About the Author(s)


Annelle Barnard Email symbol
Unit for Reformational Theology, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Barnard, A., 2024, ‘LaCugna se relasionele verstaan van die Triniteit: ’n Teologiese begronding van die pastoraat’, In die Skriflig 58(1), a3022. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3022

Original Research

LaCugna se relasionele verstaan van die Triniteit: ’n Teologiese begronding van die pastoraat

Annelle Barnard

Received: 25 Sept. 2023; Accepted: 10 Apr. 2024; Published: 06 June 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

LaCugna’s relational understanding of the Trinity: A theological embedding of the pastorate During the long history of the separation between theology and spirituality, the Trinity was regarded as an abstract theory with the result that the character of the pastorate to some extent developed correspondingly narrowly. In this article, it is indicated how a relational understanding of the Trinity could inform pastorate to a deeper theological grounding of the field. Catherine LaCugna’s valuable contribution to a relational understanding of the Trinity, points to the integral importance of the right relationship between God and humanity. The immanence of a triune God – God with us, with us and for us, a fusion between the divine and the human in oikonomia – is necessarily the healthy spiritual relational climate within which the church can practically and meaningfully operate; from confession to liturgical expressions in diakonia, koinonia and doxologia, and to ministry practices at all levels of pastoral care of the faith community.

Contribution: The implications of the findings are a radical far-reaching change of spiritual approach within the church, contributing to a deeper and more serious practical application of relational principles for church leadership, pastoral caregivers and church members. Christians are to become more vividly aware of their relational responsibility in Christ, deliberately and creatively working towards their noble goal and upward call of God.

Keywords: Pastoral care; Trinity; relational Trinity; LaCugna; relationships; faith-based body.

Inleiding

Pastorale sorg as ’n eeu-oue element van die godsdienstige lewe en organisasie kan omskryf word as godsdienstige aandag wat aan ander gegee word. Volgens kerkinstelling (tradisionele kerk), is hierdie aandag een van die basiese verantwoordelikhede van godsdienstige leierskap (Osmer 2008). Sonder twyfel hang pastorale sorg ten nouste saam met genesing en hulpverleningsfunksies. Pastorale sorg is ’n helpende professie wat poog om ’n verhouding van hulpverlening met mense te ontwikkel, asook ’n weg te vind om vrae oor geloof en oor algemene lewenskwessies te hanteer. Die betrokkenheid van liefde dui noodwendig op verhoudingsmatigheid so eie aan pastorale uitreik na die naaste. Daar word aanvaar dat die liefde van God vleesgestalte kry in die vorm van naasteliefde en selfliefde (McClure 2012:269).

Ten spyte van ons duidelik-omlynde Christelike tradisie, kan die effektiwiteit van hedendaagse pastoraat bevraagteken word. Louw (2014:48) stel die volgende vraag in sy artikel: Wat is die ABC van pastorale sorg en berading, en watter soort teorie behoort die dryfkrag agter die bedieningspraktyk van pastorale sorg te wees? Hierdie vrae dui op eietydse onsekerheid of te wel onduidelikheid wat die teologiese karakter van hedendaagse pastorale sorg betref. ’n Leemte in karaktervorming van pastoraat word hier bemerk. Die doel van Louw se artikel is om op die unieke eiesoortige teologiese karakter van pastorale sorg te fokus. Louw (2014) stel die probleem so:

Without theory and uncertainty about the unique feature and character of pastoral theology, the pastoral ministry becomes merely a repetition of theories in human sciences with a little bit of Christian castor sugar to maintain a pastoral image. (n.p.)

Uitstekende teorie behoort te verhoed dat die praksis bloot gereduseer word tot betrokkenheid by daaglikse gebeurlikhede of slegs ’n handleiding vir aksie word (Louw 2014:48). Teorievorming in pastorale sorg het ’n ernstige probleem en gevolglik ‘n dringende kwessie in akademiese sirkels geword. Louw verwys verder na Sperry (2002:3) wat gewaarsku het teen die gevaar van psychologization of spirituality, en die unieke bydrae van pastorale sorg as geestelik rigtinggewend beklemtoon het. Pastorale sorg is nie net sielkunde in ’n Christelike raamwerk nie. Dis ’n teologiese dissipline wat tot ’n unieke bron verbind is. Pastorale sorg as cura animarum moenie van sy wortels van caritas en diakonia vervreem word nie.

Sielesorg is die herderlike handelswyse wat aan kerkverantwoordelikes opgedra word in Handelinge 20:28. Die verband tussen Jesus se kruisiging en sy versorgingstaak as Herder, word in 1 Petrus 2:24–25 bevestig. Versoenende vrede wat deur die Herder vir die hele mensdom bewerkstellig word, soos in Hebreërs 13:20 beskryf word, dui noodwendig op ‘n verhouding (Louw 2014:59). God as gasvrye Vriend en lewenslange Vennoot is ons keuse vir pastorale interaksie wat die genade van God en die menslike nood vir redding en intimiteit met die nodige sensitiewe erns hanteer. Hierdie benadering bring ons terug na ‘n belyning met konvensionele geskiedenis soos in die Skrif voorgehou word (Louw 2014:67). Dit kan gesê word dat die tradisie van cura animarum ingebed is in sapienta eerder as bloot in scientia.

Die belangrikheid van verhouding kan nie oorbeklemtoon word nie. Pastorale sorg ontmoet mense met diep en opregte empatie waar hulle in hulle menswees is. Pastorale kommunikasie reken op die werking van die Heilige Gees (Ef 3:16). Christelike geestelikheid oortref die beperkings van bloot psigologiese ervarings en pneumatologiese waarnemings (Louw 2014:71). Met verdere refleksie op verhoudings, kan die kwaliteite van verhoudingsaspekte soos gee-en-neem in meer diepte nagespeur word (Strawn 2014). Ter verryking word die begrip van verhouding binne die Drie-eenheid, hoe die verhouding tussen God en mens daar moet uitsien, en hoe die verhouding tussen mense onderling beoefen kan word tot genesing en verhoudingswelsyn van die mens, in hierdie artikel bespreek.

Die Triniteit word beskou as die basiese en onderskeidende Christelike leerstuk wat as die belydenis van die Christelike wyse om God te identifiseer, voorgehou word. Die Drie-eenheid moet die karakter van die hele teologie bepaal (Venter 2012), en die relevansie daarvan vir die samelewing moet onderstreep word (Venter 2022:1). Een van die mees betekenisvolle en verreikende verwikkelings in die huidige nuwe belangstelling is, volgens Venter (2012), die klem op die relasionaliteit van God, aangesien dit moontlikhede skep om ingrypend oor die Christelike verstaan van God te praat. Meer nog, dit resoneer met eietydse waardering vir sosiale alteriteit en andersheid, asook met die verstaan van fisiese verskynsels binne die kwantum-kosmologie.

Die verstaan van die pastoraatdilemma en die moontlikheid van ’n sinvolle teoretiese basis vir pastoraat, begin uit LaCugna se werk na vore tree. In haar artikel, ‘The practical Trinity’, verduidelik LaCugna (1992) dat die leerstelling van die Triniteit in die laaste 15 dekades ’n ondergeskikte rol gespeel het ten opsigte van Christelike opleidingsprogramme en denke, aangesien dit beskou was as ’n abstrakte teorie – iets wat min mense verstaan en sonder praktiese toepassing in die Christelike geloof. Daar was egter etlike voorlopers soos Karl Barth (1886–1968), wat met sy Church dogmatics die pad gebaan het, gevolg deur Karl Rahner (1904–1984), met ’n intensiewe studie van die Triniteit, The Trinity. Venter (2022:2–3) dui aan dat hierdie twee werke beskou kan word as die dryfveer vir die belangstelling in die Triniteit in die twintigste eeu. ’n Oplewingsontploffing in kerkkringe aangaande belangstelling in die trinitariese leerstelling is egter eers in die laaste klompie jare opgemerk (LaCugna 1992:678; Vosloo 2022:411).

’n Relasionele verstaan van die Triniteit het die potensiaal om ons nuut te laat dink oor verskeie aspekte van die teologie soos, onder andere, antropologie, en daag ons uit om onsself te verstaan as persone in verhoudings eerder as geïsoleerde individue (Vosloo 2022:411–412). Dit is dan veral ook die deelname aan verhoudings wat in ’n relasionele verstaan van die Triniteit na vore kom. Deelname is die kernargument van Fiddes (2001:12) se Participating in God: A pastoral doctrine of the Trinity, en die doel van hierdie werk word as ’n wegbeweeg van observasie en ’n beweeg na deelname toe beskryf.

Die temas van verhoudings is dus prominent in die teologiese refleksie oor die Triniteit. Ook in die veld van pastorale sorg is verhoudings integraal. Die pastoraat se eiesoortige identiteit lê daarin om God se karakter van bemoeienismaking, deernis, en sorg in die reis saam met mense te beliggaam. Pastorale sorg gaan in wese oor die beliggaming van die wese en praksis van ’n verhoudingsgerigte God. In hierdie artikel sal daar argumenteer word dat teologiese refleksie op die relasionele verstaan van die Triniteit, soos gesien in die werk van LaCugna, ’n bydrae kan lewer tot die veld van die pastoraat en die dieper teologiese begronding daarvan.

Die werk van Catherine LaCugna

Benadering tot trinitariese teologie

Die metodologiese basis van LaCugna se werk, wat as haar belangrikste bydrae aangaande die trinitariese teologie beskou kan word, plaas die klem op die verband en eenheid tussen oikonomia en theologia, die sogenoemde ekonomiese Triniteit en die immanente Triniteit. Dit beteken dat trinitariese teologie onlosmaaklik met Christologie en Pneumatologie verbind is. Christologie en Pneumatologie word dan soos ’n fontein wat opspring tot die verstaan van die identiteit van ’n drie-enige God.

LaCugna gee erkenning aan die werk van voorlopers soos Athanasius, die Kappadosiërs, en Augustinus wat die verstaan van Vader, Seun en Heilige Gees onderskeidelik en in verhouding gesamentlik as deel van een God geformuleer het. LaCugna bespreek die Kappadosiërs se verstaan van God as baanbrekerswerk op drie vlakke. In die eerste plek is dit relasioneel, persoonlik en gedeel. Tweedens, is daar geen ondergeskiktheid tussen die Vader en die Seun nie. In die derde plek, word dit uit die ekonomie van verlossing afgelei (LaCugna 1991:388–391).

Hulle het gepoog om ontologiese ondergeskiktheid, modalisme, en triteisme te vermy. Tog, al was dit nie die bedoeling nie, is ’n rigting ingeslaan wat die ekonomie van verlossing betref wat na ‘n onderbeklemtoning van God se teenwoordigheid sou lei. Die fokus was op die innerlike self-verhouding van God eerder as God se verhouding met ons. Die leerstelling van die Triniteit kon slegs praat van Triniteit as perfek, ewig, opgesluit in God self, in verhouding met God self, maar in wese nie in verhouding met ons nie. Daardeur het trinitariese teologie verder abstrak geraak en nog meer afgeskei van God se oikonomia (Medley 1998:221). Die bydraes van Aquinas en Palamas tot die Middeleeuse teologie toon sterk persepsies van skeiding tussen God se innerlike lewe en God se teenwoordigheid in hierdie wêreld. LaCugna merk op dat, in gesprekke en refleksie, die God van filosowe sterk na vore gekom het, terwyl die God waarvan die Bybel eintlik getuienis gee, na die agtergrond verskuif het. Die trinitariese leerstelling het meer van die trinitariese geloof afgeskei geraak.

In haar werk, The practical Trinity, verwys LaCugna (1991) na hierdie tradisionele begrip aangaande die immanente Triniteit wat hedendaags deur die werk van Katolieke en Protestantse teoloë na bybelse konsepte teruggeskuif word. Die trinitariese leerstelling word so te sê gerehabiliteer en in ’n staat van herlewing gebring. LaCugna beklemtoon die immanensie van God – God met ons, by ons en vir ons. Deur terug te keer na meer konkrete bybelse beelde en konsepte, na liturgie en geloofsbelydenis, het dit duidelik geword dat die bedoeling van die leer was om die plek van Christus in ons verlossing, asook die plek van die Gees in ons heiligmaking te openbaar, dat ons sodoende iets van die misterie van God se ewige wese kan begryp. Deur meer op die misterie van God met ons, God vir ons te fokus en minder op die natuur van God self, kan die leerstelling van die Triniteit weer sentraal in ons geloof gevestig word soos wat in die Christelike retoriek nog altyd weerklink het. Die leerstelling kan in die eerste plek beskou word as ’n opsomming van wat ons glo van Christus en die Gees; en tweedens, as die eintlike konteks van ons Christelike teologiese onderneming in die geheel (LaCugna 1992:678). Hierdie nuwe begrip met betrekking tot die immanensie van God is van besonderse belang in die pastoraat, waar op verhoudings gekonsentreer word. Die sentrale plek van die Triniteitsleerstelling en praktiese implikasies daarvan kom in LaCugna se werk duidelik aan die lig.

LaCugna (1991:380) is egter versigtig om nie ’n spesifiek intragoddelike struktuur op die menslike gemeenskap te projekteer nie. Haar fokus op die praktiese aard van die Triniteitsleer gee daarom uiting aan ’n trinitariese teologie wat deurdrenk is met die idee van die ekonomie van verlossing as die pad van God se glorie (LaCugna 1991:377).

Verlossing staan duidelik sentraal tot ’n relasionele verstaan van die Triniteit. LaCugna se omskrywing van verlossing beklemtoon die praktiese aard daarvan. Die hart van die Christelike geloof is die ontmoeting met God in Christus, wat ons eenheid met God sowel as ons kommunikasie met mekaar moontlik maak. Die persoonlike en kommunikatiewe dimensie van die Christelike geloof is onafskeidbaar verbind. In Efesiërs 1:13–14 vind ons ’n opsomming van die basiese onderwerpmateriaal van die trinitariese teologie: God het ons van ewigheid af geseën; God het ons in Christus uitverkies om heilig en sonder gebrek voor God in liefde te wees; God begeer om met ons in die intimiteit van ’n familiêre verhouding te leef. In Christus is ons verlos en ons sondes vergewe deur die bloed wat aan die kruis gestort is. God beplan om alle dinge met Homself te herenig en daarom word ons daartoe deur die Gees van God verseël. Ons weet ook wat ons deel is, naamlik om met lofprysing tot eer en verheerliking van God te lewe. Dit is die verslag van ’n verlossingsgeskiedenis wat begin met God wat in liefde uitreik na sy skepsels en eindig in alle dinge wat in God herenig word.

Die God van die verlossingsgeskiedenis word leer ken, liefgekry, en aanbid in die loop van ’n nog-in-wording verhouding tussen God en sy mense. Die sentrale kenmerk van Israel se geskiedenis wat by Sinai begin het, is verbondsliefde. In die lewe, lering, dood, en opstanding van Christus bereik die heilsgeskiedenis ’n beslissende uitkoms. Die werk van God in Christus word in die transformerende werk van die Heilige Gees, in die eskatologiese uiteinde van die skepping en die vervulling van alles in God voortgesit. Die Christelike leerstelling van God is nie abstrak wat die hemelse of die aardse bestaan betref nie. Triniteit is eintlik die normatiewe Christelike model om te verstaan wie God is. Dit kan nie geskei word van wie ons nou is en wie ons gaan word nie.

Die trinitariese leerstelling help ons om onder andere te verstaan wat die Evangelie van ons verwag, hoe persoonlike bekering verband hou met sosiale transformasie, en wat regte verhoudings binne die Christelike gemeenskap en die wyer gemeenskap behels. Die leerstelling van die Drie-eenheid is van nature in verbintenis met die kerk se belydenis en liturgiese uitdrukkings van regte verhouding soos in Efesiërs voorgehou (LaCugna 1992:679). Die praktiese aard van soteriologie as ’n integrale deel van die Triniteitsverhoudings, word hier bevestig.

Relasionele ontologie en konsep van persoon wees

Die metafisiese beskouing van substansie het die teologiese refleksie in die geskiedenis van die kerk ten opsigte van die Triniteit stewig gevestig. Augustiniaanse teologie het bygedra tot die vestiging van die individualistiese konsep van persoonlikheid, wat volgens LaCugna, uiteindelik eerder ’n skeiding tussen teologie en soteriologie veroorsaak het. Die innerlike lewe van God, naamlik die selfverhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees na mekaar toe, was die fokus in die teologie na Nice (LaCugna 1992:680). Aangesien die trinitariese leerstelling normatief is vir Christelike teologie, het LaCugna se werk nuwe visie met betrekking tot die verstaan van menslike persoonwees geopen. Persoonlikheid vergestalt die betekenis van wese. Hypostasis is die wyse van God se ousia. ’n Persoonlike ontologie fokus op persoonwees, relasionaliteit, en gemeenskap as die wyse van bestaan. Verhouding ontspring vanuit die drie-enige God se onuitspreeklike, konkrete en ekstatiese persoonlike bestaan. LaCugna se volgehoue refleksie aangaande relasionaliteit as ’n alternatief vir bogenoemde metafisiese benadering, word as ’n besondere bydrae beskou. Die uiteindelike of finale beginsel van alle bestaan is ‘n persoonlike verhouding en nie onpersoonlike substansie nie. Om-te-wees is om-in-gemeenskap-te-wees.

Volgens LaCugna kan ’n beter verstaan van die betekenis van persoon verkry word wanneer verstaan word dat die kategorie van die relasionele hier onderliggend is. Relasionele dui verwysing van een ding tot ’n ander aan en daarom kom hierdie kategorie geniaal van pas in die trinitariese tradisie waar onderskeid in die Godheid ingebring kan word sonder om verdeeldheid te veronderstel.

LaCugna verwys na Aquinas se metafisiese redenasie rondom die moontlikheid van hoe God in verhouding is. ’n Ware verhouding is inherent deel van die ware natuur van iets soos Vader-Seun, terwyl ’n logiese verhouding verband hou met rede en intellek wat iets met iets ander verbind. Volgens Aquinas kan God in God se perfektheid en met die goddelike eienskappe wat God inherent besit, nie anders nie as slegs in ware verhouding [esse ad] wees. Verhouding kan nie van God se goddelike essensie verskil nie (LaCugna 1985:654–655).

Die strukturele en teologiese analise van Aquinas toon dat die sentrale kategorie waardeur ons tot ’n verstaan van God kan kom, verhouding is. Die vraag of God ’n ware verhouding met die skepping het, word duidelik wanneer hierdie kwessie binne die konteks van trinitariese teologie ondersoek word. Kontemporêre trinitariese teologie herontwikkel rondom die kategorie van die relasionele. Dit maak dit moontlik om die onderskeid tussen God se een-wees en drie-wees, waardeur God se ware verhouding tot die skepping moontlik ontken kon word, weldeeglik te oorbrug. Die vraag is hoe trinitariese refleksie vervolgens verskerp kan word om hierdie relasionele ontologie van persoonwees na die manier waarop ons dink oor God as Persoon in die skepping en/of ekstern tot die skepping te vorm. Terwyl die natuur van God is om in-verhouding-na en in-verhouding-tot te wees, kan ons in die trinitariese raamwerk van selfverhouding van God die moontlikheid dat God in ’n ware verhouding tot die skepping staan, heroorweeg. In God is ware verhouding op interne aksie gebaseer en nie op eksterne skeppingsaksies nie. Ware verhoudings in God volg op aksies wat te doen het met prosesse wat binne God plaasvind en nie buite God gaan nie. Die verlossingsgeskiedenisperspektief wys God se essensiële belang om met sy ander ’n ware verhouding te handhaaf. Die moontlikheid van goddelike selfgenoegsaamheid waarin God alleen en afgesny van die mens buite die skepping staan, word geheel en al van die toneel verwyder. God is persoonlik, want God is relasioneel en nie andersom nie. Die naam God is basies ’n relasionele term. God word so genoem omdat ’n ware verhouding tussen God en God se skepping deurlopend bestaan.

Verder stel LaCugna dit duidelik dat die vryheid van God nie deur ’n ware verhouding tussen God en die skepping wat hier veronderstel word, gekompromiteer word nie. Die ontologiese onderskeid tussen God en die wêreld word ook nie uitgewis nie. Vryheid in ’n teologiese sin is primêr ’n intensionele aktiwiteit en nie ’n metafisiese inperking nie. In relasionele of liefdesontologie, beteken vryheid nie om ’n wye spektrum van keuses te hê nie, maar ’n vryheid vir en vryheid tot en na die ander toe. Vryheid beteken selfverloëning [kenósis] wat vir die mens net gedeeltelik moontlik is, maar God het die absolute kapasiteit daartoe. In persoonsontologie is selfverloëning ’n kenmerk van vryheid. Absolute vryheid beteken absolute selfverloëning. Die skepping is inderdaad die resultaat van God se self-leegmaak in God se ander (LaCugna 1985:659–663).

Die godsdienstige gemoed het geen ware belang in ’n God wat eensydig of selfvoldaan is nie, of ’n God wat nie werklik relasioneel is nie, maar die godsdienstige gemoed is in ekstase om te ontdek dat die naam van God wat so ten volle by die skepping betrokke is, ’n belofte beteken om altyd daar te wees. Relasionaliteit is die hart van wat dit vir God beteken om God te wees.

Die beeld van die immanente Triniteit word dikwels gesien as die hemelse komitee van Persone waar ewe-gelykheid tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees gehandhaaf word. Geensins word verstaan dat drie afsonderlike gode in ’n dalende hiërargie geposisioneer is nie. Die beeld van die Triniteit word egter normaalweg nie in verband gebring met die visie van die Efesiërs-skrywer nie wat dui op God se oop en dinamiese lewe van gee-en-ontvang waarin die mensdom genadiglik as welkome vennoot ingesluit word nie. God, as noodwendig persoonlik en relasioneel, sluit die mens in as deel van die hemelse komitee.

Ons het reeds gesien dat die gelykheid van die Persone in die Drie-eenheid ’n belangrike aspek van die Triniteit is. Die vraagstuk aangaande die gelykwaardigheid van persone in pastorale-sorgverhouding vind aansluiting by ’n trinitariese beskouing van drie gelykwaardige Persone in die Godheid. Arius se voorstel dat Jesus Christus vanweë sy verlossingswerk en sy middelaarskap tussen God en mens, Hom minder as God sou maak, is deur teoloë weerspreek. Jesus Christus as goddelike Persoon, gelyk aan God, ten volle God, en ten volle mens, is essensieel vir ons verlossing. So is ook die Heilige Gees van dieselfde natuur as God en gelyk aan God. Die vraag is egter hoe die gaping tussen Christus se menslikheid en goddelikheid oorkom kan word, en hoe moet die homoousios van God in terme van Christus se lyding verstaan word. Teoloë van die vierde eeu se argument was dat God nie kan ly nie. Hoe kan Christus dan God wees? Die slotsom wat bereik is, is dat Jesus homoousius is met God in sy goddelikheid, maar nie in sy menslikheid nie. Catherine LaCugna (1991/1992) oorbrug hierdie gaping in haar vertolking van die leerstelling van die Triniteit deur op die onlosmaaklike verband tussen iokonomia en theologia te wys.

LaCugna (1991) hou die Kappadosiaanse ontwikkeling van verhoudingstaal, persoonlikheid, en kommunikasie voor as ’n praktiese voorbeeld vir die kerk. Net soos wat God in verhouding bestaan, so bestaan mense ook slegs in en deur ‘n verhouding met God, met ander mense en met die geskape wêreld. Volgens hierdie siening bestaan mense nie met ’n individualistiese natuur of selfbestaan as voorafgaande tot self-uitdrukking nie. Persoonwees is noodwendig ’n oop en ekstatiese realiteit wat in ‘n verhouding bestaan. Hierdie ontologie van die relasionele, verskaf ’n ondersteunende regstelling van baie neigings tot onpersoonlike en ontmenslike optredes in ons tyd. Persoonwees word dikwels tot individuele selfbewustheid of tot die produk van sosiale verhoudings verskraal.

Die menslike persoon is teonomies. LaCugna (1991) handhaaf die beskouing dat die mens nie self of ander bestuur nie, maar dat ’n persoonlike God aan die stuur is. Aangesien God se lewe vir ons verhoudingsgewys funksioneer, word die mens in terme van persoonlike kommunikasie met God, met ander, en met die skepping gemeet. Elke unieke mens, geskep na imago Dei, kan daarom die betekenis van waarlik menswees en mensword verteenwoordig. Mense word daarom geroep om persoonwees uit te leef op ‘n manier wat transformeer tot wie God vir ons is. Om dus ten volle mens te word, kan as imago Trinitatis verstaan word. Verder, om trinitariese geloof te leef, beteken om soos Jesus te leef in totale godsvertroue as ’n genadige, genesende, vergewende teenwoordigheid wat die uitgeworpene en vreemdeling verwelkom en alle verhoudings waar misbruik en onderdrukking voorkom, uit te daag. Om God se lewe te lewe, beteken ook om in die krag van die Heilige Gees ’n deugsame, heilige, en kreatiewe lewe van wedersydse vriendskap en liefde uit te leef (Medley 1998:227).

Die verstaan van persoonwees kan die praktiese en politieke raamwerk tot die refleksie aangaande die betekenis van menswees en verhoudings word. Lewe en deelname aan die lewe van God, beteken om op die mees diepgaande wyse moontlik in die hele ekonomie van God in te beweeg deur die beliggaming van die lewe van Jesus Christus, die belewing van die Heilige Gees, en die belewenis van gemeenskap met alles wat bestaan (Medley 1998:226–227).

Persoonlike vryheid (van God en mens) is die balans tussen eie uniekheid en gemeenskaplikheid. Dis ’n kwessie van ’n balans tussen selfliefde en selfgee. Dit is ook die kapasiteit om vryelik te kies om te transendeer na ander sonder dat daar enige onduidelikheid of onsekerheid met betrekking tot spesifieke persoonlike identiteite kan ontstaan (Pembroke 2011). ’n Polifoniese perspektief behels die erkenning van die self, gevorm deur die perigorese dans van oorspronklikheid, spontaneïteit, diversiteit en speelsheid. In perichoresis bly die verbintenis konstant, terwyl persoonlikhede in en uit beweeg in die dans wat in ewig-ritmiese-diverse drama voortgaan en nooit afgesny, voorgeskryf, of herhaal word nie (Medley 1998). Fiddes (2001) beklemtoon ook perichoresis as ’n konsep wat die taal van deelname eerder as observasie gebruik.

Die verhouding van die drie-enige God met die mens

God is wie en wat God is, en vanuit ’n goddelike vryheid wat hier ter sprake is, is die wêreld nie as ex nihilo geskep nie, maar as ex amore, excondilectione. Vanuit goddelike vryheid en guns is die wêreld uit niks anders nie as uit goddelike liefde geskep. Vir Zizioulas, soos deur LaCugna aangehaal, word liefde met ontologiese vryheid geïdentifiseer. In die Westerse kultuur word vryheid dikwels in terme van outonomie en vryheid van keuse verstaan. Vir La Cugna, word God se kreatiewe ekstase nie deur die vryewil-karakter van die skepping gedwarsboom nie. LaCugna se relasionale ontologie handhaaf nie slegs die aksiomatiese ontologiese onderskeid tussen God en die skepping nie, maar ook die eeue-oue Christelike belydenis van die vryheid en dankbaarheid van die skepping jeens God soos deur Patristiese teoloë gevestig en onderhou is. God het vryelik die wêreld geskep sowel as verlos. In teenstelling met Neoplatoniese filosofie, het hierdie misterie ons trinitariese teologie van ’n God wat aan ons geopenbaar is, gevorm sodat ons teologie inderwaarheid en inderdaad met ons spreek.

In LaCugna se werk, God for us: The Trinity and Christian Life, verduidelik sy dat die kruis die uitdrukking van God se hart of essensie van God is wat in God se liefde triomfeer oor ‘non-being’ of dood, of te wel oor geen verhouding. Verder praat sy nie veel oor die kruis nie. Wat ons wel in die werk van LaCugna sien, is dat trinitariese teologie primêr ’n refleksie op God se lewe in verhouding met alle lewende wesens in God se skepping is, en in dieselfde asem, dat die menslike ervaring van lewe met God, met ander, en met die skepping onafskeidbaar met mekaar verbind is (Medley 1998).

God behoort tot die sfeer van onbeperkte verhoudings, onbeperkte kapasiteit vir verhoudings, onbeperkte aktualisering van verhoudings in die verlede, hede en toekomstige realiteite. LaCugna (1991) verduidelik dat in God alleen volle interaksie of ooreenstemming tussen hypostasis en ousia bestaan, terwyl ons as mense daarenteen persoonlikheidsgewys en verhoudingsgewys gebrekkig en onvolmaak daar uitsien. Die mens word deur liggaamlikheid, historiese, kulturele, en linguistiese omstandighede beperk.

Die rede vir die skepping, volgens LaCugna (1991), lê geheel en al in die ondeurgrondelike misterie van God, wat self-ontspringende en self-kommunikatiewe liefde is. God het nie nodig om liefgehê te word om te kan liefhê nie, terwyl dit vir die mens noodsaaklik is om liefde te ontvang om dan te kan uitdeel. Terwyl God, as nie-geskape wese wat van ewigheid af daar is, alleen die bron van liefde en die bron van bestaan is, is ons as geskape wesens die ontvangers van liefde en bestem en aangestel om tot God se verheerliking en eer te leef. Ons bestaan in ’n wese-vorm en wese-na-God, en as sodanig het ons ’n ontologiese verhouding met die ewigheid (Groppe 2002:750–753).

Die feit dat God homself in die geskiedenis openbaar in die verkiesing van Israel, die verese Woord, en die gawe van die Heilige Gees as ’n God wat inisieer en ’n intieme verbondverhouding onderhou, wys daarop dat die lewe van God nie net aan God behoort nie. Die verband tussen verhoudings-ontologie en historisiteit soos deur LaCugna (1991) verduidelik, lei verder na ’n duideliker verstaan van wat die praktiese implikasies vir die Christelike lewe is. Die metafisiese kategorie wat sy gebruik om die misterie van God se ewige wese, naamlik persoon, gemeenskap, en in-verhouding-wees te verklaar, word met God se handelings in die geskiedenis verenig. LaCugna (1991) verenig verhoudings-ontologie en historisiteit deur hier enerse karakters te identifiseer. Haar teologies-ontologiese omskrywing van die wese van God is wees-vir, wees-met, wees-na-skepping, en wees-in-verhouding in en deur die ewige Woord en Gees. Die skepping bestaan histories en eskatologies as wees-van en wees-na-God. Hierdie kategorie wys nie op geslotenheid nie, maar op openheid na die ander toe.

Groppe (2002:757) verwys na Ruusbroec se taal van kommunikasie en liefde tot God wat lei tot een liefde waarin die mens hom- of haarself verloor. LaCugna (1991) se perspektief op relasionele ontologie sien hierdie mistiese geestelikheid van relasionele terme soos Ruusbroec weergegee, as geestelike wysheid. Gegewe dat theologie en oikonomia onafskeidbaar is, is daar nie ’n ander God as die God in wie Ruusbroec hier ekstaties opgeneem word nie. Dis ’n God wat bereik kan word deur die mens met metafisiese abstraksie en die God Wie se ware ontologiese karakter van vurige liefde ons prakties as deel van onsself kan beleef.

Die praktiese aard van die Triniteit

Dogmatiek dien as ’n hulpbron vir hierdie artikel omdat dit die inhoud van ons geloof weergee en daadwerklike implikasies het vir hoe ons leef, wat ons doen, en hoe ons met ander mense omgaan. LaCugna (1991) se benadering verbind teologie en soteriologie op so ’n wyse dat trinitariese teologie ’n onteenseglik praktiese onderneming raak wat met al die dimensies van die Christelike lewe verband hou. LaCugna maak ’n kragtige stelling, naamlik dat die leerstelling van die Triniteit noodwendig praktiese gevolge vir die Christelike lewe impliseer. Dit het nie net ’n revolusionêre uitwerking op hoe ons dink oor God en oor wat dit beteken om ’n mens te wees nie, maar verander ook drasties die politieke en sosiale vorms van lewe wat vir God se oikonomia toepaslik is.

As gevolg van die teologiese neerlaag wat die beskouing van die Triniteit in die verlede gely het, het dit ook ’n politieke neerlaag beteken. Die gevolg was Christelike regverdiging vir magstrukture en patrone soos uitsluiting, oorheering, seksisme, rassisme, klassisme, en etnosentrisiteit. Die herintegrasie van hierdie kritiese teologiese beginsel van die drie-enige God-vir-ons bied vir ons die nuwe paradigma vir politieke, sosiale, ekologiese, en ander strukture soos kerkstrukture. Dit is verhoudings met die karakter van radikale gelykheid, wedersydse liefde, respek vir uniekheid, interafhanklikheid, dialoog en insluiting (Medley 1998).

Die beklaenswaardige skeiding tussen teologie en geestelikheid het ’n lang geskiedenis en ’n verskeidenheid van faktore soos bybelse eksegese en sistematiese teologie van teologiese leiers wat tot hierdie skeuring in ons Christelike mondering bygedra het. LaCugna se trinitariese teologie van die onskeibaarheid van oikonomia en theologia bied ’n gepaste sistematiese raamwerk tot artikulasie en die oorbrugging van hierdie breuk. ’n Praktiese verweefdheid van die rasionele, affektiewe, en verhoudingsdimensies in die Christelike lewe word voor oë gestel. ’n Herintegrasie van rede, wysheid, en liefde word in al die dimensies van die Christelike karakter ingesluit. Dit beteken dus verder dat die spekulatiewe en oordenkingsdimensies van teologie onafskeidbaar van die Christelike karakter is en dat die teoloog affektief, kognitief, verbeeldingsgewys, diskursief, stilswyend of deur uitdrukking, doksologies asook akademies God in liefde sal nastreef om sodoende krities belangrike bydraes tot ’n volgehoue sistematiese teologie te kan lewer (Groppe 2002:756).

Die belangrikheid van ’n geïntegreerde praktiese bydrae wat elke dissipel, en by uitstek, die pastorale versorger tot dienslewering en tot opbouing van verhoudings binne die liggaam van Christus behoort te lewer, kan onteenseglik uit bogenoemde afgelei word. Gesien vanuit die perspektief wat LaCugna bied aangaande relasionele ontologie, is die kerk slegs kerk deur in verhouding tot God te staan en deel te neem aan die missie van die Woord en die Gees. Die kerk bestaan nie as kerk in sy nie, maar wel in wees-van en wees-na-God, en wees-vir-die wêreld. LaCugna skryf dat die uitstuur van elke Christen dieselfde is as die missie van Christus en die Gees, naamlik om die wil en werk van God te doen. Dit is die verkondiging van die goeie nuus van verlossing, die bring van vrede en harmonie, en regverdiging van hoop aangaande die finale terugkeer van alle dinge tot God.

Groppe (2002:760) verwys na Congar, wat die opmerking gemaak het dat die kerk geheel en al vir-God en vir-mensdom is, en ’n totale missie in diens van die mensdom is. In ons era, gekonfronteer met onophoudelike oorlog en geweld, wydverspreide armoede en verlatenheid, moedswillige rassisme, wydverspreide misbruik, en skrikwekkende omgewingskending, het ons duidelik ’n behoefte aan ’n teologiese raamwerk wat die kerk se missie tot diensbaarheid aan die mensdom en die skepping onderstreep (Smith 2020). LaCugna se teologie gee nie net uitdrukking ten opsigte van die essensiele missionale karakter van die kerk nie, maar plaas ook die ekklesiologie ferm binne ‘n trinitariese konteks.

LaCugna se teologie voorsien ’n raamwerk waarbinne die praktyk van sending herbedink kan word. Praktiese teologie en dogmatiek as hulpbronne van haar perspektief van relasionele ontologie, is net soveel ’n transformasie van onsself as ’n uitreik na ander (Toohey 2010). Suiwer paternalisme, waar die een wat het gee aan die een wat nie het nie, is in teenstelling met ware trinitariese gasvryheid. Die verwelkoming van die vreemdeling in die intimiteit van jou huishouding verander die gasheer en/of gasvrou net soveel soos die gas. Daar is geen enkele metode, formule, of paradigma wat op voldoende wyse die misterie van God kan kommunikeer nie, maar LaCugna daag die manier van dink waaraan ons gewoond geraak het, uit. Dit verg dat ou denkwyses prysgegee moet word tot die skep van nuwe denke en kreatiewe herformulering van die misterie die Christelike geloof (Groppe 2002:760–763).

Die verband tussen teologie en doksologie

Binne die konteks van hierdie artikel gaan dit oor verhoudings wat God se heerlikheid prys. In LaCugna se teologiese begrip word drie aspekte of oomblikke deur LaCugna ingesluit:

  • Diakonia: die aksies en houding van dissipels wat die ekonomie van God dien.
  • Koinonia: strukture van mensgemeenskappe wat op die beste manier die kommunikatiewe natuur van God wat liefde is, demonstreer.
  • Doxologia: woorde en gebare en lewens wat God se heerlikheid prys (Donovan 2000:355).

Diakonia en koinonia is onafskeidbaar van mekaar en behoort sodanig beoefen te word. Dit beteken dat die gemeenskap van gemeentelede soos wat hulle by werke rakende die huishouding van God [oikonomia] betrokke raak deur hiërargale lyne sny. Met liefdesdiens wat die gemeentelede verrig in die teenwoordigheid van God se liefde, word groter eenheid onder mekaar ervaar wat verder na doxologia lei. In Studia Liturgica (1989) sit LaCugna ’n praktiese teologie uiteen wat oikonomia en theologia saamsnoer in doxologia. Doksologie, soos in die werk van LaCugna na vore kom, is meer as net lofprysing – dit gaan ook oor die aksies en houding, verhoudings, ons woorde, gebare, en lewenswyses. Eenheid dui op ’n gesonde verhouding. Volgens LaCugna, is praktiese teologie die pad na eenheid met God (Donovan 1989).

Die relasionele aard van die geloofsgemeenskap

In haar werk, The practical Trinity gee LaCugna (1992) ’n gedetaileerde bespreking van die verreikende implikasies van die Triniteitsleer. Die leerstelling van die Triniteit is ’n leerstelling oor God, maar omdat dit ’n leerstelling oor God is wat lewe met ons deel in die ekonomie van bevrydende verlossing, en meer nog, omdat dit bevestig dat God essensieel persoonlik en relasioneel is, is dit ook ’n leerstelling wat fundamenteel is ten opsigte van die teologie van die menslike persoon en die teologie van die regte verhouding. Omdat die Triniteitsleer bevestig dat persone, goddelik of menslik, bedoel is om in liefdeskommunikasie met mekaar te bestaan, is die Triniteitsleer ook fundamenteel vir die visie vir die sosiale gemeenskap en die visie vir die kerk, wat bedoel is as ’n teken van die wêreld wat die uiteindelike bestemming van alle geskape wesens is. Meer nog, uit so ’n beskouing van die Triniteit ontstaan ’n aantal beginsels wat ’n direkte betrekking het op etiek, geestelikheid, ekklesiologie, en die politiek (Vorster 2004). Die relasionele aard van die geloofsgemeenskap word duidelik hier omlyn.

Die Triniteitsleer dring daarop aan dat daar geen God buiten die Persone van die Vader, Seun en Heilige Gees bestaan nie. Dit beteken dat elke mens en elke geskape wese hulle oorsprong in ’n persoon het wat gedefinieer is as nie geïsoleerd nie, maar in verhouding is met ‘n ander.

Volgens definisie is ’n persoon ekstaties, gerig na die ander; ’n persoon op grond van ‘n verhouding tot ander. Persone ken en word geken, gee liefde en word liefgehê en gee vry uiting aan hulleself. Om aan ‘n persoon te dink buite ’n verhouding met ander, weerspreek wat met persoon bedoel word (Steyn 1967). Daarom ook, wat God betref, moet ons nie aan God in isolasie dink nie, maar God in verhouding met ander persone. Een van die belangrike eienskappe van die skuif van substansie-ontologie na relasionele ontologie is dat die teologiese refleksie aangaande God verbind word met die ekonomie, waar die goddelike Persone eintlik werklik in ons geskiedenis bestaan en geken word.

God is persoonlik en nie onpersoonlik nie. God bestaan as die misterie van Persone in kommunikasie. Koinonia beteken gedeelde lewe. Daar is een universele kommunikasie. God is die oorsprong, die onderhoudende basis sowel as die finale doel van die gedeelde lewe. Persone wat saam bestaan in ware kommunikasie, deel geluk, hoop, en lyding, en deel ook verantwoordelikheid. So beleef ons die ware kerk. Die kommunikasie van God in Christus, volgens die trinitariese leerstelling, laat nie ondergeskiktheid, ongelykheid, of hiërargie toe nie. Terwyl elke persoon uniek is, is geen enkele persoon meer belangrik as ’n ander of kom voor ’n ander nie. So moet dit dan in die menslike gemeenskap wees. Kommunikasie in die Gees van God beteken dat alle persone, onomkeerbaar uniek, saam as gelyke vennote in Christus bestaan.

La Cugna trek die trinitariese lewe verder deur na die praktyk binne die kerk. God se lewe word met elke lewende wese gedeel. Om volgens trinitariese geloof te lewe, beteken om soos Jesus Christus te leef met totale Godsvertroue; te leef as ’n vredevolle, genadige, helende, vergewensgesinde teenwoordigheid wat deurentyd bid, God prys, en wat die uitgeworpene en sondaar verwelkom. Dit beteken om in die krag van die Heilge Gees te lewe tot heiligmaking en deugsaamheid wat dan tot die eenheid in die Christelike gemeenskap en harmonie in God se skepping lei. Mense wat in hierdie geloof lewe, vorm die ware kerk wat ook die liggaam van Christus of die tempel van die Heilige Gees genoem word. Op hierdie wyse word God se lewe weerspieël soos ’n ikoon in die wêreld. Deur na perfektheid in navolging van Christus te beweeg, word ons aardse roeping tot samesmelting met God se bedoeling in Efesiërs vervul.

Bogenoemde is die hoop van die kerk en nog nie ’n beleefde realiteit nie. Baie mense beleef die kerk se rituele en instellingspraktyke as ’n vestiging van elitisme en diskriminasie, en as klerikaal. Hulle beleef nie die kerk as ’n plek waar die Samaritaanse vrou en die melaatse tuis is nie. Met tye is die kerk ’n versameling van individue wat in private aanbidding betrokke is eerder as in ’n koöperatiewe eenheid en harmonie. Die kerk het nodig om volle erkenning te gee aan die uniekheid en diversiteit van sy lede, aangesien dit juis ‘n lewegewende effek het. Enige iets wat die eenheid in die liggaam van Christus bedreig of gemeenskap van sy lede weerhou, is in teenstelling met die lewe van God se Gees.

Volgens LaCugna word die kerk se missie in haar sakramentele lewe uitgedruk. Sakramente lei ons in die lewe van God in, genees verdeeldheid en sonde, en dui op diens onder God se heerskappy. Sakramentele lewe is die erkenning van tasbare aspekte van gemeenskap van persone. Met die doop neem ons die Naam van God vir onsself aan. In die nagmaal ontvang ons die liggaam van Christus en gaan dan voort tot lewering van liefdesdiens aan mense wat tot God se huishouding behoort. Deur die sakramente gee ons onsself oor tot transformasie deur ’n persoonlike krag wat belowe om ons tot die beeld van God te herskep en die werk te voltooi totdat Christus alles in almal word (Kol 3:11). Die doel van die trinitariese leerstelling is nie om te diagnoseer waarom God is soos wat Hy is nie, maar om ons te bring by die punt waar ons die goedheid van God kan proe, en te sien soos dit in die skepping geopenbaar is en deur Christus aangebied is in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar (LaCugna 1992:681–682).

Binne die konteks van die kerkgemeenskap word die verlossingsaksies van God telkens tydens Paasfees en Kersfees in herinnering geroep en gevier, en soos wat ons hierin tot God nader, word ons deur die misterieuse werking van God getransformeer. In teologie word hierdie pad as die pad tot eenheid met God verstaan. Ons het reeds gesien dat met hierdie teologiese begrip drie aspekte of oomblikke deur LaCugna ingesluit word naamlik diakonia, koinonia, en doxologia wat dan saam in die kerkgemeenskap figureer (Donovan 2000:357).

Hierdie aspekte word verder deurgevoer tot die verantwoordelikheid van die pastoor in die geloofsgemeenskap wat die gemeentelede tot openheid teenoor ’n trinitariese God, wat aktief in hulle midde is, begelei. Die doel is om dissipels in staat te stel tot verhoudings met mekaar soos die drie Persone in verhouding is. Die pastoor staan die gemeente verder by in lofprysing, in gebed, en in die daaglikse lewe. Die kritiese houding wat benodig word deur die pastoor, is ’n opmerksame hart wat oop is na God rakende sy of haar eie lewe en ook wat God se werk in die lewens van ander betref. Om sensitief te lewe aangaande verhoudings is noodsaaklik, aangesien die God wat ons dien, bestaan as Persone in liefdevolle gemeenskap met mekaar. Die pastoor moet kan onderskei hoe God se ekonomie in hierdie wêreld moet uitspeel (Donovan 2000:357). Die konsep van deelname in God, soos deur Fiddes (2001) onderstreep, is ook hier belangrik: deelname in gebed, in skuldbelydenis, in vergifnis. Die oopmaak vir verhoudings wat deelname moontlik maak, gebeur deur die Heilige Gees wat ons dieper na onsself, na ander, en na die samelewing om ons laat kyk (Fiddes 2001:267).

Die riglyne wat hier genoem word, word dan ook gesien as die basiese riglyne wat vir pastorale versorgers in diens van die gemeente toepaslik sou wees.

Samevatting en gevolgtrekking

In hierdie artikel is daar argumenteer dat LaCugna se verstaan van die relasionele Triniteit van waarde kan wees vir die veld van die pastoraat. Die klem wat LaCugna op die eenheid tussen oikonomia en theologia plaas, word as haar belangrikste bydrae tot trinitariese teologie gesien. LaCugna se perspektief op relasionele ontologie, sien verder geestelikheid in relasionele terme as geestelike wysheid. Gegewe dat theologia en oikonomia onafskeidbaar is, is dit God wat deur die mens bereik kan word. Dis die God wie se ware relasioneel-onbeskryflike ontologiese karakter van vurige liefde ons, in ons feilbaarheid, prakties kan beleef. Hierin verstaan ons dus dat die pastorale versorger wat self God beleef, ’n belangrike rol speel deur die sorgbehoewende tot ’n ekstatiese belewenis van God te begelei.

LaCugna beklemtoon die praktiese aard van die Triniteit. Die inhoud van ons geloof word deur ons dogmatiek weergegee met daadwerklike implikasies van hoe ons leef. ’n Relasionele begrip van die Triniteit verg dus dat ou denkwyses prysgegee moet word om plek te maak vir die uitbou van hierdie nuwe denkrigting en kreatiewe herformulering van die misterie van ons Christelike geloof tot ’n praktiese vorm vir die ware beoefening van ons pastorale mandaat.

LaCugna sit ’n praktyk vir teologie uiteen wat oikonomia en theologia saamsnoer in doxologia. Doksologie, as lofprysingsgebaar tot God, sluit alle menslike handelings in. Die verhoudingsmatige aard van die geloofsgemeenskap dui ook verder op die noodsaaklikheid van die vestiging van gesonde verhoudings tot bevordering van eenheid in die geloofsgemeenskap waarby pastoraat noodwendig doelbewus en aktief betrokke is.

Volgens LaCugna is praktiese teologie die pad na eenheid met God. Persone, goddelik of menslik, is bedoel om in liefdeskommunikasie met mekaar te bestaan en daarom is hierdie visie ook fundamenteel wat pastorale verantwoordelikheid betref aangaande die sosiale gemeenskap as ’n teken vir die wêreld van die uiteindelike bestemming van alle geskape wesens. La Cugna se werk aangaande ’n relasionele verstaan van die Triniteit bring deurbraak tot ’n praktiese verstaan van hoe God is. ’n Relasionele verstaan van die Triniteit lewer ’n bydrae tot diepsinnige teologiese teorievorming vir die hedendaagse pastoraat. Volwaardige godsdienstige aandag word aan mense gegee. Welwees en genesing in persoonlike onderlinge verhoudings kan op ’n teologies geregverdigde wyse in oënskou geneem word en ’n sinvolle bydrae kan tot die verbetering van verhoudings in die publieke arena gelewer word. Strukture van oorheersing word ondersoek deur die kwaliteit van die verhouding te monitor as deel van pastorale sorg. Die tyd wat die kerk eenkant staan en ’n blinde oog draai vir onreg, is verby, want sinvolle betrokkenheid word voor oë gestel. Toegeligte hedendaagse pastorale sorg dra by tot die kragtige opbou van demokratiese verhoudings in die krag van die Heilige Gees, wat grootskaalse welsyn in verhoudings laat floreer.

Aangesien verhoudings integraal is tot die veld van die pastoraat en LaCugna se relasionele verstaan van die Triniteitsverhoudings ook in die veld van dogmatiek beklemtoon word, is daar in hierdie artikel aangedui hoe hierdie verstaan van die Triniteit die pastoraat sou kon toelig tot ’n dieper begronding van die veld.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadeling kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

A.B. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsing

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie navorsingsartikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie navorsingsartikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie navorsingsartikel voorkom, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Literatuurverwysings

Donovan, A.A., 2000, ‘The Trinity, pastoral theology, and Catherine LaCugna: The trajectory of a frienship’, Horizons 27(2), 354–359. https://doi.org/10.1017/S0360966900032631

Fiddes, P.S., 2001, Participating in God: A pastoral doctrine of the Trinity, Westminister John Knox, Louisville, KY.

Groppe, E.T., 2002, ‘Catherine Mowry La Cugna’s contribution to trinitarian theology’, Theological Studies 63(4), 730–763. https://doi.org/10.1177/004056390206300404

LaCugna, C.M., 1985, ‘The relational God: Aquinas and beyond’, Theological studies 46(4), 647–663. https://doi.org/10.1177/004056398504600403

LaCugna, CM., 1989, Can liturgy ever again become a source of theology? Studia Liturgica, 19, 1, Mar 01, 1989.

LaCugna, C.M., 1991, God for us: The Trinity and Christian life, Harper, San Fransisco, CA.

LaCugna, C.M., 1992, ‘The practical Trinity’, The Christian Century, July 15–22, 1992, pp. 678–682.

Louw, D.J., 2014, ‘Theory formation within the interplay between pastoral theology and practical theology towards a hermeneutics of care and counselling’, The Pastoral Journal for Life Care and Spiritual Healing 1, 47–72.

McClure, B., 2012, ‘Pastoral care’, in B.J. Miller-McLemore (ed.), The Wiley-Blackwell companion to practical theology, Blackwell Publishing Ltd, Hoboken, NJ. pp. 267–278

Medley, M.S., 1998, ‘God for us and with us: The contributions of Catherine LaCugna’s trinitarian theology’, Lexington Theological Quarterly 35(4), 219–234.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction, Wm B Eerdmans Publishing Co., Cambridge.

Pembroke, N.F., 2011, ‘Space in the Trinity and in pastoral care’, The Journal of Pastoral Care & Counseling 65 (2), 1–10. https://doi.org/10.1177/154230501106500203

Smith, J., 2020, ‘The trinitarian dance with culture: Trinity as the missiological optic for understanding culture’, Missiology 48(2), 154–168. https://doi.org/10.1177/0091829619887386

Sperry, L., 2002, Transforming self and community. Revisional pastoral counceling and spiritual direction. The Liturgical Press, Collegeville, MN.

Steyn, J., 1967, Die bybelse beskouing van die mens as eenheid en die betekenis daarvan vir die sielesorg, BD-verhandeling, Universiteit Pretoria.

Strawn, B.D., 2014, ‘Theology for better counseling: Trinitarian reflections for healing and formation’, Perspectives on Science & Christian Faith 66(1), 60–61.

Toohey, D., 2010, ‘Practical impications of the trinitarian life for us’, Compass 4, 24–28.

Venter, R., 2012, ‘Triniteit en etiek: Van ’n relasionele God tot ’n etiek van die ander’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), 52. https://doi.org/10.4102/ids.v46i1.52

Venter, R., 2022, ‘The triune God in South African systematic theology since 1976’, in H. Van der Westhuizen (ed.), Reader in trinitarian theology, pp. 1–8, University of Johannesburg Press, Johannesburg.

Vorster, J.M., 2004, Ethical perspectives on human rights, Potchefstroom Theological Publications, Potchefstroom.

Vosloo, R., 2022, ‘The Trinity and participation’, in H. Van der Westhuizen (ed.), Reader in trinitarian theology, pp. 411–425, University of Johannesburg Press, Johannesburg.



Crossref Citations

No related citations found.