About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2024, ‘Eredienste vertoon die geestelike stand van die NG Kerk’, In die Skriflig 58(1), a3025. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3025

Original Research

Eredienste vertoon die geestelike stand van die NG Kerk

Piet J. Strauss

Received: 02 Oct. 2023; Accepted: 17 Jan. 2024; Published: 18 Mar. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Worship services display the spiritual stand of the Dutch Reformed Church. In theological and clerical circles, it is accepted that the content of church services in Dutch Reformed Church (DRC) congregations shows its spiritual state as a church, or the basic convictions of its Christian faith. From their General Synod as the broadest assembly in this church, stipulations of the DRC Church Order, as well as other resolutions about church services, are accepted to be implemented by congregations. From personal experiences during visits to congregations, the author came to the conclusion that there are tendencies in these church services that are no longer in accordance with its church order and the viewpoints of its General Synod, regarding church services. These tendencies lead to a derailing of the biblical lines of church services. It also indicates a lack of loyalty in this regard, by ministers of the DRC. What it boils down to, is that church services indicate the spiritual stand of the DRC.

Contribution: This article shows that church services show the spiritual approach and practice of churches. It states a principle for Reformed churches, and its critique on the Dutch Reformed Church aims at a reformation. The article stresses that the integration of the confessions of a church, as well as the understanding of the church, reflects in the services.

Keywords: worship service on Sundays; life as worship; Church order maintains essence; meeting between God and congregation; worship service shows spiritual trends; uninvolved church councils.

Inleiding

In A.C. Barnard (1981:459) se boek, Die erediens, bepleit hy die ‘allernouste wisselwerking’ tussen die erediens op Sondae en die erediens van die lewe. Hierdie sake word beide as eredienste beskou en moet vanuit ’n bybelse oogpunt in wisselwerking met mekaar funksioneer. Dit gaan om die beginsel dat mense alles tot eer van die Here moet doen en dan vorm Sondag se erediens ’n gesamentlike hoogtepunt van hulle eer aan die Here God. Prinsipieel gesien, is meelewing in die kerklike erediens deel van ’n totale lewe van gehoorsaamheid aan die Here: ’n lewe wat in geheel as ’n dankoffer aan God gewy word. Romeine 1–11 wys op God se ontferming oor alle mense. Die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 7, (NGK 1982b:40), verduidelik dat alle mense vir gehoorsaamheid aan die Here, dood gebore word, maar deur die genade van God en sy Woord en Gees, kom hulle tot geloof en insig. Romeine 12:1 en 2 leer sy lesers wat verder op hierdie ontferming van God moet volg:

Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (NAV References to Bible not necessary. (Nuwe Afrikaanse Vertaling [NAV])

Deuteronomium 6:4 dui ook aan:

Julle kan die offer van julle lewens, na God se ontferming oor julle waarin Hy Hom aan julle verbind én julle daarvoor toegerus het, aanpak met volledige menswees: dit is met hart, en siel en al julle krag. (NAV)

Die erediens in die georganiseerde kerk is deel van die totale lewe as ’n offer aan die Here; dit word veronderstel in antwoord 2 van die Heidelbergse Kategismus (HK). Vraag 1 van hierdie troosboek begin met: ‘Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?’. Die antwoord is: ‘Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort’. Vanuit hierdie seker troos, wil Vraag 2 nou weet: ‘Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te lewe en te sterwe?’. Die antwoord dui op drie dinge, naamlik: ‘Ken jou sonde, jou verlossing en jou dankbaarheid – al drie ’n werklikheid in jou lewe’ (NGK 1982c:39). Dankbaarheid dui op die volle lewe as ’n dankoffer aan die Here, deur die uitleef van sy tien gebooie (lewenswet) en die Onse Vader as ’n gebed – deur wet en gebed as ’n verering van God met die hele lewe (NGK 1982c:63–76). Veldkamp (II 1975:248) sê eenvoudig: ‘Ik moet bidden – om mijns levens wil’. Wet en gebed omvat die volle lewe as ’n offer van dank aan God. Gebed is die asem (die siel) van die dank, en die wet die uitlewing (die liggaam) daarvan (Heyns 1970:94–95; NGK 1982b:63–76). Om die hele lewe tot die eer van God te lewe – sodat dit binne ‘die wil van God … vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is’ – moet gelowiges volgens Romeine 12:2 hulle volle self aan God gee sodat Hy ‘[God] julle verander deur julle denke te vernuwe’.

Anders gestel, laat die Here deur sy genade en verbinding aan die kruisoffer van sy Seun Jesus Christus, julle deur die Heilige Gees van binne so verander, dat julle hele lewe op die eer van God gerig word.

As ’n weeklikse hoogtepunt van verering én ’n offer van dank aan die Here vir sy verlossing, is daar die erediens van gelowiges rondom die Woord. Dit word ’n ere-diens genoem, omdat die gelowige se dank vir God se redding en genade beteken dat hy so ’n diens benut om God saam met sy geloofsgenote te prys, te dank en te eer. ’n Erediens moet wees wat sy naam sê: dit is ’n geestelike fees of ’n ontmoeting met die Here God, waarin Hy aanbid en vereer word. Dit is ’n diens waarin die bybelse lyne van God se verlossing en ons gehoorsame antwoord daarop deur ons woorde, liedere, gebede en offers geïllustreer word. Dit gaan om die verwerkliking van die bybelse lyne in die erediens, omdat die gesag van God, sy wil en sy eer, voorop staan. Die erediens is ’n belewenis van ‘God is hier teenwoordig’ (NGK 2001:159), waarin Hy vir alles geëer word en die mens én sy eie ek na die agtergrond skuif. Vals klanke in so ’n diens kom nie net deur onbeholpe musici as begeleiers van geestelik minder stigtelike liedere nie, maar ook deur sondaars wat eerder van die Here God eis as om God te eer. Die erediens is ’n ontmoeting tussen die Here en die gelowiges, waarin Hy die orde en inhoud van die ontmoeting bepaal, die toon van die gesprek aangee, en hulle met dank daarby inval. God se reaksie, woorde of mededelings word met vrug vir geestelike groei verwerk onder leiding van die Heilige Gees (Strauss 2010:89, 93).

Omdat ’n kerkorde in Gereformeerde kerke prinsipieel die ordelike lyne aandui waarbinne die kerk die Woord in aksie is, kan ’n kerkorde hom oor ordereëls vir ’n erediens uitlaat. ’n Kerkorde kan die ordelike of kerkregtelike kante, wat uit die liturgie of die gang van die erediens vloei, verwoord sonder om die inhoud van preke, sang, offers, aanbidding en die agenda van die gemeenskap van die gelowiges in detail te bepaal. ’n Kerkorde werk prinsipieel met die kerkregtelik–kerkordelike kante van kerkwees: kante met ’n dienskarakter (Barth 1967:679 e.v.; Wolf 1961:8, 24, 73 e.v.). Dit is ’n diens wat aan die kerk ’n orde gee, waaroor sy gemeentes saam besluit en waarbinne hy Woordgehoorsaam kerk is, omdat die Woord die inhoud van sy kerkwees bepaal (Smit 1984:1, 57).1 Nauta (1971:8–9) oordeel dat ’n kerkorde die kanale skep wat die kerk in sy diens aan God, volgens sy Woord, ‘beveilig’. Dit is kanale waardeur die erediens vloei en waaroor meerdere vergaderings besluite neem, of afsprake tussen die gemeentes in kerkverband maak. Meerdere vergaderings is meerdere, bloot omdat hulle deur meer gemeentes gevorm word, en het nie meer gesag as ander kerkvergaderings met ander werkterreine nie. Dit is gemeentes wat met hulle deelname instem dat hulle hul aan die besluite (soos die Kerkorde) van die vergaderings van die gemeentes in kerkverband, of meerdere vergaderings, sal hou (Strauss 1989:5).

Hierdie artikel kyk spesifiek na die bepalings van NGKO-2019, Artikel 48 oor die openbare erediens. Die inhoud word gekoppel aan enkele tendense wat in die NG-gemeentes opgespoor is en word beoordeel om vas te stel watter lig dit op die geestelike stand van NG-gemeentes werp. Dit is tendense in gemeentes, wat in die lig van sinodale handleidings en die bepalings in NGKO-2019, Artikel 48 en 49, onordelik voorkom.

Die eerste saak wat bekyk word, is die antwoord op die vraag wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk deur sy Algemene Sinode bied as rigtinggewend, konsoliderend en eenheidsvormend vir eredienste in gemeentes. Dit behels die bepalings van NGKO-2019 en die besluite van die Algemene Sinode, asook handleidings uit hierdie oord. Hieruit kom die amptelike houding van die NG Kerk oor die vraag wat ’n erediens is. Hierdie antwoord word ten diepste deur NGKO-2019, Artikel 48 aangedui met sy bepalings gebaseer op die verstaan van ’n erediens in die, let wel, Nederduitse Gereformeerde Kerk [outeur se aksentuering]. Daar word verwys na NGKO-2019 omdat die Kerkorde met ’n tweederdemeerderheid van die Algemene Sinode goedgekeur word, en daarom van deurslaggewende belang is vir eredienste in NG-gemeentes.2 Die tweede vraag wat bekyk word, is independentistiese tendense by gemeentes of dominees, wat hulself die vryheid toe-eien met sekere gebruike in die eredienste in NG-gemeentes: dit is tendense wat teen die besluite van die NGKO-2019, sowel as besluite van die Algemene Sinode gaan. Dit is variasies wat óf moeilik verantwoord, óf vreemd is aan die verklaarde gereformeerde aard van die NG Kerk. Dat hier van sulke tendense gepraat word, dui daarop dat hierdie praktyke nie in alle gemeentes aangetref word nie, én gegronde nuwe tendense nie daarmee uitgeskakel word nie.

NG Kerk en die erediens: besluite in sinodale verband

Inleiding: NGKO-2019 en die erediens

Waar die ‘gewone’ besluite van die Algemene Sinode oor die sake in NGKO-2019, Artikel 43 (wat die take van die Algemene Sinode bepaal) vir die NG Kerk in sy ‘algemene sinodale verband’ met ’n blote meerderheid geneem word, word die bepalings van NGKO-2019 as die Kerkorde van die NG Kerk, met ’n tweederde-meerderheid aanvaar. Dit beteken dat die artikels van die Kerkorde bo ander besluite van die Algemene Sinode staan, behalwe besluite oor belydenisverwante kwessies (NGKO-2019:13–14; Artikel 44.1–5). Ten opsigte van gesag, is ‘gewone’ sinodebesluite ondergeskik aan hierdie Kerkorde indien verskille opduik. Sonder om op die rede hiervoor in te gaan, beteken dit dat die bepalings van NGKO-2019 as meer bepalend geag word as ‘gewone’ sinodebesluite. Die Kerkorde van die NG Kerk vra ’n deegliker oorweging van sy bepalings as die blote weeg van ‘gewone’ besluite van die Algemene Sinode. Daarom moet die besluite met NGKO-2019 rekening hou, en dit moet verreken word wanneer oor kerkordeverwante sake besluit word. Die ‘drywers’ van sulke besluite teen die Kerkorde moet na regte ’n tweederdemeerderheid van die Algemene Sinode oortuig om verwante bepalings kerkordelik te wysig.

NGKO-2019, Artikel 48 val onder punt 4.1 van die NG Kerkorde, wat handel oor die erediens. Die naam wat hier vir die erediens gebruik word, is seldsaam in die NG Kerk, naamlik die openbare erediens (NGKO-2019:14). Die rede waarom die erediens in die gemeente as ’n openbare saak bestempel word, word nie in Artikel 48.1–5 in ’n bepaling gestel nie. Hierdie opskrif plaas eredienste in die NG Kerk by implikasie dus in die publieke regsorde van die state waarin hy teenwoordig is. Sonder hierdie opskrif onder 4.1 van NGKO-2019, kan eredienste in gemeentes, as privaatregtelike handelinge, in elke geval op die regsbeskerming van die betrokke owerheid aanspraak maak. Die NG Kerk gebruik hiervoor ook NGKO-2019, Artikel 3.3 met ‘haar onvervreembare en interne bevoegdheid as kerk’ én ‘reg op vryheid van godsdiens’. Dit is ’n reg wat in die Grondwet van 1996 van Suid-Afrika vervat is, deur die owerheid beskerm word, en met die internasionaal-aanvaarde reg op vryheid van godsdiens ooreenstem. Dit is ’n reg wat in demokratiese regstate aanvaar, en in hierdie artikel erken en verreken word (Rautenbach & Malherbe 1994:13; Vorster 2003:222–223).

Die inhoud van Artikel 3.3 oor die NG Kerk se ‘reg op vryheid van godsdiens’, word die eerste keer in die Kerkorde van die NG Kerk as Artikel 2.3 van NGKO-2002 opgeneem (NGKO-2002:1).

Omdat dit vanuit ’n bybelse oogpunt in ‘kerk en samelewing’ om die eer van God, of soli Deo gloria op alle lewensterreine gaan (Fowler 1988:30–35) én omdat die kerk as ’n liggaam, gebou of tempel van God Drie-enig vir die gelowiges rondom die verkondiging en geloof in God Drie-enig,3 is die erediens ’n uitstalvenster van die geestelike stand van die gemeente. Die prinsipiële lyne van die erediens as ’n diens aan God, het implikasies vir gehoorsaamheid aan God met die volle lewe. Harmannij (1990:84) noem die erediens die hart van die kerk. Daarom maak Koffeman (2009) van die erediens gewag as die eerste landingstrook in die kerk vir die kerkreg en ook ’n kerkorde. Sonder die basislyne van die liturgie vir die erediens as ’n ontmoeting tussen God en die mens, kan daar volgens hom geen kerkreg wees nie. Die gemeente leef uit hulle saamkom rondom die Woord van God. In die erediens vind ons die gemeente in sy ware geestelike gestalte, omdat die lewende God hier aan die woord is en hierdie feit dan in die antwoord van die gemeente beaam word. Daarom moet die karaktertrekke van die ontmoeting in ’n bybelsgetroue kerkorde neerslag vind (Koffeman 2009:105). Strauss (2021) noem die erediens ’n ontmoeting tussen die Here en hierdie deel van sy gelowige volk. Die erediens is ’n ontmoeting op inisiatief van die Here soos wat die verhouding tussen God Drie-enig en die mens op inisiatief van God, deur Woord en Gees gevorm word. Daarom vloei die erediens van die lewe sowel as van die kerk uit die solas van die Reformasie: deur die Woord alleen (sola Scriptura), deur die geloof alleen (sola fidei), deur verlossing in Christus alleen (solus Christus) en tot eer van God alleen (soli Deo gloria) (Strauss 2010:89, 90). Met hierdie waarhede is dit in die erediens van die lewe en van die kerk die Here wat praat en die mens wat antwoord. God red deur sy Woord en Gees en die mens glo sy woorde en word gered. In die erediens praat die Here deur sy hoorbare Woord (die Bybel), sy sigbare Woord (die sakramente) en sy menslik-vertolkte Woord (preke of ander mededelings) (Heyns 1977:111). Die mens antwoord deur gebede, liedere, dankoffers en die lewe daarbuite, as ’n offer wat funksioneer onder die stelreël van soli Deo gloria. Trimp (1985:7, 13, 21, 23) sluit hierby aan as hy die spreke van God die middelpunt van ‘het leven en de eredienst van ziin volk’ noem. Vir hom is die kerklike prediking publieke verkondiging – dus in die openbaar – omdat die Evangelie van Jesus Christus die lewe met al sy fasette raak. Dit is ’n publieke getuienis aan almal in die wêreld. Hierdie getuienis verteenwoordig die normatiewe kant van die kerk met sy politieke en maatskaplike (omvattende – PS) lewensimplikasies.

Skrywers is dit eens: Christusgesag is Woordgesag en hierdie Woord moet kerkwees na binne en na buite bepaal (Jonker 1965:12).

Vrijlandt (1989) sluit ook hierby aan. Hy (Vrijlandt 1989) verwys na die kerklike erediens as die plek waar God se Woord of woorde en dade ‘vooropstaan’ en mense bevry word:

De ambten zijn bedoeld om het Woord te bedienien, zowel de leer, als in de practijk, zodat de gemeente als geestelijke eenheid in heiligheid en zuiverheid kan functioneren. De Geest bind de kerk aan de Schrift, en zet haar in de vrijheid in liturgisch opzicht. Niet begrepen rituelen kunnen worden afgeschaft. (p. 81)

Nie al die kerke in die Dordts-gereformeerde tradisie het bepalings in hulle kerkordes vir die erediens nie. Teenoor NGKO-2019 met Artikel 48 en die Kerkorde van die Christian Reformed Church in North America (CRC) met Artikels 51–55, bevat die Dordtse Kerkorde (DKO) en die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) geen bepalings oor die erediens nie (kyk Engelhard & Hofman 2001:13, 295–310 vir die CRC; Pont 1981:182 vir die DKO; Visser 1999:223 vir die GKSA). Ten spyte van hul bepalings vir die erediens, is daar egter ’n wil by die NG Kerk én die CRC om kerkordelik eietyds, maar in die beginselspore van die DKO te loop (Engelhard & Hofman 2001:23; Strauss 2010:7; Vorster 1960:13).

NGKO-2019 en die wese van die erediens

Vir meer as 60 jaar al staan die wese van die erediens opgeteken (NGKO-2019:art. 48.1). NGKO-1962, Artikel 48a word in hierdie jare gehandhaaf met behoud van die kernbegrippe en enkele woordwysigings, wat niks aan die konstantes vir die erediens, soos in 1962 in die NGKO-2019, Artikel 48.1 verander het nie (NGKO-1962:10; 2019:12). Hierdie kerkordelike stabiliteit in die NG Kerk oor die kern van die erediens, steun die waarde van gereformeerde kerkordelike norme vir eredienste in gemeentes, om die verering van die Here as die primêre oogmerk van dienste te behou. Die kern bly Ere aan God! al kom daar nuwe temas in nuwe tye.4 NGKO-2019, Artikel 48.1 noem die erediens uitdruklik ’n ‘ontmoeting’ van die gemeente met God en met mekaar, onder leiding van die ampte, ‘deur die bediening van die Woord … sakramente, gebed, kerklied en dankoffers’ (NGKO-2019:12). Daarmee het NGKO-2019 egter nie die inhoud van die preke, liedere of ’n liturgiese orde bepaal nie. Nee, wat NGKO-2019 en die NGKO’s voor hom, tot so ver terug as 1962, reggekry het, is om die konstante kern van die erediens (soos dit deur die Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar is), kerkordelik te benader. Hierdie is ’n kern wat draai rondom ’n ontmoeting van God Drie-enig met sy kerk, waarin sy Woord in variante vorms die pas aangee, en gemeentes gehoorsaam en met woord en daad binne en buite die diens, hierop antwoord. Dit geld vir gemeentes vanaf 1962 tot nou toe, met eietydse antwoorde deur belydenisse, gebede, sang en fisiese offers. Die handhawing van NGKO-2019, Artikel 48 vir meer as 60 jaar, blyk nie bloot uit die konstantes van die erediens as ’n ontmoeting met God en met mekaar nie. Dit blyk ook uit konstantes soos die relevansie van die Woord en die mens se geloofsantwoord, gebede wat met egte respek vir die Here oortuig, en liedere wat gewild bly omdat dit God se lof gepas besing. Die NGKO-2019 se geformuleerde konstantes bly dus konstant. Veranderings binne die raam van Artikel 48 se konstantes vind wel plaas, maar dan as veranderings in die toepassing van hierdie konstantes. Sodanige veranderings bou of rus op die konstantes van NGKO-2019, Artikel 48.1 om as ’n erediens in nuwe tye herkenbaar te bly. Veranderings oor meer as 60 jaar blyk dus eerder uit eietydse preke en preekstyle in die bring van die ou tyding, gemeentestrukture en -aksies vir die Woordgebonde invloed van God se gemeente in ander tye; dit blyk ook uit ‘nuwe sange, nuut gebore uit aandrif van die skoonste kuns …’, Totius se beryming van Ps 33:2 wat na 80 jaar steeds harte roer (NG Kerk-Uitgewers 1969:62) ‘wat danksê vir Gods nuwe guns’. Dit bring ’n verdieping van die geloofsgemeenskap rondom die hedendaagse probleme én ’n waardering van vaders en moeders wat ons vooruitgegaan het, en wie ons rondom ons gemeenskaplike geloof, vandag nog huldig (Kloppers 2005:191; Strauss 2010:90–92).

Selfs Koffeman (2009) met sy ekumeniese kerkreg, wat hom nie tot een geloofstradisie of tydperk in die kerkgeskiedenis beperk nie, maak gewag van aspekte van die erediens wat vir vele kerke relevant bly. Hy gee ’n oorsig van wat kerke (ook gereformeerde kerke) as relevante, ordelike kante van die erediens beskou. Volgens hom vind daar in feitlik elke kerk, of dit nou ook al gereformeerd of nie-gereformeerd is nie, verkondiging, belydenis, doop, die nagmaalbediening, troues en begrafnisse plaas. Onder hierdie handelinge plaas hy ook die erediens met sy bediening van Woord en sakrament én die liturgie. Dit beteken dat Koffeman (2009:103) en NGKO-2019, Artikel 48.1 nie ver van mekaar staan nie. Kleynhans hou hom aan NGKO-2019, Artikel 48.1 as hy op relevante aspekte van die erediens wys, te wete aspekte van die spreek van die Here en die antwoord van die gemeente: ‘die … Woord … sakramente … gebed, kerklied en offergawes’ (Kleynhans 1988:3, 8). De Klerk (1982) onderskei twee soorte handelinge in die erediens: handelinge wat as woorde van God deurgaan en handelinge wat deurgaan as die mens se antwoord, of soos hy dit sien, die mens se gebede op hierdie woorde. Omdat hy van God en sy Woord afhanklik wil wees, toon De Klerk (1982) se uiteensetting van die openings- en slothandelinge van die erediens gedeeltes wat hy uit die Skrif kry: die votum en slotsang onder gebede, en die seëngroet en die seën onder die verkondiging (De Klerk 1982:67–68; 2007:394, 395, 401).5

In handleidings vir die erediens, handhaaf die Eredienskommissie, of die latere Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling van die Algemene Sinode, die kern van die erediens volgens die NGKO-1962. Die inisiatief van hierdie ontmoeting lê by God – met dieselfde stappe en in dieselfde volgorde as in sy verhouding met gelowiges. Die Algemene Sinode van 1982 wat NGKO-1982, Artikel 48 op die patroon van NGKO-1962 ongewysig laat, volstaan met die standpunt van die erediens as ’n ontmoeting tussen God Drie enig en sy gemeente (NGK 1982:19; NGKO-1982:12). Handleiding-2007 plaas die erediens as ’n ontmoeting van God-mens in die geestelike middelpunt van die gemeente. God neem die inisiatief in hierdie ontmoeting, roep die gelowiges uit die ‘normale gang van die lewe’, praat met hulle en stuur hulle dan terug die lewe in (of in sy geskape werklikheid) (Strauss 2018:1–12). Volgens Handleiding-2007 praat die Here deur Woord en sakrament deurgaans rigtinggewend met sy gemeente. Die gemeente antwoord hierop met verwondering (Hy praat nog met ons!), dankbaarheid (sy genade is ons lewe!), verootmoediging (Hy is as enigste Here totaal onafhanklik en ons is klein, skuldig en van Hom afhanklik), skuldig (ons bely dit as ’n realiteit wat ons bly aankleef) en ’n belydenis van hulle geloof in God Drie-enig (met die Apostolicum of Twaalf Artikels, of as variasies die Belydenisse van Nicea en Athanasius). Handleiding-2010 funksioneer op hierdie vertrekpunte (NGK Handleiding 2007a:11; NGK Handleiding 2010:8–48).

Bogenoemde twee Handleidings vul gestandardiseerde aspekte van die erediens aan met nuwe Skrifgebaseerde invullings ten opsigte van vernuwing en verandering. Konstantes soos die geloof, is ’n kenmerk van die kerk van die Here, en die erediens is ’n ontmoeting tussen die Here en hierdie deel van sy volk op aarde. Skrifverantwoorde konstantes word gestandaardiseer en vernuwing word prinsipieel geplaas by die inkleding daarvan. So word kerke se eredienste, byvoorbeeld die omvattende Christelike lewe as ’n erediens, ’n terrein waarop dit gaan om die Here, jou God as die Here van die dekaloog en sy norme vir die lewe; die God van gebede en die mens se gehoorsaamheid aan Hom (Eks 20 en Deut 5 as dekaloog of tien gebooie [NAV]); gehoorsaamheid waardeur die liturg en die gemeente hulle liturgiese rol in eredienste met ’n persoonlike styl speel (NGK Handleiding 2007b:18–49; 2010:18-51). Die Handleiding van 1982 dring aan op ’n gesonde ewewig tussen ‘vastigheid en variasie, gebondenheid en soepelheid’ in die eredienste (NGK 1982:19, De Klerk 1982).

Die wese van die erediens in NGKO-2019, Artikel 48.1, ander stukke van die Algemene Sinode en skrywers van die NG Kerk uit ’n liturgiese sowel as ’n kerkregtelike hoek, het konsensus rondom die konstante kern van die erediens. Die konstante kern is ’n ontmoeting tussen die Here en hierdie deel van sy volk hier op aarde; dit is ’n ontmoeting waarin Hy met gesag oor sy liefde en genade praat en die gemeente as gelowiges dan gehoorsaam antwoord. Dit is ’n erediens waarin hulle gehoorsaam antwoord omdat Hy – sonder ’n verduideliking, aangesien sy Naam alles sê – die Here [jou] God is (Van Minnen 1967:50–52). Dit is ’n erediens omdat gelowige kinders van God dit as ’n gesamentlike hoogtepunt deel, waardeur hulle God kan dank en eer vir die feit dat Hy hulle begenadig en verlos.

NGKO-2019 en aspekte van die erediens

NGKO-2019, Artikel 48 gee nie detail oor liturgiese aspekte van die erediens nie. Die Kerkorde wys wel uit ’n kerkordelike hoek op dinge wat in die ‘amptelike samekoms van die gemeente tot ’n ontmoeting met God en die onderlinge gemeenskap van die heiliges, onder leiding van die besondere ampte’, Woordbepaald en kerkordelik moet gebeur. Reeds in Artikel 3.1 reël NGKO-2019 dat alles in die gemeente na aanleiding van 1 Korintiers 14:40 ‘welvoeglik en ordelik’ moet verloop. Hierdie opvatting leef in die gereformeerde tradisie van Johannes Calvyn voort. Die teks kom via hierdie Hervormer en Kerkorde-1957 van die Gereformeerde Kerke in Nederland in NGKO-1962 tereg. Sedertdien bly dit die enigste Bybelteks in NGKO-1962 en die opvolgers daarvan tot in NGKO-2019 (NGKO-1962:2; 1998:1; 2019:1). In NGKO-2019, Artikel 48 gaan dit om geloofsdinge wat toon dat hierdie diens op toewyding, lof en die eer van God ingestel is. Dit word gelei deur die twee-eenheid van Woord en sakrament, naamlik deur die amptelik of kerkordelik erkende uitleg én toepassing van die Woord, asook die bediening van die sakramente deur iemand wat die kerklike prosesse deurloop het (NGKO-2019:13). NGKO-2019 formuleer dit saaklik: dit gaan om die bediening van die Woord en die sakramente waarop dan met gebed, die kerklied en dankoffers geantwoord word. Die gelese en verkondigde Woord gee die pas aan, ook deur die sakramente, wat sigbare Woorde van God genoem word. Woordbepaaldheid of die bekwaamheid om te leer, lê NGKO-2019, Artikel 48.3.3 ten grondslag. Dit vertrou die leiding van eredienste in die NG-gemeentes toe aan ’n ‘bevoegde bedienaar van die Woord van gereformeerde belydenis’ (die NG Kerk is immers ’n gereformeerde kerk). ’n Leraar wat hom of haar nie self aanstel nie, maar wat deur die kerkverband vir die gemeentes in die verband gelegitimeer (gewettig om beroep te word) is, is in die finale instansie deur die Algemene Steunspan Regte in ’n kerkdiens beroep (NGKO-2019:12–13; kyk 37–73, Reglement 10–17 vir die hantering van die bedienaars van die Woord).

Vanuit die gedagte van die kerklike erediens as ’n ontmoeting tussen die Here en sy gemeente, waarin Hy die inisiatief neem en die gemeente gepas op die woorde van God Drie-enig reageer, kan die aspekte van die gereformeerde liturgie kerkordelik benader word.

Kerkregtelik-kerkordelik word aanvaar dat ’n erediens met God Drie-enig hier teenwoordig (NG Kerk-Uitgewers 2001:159), ’n Skrifmatige begin en einde moet hê. Kerkregtelik word aangedui dat ’n erediens in die Naam van God Drie-enig geskied, met ’n votum van afhanklikheid, toewyding en konstituering. Daarom word gesê: Ons hulp is … en In die Naam van … (Kleynhans 1988:3). Dat die Here nie ’n God van wanorde is nie, maar van orde en vrede (Paulus in 1 Kor 14:33), spreek uit die trinitariese seëngroet waarmee die diens begin en die seënwens waarmee dit afgesluit word. NGKO-2019 sê kerkordelik dat die Here sy gemeente in die diens ontmoet waarin Hy, deur sy Woord, die gesprek begin en deur sy teenwoordigheid sy gelowige volk inspireer om hom biddend te nader. Terwyl NGKO-2019 hierdie handelinge kerkordelik beveilig, gee die liturgie inhoud daaraan (De Klerk 2007:394, 395; Strauss 2010:91).

NGKO-2019, Artikel 48.1 noem die erediens die amptelike openbare samekoms van die gemeente. Hierdie saamkom van die gemeente met al sy elemente, gee ’n blik op die verhouding van die Here met die gelowiges daar teenwoordig. Die wyse waarop laasgenoemde hierdie ontmoeting aanpak, wys op hulle verhouding met die Here. Die feit dat God Gees is en vir die menslike oog onsigbaar is, maak Hom nie afwesig of dood nie. Dit onderstreep eerder die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Artikel 1, wat na Hom verwys as ’n ‘enkelvoudige geestelike Wese’ wat ‘ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles is wat goed is’ (NG Kerk-Uitgewers 1982:9).

Op die Sinode van Dordrecht in 1618–1619, word die NGB telkens net Belijdenis genoem (Donner & Van den Hoorn s.a.:325). Hoewel die Belijdenis met bogenoemde twaalftal eienskappe van die Here God ’n stroom woorde ontsluit, wil dit voorkom asof die Belijdenis met enkelvoudige en enige aanvaar dat dit self mank gaan aan meer paslike byvoeglike naamwoorde, of ’n presiese beskrywing van die eienskappe van die Here. Net so sluit Paulus in Romeine 11:36 ook sy loflied oor die Here af met ‘uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid!’ Hierdie uiting van lof eindig hy met die gevoel dat sy woorde te min is om God se genade by die redding van die gelowiges na waarheid te besing (NAV).

Soos reeds genoem, verwys NGKO-2019 na die erediens as ’n amptelike ‘openbare’ samekoms van die gemeente. Sedert die vierde eeu vind hierdie byeenkomste in kerkgeboue plaas wat spesiaal daarvoor gebou is. Mettertyd word hierdie geboue die huis van die Here of die gemeente van Christus genoem. Eredienste het oop deure, omdat almal by die openbare verkondiging van die Woord welkom is. Die toesig van die ouderlinge oor die diens het die privaatregtelike kant dat hulle onordelike persone en wanorde wat die diens strem, uit die erediens mag weer – as laaste uitweg, desnoods met die hulp van die staatsowerheid (Kleynhans 1988:4–7; NGK 1982:1421).

Volgens NGKO-2019, Artikel 48.1 het die erediens daarom ’n dubbele oogmerk. Die diens mik na ’n ontmoeting van die gemeente met God en met mekaar. Die inhoud van hierdie ontmoeting word vanuit die liturgiek, poimeniek (pastoraat) en die homoletiek bepaal, maar die kerkreg en kerkorde vra die vraag wie met reg of met kerklike bevoegdheid regmatig of ordelik by die proses betrokke mag raak. Daarom dat NGKO-2019, Artikel 48.1 reël dat die erediens onder leiding van die ampte plaasvind (Kleynhans 1988:6–14; NGKO-2019:12, Artikel 48.1).

Uit hierdie betoog kan ’n verantwoorde kerkordelike omskrywing van die kerklike erediens gemaak word. Dit wil voorkom asof in NGKO-2019, Artikel 48 die besluite en handleidings uit die stal van die Algemene Sinode mekaar in die kern van die saak nie weerspreek nie. ’n Erediens is dus ’n ontmoeting tussen die Here en die gelowiges onder leiding van die ampte op daardie plek. NGKO-2019 gee konstantes vir die gesprek wat dateer uit 1962, sonder om toepassings daarvan te gee, of om die diens tot sekere vormgewing te beperk. Variante toepassings word wel in handleidings aangedui (Strauss 2021:9 –12). ’n Navolging van besluite van die Algemene Sinode deur gemeentes gaan ongelukkig enigsins ongesiens verby. ’n Alternatiewe geestelike stand kom egter uit gemeentes wat die Algemene Sinode in hierdie saak ignoreer, en daarvoor bekend word.

Wat is die geestelike stand van die kerk?

Een van die konstantes van NGKO-2019, Artikel 48.1 is dat die erediens ‘onder leiding van die besondere ampte en deur die bediening van die Woord’ plaasvind. Op hierdie punt is dit deur die preek in gemeentes en jare se ervaring duidelik dat hierdie kwessie dikwels individualisties, of deur die betrokke, plaaslike predikant gereël word. Dit is ’n reëling wat op die laaste nippertjie voor die diens aan die kerkraad, en in die diens aan die gemeente oorgedra word. Dit is ’n reëling wat tot die preek en die prediker beperk word, terwyl die res van die diens aan die liturg oorgelaat word. Die diens kom op die gemeente af soos gedane sake wat geen keer het nie. Die organisering van die erediens as ’n ontmoeting tussen God en die Godsvolk ‘onder leiding van die besondere ampte’, word ’n dooie kerkordelike letter (NGKO-2019:13–14). Kerkrade gaan mank aan kennis oor NGKO-2019 en die bepalings daarvan oor ’n gereformeerde diens. As dit nie so was nie, sou hierdie praktyk in die NG Kerk nie hoogty gevier het nie. Alles dui op ’n predikantskerk met ’n gebrek aan kennis oor die Kerkorde by die dominee(s), en meer nog, by die lidmate. ’n Bespreking van die dienste en preke in gemeentes, dinge wat tot mondige gemeentes lei, vind nie wyd plaas nie. Hierdie verskynsel versterk NG-gemeentes as predikantskerke. Die aanpak van die erediens laat ’n remmende beeld – geskep deur sommige predikante – deur die venster van die erediens val.

NGKO-2019, Artikel 48.4.2 verklaar uit ’n Sola Scriptura-oogpunt [Skrif alleen], dat die preek ’n ‘verklaring en toepassing van die … Skrif’ moet wees. Lidmate van NG-gemeentes wil volgens informele getuienis graag die Woord van God hoor, maar kan ’n skriftuurlike preek nie sonder meer eien nie. Hulle koppel ’n goeie preek eerder aan sy lengte (hoe korter, hoe beter), die emosionele aard van die voordrag en die kanselpersoonlikheid van die prediker. Kerkbywoning is nie noodwendig ’n uitvloeisel van ’n lewendige Christelike gemeente nie, maar eerder ’n geestelike byeenkoms rondom die beeld van die prediker, ’n faktor wat nie sondermeer hardop genoem word nie. Die verklaring en toepassing van die Skrif as die fokus van die preek (volgens NGKO-2019, Artikel 48.4.2), skuif in so ’n mensgesentreerde klimaat na die agtergrond (De Klerk 1982:68). In sy onderskeid tussen ’n aktualistiese en ’n aktuele preek, voer De Klerk (1982:63–64) tereg aan dat die Woord in ’n aktualistiese preek bepaal word deur die konteks van die tyd, maar in ’n aktuele preek, bepaal die Woord die tyd. Intussen bring ’n mensgefokusdheid mee dat eredienste meer mens- as Woordgedrewe raak, en die ritme van Woord en antwoord, of die Woord van God en die mens se weerwoord, prysgegee word. Met die aanvaarding van die konstante dat die Woord van God en die erediens sentraal staan in die kerk (Heyns 1977:110),6 is hierdie tendens ’n dolksteek in die hart daarvan. Daarom poog NGKO-2019 om eredienste in die NG Kerk met sy ritme van Woord en weerwoord te beveilig.

Die ‘heilige doop en nagmaal’ in NGKO-2019, Artikel 49.1 en 2 (NGKO-2019:13) word nie onder beheer van die kerkraad, deur ’n begeerte by gebruikers tot ’n regte of heilige lewe, bedien nie. ’n Verdraaide opvatting van Christelike liefde maak die sakramente ’n free for all. ’n Saakmaak-hantering deur kerkrade van die sakramente kom selde of glad nie voor nie. ’n Gewoonte-argument ten gunste van hierdie praktyk is die volgende: die kerkraad bestaan uit ‘’n kring van spotters’ of sondaars! Wie is hulle om die toelating tot die sakrament te beheer? Daarby bestaan kennis van die sakramente as Calvyn se tekens en seëls wat die Evangelie van Christus aan die gelowiges en hulle kinders verseël en meer as simbole, maar minder as die werklike liggaam en bloed van Christus is, nie by alle gebruikers nie. Die verstaan van die doop en die nagmaal as sakramente met vier elemente, is nie bekend nie. Die vier elemente (of tekens) is die volgende: die Woord of formulier wat die tekens verduidelik, die ontvangs van die betekenis of betekende saak, deur ’n lewende geloof, en die Heilige Gees wat deur die tekens, Woord en geloof hierdie verseëling voltrek (Schulze 1978:149–151; Strauss 2010:97–99). Die verstaan van hierdie uiteensetting verdiep die verseëling van die sakramente in die harte van die gelowiges. ’n Gebrekkige verstaan van die sakramente, ontneem die gebruiker egter van die ware seën (of verseëling) daarvan.

Die loof en prys van die Here volgens Calvyn, deur liedere as gesonge gebede (Kleynhans 1988:10), of as ’n offer aan God, moet ons lof én ’n erkenning van ons eie nietigheid voor God Drie-enig in ’n styl dra, wat by die saak en die woorde pas. Dit wat jy deur jou lied wil oordra, moet die respek van ’n kerklied vir God Drie-enig vertoon, uiting aan die geloofsemosies gee wat daarmee saamgaan, en die bewoording van wat jy vir die Here wil sê, met musikale begrip begelei. Kerkliedere as antwoord op die Woord van die Here, mag nie ontaard in ’n baldadige ongetemde jollie-patrollie nie. Begeleiers van geestelike liedere word ook nie rasieleiers nie. Hoewel, in ’n moderne idioom, moet die wysie met sy melodie, harmonie en ritme ’n draer van ’n bybelsverantwoorde gesprek met God vanuit dié kultuurmilieu wees (Du Toit 1972:97). Jy sing uit respek vir die Here en nie om mense te beïndruk, of jou emosies te herlaai nie. Dat jy die Here na waarde wil loof en prys, moet mense wat dit hoor, oortuig word. Jou eie vreugde, dank en swaarkry moet egter nie jou eerbied vir die Here jou God verdof nie (Strauss 2010:90).

Eredienste moet vreugde en dank oor Gods genade en verlossing weerspieël. Die manier waarop hierdie temas deur sang oorgedra word en die opwekking van gelowiges, moet egter nie bo die verering van God gestel word nie. Ware lof aan God gee diepte aan die effek van ’n geloof wat bely word, en antwoord gepas op die Here se lewende Woord. ’n Geestelike lewendmaak van mense kom deur hulle verstaan van die bybelse boodskap wat op hulle harte beslag lê, of ’n greep daarop kry. Vreugde en swaarkry word deur die Heilige Gees in sy genade verwerk. ’n Bekende gewyde lied, gesing met konsentrasie, sorg vir die versterking van die geloof, al sing die gemeente dit vir die soveelste keer, byvoorbeeld Psalm 23, wat in sy geestelike versorging nooit opraak nie. ’n Herhaling bevestig bestaande waarhede en gedeeltes in die Bybel, en gee by die herlees daarvan soms ’n beter verstaan van sy boodskap (Strauss 2010:90).

Die kerklied versterk die kennis van geloofswaarhede by hulle wat dit gereeld sing. Dit word woorde wat by jou opkom as jy met die betrokke tema te doen kry. Daarom moet kerkliedere Skrifgetrou wees en nie aan godsdienstige dwalings wat geloofsinsigte skeeftrek, stukrag gee nie. Dwaling lei dikwels tot ’n afdwaling in ’n geestelike wildernis. Daarenteen verdien die Here God om deur die bybelse waarhede oor Hom vereer te word (Du Toit 1972:97).

Teen hierdie agtergrond, is die kerklied nie ’n tydverdryf of ’n onderbreking in ’n erediens nie. Lofprysing van God vra konsentrasie, eerbied en ’n aanbied van sake in terme van die heiliging van sy Naam, sy wil en allesomvattende koninkryk.

Eredienste as ’n ontmoeting met God op die ritme van (sy)Woord en (ons) antwoord, vra ’n bruikbare kennis van die bybelse beeld oor God, wie die mens is, in watter atmosfeer gelowiges met God verkeer, hoe die Woord bybels of reg bedien word, en wanneer ons gebede, kerkliedere en dankoffers vir Hom van wie ons afhanklik is, aanvaarbaar is.

Eredienste toon die geestelike tendense in die NG Kerk

As eredienste in NG-gemeentes die geestelike identiteit van die gemeentes weerspieël, kommunikeer dit negatief indien besoekers soms nie die gereformeerde karakter van hierdie kerk in die eredienste van NG-gemeentes herken nie. Direkte en indirekte stremmings vir hulle gereformeerde kerkwees kom voor in NG-gemeentes. Voorbeelde is in hierdie artikel genoem en krities bespreek. Hierdie voorbeelde kom nie uit vernuwing wat bou op die konstantes van die erediens, as ’n ontmoeting tussen die Here God en sy gemeente op ’n sekere plek nie, maar vertoon ’n gebrekkige insig van hoe om eredienste konsekwent gereformeerd – en daarom eietyds – te verantwoord.

Opsommenderwys is die volgende stremmings aangedui, wat ’n geestelike kant het en wat in die ‘openbare erediens’ vertoon.

Daar is gebreke in kerkrade se aandeel aan die organisering van die erediens. In die huidige tyd met sy verskille onder geesgenote, word gemeentes in eredienste uitgelewer aan die individuele voorkeure van dominees of ‘kundiges’ – dié kundigheid kom nie noodwendig in hulle preke en standpunte na vore nie – wat dan liturgies nie as Skrifverantwoord oortuig nie. ’n Beoordeling van gereformeerde predikers as hulle kerkordelik aangewese taak (NGKO-2019:13), word sommige kerkrade ontneem. Die gevolg is ’n onbetrokkenheid van kerkraadslede en gemeentes. Vernuwing in eredienste word nie noodwendig liturgies bekwaam begrond én so verduidelik, dat die gemeente eienaarskap daarvan neem nie.7

Daar word nie gesprekke gevoer oor die kommer van kerkraad- en ander gemeentelede oor ’n gebrekkige Skrifinhoud in preke nie. Eredienste word vir persoonlike aansien misbruik en verarm, deur liturge wat nie hou by die Woord-weerwoordkarakter van so ’n diens nie, naamlik ’n plek waar die Woord reg en duidelik oorkom én gehoorsaam beantwoord word; waar die Here praat (as dit deur ’n mens is, moet die spreekwoordelike ‘So sê die Here’ getoets kan word) en die gelowiges op sy woorde reageer. Vreemde, onverantwoorde modegiere word nagevolg, omdat voorgangers nie die begronding en waarde van hulle eie kerklike gebruike ken nie. ’n Sensitiwiteit by lidmate teen ’n mensgefokusde benadering word geïgnoreer. In die NG Kerk word die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 met sy – dit kom gereeld voor – verabsoluteerde individuele vryheid as basis vir etiese oordele, kerklik dikwels gesluk (Strauss 2010:317–332). Christen-Afrikaners bly tradisioneel ‘sag’ vir politieke standpunte of modegiere!

Met die oog op die verkondiging van die volle raad van God – ’n bybelse en gereformeerde oortuiging – bepaal NGKO-2019, Artikel 48.4 en 48.5 dat die prediking reg aan die kerklike jaar en die belydenisskrifte van die NG Kerk, naamlik die NGB, HK en Dordtse Leerreëls (DL) moet laat geskied. Hierdie geskrifte moet ‘deurgaans sistematies in die prediking aan die orde gestel word’ (NGKO-2019:14). Omdat hierdie sterk geformuleerde bepalings sonder ’n gespesifiseerde doenopdrag, in die lug hang, vervloei, vervaag én verdwyn dit – ook ‘deurgaans’ – in die praktyk van gemeentes. NGKO-2019, Artikel 48.4 en 48.5 word daarmee dooie, ongekontroleerde letters.

Om hierdie vervaging van die geestelike identiteit van die NG Kerk as ’n gereformeerde kerk te voed, bly liturge sonder verduideliking in gebreke om die wet, of variasies daarvan, en wyd- en amptelik-aanvaarde belydenisse oor God Drie-enig in die diens te gebruik. Variante aanbiedings van die wet en die belydenis in algemene sinodale handleidings, word vervang met eenpersoon-formulerings uit die heup, wat van ’n geestelike en ’n ekumeniese armoede getuig – dit bots tasbaar met die rykdom van ’n gesamentlike kerklike belydenis. Skriftuurlike formules vir die erediens, wat deur die breedste meerdere vergadering in die NG Kerk, die Algemene Sinode ‘daar ver’, aanbeveel is, word sonder seremonie geïgnoreer. Daarby spreek die HK se gebruik van die wet en die gebed onder dankbaarheid vir God se verlossing, sommige liturge oënskynlik nie aan nie. Intussen versterk hierdie temas uit die HK ’n eie geestelike identiteit by gereformeerde kerke oor die eeue heen. ’n Slordige hantering daarvan is ’n steek na die hart of die siel (aldus Calvyn) van die kerk (Heyns 1977:110).

Kennisname van hierdie voorbeelde van tendense kom uit die bywoning van eredienste. Dit bevestig die waarheid van die titel van die artikel: eredienste toon die geestelike stand van die NG kerk aan.

Slot

Dit is so dat eredienste in die NG Kerk of NG-gemeentes sy geestelike stand vertoon. ’n Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk laat blyk sy geloofsoortuigings deur sy verstaan van die wese van ’n erediens en sekere aspekte daarvan. NGKO-2019, Artikel 48.1 sit die tradisie van meer as 60 jaar in die NG Kerk voort – dit haak aan by NGKO-1962, Artikel 48 as die eerste Kerkorde van die nuwe algemene sinodale verband van die NG Kerk in 1962. Die tradisie is naamlik dat ’n erediens ’n ontmoeting tussen die Here en hierdie deel van sy volk op aarde is, waarin Hy deur sy Woord die inisiatief neem, en waarin die gemeente gepas in die erediens moet antwoord – ’n erediens wat onder leiding van die besondere ampte, of die kerkraad plaasvind.

Op algemene sinodale vlak met NGKO-2019, besluite en handleidings van sinodale kommissies, word die erediens as ’n ontmoeting tussen God en die gelowiges wat as gemeente vergader, gehandhaaf. In die handleidings (NGKO-2019 en in handleidings oor die erediens) word variante vorms van die erediens ook aanbeveel. Vanuit eie waarneming blyk dit egter dat eredienste in NG-gemeentes aan tendense blootgestel word – tendense wat strydig is met die karakter van die NG Kerk as ’n kerk met gereformeerde besluite.

In sommige gevalle stry hierdie tendense met die gereformeerde aard van die Here God se spreke.

Hoewel al hierdie tendense nie grondig ondersoek is nie, kom die artikel tot die gevolgtrekking dat die tendense soos dit beskryf word, ’n Woordgetroue gereformeerde gees in die NG-gemeentes ondermyn. Die slotsom is dat hierdie geestelike stand van die NG Kerk in die eredienste in die gemeentes getoon word.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

P.J.S. verklaar alleen outeurskap van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Disclaimer

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is alleen verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Bronnelys

Barnard, A.C., 1981, Die erediens, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Barth, K., 1967, Church dogmatics IV, Clark, Edinburgh.

De Klerk, B., 2007, ‘Basisteoretiese grondslae van seen in die erediens en voorbereidende riglyne vir die liturgie’, In die Skriflig 41(3), 394–401. https://doi.org/10.4102/ids.v41i3.312

De Klerk, J.J., 1982, Liturgiese grondlyne, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., Acta Nationale Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.

Du Toit, J.H.H., 1972, ‘Skrif en kerklied’, in B.J. Marais & C.W.H. Boshoff (reds.), Rondom die prediking, n.p., NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J., 2001, Manual of Christian Reformed Church Government, CRC Publications, Grand Rapids, MI.

Fowler, S., 1988, The state in the light of the Scriptures, PU vir CHO, Potchefstroom.

Harmannij, K., 1990, Wegwijs in de Kerkorde, De Vuurbaak, Barneveld.

Heyns, J.A., 1770, Die nuwe mens onderweg: oor die tien gebooie, Tafelberg, Kaapstad.

Heyns, J.A., 1977, Die kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria.

Kleynhans, E.P.J., 1988, Gereformeerde Kerkreg, IV, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Koffeman, L.J., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.

Kloppers, E., 2005, ‘Handelinge in die erediens: die verryking van die liturgie deur musiek’, Hervormde Teologiese Studies (HTS) 61(1–2), 191–209. https://doi.org/10.4102/hts.v61i1/2.446

Nauta, D., 1971, Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, gebruik as NGK (indien KO bygevoeg word, dui dit op Kerkorde).

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1964, Die Kerkorde (1962), NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad, (gebruik as NGKO-1962).

NGK, 1982a, Handelinge van die Algemene Sinode, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

NGK, 1982c, Ons glo: Die Drie Formuliere van Eenheid en Ekumeniese Belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.

NGK, 1998, Die Kerkorde, Hugenote-Uitgewers, Wellington, (gebruik as NGKO-1998).

NGK, 2001, Liedboek van die kerk, NBD, Goodwood.

NGK, 2002, Die Kerkorde, Lux Verbi BM Wellington, (gebruik as NGKO-2002).

NGK, 2007a, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

NGK, 2007b, Handleiding, s.n., s.l.

NGK, 2010, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n, s.l.

NGK, 2019, Die Kerkorde, s.n., s.l, (gebruik as NGKO-2019).

NGNGK, 1982b, Die Kerkorde, Hoofstuk 2, NG Kerkboekhandel, Kaapstad, (gebruik as NGKO-1982).

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, I, HAUM, Pretoria.

Rautenbach, I.M. & Malherbe, E.F.J., 1994, What does the constitution say?, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Schulze, L.F., 1978, Geloof deur die eeue, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Strauss, P.J., 1989, ‘Geen kerk oor ’n ander’, Acta Theologica, 9(1), 1–14.

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag: met die klem op die NG Kerk, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2018, ‘Die NG Kerkorde 1962: in samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid?’, Koers, 83(1), 1–12. https://doi.org/10.19108/KOERS.83.1.2369

Strauss, P.J., 2021, ‘Kerkorde en erediens – Kerkorde artikel 48 van die NG Kerk geweeg’, Stellenbosch Theological Journal 7(1), 1–21. https://doi.org/10.17570/stj.2021.v7n1.a20

Trimp, C., 1985, Woord, water en wyn, Kok, Kampen.

Van Minnen, J.M., 1967, ‘Opschrift’, in J. van den Berg (red.), De thora in de thora 1, pp. 50–52, De Graafschap, Aalten.

Veldkamp, H., 1975, Zondagskinderen II, 5e dr., Wever, Franeker.

Visser, J., 1999, Die kerkorde in praktyk, EFJS Drukkers, Orkney.

Vorster, J.D., 1960, ‘Die kerkorde van die NG Kerke’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 1(4), 12–18.

Vorster, N., 2003, Kerk en menseregte binne ’n regstaat, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Vrijlandt, M.A., 1989, Liturgiek, Meinema, Zoetermeer.

Wolf, E., 1961, Ordnung der Kirche, Klostemann, Frankfurt am Main.

Voetnotas

1. Smit (1984:57) praat van ’n kerkorde as ’n dienskneg van die Woordverkondiging. Ander skrywers noem dit ’n verantwoorde kerkreg, ʼn reg met ’n dienskarakter (Strauss 2010:1).

2. Strauss (2021) praat van die kerkregtelike of kerkordelike kante van die erediens.

3. De Klerk (1982:19) noem die kerklike erediens ʼn liturgiese vergadering van die Godsvolk rondom sy troon. Die geheim van hierdie vergadering lê in die wil en werk van die Drie-enige God, of die Troonvors. Dit is hy wat deur Woord en Gees, op grond van sy genadige uitverkiesing, om Christus ontwil, vir Hom ’n gemeente uit die menslike geslag vergader, beskerm en onderhou (De Klerk 1982:19; Heidelbergse Kategismus Sondag 21, (NGK 1982c:53).

4. Kloppers pleit tereg vir ’n soepelheid – natuurlik binne erkende konstantes soos God wat praat en die gemeente wat antwoord – in die liturgie. Menslike antwoorde op God se woorde en beskikkking bly menslike antwoorde, maar soms met nuwe vrae en nuwe sake.

5. Kyk ook De Klerk (2007:394, 395, 401) wat die votum beskou as ’n uitdrukking van afhanklikheid en vertroue in die Here – elemente wat hy as ‘voortvloeiende riglyne’ en noodsaaklik vir die erediens beskou.

6. Heyns (1977:110) wys op Calvyn wat die Woord die siel van die kerk genoem het.

7. ʼn Ouderling stel dit so: ‘… in sommige dienste (van sekere predikers) moet jy jou veiligheidsgordel vasmaak om die onverwagse skuddings van hierdie vliegtuig in die wolke te oorleef!’



Crossref Citations

No related citations found.