Abstrak
Decision-making in the Reformed Churches in South Africa The hypothesis for this article is that no complete certainty can exist on whether a resolution taken by a meeting of people is an authoritative expression of the will of God. The church [ekklésia] of Christ refers to the universal church of all times and places, as well as the local church (congregation). The general nature of collective decision-making involves the notions of representation and voting. The Reformation liberated churches from the overlordship of Rome, but also had the unintended consequence of the entrenchment of the liberal notions of individual sovereignty and self-sufficiency. The foundational Reformed confessional documents were formulated and adopted at gatherings convened and overseen by extra-clerical (state) institutions. It is likely that decision-making in the churches was directly influenced by the rationalism, humanism, and liberalism that has been influential since the 17th century. Contemporary participants in collective decision-making can find it difficult to distinguish between liberal-democratic processes and those of the church. Christ is the only head of his church and exegesis and hermeneutics are not exact sciences, it is, however, possible to deliberate on alternative Scriptural interpretations, but impossible to prove one to be correct and the other false. The inability of a major assembly of churches to resolve an exegetical question unanimously, attests to the human inability to know the will of God completely. Resolutions of major assemblies should be subject to unrestricted revision as the assemblies are not meetings of a church or of the church itself. Influential opinions among Reformed authors hover between independentism and collegialism, both having been influenced by liberal thinking.
Contribution: A range of interdependent matters need to be clarified to resolve questions concerning representation in and decision-making by major assemblies. A list of such questions has been set out at the end of the article.
Keywords: church order; church atmosphere; exegesis; collegialism; collegial representation; voting.
Inleiding
Die opgestane Christus is die koning van sy kerk. Jesus is die seun van die drie-enige God wat oor alle eeue vir Hom ’n volk van uitverkorenes versamel. In die Ou-Testamentiese tyd praat God van en met sy uitverkore volk (Jes 43), en in die Nuwe Testament gaan dit oor die ekklésia van Christus. Tweeduisend jaar gelede het Jesus as mens onder mense geleef, en die verlossing van die uitverkorenes bewerk en bevestig. Hy het as mens gesterf, die dood oorwin, en opgevaar na sy Vader, waarna Hy die Gees van God in die harte van die uitverkorenes geplaas het. Die onbetwisbare opdrag van God aan sy uitverkore ekklésia is om die evangelie aan alle mense te verkondig, sodat dié wat uitverkies is, die gawe van die geloof kan ontvang. Dan kom die nuwe hemel en die nuwe aarde wanneer die versamelde ekklésia vir ewig in die teenwoordigheid van God sal leef (Du Plooy 1979:11–29).
Die hipotese vir hierdie bydrae is dat geen volkome sekerheid daaroor kan bestaan dat ’n besluit van ’n vergadering van mense, die gesaghebbende uitdrukking van die wil van God is nie. Inleidend word oorhoofse opmerkings oor verteenwoordiging en kollektiewe besluitneming in staats- en kerklike verband gemaak, gevolg deur historiese verwysings na verteenwoordiging en stemming in kerklike vergaderings. Daarna word gevra na die norme vir kerklike besluitneming, voordat afgesluit word met suggesties oor watter kwessies spesifiek in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) aandag behoort te kry om die problematiek verbonde aan kerklike besluitneming die hoof te bied.
Verteenwoordiging en kollektiewe besluitneming
Wanneer meer as een mens in enige deel van die samelewing betrokke is by die neem van besluite, ontstaan vrae soos die volgende: Wat is die rol en invloed van elke besluitnemer daarin? Moet een se opinie meer gewig dra as dié van ’n ander?; Watter prosedure behoort gevolg te word om ’n legitieme gesamentlike besluit te neem?; Wat staan ’n deelnemer wat nie tevrede is met ’n meerderheidsbesluit nie, te doen?; en so meer. Onvermydelik duik sulke vrae ook in kerklike besluitneming op.
Oor die algemeen kom gesaghebbende kollektiewe besluitneming in ten minste een van die volgende drie vorms voor: beslissing deur ’n maghebber ná diskresionêre raadpleging; ’n besluit deur die bepaling van die meerderheidswil; en eenstemmigheid (konsensus) onder die besluitnemers.
Histories, toe die funksionering van samelewings minder gedifferensieerd was, vind ’n mens feitlik deurgaans die verskynsel van raadgewers rondom konings en diktators, waar die finale besluitnemingsgesag by een persoon, die maghebber, berus. Dekonsentrasie en delegasie van funksies het wel vir praktiese redes voorgekom, maar die bepalende mag het by die heerser gebly. Bybelse voorbeelde is onder andere Jetro se advies in Eksodus 18 aan Moses in die woestyn, om aanvoerders oor duisend, honderd en vyftig aan te stel om oor kleiner sake te beslis; nog ’n voorbeeld is. Nebukadnesar met sy satrape, landvoogde, streekgoewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters en amptenare waarvan ons in Daniël 3 lees. ’n Oorvloed van buite-bybelse historiese en kontemporêre voorbeelde is ook voorhande.
In die vyfde eeu n.C. het Pous Leo I sy oppergesag oor die Roomse Kerk geproklameer, op grond van die siening dat Petrus as die eerste biskop van Rome beskou moet word, en dat hy (Petrus) deur Jesus by sy roeping as dissipel meegedeel is dat hy van toe af mense (nie net visse nie) sou vang, en dat Hy sy universele, oftewel katolieke ekklésia op daardie rots sal bou. Leo, bekend as ‘die Grote’, was allerweë hoog aangeskrewe en aangeprys as ’n groot en wyse leier, maar in later eeue het verskeie van sy opvolgers tussen die negende en sestiende eeue gruwelike onreg en misdaad gepleeg op sterkte van hulle onaantasbare magsposisie, en die greep van die Roomse Kerk op die gefragmenteerde, vreesagtige en bygelowige Europese samelewing. Voor die ontstaan van die moderne demokrasie, was dit ook die gangbare opvatting dat vorste, konings, keisers en ander maghebbers daarop aanspraak kon maak dat hulle hulle persoonlike regeringsmag namens God uitgeoefen het (Aguilera-Barchet 2015:162–163).
Die Reformasie het die wurggreep van Rome grootliks verlig, maar een van die onbedoelde gevolge daarvan was dat die atmosfeer daardeur geskep is waarin persoonlike vryheid en algehele gelykheid sodanig oorbeklemtoon kon word, dat die dominante sekulêre mensbeskouing tot vandag toe, via die humanisme, liberalisme, rasionalisme en postmodernisme, dié is van die soewereine en selfgenoegsame individu. Die historikus Brad Gregory, het hierdie proses met groot vaardigheid in 2012 geskets (Gregory 2012, cf. Hoofstuk 2).
Die verskynsel van kollektiewe besluitneming deur vergaderings, is eeue oud. In die ontwikkeling van die moderne staat het die konsep ‘demokrasie’ ’n sleutelrol gespeel. In die Atheense demokrasie in die vyfde en vierde eeue v.C., is die tien stamme van die polis byvoorbeeld verteenwoordig deur manne wat deur die lot aangewys is, en besluite is by meerderheidstem in die volksvergadering (die Ecclésia) geneem (Brittanica). Die manier waarop die Atheense demos hulle kratos uitgeoefen het, dien steeds in ons tyd as die eerste verwysingspunt vir die idee van regverdige gesagsuitoefening deur gesamentlike politieke besluitneming.
Nuwe Testamentiese voorbeelde van besluitnemende vergaderings is die Sanhedrin se verrigtinge in die tyd van Jesus en die apostels se vervolging (Mark 15:1; Hand 5:17–42), en die Apostelkonvent van Handelinge 15. Presies hoe besluite deur daardie vergaderings geneem is, kan nie uit die Skrifgegewens afgelei word nie.
In besluitneming deur vergaderings kom twee konsepte telkens na vore, naamlik verteenwoordiging en stemming. Omdat dit onprakties is om besluite deur baie groot getalle mense te laat neem, is verteenwoordiging van groepe mense deur individue uit die groep, vroeg reeds gevestig, byvoorbeeld in die vroeë Helleense demokrasie.
Tussen die 15de en die 18de eeue het Europese staatsfilosowe konsepte soos die sosiale verdrag en volksoewereiniteit, gefundeer op die primaat van die individu, as elemente van gemoderniseerde demokrasie ontwikkel. Hoewel die woord ‘demokrasie’ eintlik op ’n baie vae idee dui, word dit en die gepaardgaande fiksies nietemin, veral sedert die middel van die 20ste eeu, universeel gebruik as etiese maatstaf vir verdedigbare openbare besluitneming (Venter 2022:139–169).
Onderliggend aan die idee van demokratiese volksregering, is dat nie die wil van die heersers of die verkose verteenwoordigers van die volk nie, maar die wil van die meerderheid van die volk self, wat die deurslag by besluitneming moet gee. Dit skep egter eintlik altyd die probleem van ’n onderverteenwoordigde minderheid wat aan die wil van die meerderheid uitgelewer is. Soms word daarna verwys as die ‘tirannie van die meerderheid’. In hierdie verband is die dogmatiese idee gangbaar dat die meerderheid mag besluit, maar dat die minderheid op die beskerming teen die meerderheid geregtig is, hoofsaaklik op sterkte van hulle aanspraak op hulle verskanste individuele fundamentele regte, wat deur objektiewe regspraak beskerm moet word. Vandaar die verskynsel van die grondwetlike verskansing van gewetensvryheid, wat onder meer godsdiensvryheid insluit. Prosedurevoorskrifte voorsien soms ’n middel om aan minderhede ’n groter mate van beskerming te bied, byvoorbeeld deur spesiale meerderhede te vereis, maar dit bied natuurlik nie ’n volledige oplossing nie.
Die etiese regverdiging van meerderheidsbesluitneming berus op die uitgangspunte van volksoewereiniteit, wat weer berus op die liberalistiese beskouing van individuele soewereiniteit en gelykheid (Venter 2022:52). In so ver as wat menslike soewereiniteit in wese onversoenbaar is met die soewereiniteit van God, moet dus gesoek word na ’n alternatiewe regverdiging vir meerderheidsgesag en -besluitneming.
’n Alternatiewe, weliswaar pragmatiese etiek, gefundeer op effektiwiteit, kan moontlik soos volg daar uitsien: kollektiewe besluitneming oor ’n omstrede kwessie kom neer op kollektiewe gesagsuitoefening; die besluitnemende liggaam wat verteenwoordigend van sowel ’n meerderheid en ’n minderheid is, se gesagsuitoefening moet legitiem wees, dit wil sê verdedigbaar teenoor almal oor wie die gesag uitgeoefen word; as net ’n minderheid van diegene wat deur die besluit gebind word, legitimiteit aan die besluit toeskryf, doen dit afbreuk aan die regverdigbaarheid van die gesagsuitoefening; derhalwe moet die wense van die meerderheid, ter wille van legitimiteit en effektiwiteit, die deurslag gee. As net ’n minderheid nie met die besluit saamstem nie, moet hulle daarby berus, of te wel konformeer met die besef dat hulle nie ’n keuse het nie, behalwe as hulle bereid is om te rebelleer, of om die wrewel van die meerderheid te verduur.
Oor die vraag of so ’n etiek skriftuurlik regverdig kan word, wil ek my nie uitspreek nie, maar dit val nogal op dat die heersende benadering tot besluitneming in die kerkverband grootliks daarmee ooreenstem. ’n Wesenlike Gereformeerde toevoeging daartoe, is egter dat kerklike besluitnemers daartoe verbind is om daarna te streef om die wil van God te soek, en in hulle besluite tot uiting te bring.
Die derde vorm van kollektiewe besluitneming is konsensus, oftewel eenstemmigheid. Interessantheidshalwe, dit was die manier waarop die State Generaal van die Verenigde Nederlandse Provinsies, wat die Sinode van Dordrecht byeengeroep het, hulle belangrikste besluite geneem het (Parlement.com, 2020). Vanselfsprekend kan ’n konsensusvereiste effektiewe besluitneming baie bemoeilik, want dit kan neerkom op ’n minderheidsveto.
Die geskiedenis van kerklike besluitneming
Die Apostelkonvent
Ons lees in Handelinge 15 oor die vergadering van die apostels en ouderlinge in Jerusalem. Dit het gehandel oor die vraag of nie-Joodse gelowiges aan die besnydenis onderwerp moes word. Paulus en Barnabas was in Antiogië in ’n woordestryd gewikkel met ‘sekere mense van Judea’ rakende hierdie strydvraag. Die strydvraag, was ‘hoegenaamd nie onbenullig’ nie en het tydens die vergadering in Jerusalem onder die apostels en ouderlinge ’n hewige woordestryd ontketen. Petrus en Jakobus het die debat tot ’n einde gebring met verwysing na die Ou-Testamentiese profesieë dat die Here dit moontlik sou maak dat die hele mensdom hom kon soek. Toe stel hulle, die apostels en die ouderlinge, in oorleg met die hele gemeente, die brief op waarin hulle die gelowiges van Antiogië meedeel dat ‘ons en die Heilige Gees’ oor die saak besluit het. Ons lees nie hier oor die verteenwoordiging van gemeentes of van ’n meerderheid van stemme nie, maar sien wel ’n bybelse versekering dat daardie gesamentlike besluit onder die leiding van die Gees geneem is.
Dit is sleutelbelangrik om in gedagte te hou dat die besluit van die Apostelkonvent betrekking gehad het op ’n kernelement van die vestiging en uitbreiding van die kerk van Christus oor die hele wêreld. ’n Belangriker gesamentlike besluit deur die eerste christelike ekklésia, kan nouliks bedink word. Ons weet van hierdie besluit nie omdat dit in ’n notule of belydenisskrif opgeteken is nie, maar omdat dit in die Skrif onder meer as ’n bevestiging van die voorsienigheid van God, rakende die groei van sy universele kerk, aan ons geopenbaar is. Die vergadering was inderdaad geheilig, in dié sin dat dit deur God bestem is om die profetiese sendingopdrag van Jesus aan sy dissipels tot uitvoer te bring, om na die res van die wêreld te gaan en om die evangelie aan die hele mensdom te verkondig (Mark 16:15). Die Apostelkonvent was eenmalig en uniek. Die feit dat dit kanoniek aan ons oorgelewer is as ’n kritieke openbaringsmoment in die geskiedenis van die universele kerk van Christus, kan nie gebruik word om besluitneming deur kerklike vergaderings sedertdien voor te hou as heilig of onaanvegbaar nie (Lourens 2010:30–32).
Meerderheid en minderheid in kerklike vergaderings
Wat opvallend is, is dat kerklike besluite ná die tyd van die apostels, moontlik reeds in die tweede en derde eeue n.C., maar beslis sedert die vierde eeu tydens byeenkomste van verteenwoordigende kerklike ampsdraers, geneem is. Die ooglopende voorbeeld hiervan is die eerste Konsilie van Nicéa wat in 325 byeengeroep is deur Keiser Konstantinus I, veral om die dwaling van Arius te hanteer. Op daardie stadium was daar reeds ’n pous, oftewel die Biskop van Rome (Sylvester I), en die strukture van die Roomse kerk was reeds vir meer as ’n eeu gevestig. By Nicéa is Sylvester deur twee ander ondergeskikte biskoppe verteenwoordig. Die onvermydelike implikasie moet wees dat, behalwe waar pouse en biskoppe moontlik op eie houtjie besluite in hulle domeine kon neem, besluitneming deur verteenwoordigende afgevaardigdes tydens vergaderings voorafgegaan moes word deur bespreking, debatvoering, en wedersydse oorreding. Dit is egter onseker of ’n stemming wel plaasgevind het.
Dit is wel moontlik dat die konsep van kerklike meerderheidsbesluitneming sonder meer uit buitekerklike gebruike oorgeneem is. Twee-en-’n-driekwart eeue na die aanname van die Dordtse Kerkorde (in 1892) het Rutgers in sy kommentaar op Art 31 van die Kerkorde geleer dat meerderheidsbesluitneming in die aard van elke vergadering lê, en dat dit nie strydig is met die beginsel dat die een nie oor die ander mag heers nie, want diskussie gaan besluitneming vooraf, waarna die minderheid moet konformeer. Hy verwys na die Postacta van Dordt van 1619, waarin dit uitdruklik aangeteken is dat ‘er bij sommige artikelen een minderheid en meerderheid was’ (Rutgers 1892). Die meerderheidsbeginsel van artikel 31 van die KO is inderdaad ’n formulering van Dordt. Die 17de-eeuse Nederlandse bewoording lui, ‘tghene door de meeste stemmen goet ghevonden is, sal voor vast ende bondigh ghehouden werden.’
Toegang tot kerkhistoriese gegewens wat verklaar waarom die afgevaardigdes na die sinode van Dordrecht in 1619 te midde van hulle worsteling met die Remonstrante en die leer van die wederdopers op hierdie prosedure besluit het, kon nie vir die huidige doeleindes bekom word nie. Moontlik kan die aanduidings in Art. 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB 1561), dat die Sinode ook met politieke kwessies van die dag geworstel het, op ’n verklaring dui:
Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur. (pp. 22–23)
Wat sekerlik nie misgekyk moet word nie, is dat kerk en staat sedert ten minste die vierde eeu en tot relatief onlangs nóú ineengeweef was. Histories was die staatsowerhede regstreeks betrokke by die belangrikste gereformeerde leerstellige, kerkordelike en belydenisbesluite: Keiser Konstantyn het die eerste Konsilie van Nicéa byeengeroep en rigting daaraan gegee (Schulze 1978:52–53); volgens die Voorrede tot die Heidelbergse Kategismus het die Kategismus op inisiatief van Keurvors Friedrich III tot stand gekom en is onder sy gesag gepubliseer; die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Dordtse Leerreëls en die Kerkorde is in 1618 en 1619 saamgestel met regstreekse betrokkenheid van die Staten Generaal van die Nederlande (wie se verteenwoordigers sitting in die Sinode geneem het) en die Britse koning James I (Shand s.a.). Vergelyk in hierdie verband die Voorwoord tot die Dortdtse Leerreëls waar onder andere vermeld word dat die State Generaal die Sinode op hulle eie gesag byeengeroep het.
In Suider-Afrika was Jacob de Mist se kerkorde van 1804 die oorsaak van baie politieke en leerstellige omstredenheid. De Mist het geen kerklike amp beklee nie, maar was ’n politikus en gesant van die Bataafse Republiek. Verder het bepalings in die Grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek 1858 (Transvaal), soos artikels 20 en 23 wat die Nederduitsch Hervormde Kerk tot staatskerk verklaar het, bygedra tot die afskeiding van die staatskerk deur die Rustenburgse gereformeerdes in 1859 (Jooste 1958:14–17, 46–61). Dit lyk dus waarskynlik dat die historiese verband tussen staatsgesag en die kerke die kerke se benadering tot besluitneming beïnvloed, of selfs bepaal het.
Daar is verskeie bybelse voorbeelde waar die wil van God deur die lot vasgestel is (Jos 18; 1 Sam 14:42; Spr 16:33; Hand 1:26), maar geen voorbeeld van ’n meerderheidstemming is in die Skrif te kry nie. In Handelinge 6:2–6 lees ons wel van die sewe medewerkers wat ‘gekies’ is en deur die apostels aangestel is. Dit dui egter duidelik nie op ’n verkiesing deur stemming nie, maar eerder op mense wat uit die geledere van die medewerkers uitgekies is. Verder lees ons in Handelinge 14:23 dat Paulus en Barnabas in elke gemeente ouderlinge aangestel het.
Natuurlik kan nie hiervan afgelei word dat alle kerklike besluite deur loting of konsensus geneem moet word, of dat stemming uit die bose is nie. Wat wel belangrik is, is dat deeglik oor die aard van sake waaroor besluite in die kerkverband geneem moet word, besin behoort te word. Is dit byvoorbeeld bybels regverdigbaar om te sê dat die minderheid se gewete deur die mening van die meerderheid gebind word wanneer gestem word oor Skrifeksegese? Artikel 32 van die NGB spreek daarteen.
’n Vergadering van besluitnemers is steeds mense. Hoe moet ons daaroor dink wanneer meningsverskil uit ’n stemming blyk, nadat ’n vergadering die Here om die leiding van sy Gees aangeroep het? Daar kan sekerlik nie sonder meer aanvaar word dat besluite wat met die meerderheid van stemme geneem is, noodwendig ’n uitdrukking van die wil van God is nie. Die koninkryk van God is ’n absolute monargie, nie ’n demokrasie nie, en sonde kleef onvermydelik aan menslike besluite. Die eksklusiewe meesterskap van Christus word ook in die eerste deel van Artikel 32 van die NGB beklemtoon. Soms word na die kerk as ’n Christokrasie verwys, maar die betekenis daarvan is plooibaar, en is selfs by geleentheid gebruik om kollegialisme te regverdig (o.a. Celliers 2016).
Die norme vir kerklike besluitneming
Waaroor alle gelowiges saam behoort te stem, is dat die Here in sy voorsienigheid oor alles beskik, ook oor die uitwerking van goeie en slegte menslike besluite – selfs byvoorbeeld waar die gesaghebbende besluitnemers uitgesproke godslasteraars en heidene is. Die soewereine God bepaal ook die verloop van die geskiedenis van sy skepping – en van sy uitverkore ekklésia. Om alles wat deur kerklike vergaderings besluit of verwerp word egter as uitinge van die wil van God te beskou, spreek van menslike arrogansie – ongeag of meerderhede of minderhede op die skriftuurlike korrektheid van hulle sienings aanspraak maak.
Wanneer daar nou in die kerk in hierdie bedeling besluite geneem moet word, is daar geen mens wat daarin met goddelike gesag leiding kan neem, of gesaghebbend kan voorskryf wat besluit moet word nie. Wat gelowige besluitnemers wel het, is die Heilige Gees, die Skrif en die algemene openbaring. Daarby het ons ook nog die onstuimige geskiedenis van die kerk oor twintig eeue om te raadpleeg. Hierdie gawes is onskatbaar waardevol, maar dit is weens ons sondebenewelde toestand onmoontlik om die wil van God in ons eie sake, of in die sake van die plaaslike en die universele kerk, met volkome sekerheid vas te stel.
Natuurlik het ons die kosbaarste voorreg om die leiding van die Gees te vra wanneer ons besluite moet neem – maar hoe kan ons met sekerheid weet dat kollektiewe besluite wat ons daarna neem, besluite is wat deur die Gees geheilig is, veral as ons nie almal wat saamgebid het, saamstem oor die daaropvolgende besluit nie. Is daar ’n manier om, wanneer ons dan oor die korrektheid van ’n besluit wat geneem is ná aanroeping van die Gees van mekaar verskil, vas te stel wie van ons reg is? Natuurlik is dit moontlik om te weet dat bepaalde handelinge nie met die wil van God strook nie – byvoorbeeld moord, diefstal, owerspel, laster, leuens en ook alle duidelike afleidings van wat God in sy openbaring gebied en verbied. Wanneer ons egter die goeie wil doen, staan die kwade ons by (Rom 7:21) – ook wanneer ons in die Skrifopenbaring na leiding soek.
Dit beteken natuurlik nie dat dit onmoontlik is om sinvolle en bindende kerklike besluite te neem nie. Wat dit wel beteken, is dat besluite van kerklike vergaderings onbeperk onderhewig moet wees aan hersiening. Daarvoor maak die Kerkorde ook gedeeltelik voorsiening. Artikel 31 van die Kerkorde lê egter ’n onmoontlike beperking daarop, naamlik dat bewys moet word wat die wil van God is soos Hy dit in die Skrif openbaar. Dit is moontlik om die korrektheid van ’n eksegetiese oortuiging te beredeneer, maar in sake waaroor fundamentele eksegetiese verskille bestaan, is dit onmoontlik om die korrektheid van die een of die ander afdoende te ‘bewys’.
Artikel 30 van die Kerkorde vereis dat ‘[k]erklike vergaderings alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel’, en artikel 32 dat ‘[a]lle vergaderinge met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit [moet] word’. Ten spyte van die voorskrif van Artikel 32, is dit nie gebruiklik om telkens of enigsins voor of tydens kerklike vergaderings in diepte oor die wesenlike uniekheid van die vergaderings te besin nie. Artikel 33 verleen aan elke afgevaardigde na ’n meerdere vergadering ’n ‘keurstem’, wat onder meer impliseer dat elke afgevaardigde se opinie soos deur sy keurstem bekendgemaak, gelykwaardig is aan dié van ander afgevaardigdes. Artikel 35 gee aan die voorsitter van ’n meerdere vergadering bepaalde bevoegdhede, wat egter nie voortbestaan nadat die vergadering afgesluit is nie.
Afgevaardigdes na meerdere vergaderings verklaar openlik onder meer om hulle met betrekking tot die kerkregering te hou aan die Kerkorde. Die bewoording van Artikel 31 van die Kerkorde oor meerderheidsbesluite resoneer onvermydelik met die demokratiese instinkte van mense wat in ’n moderne demokratiese samelewing leef. Opvallend hou die bewoording rekening met die realiteit, dat besluite soms geneem moet word teen die wil van ’n deel (dit wil sê die minderheid) van die teenwoordige besluitnemers.
So skryf Spoelstra in 1989 inderdaad oor Artikel 31: ‘Die Sinode van 1964 het met die redaksionele wysiging eintlik die [18de-eeuse rasionalistiese] soewereiniteit van die meerderheid volgens die verenigingsreg onderhewig aan voorbehoud van appèl voorop gestel’. Die redaksie van die artikel wat in 1964 goedgekeur is (Handelinge 1964) het soos volg gelui:
Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op ’n meerdere vergadering beroep. (p. 59)
Die vraag is of dit houdbaar is dat demokratiese meerderheidsmening bepalend behoort te wees by kerklike besluitneming, en indien wel, hoe dit met die onbetwisbare soewereiniteit van God versoen kan word. Wanneer daar ’n stemming oor enige saak gehou word, gaan dit oor die vraag wat die meeste mense se subjektiewe mening of voorkeur daaroor is, en dat elke afgevaardigde se mening gelyke gewig dra. Daarby is daar ’n ooglopende beginselverskil tussen eenstemmigheid en ’n besluit wat op ’n meningsverskil tussen twee groepe dui.
Tot watter mate deelnemers aan kerklike besluitneming in die GKSA onder die invloed staan van die demokrasie-denke van die samelewing, is nie moontlik om met sekerheid te sê nie. Wat egter vanselfsprekend is, is dat dit vir hedendaagse kerklike besluitnemers – selfs as hulle vooraf deeglik daaroor sou besin en ander insigte daaroor verwerf – menslik moeilik kan wees om hulle van die buite-kerklike liberaal-demokratiese denke los te maak. Wat hier ter sprake is, is in die eerste plek persepsies, nie die kerkordelike ideale en konvensies rakende kerklike vergaderings, wat dit ook al mag behels nie. Wát, kan gevra word, is eintlik in ons algemene praktyke rakende gesamentlike besluitneming opsigtelik anders aan kerkraads- of sinodebesluitneming, as in byvoorbeeld personeelvergaderings, direksievergaderings, sportklubvergaderings, huiseienaarsvergaderings, en so meer?
Artikel 41 van die Kerkorde omskryf ’n klassisvergadering as ’n vergadering van naburige kerke wat elkeen een predikant en een ouderling afvaardig. Artikels 47 en 50 handel oor streek- en algemene sinodes en bring ‘getrapte’ afvaardiging teweeg. Getrapte afvaardiging is in 1958 vir praktiese redes (die grootte van vergaderings) deur ’n sinodale besluit ingevoer en sedert 1961 geïmplementeer (Handelinge 1961:5). Dit het onvermydelik meegebring dat nie al die kerke in die kerkverband afgevaardigdes na streeks- en nasionale sinodes kan stuur nie. Hieroor bestaan die teenintuïtiewe opvatting, dat al die plaaslike kerke in streeks- en algemene sinodevergaderings verteenwoordig word, omdat hulle in die klassisse wat afgevaardig het, verteenwoordig was.
Jan Visser (1999) skryf in verband met tugsake teen ampsdraers volgens artikel 79 van die Kerkorde:
In die kerkregering is die kerkraad nooit ’n klaer of ’n regter nie; hy is ’n geroepe regeerliggaam wat optree in die Naam en op gesag van die Koning van die kerk, Jesus Christus, volgens die beginsels van sy Woord. (bl. 289)
Hierdie benadering tot die ‘regering’ van die plaaslike kerk berus tereg op die elemente van die geroepenheid van die besluitnemende ouderlinge onder die leiding van die geroepe bedienaars van die Woord, asook die uitsluitlike koningskap van Christus oor die gemeente, en die onbetwisbare voorrang van Sy wil soos dit aan ons in die Woord gegee is.
Die ideale verskil tussen kerkraadsvergaderings en buite-kerklike vergaderings kan hierin geëien word. So byvoorbeeld maak wêreldse demokraties-verkose vergaderings (soos ’n parlement) normaalweg nie aanspraak op die gesag van Jesus Christus nie, maar op die abstrakte en fiktiewe idee van verteenwoordigende volksoewereiniteit. Sulke instellings word veronderstel om demokraties gefokus te wees op die bevordering van die belange van die verteenwoordigde komponente van die kieserskorps. Die staat se wetgewende liggame en maatskappydireksies is nie daarop ingestel om besluite ooreenkomstig bybelse beginsels te neem nie.
Beteken die andersoortigheid van kerkraadsvergaderings dat dit meebring dat die fondamente van roeping, die erkenning van die hoofskap van Christus, en die gemeenskaplike verbintenis van die besluitnemers aan die openbaring van die Woord, kerklike besluite onkreukbaar maak? Ons moet sekerlik aanvaar dat roeping nie aan mense se sondebenewelde verstand ʼn geprivilegeerde insae in die wil van God gee nie.
Wanneer kerklike besluite oor wat as fundamentele kwessies beskou word, nie eenparig geneem word nie, ontstaan die vraag onvermydelik of die meerderheidsbesluit ’n betroubare uitdrukking van die wil van God is, en of die minderheid dan dwaal. Wat in die bepaalde geval werklik die wil van God is, moet natuurlik in die Woord gesoek word. Hier is dit egter waar die weë uiteenloop: die woorde van die Skrif word deur mense vertolk, en wel sonder uitsondering deur feilbare mense. In sy proefskrif skryf Piet Lourens (2010):
Die vraag is hoe die gebed om die verligting van die Heilige Gees verhoor word? Omdat die Woord tegelykertyd kanon sowel as instrument is waardeur Christus sy gesag uitoefen, is gebed vir die eksegese en hermeneuse onontbeerlik. Ten opsigte van eksegese as effektiewe gereedskap tot die verstaan van die Skrif om tot kerkregering te kom, is kennis van die grammatika, geskiedenis, kultuurgeskiedenis, openbaringsgeskiedenis, literatuursoorte, verhouding Ou Testament en Nuwe Testament, ens. nodig, maar ook geloof in die Gees van God wat die Bybelskrywers geïnspireer het om ook die eksegete te verlig (2 Pet 1:20,21; Verhoef 1973:10). Eksegese in aansluiting by hermeneuse lê aan die basis van die kerkregering waar interpretasie van die Skrif (eksegetiese bevindinge) ’n verlengstuk van die eksegese is waar beide beoordeel moet word deur die gedagtes van die corpus kerkregeerders wat deur die Gees verlig is (word). (bl. 66)
Eksegese en hermeneutiek is nie presiese wetenskappe nie, en word beoefen oor die breë spektrum van vertolkingsmentaliteite, wat strek van biblisistiese literalisme tot by postmoderne relativisme. Nie een van hierdie pole strook met die Gereformeerde benadering tot Skrifvertolking nie, en Gereformeerde eksegese waarborg nie volmaakte begrip nie. Dat volkome eksegetiese duidelikheid nie altyd moontlik is nie, is gesaghebbend soos volg toegelig (Jordaan, Van Rensburg, Breed 2011):
Die sake wat God in die Bybel bekendmaak – sy wese en sy wil – is as sodanig sake wat buite die mens se ervaringswêreld en in elk geval bo die in-sonde-gevalle-mens se begrip lê. Hierin is ’n inherente verstaansprobleem opgesluit waarmee die gereformeerde hermeneutiek deeglik rekening moet hou. Enersyds beteken dit dat die eksegeet moet aanvaar dat nie alles in die Bybel noodwendig vir hom verstaanbaar sal wees nie. Soms sal die eksegese met ’n non liquet-bevinding moet volstaan. Andersyds beteken dit dat die eksegeet vir die verstaan van die Bybel nie bloot op eie insigte kan staatmaak nie. Hy word afhanklik van die (ver-)lig(-ting) van die Heilige Gees gestel. (p. 228)
Gebondenheid aan die besluite van meerdere vergaderings word dogmaties verbind aan die feit dat elke lid van sodanige vergadering openlik onderneem om hom te hou aan die KO, ‘anders verbeur hy sy sitting’ (Kerkordeboekie 1998:85). Hier kom ’n bykomende dimensie na vore wat problematies kan wees. As die gemeenakkoord in buite-kerklike terme verstaan moet word, het ons met ’n kontrak te doen: dan pleeg ’n minderheid wat in stryd met ’n meerderheidsbesluit optree, kontrakbreuk. Die gemeenakkoord moet egter sekerlik nie as ’n kontrak wat byvoorbeeld in die burgerlike howe afgedwing kan word, verstaan word nie.
Wat is dit dan presies? Is dit iets soos die fiktiewe sosiale verdrag wat teoreties voorgehou word as die grondslag van die gesag van die demokratiese staat; of is dit ’n informele samewerkingsooreenkoms tussen selfstandige gemeentes; of dalk ’n bindende onderwerping aan gemeenskaplike besluite wat deur deelname aan kerklike vergaderings as vanselfsprekend geïmpliseer word?
Die onvermoë van tydelike byeenkomste van Gereformeerde kerke, wat hulle ongekwalifiseerd aan die gesag van die Skrif en die gemeenskaplike belydenisse onderwerp om eksegetiese besluite eenparig te neem, dui veral op die menslike onvermoë om God se wil volkome te ken. Dui dit dan ook daarop dat die onderlinge verband, die gemeenakkoord, tussen kerke wat verskillende eksegetiese weë voorstaan, verbreek is? Berus kerklike eenheid op eksegetiese eenparigheid, terwyl almal dit eens is dat die kerke wat in ’n vergadering byeen is, nie aan hulleself of aan vergaderings van kerke nie, maar uitsluitlik aan Christus behoort?
Strenggesproke kom onderskrywing van die openlike verklaring by ’n meerdere vergadering neer op niks meer nie as ’n kwalifikasie om sitting in die vergadering te verkry. So gesien, is deelname aan die openlike verklaring ’n handeling wat die betrokke afgevaardigde, en nie die gemeente of die mindere vergadering wat hom afgevaardig het nie, bind. Daarby moet ook gevra word, of ’n afgevaardigde na ’n meerdere vergadering sy sitting moet verbeur as sy vertolking van Skrif, Belydenis of Kerkorde nie volkome strook met wat vier eeue se konvensies voorskryf, of wat deur geselekteerde kundiges op die terrein van eksegese of die kerkreg gehuldig word nie. Indien laasgenoemde die geval is, lyk dit na ’n neiging tot klerikalisme.
Vrae oor kerklike verteenwoordiging en besluitneming
Wat die aard van verteenwoordiging in kerklike vergaderings is of behoort te wees, is ietwat obskuur, want daaroor heers spraakverwarring. Die woordeboekbetekenis van ‘verteenwoordig’ is, om namens iemand anders, of in iemand anders se naam op te tree of te handel. Die verteenwoordigde kan ’n spesifieke taak of funksie aan die verteenwoordiger delegeer, of aan die verteenwoordiger volmag gee. Delegasie beteken nie dat die delegeerder afstand doen van die bevoegdheid wat gedelegeer is nie, maar ’n gedelegeerde verteenwoordiger met volmag het outonome afhandelingsbevoegdheid binne die raamwerk van die gegewe volmag.
In die algemene regsverkeer is die kerkraad die handelingsbevoegde orgaan wat die gemeente as regspersoon in burgerlike regshandelinge verteenwoordig (Pienaar 2004:32–35). ’n Regspersoon kan net deur sy organe handel. Regtens is meerdere kerklike vergaderings nie organe van regspersone nie, maar bloot vergaderings wat uit kerkraadslede van kerke saamgestel is. In die burgerlike regsverkeer en ook kerkregtelik, handel sulke vergaderings nie namens die gemeentes uit wie se kerkraadslede hulle saamgestel is nie. Volgens sinodebesluit van 1985, konstitueer ’n meerdere vergadering om ’n bepaalde agenda te behandel, en ontbind wanneer die agenda afgehandel is (Pienaar 2004:535).
In die Kerkorde kom die woord verteenwoordig net in artikel 11 voor, en dan nie in vergaderingsverband nie, maar in verband met die verantwoordelikheid van die ‘kerkraad wat die [plaaslike] kerk verteenwoordig’ om die bedienaars van die woord te onderhou.
Skynbaar, om die independentistiese idee dat lidmate in beheer van gemeentebesluite moet wees te weerspreek, skryf Meijer (1995) dat die Gereformeerde kerke bely ‘dat die kerkraad geen afvaardiging van die gemeente is nie’, en verder:
Ampsdraers verteenwoordig nie die gemeente in die sin dat hulle in alles aan die wens van die gemeente gevolg moet gee en dienooreenkomstig aan die gemeente rekenskap verskuldig is nie (Jansen 1923:136). Ampsdraers word deur die Here by wyse van verkiesing tot die amp geroep (Handelinge 6:5; Handelinge 14:23). Dit impliseer dat hulle aan die wil van die Here gehoor moet gee. Die kerkraad se taak word nie deur die gemeente aan hom opgelê nie, maar deur die Here in Wie se diens hy staan. Hulle ‘lasbrief’, hulle werksopdrag is direk van die Here afkomstig (1 Petrus 5:1–3). Die kerkraad is oor hulle ampswerk aan die Here verantwoording verskuldig. (afdeling 4.1.2)
Wanneer daar gesê word dat afgevaardigdes na meerdere vergaderings gemeentes of mindere vergaderings verteenwoordig, moet gevra word watter soort verteenwoordigers hulle is? Vir Meijer (1995) gaan dit oor delegatio, en nie representatio nie:
’n Kerkraad se afgevaardigde na ’n meerdere vergadering is nie sy verteenwoordiger by die daardie vergadering, in dié sin dat die hele kerkraad in die persoon van die afgevaardigde daar teenwoordig is nie. (afdeling 4.1.3.2.3)
Ingevolge die kredensiebrief, sê Meijer, ontvang afgevaardigdes ‘“las en volmag om namens die kerkraad, asof hy self op die vergadering verteenwoordig is” te help oordeel en besluit oor sake wat op die agenda dien’; en dit beteken ‘dat die kerkraad self nie teenwoordig is nie, anders sou die sin gelees het “in wie die kerkraad teenwoordig is”’. Volgens Meijer moet afgevaardigdes verantwoording doen aan die liggame wat hulle afgevaardig het.
In sy kommentaar op Art 31 KO onder die opskrif ‘Afvaardiging en geloofsbriewe’, maak Visser (1999) daarenteen die volgende opmerking:
Die afgevaardigdes na meerdere vergaderings verteenwoordig die mindere vergadering, asof die betrokke mindere vergadering self teenwoordig is. Die afgevaardigdes is nie organe van dié vergadering wat hulle stuur nie, maar verteenwoordigers; hulle is slegs organe van Christus. (pp. 335–336)
Wat hy met ‘slegs organe van Christus’ bedoel het, is nie duidelik nie, en oor wat verteenwoordiging van die mindere vergadering behels, spreek hy hom nie uit nie, anders as om ’n simboliese teenwoordigheid van elke mindere vergadering in die meerdere vergadering te konstrueer. Visser se konsep van ‘organe van Christus’ is problematies, want dit impliseer tegnies dat Christus nie self kan handel nie, maar menslike organe in die vorm van afgevaardigdes nodig het om te kan handel. Natuurlik gebruik die drie-enige God mense aan wie Hy ’n verskeidenheid van bedieningsgawes toeken (1 Pet 4:10 en Rom 12:6–8), maar dit beteken beslis nie dat Christus van mense se ‘orgaanskap’ afhanklik is om sy gesag te bedien nie. Ook die apostoliese ‘sleutelmag’ (Matt 16:19; 18:18 en Joh 20:23) kan sekerlik nie so verstaan word dat kerklike vergaderings of ampsdraers plaasvervangende besluitnemers is van wie Christus as die hoof afhanklik is om met sy bruidskerk te handel nie.
Van der Linde (1977) het ook die begrip ‘verteenwoordiging’ onspesifiek en met min toeligting gebruik.
Visser (1999:337) beskryf ’n geloofsbrief as ‘die wettige bewys dat iemand gestuur is en opdrag ontvang het om namens ’n mindere vergadering te handel’. Waar hy oor vergaderingsprosedure handel (Visser 1999:342), beklemtoon hy egter dat klassisse en sinodes ontbind nadat hulle agenda afgehandel is, en dus nie verder bestaan nie.
Visser verskil dus van Meijer oor die simboliese teenwoordigheid van mindere vergaderings in meerdere vergaderings. Daarby is dit duidelik dat albei se sienings van verteenwoordiging in meerdere vergaderings nie rekening hou met die gegewe, ingevolge artikels 30 en 33 van die Kerkorde, dat afgevaardigdes van klassisse en streeksinodes nie aan hulle opdraggewers terug kan rapporteer nie, aangesien die opdraggewende vergaderings ontbind het teen die tyd dat die meerdere vergadering konstitueer.
Die deurslaggewende oorweging in hierdie verband is dat meerdere vergaderings nie vergaderings van ’n kerk of die kerk is nie. Meerdere vergaderings word algemeen verstaan as vergaderings van kerke, selfs wanneer daar nie afgevaardigdes van al die betrokke kerke teenwoordig is nie. Ook volgens die presbiteriale kerkregeringsbeginsels, is ’n meerdere vergadering nie ’n vergadering van óf ’n plaaslike gemeente, óf van die universele kerk van Christus nie, maar ’n byeenkoms van kerke wat deur ’n gemeenskaplike belydenis gekenmerk word. Die byeenkoms is nie ’n hiërargiese struktuur, of ’n regering nie, maar ’n geleentheid waar insig met mekaar gedeel word, op soek na gemeenskaplike wysheid. Tog is dit gangbaar in die kerkverband, byvoorbeeld in die inleidende sin van die Kerkorde, om van kerkregering te praat. Die vergadering van ’n kerkraad, wat onomwonde ’n orgaan van die plaaslike gemeente vir regs- en kerklike handelinge is, is eiesoortig, en dus kan wat vir kerkraadsvergaderings geld, nie onveranderd op klassisse en sinodes van toepassing gemaak word nie.
Die gladde dogmatiese ys waarop ons hier skaats, is die vraag waar die verskillende standpunte oor besluitneming in kerkverband op die skaal tussen independentisme en kollegialisme lê; en wat ’n ‘suiwer’ siening sal wees wat op die presbiteriale kerkregeringstelsel gebaseer is. Wat dit moeiliker maak, is dat dit so maklik is om beskuldigings van ongereformeerde gedrag te baseer op iets wat lyk of dit na die een of die ander pool neig. Volgens Kuyper, sondig independentiste omdat hulle geen gesag aan die sinode toeken nie.
Met verwysing, veral na ’n 1991-artikel van Bouke Spoelstra, het Jacques Howell (2004:203) die independentisme in sy proefskrif oor binding aan kerklike besluite gekenmerk as ’n benadering waarin elke gemeente heeltemal onafhanklik funksioneer, en ‘selfs nie deur presbiters oorheers’ moet word nie. Verder regeer independentistiese gemeentes met ʼn meerderheid van stemme, en die kerkraad moet die meerderheid se opdragte uitvoer. Sulke kerke is wel bereid om met ander te ‘konfereer’, maar nie om saam met hulle belydenisskrifte te onderskryf, of deur gesamentlike besluite gebind te word nie.
Howell (2004) verwys verder na Kuyper wat aangetoon het:
[D]at binding ’n sentrale gedagte in die kerk van Jesus Christus is, aangesien die ‘traditio apostolica’ (Nuwe Testament) met die afsterwe van die apostels, die ‘vinculum unitatis’ (eenheidsband) word in die plek van hul lewende gesag. (p. 204)
Die opstel van ’n geloofsbelydenis en ’n kerkorde is deel van hierdie vinculum unitatis.
Vir Van der Walt (1974:115), ‘het die humanisme van die 17de eeu en die leer van die natuurreg uitgeloop op die Kollegialisme’. Howell (2004:202–203) definieer kollegialisme as ‘die kerkregeringstelsel waarvolgens die sinode as hoogste liggaam bindende besluite namens die gelowiges binne die bepaalde kerkverband neem’, en hy konstateer dat die gevaar van kollegialisme is, ‘dat die sinode gewetensbindende besluite kan neem wat stry met die Woord en belydenis en poog om sodanige besluite af te dwing’. Verder bevind hy dat ‘[w]aar kerklike besluite, wat stry teen Skrif en belydenis op gelowiges afgedwing word, kan kerkskeuring nie gekeer word nie’ en dat die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859 hiervan ’n sprekende voorbeeld is.
Dat soveel van die Gereformeerde kerkreg en belydenis se fondamente in die 17de eeu gelê is, moet sekerlik verreken word. Daarvoor moet in gedagte gehou word dat die 17de eeu die begin van die sogenaamde Verligting, die eeu van die rede was, waartydens invloedryke teoretiese grondslae ook vir die moderne demokrasie in Engeland en Europa gelê is. In wese kom die konsepte verteenwoordiging en stemming uit daardie 17de-eeuse denke oor staatsregering. Daar kan min twyfel daaroor wees dat die rasionalisme, humanisme en die liberalisme ’n invloed op sowel kollegialistiese as independentistiese denke uitgeoefen het.
Presbiteriale denke oor kerkregering verwerp sowel die individualistiese liberalisme van independentisme, as die humanistiese regverdiging van die tirannie van die meerderheid, wat die kollegialisme kenmerk. Die Gereformeerde stelsel berus op die Skrifgefundeerde geloof dat die ware kerk nie aan mense nie, maar aan God behoort. Wanneer mense dus besluite oor kerklike sake moet neem, moet hulle afsien van individuele eiewilligheid, sowel as van menslike magshiërargie. Gelowige besluitneming moet berus op die bede dat dit onder leiding van die Heilige Gees sal plaasvind, besonderlik wanneer riglyne vir die besluite in die vertolking van die Woord gesoek word. Howell (2004) toon met verwysing na verskeie bronne (waaronder Calvyn) aan, dat:
… [V]olgens die presbiteriale gereformeerde kerkregeringstelsel, regeer nie die sinode nie, maar regeer God sy kerk deur sy Woord en deur die ampte wat Hy ingestel het. Dit vra van alle kerklike vergaderings om onder leiding van die Gees besluite te neem wat die toets van die Woord deurstaan … Daarom wys die presbiteriale kerkregeringstelsel alle denke af wat die kerk van die Here as ’n demokrasie sien waarin ’n blote meerderheid regeer. (p. 242)
Hierin skuil egter ’n wesenlike dilemma waarmee die kerkverband gekonfronteer is: as verskille oor die vertolking en toepassing van die Skrif in minderheid en meerderheid oor ’n besluit voortbestaan, ten spyte van die biddende oproep om die leiding van die Gees, is kerkskeuring soos in 1859 onafwendbaar? Anders gestel, dui ’n meerderheidsbesluit daarop dat die opregte gemeenskaplike gebed om die leiding van die Gees die meerderheid se vertolking van die Skrif reg bewys? Ook verder, kan dit werklik wees dat die wil van God gesaghebbend deur ’n menslike meerderheidstemming bepaal word? As dit die standpunt moet wees, het ons te doen met ’n sprong uit die presbiteriale stelsel na kollegialisme.
Soos Howell die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in 1859 vertolk het as kerkskeuring weens onskriftuurlike besluitneming, kom die vraag in 2024 onvermydelik na vore, of sinodale besluite oor Skrifvertolking wat nie eenstemmig geneem kan word nie, tot kerkskeuring moet lei. Dit bring ook die vraag na vore van wat met ‘kerkskeuring’ bedoel word, want meerdere vergaderings neem nie besluite namens die kerk of ’n kerk nie.
Dit sal egter baie sinvol wees as in die kerkverband ooreengekom kan word dat besluite van meerdere vergaderings oor die korrekte verstaan van die Skrif kerke slegs dan bind wanneer sodanige besluite eenparig geneem word. Natuurlik kan dit steeds nie beteken dat eenparige besluite oor Skrifeksegese wel verstaan moet word as onkreukbare uitdrukkings van die wil van God nie, want selfs nie eenparige stemming kan ons sondige onvermoë om God se wil volkome te ken, uit die weg ruim nie. So ’n ooreenkoms behoort egter duidelikheid te bring oor die vraag of ’n gemeente in die gemeenskap van gemeentes wat erns maak met die dinge wat werklik saak maak (Fil 1:9–11; Rom 12:2; Ef 5:17), tuis is, of nie. As dit egter oor dinge gaan waaroor gelowiges vry moet kan kies (Rom 14:1–12), moet ons mekaar as medegelowiges verdra.
Insover as wat ons aan die presbiteriale konsep van die wese van die kerk vashou, is dit sekerlik waar antwoorde oor kerklike besluitneming gesoek moet word. Daarvolgens is daar, benewens die universele kerk van Christus, net een ander verskyningsvorm van kerk, naamlik die plaaslike ekklésia, die gemeente. Die konstruksie dat meerdere vergaderings in die GKSA, vergaderings van kerke is, maak nie van klassisse en sinodes regeerliggame van ’n ekklésia nie (Pienaar 2004:50–59). Desnieteenstaande bestaan die persepsie dat meerderheidsbesluite van die meerdere vergaderings – sowel gebiedings as verbiedings – ’n dwingende uitwerking op kerke moet hê. Dat dit tot onmin en selfs die verbrokkeling van die kerkverband kan lei, spreek vir sigself.
Vrae waarop eenduidige antwoorde gevind moet word
Ten einde die onsekerhede uit die weg te ruim rakende die bindingskrag van besluite van meerdere vergaderings, verteenwoordiging in kerklike vergaderings, en stemming waardeur verskille aan die lig gebring word, sal ’n reeks kwessies oorweeg en opgeklaar moet word. Opklaring van sommige van hierdie kwessies is afhanklik van die opklaring van ander. Algemeen aanvaarde antwoorde op ten minste die volgende vrae sal gevind moet word, moontlik ook gepaard met ’n heroorweging van sommige ingewortelde Gereformeerde konvensies:
- Tot watter mate moet die historiese konteks waarin die Dordtse Kerkorde en latere hersienings daarvan geformuleer is, tans verreken word by die interpretasie en toepassing daarvan?
- Waarom is kerkverband wesenlik vir ware kerkwees?
- Presies wat behels die konsep gemeenakkoord?
- Hoe kan groter helderheid oor die aard van verteenwoordiging in meerdere vergaderings verkry word?
- Kan getrapte afvaardiging met tegnologiese deelname deur alle kerke vervang word?
- Kan met reg gesê word dat meerdere vergaderings geoorloof is om bindende leerstellige en eksegetiese besluite oor die ware betekenis van die Skrif, met meerderheid van stemme, te neem?
- Kan kerklike vergaderingsprosedure gewysig word, om eenparigheid vir bepaalde tipe besluite te vereis, om dit bindend en voorskriftelik te maak?
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
F.V. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Befondsingsverklaring
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheid
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Literatuurverwysings
Aguilera-Barchet, B., 2015, A history of western public law – Between Nation and State, Springer International Publishing, Cham.
Brittanica, viewed 20 December 2023 from https://www.britannica.com/topic/Council-of-Five-Hundred-ancient-Greek-council
Celliers, A., 2016, ‘Kerklike gesag herbesoek: Met verwysing na die kerklike proses om ’n belydenis of belydenisgrondslag te wysig’, Acta Theologica 36(2), 1–18.
Du Plooy, A. le R., 1979, ‘Ekklésia en meerdere vergaderinge’, ThM verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom.
Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika, 1961, Handelinge van die vier-en-dertigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika, Potchefstroom.
Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika, 1964, Handelinge van die vyf-en-dertigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika, Potchefstroom.
Gregory, B.S., 2012, The unintended reformation – How a religious revolution secularized society, The Belknap Press of Harvard University Press, Cambridge.
Howell, J.H., 2004, ‘Binding aan kerklike besluite – ’n Gereformeerd kerkregtlike studie’, PhD proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.
Jooste, J.P., 1958, Die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859–1959, uitgewer onbekend, Potchefstroom.
Jordaan, G.J.C., Van Rensburg, F.J. & Breed, D.G., 2011, ‘Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese’, In die Skriflig 45(2&3), 225–258. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.14
Kerkordeboekie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1998, Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Potchefstroom.
Lourens, P.K., 2010, ‘Die plek van gebed in die Gereformeerde kerkregering’, PhD proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.
Meijer, G.J., 1995, ‘Ratifikasie in die gereformeerde kerkreg’, ThM verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom, viewed 20 December 2023 from http://kerkrecht.nl/node/2102
Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), 1561, beskou op 20 December 2023, by http://www.cjbf.co.za/belydenisse/afrikaans/2aNGB.pdf
Parlement.com, 2020, Staten-Generaal 1588–1795, beskou 20 December 2023 by https://www.parlement.com/id/vigfgov2wpxl/staten_generaal_1588_1795
Pienaar, G., 2004, Die regsposisie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Calvyn Jubileumboekefonds, Potchefstroom.
Rutgers, F.L., 1892, Commentaar op Kerkorde Dordrecht (1619) Art. 31, Appel, viewed 20 December 2023 from http://kerkrecht.nl/node/1310
Schulze, L.F., 1978, Geloof deur die eeue, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.
Shand, M., ongedateer, SpindleWorks, viewed 20 December 2023, from https://spindleworks.com/library/brj/brj_Nov99_english.htm
Spoelstra, B., 1989, Commentaar op Kerkorde GKSA (2000) 31 B 2. Die meerderheidstem, viewed 20 December 2023 from http://kerkrecht.nl/node/1380
Van der Linde, G.P.L., 1977, Klasdiktaat ‘Kerkregering – Die kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika Deel II’, viewed 20 December 2023 from https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/13739/Deel%202_Kerklike%20vergadering.pdf?sequence=2&isAllowed=y
Van der Walt, J.J., 1974, ‘Christus as die hoof van die kerk en die presbiteriale Kerkregering’, ThD proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.
Venter, F., 2022, The language of constitutional comparison, Edward Elgar, Cheltenham.
Visser, J., 1999, Die kerkorde in praktyk, Dr. J. Visser, Roodepoort.
|