About the Author(s)


Douw G. Breed Email symbol
Department of Bibliological Perspectives, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Breed, D.G., 2024, ‘Lyding – ’n dringende aansporing: 1 Petrus 4:12–19 eksegeties nuut ondersoek’, In die Skriflig 58(1), a3009. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3009

Original Research

Lyding – ’n dringende aansporing: 1 Petrus 4:12–19 eksegeties nuut ondersoek

Douw G. Breed

Received: 10 Aug. 2023; Accepted: 20 Nov. 2023; Published: 18 Jan. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Suffering – an urgent exhortation: 1 Peter 4:12–19 exegetically re-examined. This article provides a new exegetical examination of the specific way Peter encourages the readers in 1 Peter 4:12–19 to remain faithful amid suffering. In this article, the grammatical-historical model, as practiced in the Reformed tradition, is followed in the exegesis. Peter exhorts the readers in 1 Peter 4:12–19 to be willing to suffer as Christians. He reinforces his exhortation by indicating that faithfulness amid suffering confirms the equipment of the Spirit and that faithfulness will result in joy when Christ’s glory is revealed. He warns that unfaithfulness will result in judgement.

Contribution: This article highlights Peter’s encouragement to his readers in 1 Peter 4:12–19 and the urgency of this encouragement. It indicates that the readers, as chosen strangers of the diaspora, are encouraged in this thought unit to unite with Jesus Christ amid suffering and glorify God. This exhortation is reinforced in 1 Peter 4:12–19 by using the Old Testament to illustrate the consequences of faithfulness and of unfaithfulness.

Keywords: 1 Peter 4:12–19; suffering; encouragement; non-Jewish Christians; Old Testament in 1 Peter; Holy Spirit in 1 Peter.

Inleiding

Terwyl die lyding van Christene in 1 Petrus ’n sentrale plek beklee (Hockey 2019:142–176; Williams 2012:3) en die bemoediging van die lesers in hulle lyding dikwels ‘als hoofdlijn van de brief’ aangedui word (Van Houwelingen 1991:36), staan die aansporing van die lesers om te midde van hulle lyding getrou te bly ook sentraal in die brief (vgl. byvoorbeeld 1 Pt 1:17; 2:18–21; 3:13–17; vgl. Pardee 2014:113–134). Dit is veral in 1 Petrus 4:12–191 waar die gedrag van die lesers wat lyding ondergaan, besondere aandag kry. Michaels (1988:257–259) toon aan dat temas wat reeds in 2:11–4:6 aan die orde gestel is, naamlik ‘how to respond to one’s enemies and how to face hostility and the prospect of suffering’ in 4:12–19 vir die laaste keer weer behandel word.

Hoewel eksegete aandag gee aan die aansporings wat in 4:12–19 aan die orde is, is daar belangrike aspekte aangaande die lesers se gedrag wat in hierdie verse oor die hoof gesien word. Die feit dat meeste van die geadresseerdes van 1 Petrus nie-Joodse Christene was2 maar tog in die brief geïdentifiseer word met benamings wat in die Ou Testament vir Israel gebruik word, word nie deeglik in die bestudering van 4:12–19 verreken nie. Die besondere dringendheid waarmee die lesers in 4:12–19 aangespoor word, ontglip ook die aandag van skrywers. Die volgende is voorbeelde van die dringendheid wat in hierdie gedeelte na vore kom:

  • Petrus3 maak met verskeie imperatiewe (vgl. μὴ ξενίζεσθε, 4:12; χαίρετε, 4:13; μὴ … πασχέτω, 4:15; μὴ αἰσχυνέσθω, 4:16; δοξαζέτω, 4:16 en παρατιθέσθωσαν, 4:19) duidelik wat die lesers behoort te doen, maar ook wat hulle nie moet doen nie.
  • Hy hou aan die lesers in 4:12–19 twee kontrasterende eskatologiese verwagtings voor, naamlik blydskap (χαίρω, 4:13) aan die een kant en oordeel aan die ander kant (vgl. 4:17).
  • Petrus gebruik die Ou Testament in 4:12–19 om twee kontrasterende gedagtes by die lesers tuis te bring. In 4:14 verwys hy na Jesaja 11:2 en wys op die positiewe gedagte dat die Gees van God op die lesers rus. In 4:18 haal hy Spreuke 11:31 aan en beklemtoon die negatiewe uiteinde van die goddelose en die sondaar.
  • Daar is aanduidings dat die lesers in 4:17–18 dringend gewaarsku word teen ontrouheid deur verwysings na die oordeel en dat Petrus nie in die verse die lot van die lesers se vervolgers in gedagte het nie.

In hierdie artikel word die besondere wyse waarop Petrus in 4:12–19 die lesers aanmoedig om te midde van die lyding getrou te bly, eksegeties nuut ondersoek. In die ondersoek word eerstens kortliks aandag aan die tekstuele konteks van 4:12–19 binne die brief gegee. Tweedens word die unieke wyse waarop Petrus die identiteit van sy lesers in die brief beskryf, ondersoek. In die derde plek val die klem op Petrus se aansporing van die lesers soos dit in 4:12–19 gevind word. Ten slotte word ’n aantal gevolgtrekkings gemaak.

Hierdie artikel volg die grammaties-historiese model in die eksegese soos dit in die gereformeerde tradisie beoefen word (vgl. Breed, Van Rensburg & Jordaan 2008:45–53; Fee 2009:29–132; Jordaan, Van Rensburg & Breed 2011:225–258; Tolar 2002:21–38). Vir die ontleding van ’n gedagtestruktuur van 4:12–19 word by die metode van Coetzee (1988:19–37) en Cotterell en Turner (1989:230–256) aangesluit.

Die tekstuele konteks van 4:12–19

1 Petrus kan in agt gedagte-eenhede ingedeel word (Breed 2022:2). Hierdie gedagte-eenhede kan soos volg uiteengesit word:

  • Eenheid 1: Aanhef (1:1–2)
  • Eenheid 2: Lofprysing (1:3–12)
  • Eenheid 3: Geroepenes se heilige lewe (1:13–2:10)
  • Eenheid 4: ’n Doelgerigte lewe voor die oë van ongelowiges (2:11–3:12)
  • Eenheid 5: Verantwoorde optrede deur hulle wat deur Christus se lyding en oorwinning na God gelei is (3:13–4:6)
  • Eenheid 6: ’n Lewe tot verheerliking van God in die lig van die wederkoms (4:7–11)
  • Eenheid 7: Om te deel aan Christus se lyding en aan sy heerlikheid (4:12–5:11)
  • Eenheid 8: Slot en seënbede (5:12–14)

Gedagte-eenheid 4:12–19 is een van drie kleiner eenhede binne gedagte-eenheid 7. Hierdie kleiner gedagte-eenhede kan soos volg aangedui word:

  • Aanmoediging om in Christus se lyding te deel (4:12–19)
  • Ouderlinge se toesig te midde van lyding (5:1–5)
  • Standvastigheid te midde van lyding (5:6–11)

Die identiteit van nie-Joodse Christene volgens 1 Petrus

In die ondersoek na die identiteit van die nie-Joodse Christene volgens 1 Petrus word agtereenvolgens aandag gegee aan die feit dat die lesers aangespreek word asof hulle deel is van die Ou-Testamentiese Israel; Jesus Christus en die nie-Joodse Christene se verhouding met die God van Israel; die nie-Joodse Christene en die Ou-Testamentiese Israel; die nie-Joodse Christene se identiteit as uitverkore vreemdelinge van die diaspora; en, ten slotte, die nie-Joodse Christene se verantwoordelikheid volgens 1 Petrus.

Nie-Joodse Christene in 1 Petrus aangespreek asof hulle deel is van die Ou-Testamentiese Israel

Hoewel Petrus se lesers meestal nie-Joodse Christene was, spreek hy hulle in die brief aan asof hulle deel is van die Ou-Testamentiese Israel. Achtemeier (1996:69) sê, ‘In 1 Peter, the language and hence the reality of Israel pass without remainder into the language and hence the reality of the new people of God.’ Senior en Harrington (2016:14) merk op dat die skrywer van 1 Petrus aanvaar dat die kerk Israel is en dat al God se beloftes aan Israel van die Ou Testament ‘come to fruition in the life of the Christian community’. Senior en Harrington (2016:14) sê die skrywer beskou die Christene aan wie hy die brief rig as ‘the elect community; they are Israel – and therefore the author can rhetorically lavish on the Christians all the biblical imagery and symbols that described Israel and its destiny’. Krentz (2008:48–50) wys daarop dat die skrywer met sekere frases uit die Ou Testament aan die lesers ‘titles of honor’ toeken, byvoorbeeld ‘uitverkore geslag’, ‘koninklike priesterdom’ en ‘heilige volk’ (vgl. 2:9). Die skrywer skep daarmee vir die lesers ’n groepidentiteit.

Die vraag ontstaan of die skrywer van 1 Petrus nie ’n supersessionistiese houding teenoor Israel openbaar nie. Bauman-Martin (2007:149) poog om aan te toon dat 1 Petrus as ’n ‘supersessionist text’ beskou moet word. Volgens Bauman-Martin (2007:160) gebruik die skrywer van 1 Petrus sy brief ‘primarily to define his readers as “chosen” in order to strengthen their identity and enhance group cohesion in the face of local social harassment’. Om ’n ‘sense of chosenness of the marginalized’ by die lesers tuis te bring, gebruik die skrywer, volgens haar, Joodse motiewe. Wanneer die skrywer die lesers as die uitverkorenes voorhou, ‘displace’ hy ‘the real chosen ones’ (Bauman-Martin 2007:161–162). Bauman-Martin (2007:164) is ook oortuig dat die skrywer se verwysing in 1:1 na die lesers se diaspora-status ’n ‘appropriate move’ is. Deur aan die lesers diaspora-status toe te ken, poog die skrywer volgens haar ‘to replace the original owners of that identity’. Bauman-Martin (2007:156) aanvaar dat ‘God can have only one chosen people, one plan of salvation, one set of sacred symbols and one canon of sacred texts’ en hierdie ‘ideas’ is, volgens haar, ‘clearly not shareable’.

Wanneer 1 Petrus nader bestudeer word, blyk dit dat Bauman-Martin tot ’n verkeerde gevolgtrekking kom. Sy gee nie na behore aandag aan die feit dat die skrywer in die brief nie op Israel en Israel se ‘culteral treasures/resources’ (vgl. Bauman-Martin 2007:156) fokus nie. Petrus laat in die brief die klem val op wie God is en wat Hy doen. Green (2007:253) se kommentaar met betrekking tot die Skrif, is relevant vir 1 Petrus: ‘Scripture is not about humanity, or even a particular, identifiable segment of humanity, Israel.’ Green (2007:253–254) sê: ‘the economy to which Scripture bears witness and which provides its primary interpretive context is theologically determined. Scripture’s subject and focus is God.’ Petrus beskryf hiervolgens in 1 Petrus ‘an essential unity in the outworking of God’s purpose, from the Scriptures of Israel to the community of Christ’s followers, a unity that coheres in the one God …’ (Green 2007:31).

Dit is duidelik dat die God op wie Petrus in 1 Petrus fokus, dieselfde God is wat Hom in die Ou-Testamentiese bedeling openbaar het – die God van Israel. Hy is die soewereine Skepper-god van alles en almal en wie se heerskappy universeel is (vgl. 1:20 en 4:19; vgl. ook byvoorbeeld Gen 1–2, 14:19; Jes 40:28; 43:1; Boyley 2004:77); die onpartydige Regter van elke mens se lewe (vgl. 1:17; vgl. ook byvoorbeeld Rig 11:27; Jes 33:22; Jer 11:20; Jobes 2005:46); die God wat mense in genade uitverkies en red (vgl. 1:1–2; vgl. ook byvoorbeeld Deut 7:6–9; Jes 41:8–10) en die God wat in ooreenstemming met sy ewige plan regeer (vgl. 1:20; vgl. ook byvoorbeeld Ps 33:11; Jer 29:11; Richard 2000:21–22).

Jesus Christus en die nie-Joodse Christene se verhouding met die God van Israel volgens 1 Petrus

In 1 Petrus neem Jesus Christus ’n sentrale plek in wanneer die verhouding tussen nie-Joodse Christene en die God van Israel ter sprake is. Green (2004:288) verduidelik dit soos volg:

[T]he narrative of Israel is itself determined by the story of Jesus and by the soteriological journey and eschatological hope it engenders. The Israel into whose history Peter writes his audience is Israel as interpreted by the suffering, death, resurrection, ascension, and pending revelation of Jesus Christ. (p. 288)

Liebengood (2023:8) toon aan dat die God van Israel volgens 1 Petrus ‘has acted decisively in and through Jesus to bring to culmination the promises he made to Israel for the sake of the whole world’. Met verwysing na 1:10–12 sê Liebengood (2023) tereg:

[T]he author states that the God and Father of the Lord Jesus Christ (1 Pet 1:3) is in fact the God of Israel; that what this particular God has revealed about himself in Jesus is to be understood within the context of and in continuity with what he has revealed about himself through his covenant and history with Israel. (p. 8)

Die nie-Joodse Christene en die Ou-Testamentiese Israel volgens 1 Petrus

Petrus hou nie in 1 Petrus die nie-Joodse Christene voor as ’n volk wat die Ou-Testamentiese Israel vervang nie. Hy maak dit duidelik dat die nie-Joodse Christene wat in geloof (vgl. 1:8–9) aan Jesus Christus verbind is,4 dieselfde identiteit as Israel ontvang. Deur God se beslissende optrede in Jesus Christus is nie-Joodse Christene, soos die Ou-Testamentiese Israel, uitverkore vreemdelinge van die diaspora (ἐκλεκτοῖς παρεπιδήμοις διασπορᾶς, 1:1), ’n uitverkore volk (γένος ἐκλεκτόν, 2:9), ’n koninklike priesterdom (βασίλειον ἱεράτευμα, 2:9), ’n heilige nasie (ἔθνος ἅγιον, 2:9), die eiendomsvolk van God (λαὸς εἰς περιποίησιν, 2:9), die volk van God (λαὸς θεοῦ, 2:10) en bywoners (παροίκους, 2:11).

Nie-Joodse Christene as uitverkore vreemdelinge van die diaspora volgens 1 Petrus

Hoewel die skrywer in 1 Petrus die lesers se identiteit op verskillende wyses beskryf, stel hy reeds in die aanhef met die frase ἐκλεκτοῖς παρεπιδήμοις διασπορᾶς (vgl. 1:1) belangrike temas in die brief aan die orde (Achtemeier 1996:81; Feldmeier 2008:52–53; Harink 2009:28).

Die woord ἐκλεκτός word in 1:1 gebruik vir die betekenis ‘dit wat gekies is’ (Louw & Nida 1988:362). Petrus sluit met die gebruik van die woord ἐκλεκτός in 1:1 aan by Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes soos Deuteronomium 4:37, 10:15, 14:2, Psalm 105:6 en 43, Jesaja 43:20, 45:4 en Esegiël 20:5 waar Israel se besondere status by God met die Hebreeuse woord בָּחַר aangedui word (vgl. Achtemeier 1996:81). Deur die Nuwe-Testamentiese gelowiges aan wie Petrus skryf as uitverkorenes te identifiseer, maak Petrus duidelik dat ook hulle, soos Israel, by God ’n spesiale status het.

Die naamwoord παρεπίδημος word in 1:1 gebruik vir die betekenis ‘om as vreemdeling te leef’ (Louw & Nida 1988:133). Met die datief παρεπιδήμοις saam met die datief ἐκλεκτοῖς in 1:1 maak Petrus duidelik dat die lesers as uitverkorenes ook vreemdelinge is. Terwyl ἐκλεκτός die lesers se verhouding met God beskryf, bring die woord παρεπίδημος die lesers se polities-sosiale omstandighede (horisontale verhoudings) na vore (Forbes 2014:12; Williams 2011:47). Elliott (2005:37–48) is oortuig dat die skrywer met παρεπίδημος (en πάροικος) op die polities-sosiale situasie van die geadresseerdes wys voordat hulle tot geloof in Jesus Christus gekom het. Uit 4:2–4, kan egter afgelei word dat die lesers nie voorheen vreemdelinge was nie (vgl. Fagbemi 2007:51–52; Filson 1955:401–402; Richard 2000:30). Die lesers se vreemdelingskap is ‘a result not of their sociopolitical status, but of their sociospiritual status as God’s elect and set-apart people’ (Williams 2011:50).

Petrus beskryf die vreemdelingskap van die lesers in meer besonderhede wanneer hy in die brief telkens oor die lyding wat die lesers ervaar, handel (vgl. ποικίλοις πειρασμοῖς, in 1:6; πειρασμός in 4:12, πάσχω in 3:14; 4:1, 15–16, 19; 5:10 en ὀνειδίζω in 4:10). Met die term lydingthe author has in mind the pain, abuse, and ostracism that Christians as a minority group suffer in a pagan society’ (Richard 2000:20). Breed (2022:3) toon uit 1 Petrus aan dat die lyding van die lesers verskillende vorms aangeneem het, byvoorbeeld beswadderings (2:12 en 3:16), ernstige beledigings (3:9), vernederings (3:16) en minagting (4:14).5

Deur die gebruik van die woord diaspora (διασπορά) in 1:1 en Babilon (Βαβυλών) in 5:13:

[T]he author constructs an inclusio with the opening verse, giving to his whole letter this kind of framework, and, more specifically, to identify both the author and his Christian community as sharing with the readers such exile status. (Achtemeier 1996:354)

Hoewel daar nie met Martin (1992:144) saamgestem kan word wanneer hy sê dat ‘the Diaspora’ in 1 Petrus as ’n ‘controling metaphor’ dien nie (vgl. Green 2007:218), toon hy (Martin 1992:144–275) wel aan dat die diaspora-status van die lesers deurlopend in die brief ter sprake is.

Die woord διασπορά is dikwels gebruik om die Jode wat buite Palestina gewoon het en wat as gevolg van hulle ontrouheid aan die verbond met God verstrooi is, aan te dui (vgl. Deut 28:25; Neh 1:9; Ps 146:2 en Jes 15:7). Jobes (2005:65), Goppelt (1993:66) en Richard (2000:30) toon aan dat daar in 1 Petrus geen aanduiding is dat die woord διασπορά verband hou met die ontrouheid van die lesers nie. Deur op die diaspora-status van die lesers te wys, beklemtoon Petrus eerder die tydelike van mense van die diaspora. As mense van die diaspora is die lesers op weg (Martin 1992:150–155). Petrus dui byvoorbeeld sy lesers in die begin van die brief aan as ‘a journeying people (e.g., 1:3–12)’ (Green 2004:286).

Die lesers, as mense van die diaspora, se optrede tydens die reis word in 1 Petrus beklemtoon (vgl. 1:17; 2;11; 4:2; 5:10) maar die eindpunt van die reis word ook aangedui (vgl. byvoorbeeld 1:5, 7, 13; 5:4) (Martin 1992:154–157).

Die verantwoordelikheid van nie-Joodse Christene volgens 1 Petrus

Omdat die nie-Joodse Christene deel het aan God se volgehoue getrouheid teenoor Israel, hou dit in dat hulle op ’n baie spesifieke manier sal lewe. Petrus gebruik telkens die woord ἀναστροφή (vgl. 1:15, 17, 18, 2:12; 3:1, 2) om die lesers se sigbare daaglikse gedrag (vgl. Louw & Nida 1988:504) aan te dui. Drie kenmerke van hierdie gedrag kan uit 1 Petrus aangedui word: eerstens sal die lesers se gedrag deur die navolging van Jesus Christus gekenmerk word (vgl. 2:21–24); tweedens sal die lesers afstand doen van hulle vroeëre lewe toe hulle optrede in ooreenstemming was met die wil van die heidene (1:18; 4:3); en derdens moedig die skrywer sy lesers aan:

[T]o orient themselves as gentiles to a particularly Jewish way of life that is patterned after the life of Jesus (e.g., 1 Pet 2:21–23 mimicked in 1 Pet 3:9–12) and built upon the hopes and expectations of Israel. (Liebengood 2023:9)

Hierdie ‘Jewish way of life’ kom veral in 1 Petrus na vore wanneer Petrus die identiteit van die lesers op ’n wyse beskryf wat ooreenkom met die identiteit van Israel soos dit in die Ou Testament vermeld word, maar ook wanneer hy ‘the ethical and moral implications of their identity’ (Fagbemi 2009:5) uitlig. Die volgende voorbeelde kan in hierdie verband gegee word:

  • Wanneer Petrus sê dat die lesers deur God se genade uitverkorenes is (vgl. ἐκλεκτός in 1:1), roep hy hulle in 5:12 op om in hierdie waarheid vas te staan (Fagbemi 2009:6).
  • Die lesers word nie in die brief aangespoor tot ‘a migration (metoikesia) of the soul into a heavenly realm’ nie, maar om as mense wat nuut verwek is (vgl. ἀναγεννάω in 1:3) ‘within the political, ethnic, religious, and cultural institutions of the larger society’ te leef (Volf 1994:19–20). As mense van die diaspora, het hulle die verantwoordelikheid om, soos die Jode wat in die Ou-Testamentiese bedeling in diaspora was, nie aan ‘assimilation to paganism and defection from the true faith’ toe te gee nie (Martin 1992:159; vgl. ook Green 2004:285–286).
  • Die identiteit van die lesers as uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is en die eiendomsvolk van God is, moet volgens 2:9 daartoe lei dat hulle die verlossingsdade verkondig (ἐξαγγέλλω, 2:9) van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het (Van Houwelingen 1991:85–86).

Aansporing van nie-Joodse Christene volgens gedagte-eenheid 4:12–19

Daar is reeds genoem dat daar aanduidings in 4:12–19 is dat Petrus die lesers op ’n besondere wyse aanmoedig om, te midde van die lyding, getrou te bly. Petrus se aansporing van die lesers in die gedagte-eenheid word nou nader ondersoek. Dit wat reeds in die artikel aangedui is met betrekking tot die nie-Joodse Christene wat deel het aan God se voortgesette getrouheid aan die Ou-Testamentiese Israel, asook die sentrale plek wat die identiteit van die nie-Joodse Christene as uitverkore vreemdelinge van die diaspora inneem, word in hierdie ondersoek verreken.

In die bestudering van 4:12–19 word onderstaande tekskritiese keuses ná verantwoording gemaak ten opsigte van die belangrikste variante lesings wat in die tekskritiese apparaat van die vierde uitgawe van die United Bible Society’s Greek New Testament (UBS4) gevind word.

  • Die frase τὸ τῆς δόξης καὶ τὸ τοῦ θεοῦ πνεῦμα in 4:14 word as die beste lesing aanvaar (vgl. Michaels 1988:256).
  • Die variant κατὰ μὲν αὐτοὺς βλασθημεῖται κατὰ δὲ ὑμᾶς δοξάζεται in 4:14 word as ’n latere byvoeging by die teks beskou (vgl. Achtemeier 1996:303).
  • Die lesing ὀνόματι in 4:16 word bo die variant μέρει verkies (vgl. Dubis 2010:153).
’n Gedagtestruktuur van 4:12–19

Die outeur se eie interpretasie van ’n gedagtestruktuur van 4:12–19 kan soos volg voorgestel word:

  • A - Dit is nie vreemd dat geliefdes aan intense lyding wat tot toetsing lei, onderwerp word nie.
      12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;

  • B - Mense wat in die huidige bedeling in Christus se lyding deel, sal ook, wanneer Christus se heerlikheid openbaar word, uitermate bly wees.
      13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.

  • C - ‘n Verwysing na die Ou Testament (Jes 11:2 LXX) wat as bevestiging dien dat mense gelukkig is wat ter wille van Christus ly.
      14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.

  • D - Aansporing om nie in sekere hoedanighede te ly nie.
      15 Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie.

  • D1 - Aansporing om bereid te wees om as Christene te ly en God te verheerlik.
      16 Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.

  • A1 - Dit is nie vreemd dat die lesers lyding ondergaan nie. Die oordeel (beoordeling) begin reeds in die huidige bedeling by die huis van God.
      17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.

  • B1 - Mense wat in die huidige bedeling ongehoorsaam is aan die evangelie, kan seker wees van ‘n verskriklike einde in die bedeling wat kom.
      En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

  • C1 - ‘n Aanhaling uit die Ou Testament (Spreuke 11:31 LXX) wat bevestig dat die goddelose en die sondaars se lewe op ‘n verskriklike einde in die volgende bedeling afstuur.
      18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?

  • E - Finale aansporing: die lesers moet hulleself in hulle lyding aan die getroue Skepper toevertrou en in getrouheid volhard.
      9 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.

Uit bostaande gedagtestruktuur kan die volgende oorsigtelike afleidings aangaande die aansporings in 4:12–19 gemaak word:

  • In 4:12–19 beklee die aansporings wat die skrywer tot die lesers rig, ’n sentrale plek. Petrus spoor die lesers aan om nie in sekere hoedanighede6 te ly nie (4:15). Hy spoor hulle egter ook aan om bereid te wees om in die hoedanigheid van Christene te ly en God so te verheerlik (4:16).
  • In 4:12–14, wat die aansporings in 4:15–16 voorafgaan, word duidelik gemaak wat die lesers se houding en optrede te midde van hulle lyding moet wees en word op die gevolge van die korrekte houding en optrede gewys. In 4:17–18, wat op die aansporings in 4:15–16 volg, handel Petrus oor die korrekte houding teenoor lyding (4:17a), maar beklemtoon moontlik die negatiewe gevolge wanneer daar in lyding verkeerd opgetree word (4:17b–18). Dit blyk dat die aansporing in 4:15 om nie in sekere hoedanighede te ly nie, moontlik verband hou met die negatiewe gevolge wat in 4:17–18 uitgespel word en dat die aansporing in 4:16 met die korrekte houding en positiewe gevolge wat in 4:12–14 vermeld word, verband hou.
  • In 4:19 gee Petrus ’n finale aansporing wat opsommend met die aansporings in 4:15–16 asook met dit wat in 4:12–14 en 4:17–18 oor lyding gesê is, verband hou.
Die nie-Joodse Christene aangespoor as uitverkore vreemdelinge van die diaspora

Soos reeds genoem, stel Petrus met die beskrywing van die lesers in 1:1 as ἐκλεκτοῖς παρεπιδήμοις διασπορᾶς belangrike temas waaroor hy in die brief sal handel aan die orde. Daar word nou nader ondersoek ingestel na die mate waarin die aansporing van die lesers as uitverkore vreemdelinge van die diaspora in 4:12–19 figureer.

Die nie-Joodse Christene as uitverkorenes aangespoor

Hoewel Petrus nie in 4:12–19 uitdruklik na die lesers as uitverkorenes verwys nie, maak hy tog duidelik dat die lesers uitverkorenes is. Hy spreek hulle in 4:12 as ‘geliefdes’ (ἀγαπητός) aan. Hy dui met hierdie aanspreekvorm nie alleen die verhouding van liefde tussen hom en die lesers en die liefde tussen gelowiges aan nie. Hy beklemtoon die lesers se besondere status voor God. God het hulle liefgehad en hulle verkeer in sy liefde. Met die woord ἀγαπητός bring Petrus dieselfde gedagte na vore as wat hy reeds in 1:1 aangedui het, naamlik dat die lesers uitverkorenes (ἐκλεκτός, 1:1) is (Boring 2011:53:113; Michaels 1988:115; Richard 2000:103). Deur nie-Joodse Christene aan wie hy skryf as ‘geliefdes’ te identifiseer, maak Petrus duidelik dat die nie-Joodse gelowiges, soos Israel van die Ou Testament, ’n spesiale status by die God van Israel het. Aan die begin van 4:12–19 waarin oor die lyding van die lesers gehandel word, dui Petrus dus aan dat die lesers nie lyding ondergaan omdat hulle by God in onguns verkeer nie. Hulle is God se geliefdes – sy uitverkorenes.

Die nie-Joodse Christene as vreemdelinge aangespoor

In 4:12–19 word die lesers se vreemdelingskap aan die orde gestel deurdat Petrus telkens na hulle lyding verwys. Nadat Petrus met die aanspreekvorm geliefdes na die lesers verwys het, laat hy dadelik geen twyfel dat hulle status voor God nie inhou dat hulle die lyding sal vryspring nie. Hulle moet dit nie vreemd vind indien daar pynlike lyding (vgl. Πύρωσις; Louw & Nida 1988:287) onder hulle is nie (vgl. τῇ ἐν ὑμῖν). Die feit dat hulle geliefdes is, hou juis in, soos Petrus reeds in 1:1 duidelik gemaak het (vgl. bo), dat hulle vreemdelinge is in die wêreld waarin hulle leef. Hierdie lyding as vreemdelinge is egter nie sinlose lyding nie, maar is lyding met ’n spesifieke doel (vgl. πρός saam met die akkusatief van πειρασμός in 4:12). Die pynlike lyding laat hulle ware natuur sigbaar word (vgl. Πειρασμός; Louw & Nida 1988:332). Deur die lyding wat hulle ondergaan, word die egtheid van hulle geloof sigbaar (Davids 1990:165).

Petrus beklemtoon in besonder die lesers se vreemdelingskap wanneer hy in 4:12–19 hulle verhouding met Jesus Christus aan die orde stel. Hy verwys in 4:13 na die lesers wat deel het aan Christus se lyding. Wanneer die lesers saam met Christus ly (vgl. κοινωνεῖτε τοῖς τοῦ Χριστοῦ παθήμασιν), sal hulle ook met groot blydskap kan jubel wanneer Christus se heerlikheid openbaar word. Die feit dat Petrus in die brief benadruk dat Christus in sy lyding ’n voorbeeld nagelaat het wat die lesers in hulle lyding moet volg (vgl. byvoorbeeld 2:21–23 en 4:1), laat blyk dat Petrus κοινωνέω in 4:13 vir die betekenis ‘om met ander in sekere aktiwiteite te deel’ (vgl. Louw & Nida 1988:512) gebruik. Die lesers word dus in 4:13 gelei om, wanneer daar lyding oor hulle kom, seker te maak dat hulle Christus navolg. Om volgens 4:13 in Christus se lyding te deel, hou egter meer in as net die navolging van Christus. Christensen (2018) toon aan dat die optrede van die gelowige in 1 Petrus gegrond is op:

[A] dynamic union with Christ, thus expanding the ethic beyond imitation to include the concept of the transformative power in the believer working out in the ethics of the believing community. (p. 342; vgl. ook Hockey 2019:152)

In 4:14 handel Petrus oor die lesers se bereidheid om ter wille van (vgl. ἐν saam met die datief ὀνόματι in 4:13; Louw & Nida 1988:780) Christus se Naam beledig te word (vgl. ὀνειδίζω in 4:14; Louw & Nida 1988:433).7 Hy verwys dus na die lesers se bereidheid om in ‘allegiance to Christ’ (Senior & Harrington 2016:129) te ly. Wanneer hulle ter wille van hulle verhouding met Christus ly, mag hulle volgens 4:14 weet dat hulle geseënd is (Schreiner 2003:222).

Die nie-Joodse Christene as mense van die diaspora aangespoor

Soos reeds genoem, word die lesers se diaspora-status in 1 Petrus deurgaans voorop gestel. Hulle is mense wat op reis is (sien bo). In 4:13 word die eindpunt van hierdie reis beskryf. Met die bekendmaking van Jesus Christus se heerlikheid, sal die lesers, wat in die tyd van die diaspora saam met Christus ly, uitbundig kan jubel (vgl. ἐν τῇ ἀποκαλύψει τῆς δόξης αὐτοῦ χαρῆτε ἀγαλλιώμενοι).

Petrus beklemtoon ook in 4:12–19 (soos in die res van die brief; sien bo) die verantwoordelikheid van die lesers as mense van die diaspora. Soos die Israeliete in diaspora te midde van die druk wat hulle in die vreemde moes deurmaak, getrou moes bly aan die ware God, moet die lesers volgens 4:12–19 getrou bly. Die aansporing tot getrouheid staan in 4:15–16 in besonder op die voorgrond. In hierdie twee verse, wat deur die voorsetsels μή (4:15a) en δέ (4:16a) saamgebind word, spoor Petrus die lesers aan om in die regte hoedanigheid8 te ly. Hy noem vier voorbeelde van hoedanighede waarin die lesers nie mag ly nie. As hulle as moordenaars, diewe, kwaaddoeners of as bemoeisiekes ly, sou dit daarop neerkom dat hulle steeds in die lewe van die heidene deel – ’n lewe waaraan hulle oorgenoeg deel gehad het (vgl. 4:3–5). As hulle sou voortgaan ‘to bring suffering on themselves because of genuine wrongdoing on their part’ (Horell 2008:83), volg hulle ook nie die voorbeeld van Christus na nie. Christus het nie as ’n kwaaddoener gely nie. Hy is die Regverdige (vgl. δίκαιος) wat ter wille van onregverdiges gely het (3:18). In 4:16 maak Petrus duidelik in watter hoedanigheid die lesers wel mag ly, naamlik as Christene (vgl. ὡς Χριστιανός). Die woord Χριστιανός in 4:16 verwys na iemand wat in Christus glo en sy volgeling is (Achtemeier 1996:313; vgl. Louw & Nida 1988:127). Petrus handel dus in 4:16 oor iemand wat Christus getrou volg en daarom lyding ondergaan. Wanneer die lesers ly omdat hulle in Christus glo en hom volg, moet hulle hul volgens 4:16 nie skaam nie (μὴ αἰσχυνέσθω). Die woord αἰσχύνομαι word in 4:16 gebruik vir die betekenis ‘om skaam te wees omdat ’n persoon iets benede sy/haar waardigheid of sosiale status doen’ (vgl. Louw & Nida 1988:310) en hou in dat ’n persoon sy of haar geloof ontken (vgl. Achtemeier 1996:314; Green 2007:159). In plaas daarvan dat die lesers hulle skaam om in die hoedanigheid van Christene te ly, moet hulle as Christene, God verheerlik (vgl. δοξάζω, 4:16).

In 4:19 kom die skrywer tot ’n finale aansporing. Hy spoor die leser aan om hulle in hulle lyding op God te rig. Hulle moet hulleself9 aan die getroue Skepper toevertrou (παρατίθεμαι). Dit blyk dat Petrus met hierdie aansporing, deur die gebruik van die woord παρατίθεμαι, Jesus as voorbeeld aan die lesers voorhou. Net soos Jesus Homself volgens 2:23 aan God toevertrou het (παραδίδωμι), word die lesers in 4:19 aangemoedig om hulleself aan God as die getroue Skepper toe te vertrou (vgl. Richard 2000:216). Met die opdrag dat die lesers hulleself, wanneer hulle ly, aan die Skepper moet toevertrou, lei Petrus die lesers as mense van die diaspora tot ’n geloofsdaad wat die aansporings in 4:15–16, asook alles wat hy in 4:12–14 en 4:17–18 oor lyding gesê het, omspan. Omdat die God van Israel die getroue Skepper is, mag hulle daarop reken dat Hy as Skepper (vgl. κτίστης) aan hulle die krag kan gee om getrou te bly in die diaspora en omdat hy getrou (vgl. πιστός) is, aan hulle ook die krag wil gee.

Nie-Joodse Christene aangespoor deur die gebruik van die Ou Testament
Die Gees wat op die lesers rus (4:14) – ’n Verwysing na Jesaja 11:2

In 4:14 wys Petrus op die Gees wat op die lesers rus. By nadere beskouing blyk dit dat daar duidelike ooreenkomste tussen 4:14 en Jesaja 11:2 is (Carson 2007:1041). Drie woorde, naamlik θεός, ἀναπαύομαι en πνεῦμα kom in Jesaja 11:2 (LXX) sowel as in 4:14 voor. Omdat daar ook opsigtelik verskille tussen die twee Skrifgedeeltes is, kan aanvaar word dat Petrus nie Jesaja 11:2 aanhaal nie. Daar kan egter met Forbes (2014:156), Jobes (2005:288) en Moyise (2005:185–186) saamgestem word dat hy wel in 4:14 na Jesaja 11:2 verwys.10

Om vas te stel wat Petrus met die verwysing na Jesaja 11:2 vir nie-Joodse Christene wil duidelik maak, is dit nodig om die konteks van Jesaja 11:2 nader te ondersoek. Carson (2007:1041) toon oortuigend aan dat Jesaja 11 binne die konteks van Jesaja 7 en 9 verstaan moet word. Carson (2007:1041) sê ‘God promises a coming messianic ruler (Is 7), a righteous messianic king who sits on David’s throne and is recognized as the mighty God (Is 9)’. In Jesaja 11:2 se onmiddellike konteks word oor ’n Koning met wie die oorblyfsel van Israel en Juda se toekoms ten nouste verweef is, gehandel (vgl. Jes 11:1–16). House (2019) gee ’n waardevolle opsomming van Jesaja 11 as hy sê:

Yahweh’s covenant people have been reduced to a remnant, but from that remnant will grow a great King whose reign will manifest peace and righteousness (11:1–9), whose greatness will draw others to Him (11:10), and whose people will prosper (11:11–16). (p. 313)

In Jesaja 11:2 word die verhouding tussen hierdie Koning en die Gees beskryf. Daar kan met Young (1978:380) saamgestem word dat die Gees na wie in Jesaja 11:2 verwys word ‘is not the spirit of prophecy, nor a mere influence is this Spirit but rather the Spirit that belongs to Yahweh, and who works for Yahweh’ (vgl. ook House 2019:317).

Die Gees sal volgens Jesaja 11:2 op hierdie Koning ‘rus’ (נוּחַ). Motyer (2015:122) noem dat daar in die Ou Testament individue is ‘who enjoyed a permanent indwelling of the Spirit’ (vgl. Num 11:17, 27:18; 1 Sam 16:13) en sê ‘In Isaiah, the Messiah is the Spirit-endowed one’ (vgl. Jes 42:1; 59:21 en 61:1).

Die Gees sal die Koning toerus vir sy taak. Die feit dat die Gees van die Here op die Koning rus, lei daartoe dat die Koning se regering sekere eienskappe toon (House 2019:319–321). Hierdie eienskappe word in Jesaja 11:2 in drie parallelle pare genoem, naamlik wysheid en verstand, raad en sterkte, kennis en die vrees van die HERE. Die Messias ontvang die Gees van die Here sodat sy regering nie op selfverheerliking gerig sal wees nie, maar op die wil van God (vgl. Kaiser 1983:256).

Die direkte konteks van Jesaja 11:2 werp lig op Petrus se teologiese gebruik daarvan. Soos reeds genoem, deel die nie-Joodse Christene aan God se getrouheid teenoor die Ou-Testamentiese Israel – dié Israel in die konteks van Jesus Christus se verlossingswerk. Hoewel Petrus nie in 4:14 vermeld dat die Gees op Jesus kom rus het nie, blyk dit dat Petrus die vervulling van Jesaja 11:2, soos in Johannes 1:32 vermeld word (Michaels 1999:25), veronderstel. Michaels (1999:25) maak in 4:14 duidelik dat die Gees nie op Jesus Christus alleen kom rus het nie, maar ook op sy volgelinge. Nadat die lesers deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood nuut verwek is (vgl. 1:3), word hulle ook toegerus deur dieselfde Gees wat die Koning in ooreenstemming Jesaja 11:2 toegerus het.

As die lesers ter wille van Christus se Naam beledig word, is hulle, volgens 4:14, nie alleen gelukkig nie. Hulle het ook ’n bewys dat die Gees wat Christus toegerus het, hulle ook toerus om nie onder die druk van die belediging te swig nie, maar te volhard om God in hulle lyding te verheerlik.

Die oordeel wat by die huis van God begin (4:17) – ’n Verwysing na verskeie Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes

Verskeie skrywers is oortuig dat die frase ὅτι [ὁ] καιρὸς τοῦ ἄρξασθαι τὸ κρίμα ἀπὸ τοῦ οἴκου τοῦ θεοῦ ’n verwysing na spesifieke Ou-Testamentiese gedeeltes is. Ou-Testamentiese gedeeltes wat veral genoem word, is Esegiël 9:5–6, Sagaria 13:9 en Maleagi 3:1–3 (Carson 2007:1041; vgl. byvoorbeeld Johnson 1986:285–294; Schutter 1989:154–163). Daar kan egter met Jobes (2005:292) saamgestem word dat daar ’n ‘lack of precise lexical correspondence to any one of these passages’ voorkom en dat genoemde frase nie as ’n aanhaling van of ’n verwysing na spesifieke Skrifgedeeltes beskou moet word nie (vgl. ook Egan 2016:200). Beale en Carson (2007) wys daarop dat Nuwe-Testamentiese skrywers soms:

[N]ot thinking of any one OT text but nevertheless using the expression to reflect the rich mixed of promised and promised judgment that characterised the particular instantiations of the OT occurrences. (p. xxv)

Dit is heel waarskynlik dat Petrus in 4:17 verskeie Ou-Testamentiese gedeeltes waarin God se oordeel oor Israel vermeld word, in gedagte het.

Dit blyk dat Petrus in 4:17, sonder om noodwendig na spesifieke Ou-Testamentiese gedeeltes te verwys, duidelik maak dat die oordeel wat volgens die Ou Testament vir Israel geldig was, ook vir die lesers geldig is. Die oordeel begin, soos met die Ou-Testamentiese Israel, by die lesers as die huis van God.

In 4:17 word die woord κρίμα gebruik om die proses van beoordeling aan te dui en nie om te besluit of iemand skuldig of onskuldig is nie (Carson 2007:1041–1042; vgl. Louw & Nida 1988:364). Die nie-Joodse gelowiges word dus aangespoor deur uit die Ou Testament te bevestig dat die proses van beoordeling reeds aan die gang is en by hulle as die huis van God begin het.

Die goddelose en sondaar bestem vir die oordeel (4:18) – ’n Aanhaling van Spreuke 11:31

Petrus haal in 4:18 Spreuke 11:31 (Septuaginta [LXX]) aan (Schreiner 2003:228). Wanneer die konteks van Spreuke 11:31 nagegaan word, is dit duidelik dat die vers as ’n samevatting aan die einde van ’n hoofstuk geplaas is – ’n hoofstuk waarin oor die regverdige en die goddelose gehandel is. Die vers ‘seems to be affirming judgment on the wicked, despite appearances to the contrary’ (Murphy 2018:85).

In die Massoretiese (MT) teks sowel as die LXX word die vergelding van die regverdige, die goddelose en die sondaar in Spreuke 11:31 aan die orde gestel. Die LXX vervang egter ‘op aarde’ (בָּאָ֣רֶץ) met ‘beswaarlik’ (μόλις). Volgens die LXX vind die regverdige se verlossing beswaarlik (vgl. Μόλις; Louw & Nida 1988:690) plaas. Deur die weglating van בָּאָ֣רֶץ stel die Griekse vertaling ’n ander vergelding as ’n vergelding op aarde aan die orde, naamlik ’n eskatologiese vergelding. Die LXX plaas Spreuke 11:31 dus in ’n eskatologiese konteks (Atkinson 2021:617). Deur ’n aanhaling uit die LXX, bevestig Petrus vir die nie-Joodse Christene uit die Ou Testament dat die goddeloses en sondaars eskatologiese vergelding te wagte kan wees.

Aansporing van nie-Joodse Christene deur te waarsku

Daar word meestal deur eksegete aanvaar dat die skrywer in 4:17–18 met τῶν ἀπειθούντων, ὁ ἀσεβὴς en ἁμαρτωλὸς na die lesers se vervolgers verwys (Achtemeier 1996:316; vgl. byvoorbeeld Davids 1990:171–172; Schreiner 2003:228). Hiervolgens wil Petrus dus in 4:17–18 die lesers bemoedig deur aan te dui dat hulle vervolgers geoordeel sal word.

Dit blyk egter uit die volgende feite dat Petrus in 4:17–18 die lesers waarsku om nie ontrou te wees nie:

  • Omdat Petrus reeds in 4:15 die lesers aangespoor het om nie as kwaaddoeners te ly nie, is dit waarskynlik dat hy in 4:17–18 die aansporing in 4:15 versterk deur aan te dui waarop die lewe van ongehoorsames, goddeloses en sondaars uitloop.
  • Petrus het in 1:17 aan die lesers duidelik gemaak dat God ’n regter is wat onpartydig (ἀπροσωπολήμπτως) oordeel en dat niemand uitgesluit is van sy oordeel nie (Hockey 2019:189). Dit is dus moontlik dat Petrus in 4:17–18, ná die aansporing in 4:15, weer God se onpartydige oordeel beklemtoon.
  • Petrus verwys nie in 4:17 na mense wat ongelowig is nie, maar na mense wat ongehoorsaam is (vgl. ἀπειθέω). Hy sê ook dat hulle aan die evangelie van God (τῷ τοῦ θεοῦ εὐαγγελίῳ) ongehoorsaam is. Hy het reeds in 1:12 vermeld dat die evangelie (εὐαγγελίζω) aan die lesers verkondig is en het direk daarna duidelik gemaak wat die etiese verantwoordelikhede van die lesers is aan wie die evangelie verkondig is (vgl. 1:13–2:10; Michaels 1988:52).

Petrus druk dus in 4:17–18 die erns daarvan op die lesers se harte om nie as uitverkore vreemdelinge van die diaspora ontrou te wees nie. Hy waarsku dat mense wat nie bereid is om in hulle verhouding met Jesus Christus te ly nie, moet weet dat die tyd van die diaspora vir hulle op die eskatologiese oordeel sal uitloop.

Gevolgtrekkings

Uit die voorgaande kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word:

  1. Petrus aanvaar in 4:12–19, soos in die res van die brief, dat sy lesers wat meestal nie-Joodse Christene was, deur Jesus Christus deel het aan God se voortgesette getrouheid teenoor die Ou-Testamentiese Israel. Hy gebruik daarom ook die Ou Testament in 4:12–19 asof die lesers deel is van die Ou-Testamentiese Israel (vgl. 4:14, 17 en 18).

  2. Soos ook elders in die brief, neem die identifisering van die lesers as uitverkore vreemdelinge van die diaspora ’n belangrik plek in 4:12–19 in. Wanneer Petrus die lesers aan die begin van die gedagte-eenheid as ‘geliefdes’ identifiseer (4:12), beklemtoon hy dat hulle uitverkorenes is. Dit is in besonder wanneer Petrus in 4:12–19 oor lyding handel, dat die lesers se vreemdelingskap ter sprake is (vgl. 4:13, 14, 15, 16 en 19). Hy wys op lyding in navolging van Christus, ter wille van Christus en lyding as Christene. Petrus laat blyk die lesers se diaspora-status wanneer hy die hoedanigheid waarin hulle God moet verheerlik vermeld. As mense van die diaspora sou hulle ontrou wees as hulle in die hoedanigheid van moordenaars, diewe, kwaaddoeners of bemoeisieke mense ly. Hulle sal God egter verheerlik as hulle bereid is om in die hoedanigheid van Christene te ly (4:16). In die tyd van die diaspora moet hulle te midde van hulle lyding Christus navolg en hulleself aan God as getroue Skepper toevertrou (4:19).

  3. Die aansporing 4:15–16 om in lyding getrou te bly en God te verheerlik, word in 4:12–19 op die volgende wyses versterk:
    • Die lesers se identiteit as uitverkorenes word in 4:12–19 voorop gestel. Hulle ly nie omdat hulle by God in onguns is nie. Hulle het by God die status van geliefdes (4:12).
    • Die lesers word verseker dat hulle lyding ’n spesifieke doel het. Deur lyding word die egtheid van hulle geloof sigbaar (4:13).
    • As die lesers te midde van hulle lyding getrou bly, het hulle sekerheid dat hulle lyding op blydskap sal uitloop wanneer Christus verheerlik word (4:13).
    • Deur ’n verwysing na Jesaja 11:2 beklemtoon Petrus die toerusting waaroor die lesers beskik. Wanneer hulle te midde van lyding God verheerlik, is dit ’n bewys dat hulle deur dieselfde Gees wat Jesus Christus toegerus het, toegerus word (4:14).
    • Petrus versterk in 4:12–19 sy aansporing aan die lesers om in lyding getrou te bly deur te waarsku. Met verwysing na verskeie Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes maak hy duidelik dat die proses van beoordeling reeds aan die gang is (4:17a) en dat ongehoorsaamheid aan die evangelie van God op die oordeel sal uitloop (4:17b). Deur ’n aanhaling uit Spreuke 11:31 (LXX) bevestig hy dat die eskatologiese oordeel van hulle wat ontrou is, vas en seker is (4:18).

Erkennings

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel negatief kon beïvloed nie.

Outeur se bydrae

D.B. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met en/of en deelname deur mense.

Befondsingsinligting

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Literatuurverwysings

Achtemeier, P.J., 1996, 1 Peter. A commentary on First Peter, Augsburg Fortress, Minneapolis, MN. (Hermeneia – A Critical and Historical Commentary on the Bible).

Atkinson, J., 2021, ‘Genre-sensitive biblical interpretation in 1 Peter’, Themelios: An International Journal for Students of Theological and Religious Studies 46(3), 608–619.

Bauman-Martin, B., 2007, ‘Speaking Jewish: Postcolonial aliens and strangers in First Peter’, in R.L. Webb & B. Bauman-Martin (eds.), Reading First Peter with new eyes: Methodological reassessments of the letter of First Peter, Library of New Testament Studies, pp. 144–177, T&T Clark, London.

Beale, G.K., 2012, Handbook on the New Testament use of the Old Testament: Exegesis and interpretation, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Beale, G.K. & Carson, D.A., 2007, ‘Introduction’, in G.K. Beale & D.A. Carson (eds.), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. xxiii–xxviii, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Boring, M.E., 2011, 1 Peter, Abington Press, Nashville, TN. (Abingdon New Testament Commentaries).

Boyley, M., 2004, ‘1 Peter – A mission document?’, The Reformed Theological Review 63(2), 72–86.

Breed, D.G., Van Rensburg, F.J. & Jordaan, G.J.C., 2008, Manlik en vroulik in die kerk: Geslagtigheid en die besondere dienste, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Breed, D.G., 2022, ‘Lydende Nuwe-Testamentiese gelowiges bedien deur die Ou-Testamentiese profete: Eksegese van 1 Petrus 1:10–12’, In die Skriflig 56(1), a2809. https://doi.org/10.4102/ids.v56i1.2809

Carson, D.A., 2007, ‘1 Peter’, in G.K. Beale & D.A. Carson (eds.), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 1015–1046, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Coetzee, J.C., 1988, ‘Gedagtestruktuurontleding en die eksegese van die Heilige Skrifte’, in J.C. Coetzee (red.), Koninkryk, Gees en Woord, pp. 19–37, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Christensen, S., 2018, ‘Reborn participants in Christ: Recovering the importance of union with Christ in 1 Peter’, The Journal of the Evangelical Theological Society 61(2), 339–354.

Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.

Davids, P.H., 1990, The First Epistle of Peter, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The New International Commentary on the New Testament).

Dubis, M., 2010, 1 Peter: A handbook on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.

Egan, P.T., 2016, Ecclesiology and the scriptural narrative of 1 Peter, James Clark & Co., Cambridge.

Elliott, J.H., 2005, A home for the homeless. A social-scientific criticism of 1 Peter, its situation and strategy, Wipf & Stock Publishers, Eugene, OR.

Fagbemi, S.A.A., 2007, Who are the elect in 1 Peter? A study in biblical exegesis and its application to the Anglican Church in Nigeria, Peter Lang Publishing Inc., New York, NY.

Fagbemi, S.A.A., 2009, ‘Living for Christ in a hostile world: The Christian identity and its present challenges in 1 Peter’, Transformation 26(1), 1–14. https://doi.org/10.1177/0265378809102172

Fee, D.G., 2009, New Testament exegesis: A handbook for students and pastors, Westminster John Knox Press, Louisville, TN.

Feldmeier, R., 2008, The first letter of Peter. A commentary on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.

Filson, F.V., 1955, ‘Partakers with Christ. Suffering in First Peter’, Interpretation 9(4), 400–412.

Forbes, G.W., 2014, 1 Peter, B & H Publishing Group, Nashville, TN. (The Exegetical Guide to the Greek New Testament).

Goppelt, L., 1993, A Commentary on I Peter, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Green, G.L., 2020, Vox Petri: A theology of Peter, Cascade Books, Eugene, OR.

Green, J.B., 2004, ‘Faithful witness in the diaspora: The holy spirit and the exiled people of god according to 1 Peter’, in G.N. Stanton, B.W. Longenecker & S.C. Barton (eds.), The Holy Spirit and Christian Origins, pp. 282–295, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Green, J.B., 2007, 1 Peter, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The Two Horizons New Testament Commentary).

Grudem, W.A., 2009, The First Epistle of Peter: An introduction and commentary, InterVarsity Press, Downers Grove, IL. (The Tyndale New Testament Commentaries).

Harink, D., 2009, 1 & 2 Peter, Brazos Press, Grand Rapids, MI. (Brazos Theological Commentary on the Bible).

Hockey, K.M., 2019, The role of emotion in 1 Peter, Cambridge University Press, Cambridge. (Society for New Testament Studies).

Horell, D.G., 2008, 1 Peter, T&T Clark, London. (New Testament Guides).

House, P.R., 2019, Isaiah, Christian Focus Publications Rosshire, Great Britian. (A Mentor Commentary).

Jobes, K.H., 2005, 1 Peter, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament).

Johnson, D.E., 1986, ‘Fire in God’s house: Imagery from Malachi 3 in Peters Theology of Suffering (1 Pet 4:12–19)’, Journal of Education and Training Studies 29(3), 285–294.

Jordaan, G.J.C., Van Rensburg, F.J. & Breed, D.G., 2011, ‘Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese’, In die Skriflig/In Luce Verbi 45(2/3), 225–258. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.14

Kaiser, O., 1983, Isaiah 1–12: A Commentary, The Westminster Press, Philadelphia, PA. (The Old Testament Library).

Kelly, J.N.D., 1982, A Commentary on the Epistles of Peter and of Jude, J.W. Arrowsmith Ltd., Bristol. (Black’s New Testament Commentaries).

Krentz, E., 2008, ‘Creating a past: 1 Peter and Christian Identity’, Biblical Research 53, 41–57, viewed 31 July 2023, from http://www.chicagosbr.org.

Liebengood, K.D., 2023, ‘The problem(s) of reading 1 Peter after supersessionism’, Religions 14(2), 1–13. https://doi.org/10.3390/rel14020206

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, vol. 1, United Bible Societies, New York, NY.

Martin, T.W., 1992, Metaphor and composition in 1 Peter, Scholars Press, Atlanta, GA. (Dissertation Series).

Michaels, J.R., 1988, 1 Peter, Word Books Publisher, Dallas, TX. (Word Biblical Commentary).

Michaels, J.R., 1999, The Gospel of John, Word Books Publisher, Dallas, TX. (Word Biblical Commentary).

Motyer, J.A., 2015, The prophecy of Isaiah: An introduction commentary, IVP Academic, Downers Grove IL.

Moyise, S., 2005, ‘Isaiah in 1 Peter’, in S. Moyise & M.J.J. Menken (eds.), Isaiah in the New Testament: The New Testament and the scriptures of Israel, pp. 175–188, T&T Clark, London.

Murphy, R.E., 2018, Proverbs, Zondervan, Grand Rapids. MI. (Word Biblical Commentary).

Pardee, N., 2014, ‘Be holy, For I am holy: Paraenesis in 1 Peter’, in E.F. Mason & T.W. Martin (eds.), Reading 1–2 Peter and Jude. A resource for students, Society of Biblical Literature, pp. 113–134, Atlanta, GA.

Richard, E., 2000, Reading 1 Peter, Jude, and 2 Peter: A literary and theological commentary, Smyth & Helwys Publishing, Macon, GA.

Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, B&H Publishing Group, Nashville, TN. (The New American Commentary).

Schutter, W.L., 1989, Hermeneutic and composition in I Peter, J.C.B. Mohr, Tübingen. (Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament, 2 Reihe Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament, 2 Reihe).

Senior, D.P. & Harrington, D.J., 2016, 1 Peter, Jude and 2 Peter, Liturgical Press, Collegeville, MN. (Sacra Pagina).

Stenschke, C., 2009, ‘Reading First Peter in the context of early Christian mission’, Tyndale Bulletin 60(1), 107–126. https://doi.org/10.53751/001c.29266

Tolar, W.B., 2002, ‘The grammatical-historical method’, in B. Corley, S. Lemke & G.I. Lovejoy (eds.), Biblical Hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting scripture, pp. 21–38, Broadman & Holman Publishers, Nashville, TN.

Van Houwelingen, P.H.R., 1991, I Petrus. Rondzendbrief uit Babylon, J.H. Kok, Kampen. (Commentaar op het Nieuwe Testament).

Volf, F., 1994, ‘Soft difference: Theological reflections on the relation between church and culture in 1 Peter’, Ex Auditu 10, 15–30.

Williams, M., 2011, The doctrine of salvation in the First Letter of Peter, Cambridge University Press, New York, NY. (Society For New Testament Studies).

Williams, T.B., 2012, Persecution in 1 Peter. Differentiating and contextualizing early Christian, Brill, Leiden. (Suffering Supplements to Novum Testamentum).

Young, E.J., 1978, The Book of Isaiah, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Voetnotas

1. In die res van die artikel word alle verwysings na 1 Petrus alleen met die hoofstuknommer en die versnommer aangedui.

2. Stenschke (2009:107–111), Schreiner (2003:37–41) en Green (2007:5–6) toon aan dat daar met sekerheid uit 1 Petrus afgelei kan word dat die meeste van die brief se eerste lesers nie-Joodse Christene was.

3. Green (2020:77–96) toon oortuigend aan dat daar ‘no cogent reason [is] to reject the early, widespread, and consistent testimony of the early church that 1 Peter is an authentic letter of the apostle Peter’ (Grudem 2009:21–34; vgl. ook Schreiner 2003:21–36).

4. Christensen (2018:339–354) toon aan dat die eenheid van gelowiges met Christus ’n belangrike plek in 1 Petrus beklee.

5. Vergelyk Williams (2012:299–335) vir ’n meer volledige beskrywing van die lesers se lyding wat in 1 Petrus ter sprake is.

6. Petrus gebruik in 4:15–16 die partikel ὡς om die hoedanigheid waarin ’n persoon optree, aan te dui (vgl. Louw en Nida 1988:618 vir die betekenis waarvoor ὡς in 4:15–16 gebruik word).

7. Daar word in die volgende punt aan die lyding as Christene wat in 4:16 ter sprake is, aandag gegee.

8. Daar is reeds genoem dat Petrus in 4:15–16 die partikel ὡς gebruik om die hoedanigheid waarin ’n persoon optree, aan te dui (vgl. Louw en Nida 1988:618).

9. τὰς ψυχὰς word in 4:19 nie gebruik om die siel as iets apart van die fisiese liggaam aan te dui nie, maar om iemand as ’n eenheid, as ’n persoon, aan te dui (Kelly 1982:194–195; Michaels 1988:273).

10. Vergelyk Beale (2012:29–40) vir ’n nadere verduideliking van die verskil tussen aanhalings van die Ou Testament en verwysings na die Ou Testament.



Crossref Citations

No related citations found.