenswaay (ed.), Reformierte Bekenntnisschriften, Band, 13, pp. 1550–1558, Neukirchener Verlag 2007, s.l.

Melanchthon, P., 1552, ‘Examen ordinandorum’, in R. Stupperich (ed.), Melanchthons Werke in Auswahl, Vol. 6, Bertelsmann, Gütersloh.

Neuser, W., 1979, ‘Die Väter des Heidelberger Katechismus’, Theologische Zeitschrift 35, 177–199.

NG Kerk in SA, n.d., Formuliere: Heidelbergse Kategusmis, viewed n.d. from https://kerkargief.co.za/doks/bely/GB_HK.pdf.

Oberholzer, J.P., 1986, Die Heidelbergse Kategismus in vier teksuitgawes, met inleiding en teksvergelyking, Kital, Pretoria.

Reu, J.M., 1976, Quellen zur Geschichte des kirchlichen Unterrichts in der evangelischen Kirche Deutschlands zwischen 1530 und 1600, Reprint of the edition Gütersloh 1904–1935, vol. 1–9, Georg Olms Verlag, Hildesheim.

Schulze, L.F., 1994, ‘Die teologiese wortels en struktuur van die Heidelbergse Kategismus: ’n Oorsig’, HTS Teologiese Studies 50(1&2), 194–210. https://doi.org/10.4102/hts.v50i1/2.2550

Smit, D., 2014, ‘Oor die inhoud en boodskap van die Heidelbergse Kategismus’, Acta Theologica, suppl. ser. 40, 50–73. https://doi.org/10.4314/actat.v20i1.4S

Sturm, E., 1972, Der junge Zacharias Ursinus: Sein Weg vom Philippismus zum Calvinismus, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.

Weber, O., 1968, ‘Analytische theologie. Zum geschichtliche Standort des Heidelberger Katechismus: Die Treue Gottes in der Geschichte der Kirche. Gesammelte Aufsatze 2:131–146’, in S. Petrova, M. Stolz, R. Szczepaniak & J. Weitbrecht (eds.), Beitrage zur Geschichte und Lehre der reformierten Kirche, Band 29, Neukirchener Verlag, Neukirchen.

Wengert, T.J., 1996, ‘Philip Melanchthon’s 1522 annotations on Romans and the Lutheran origins of Rhetorical criticism’, in R.A. Muller & J.L. Thompson (eds.), Biblical interpretation in the era of the Reformation: Essays presented to David C. Steinmetz in honor of his sixtieth birthday, pp. 118–140, Eerdmans, Grand Rapids, MI.



Crossref Citations

No related citations found.