About the Author(s)


Johan W. Scholtz symbol
Department of Practical Theology and Mission, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Hatfield, South Africa

Malan Nel Email symbol
Department of Practical Theology and Mission, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Hatfield, South Africa

Jaques Beukes symbol
Department of Christian Spirituality, Church History and Missiology, School of Humanities, College of Human Sciences, University of South Africa (UNISA), Pretoria, South Africa

Citation


Scholtz, J.W., Nel, M. & Beukes, J., 2024, ‘Die bediening aan enkelouergesinne met adolessente: ’n inklusiewe en intergenerasionele uitdaging’, In die Skriflig 58(1), a3033. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3033

Original Research

Die bediening aan enkelouergesinne met adolessente: ’n inklusiewe en intergenerasionele uitdaging

Johan W. Scholtz, Malan Nel, Jaques Beukes

Received: 21 Oct. 2023; Accepted: 22 Jan. 2024; Published: 31 May 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Serving single-parent families with adolescents: An inclusive and intergenerational challenge. This article focused on the ministry to single-parent families after divorce. The study had its origins in the author’s observation that adolescents from single-parent homes are picked up and dropped off by their parents for catechesis, but that the parents are not involved in activities in the congregation – not even just to attend the worship service. The research had the objective to investigate why single-parent families do not experience themselves as true families within the church and do not receive the necessary support in the faith formation of their children. The fourfold reflective equilibrium approach of Osmer was used as the frame for how this article was structured. As a basis for the interpretation of the empirical findings, the relationship between youth and family ministry is portrayed to lay a theological basis for an inclusive approach. The qualitative empirical study included 17 randomly selected single parents. The empirical study confirmed that single parents find it difficult to survive. The demands placed upon them are intense and they depend on a support network to meet the basic needs of the family. These single parents further believe that the church cannot help them with this. The research confirmed that single parents do not experience acceptance in the church and that they do not receive support in the faith formation of their children. The two hermeneutic spheres for the understanding of faith are a source of tension for the adolescents because of the difference in understanding of matters of faith between their divorced parents. The involvement of grandparents was found to be a key factor in the support of the single-parent family and needs to be addressed in an intergenerational approach. The positive involvement of the local pastor can also be used as a changing factor in the support of the single-parent family.

Contribution: This article contributes to a paradigm shift in the understanding of how families are constructed, especially single-parent families. The article reports on research that will be valuable for congregations in planning their ministry towards single-parent families.

Keywords: adolescence; family ministry; single parent family; faith formation; family; family ministry; identity formation; inclusive ministry; intergenerational approach; youth ministry.

Inleiding

Die fokus van hierdie artikel is die bediening aan enkelouergesinne. In ’n inklusiewe bediening in ’n gemeente, is die gedagte tog dat enige persoon van enige geslag, verband of ouderdom welkom en ingesluit behoort te wees. Tog blyk dit dat enkelouergesinne nie aanvaarding binne die kerk ervaar nie en hulle ook nie voel dat hulle genoegsaam in die geloofsvorming van hulle kinders ondersteun word nie.

Die toename in enkelouergesinne in Suid-Afrika korreleer met die wêreldwye tendens dat die ‘ideale’ of tradisionele gesinsamestelling aan die afneem is. Die statistieke onder Suid-Afrikaners dui ook aan dat die aantal huishoudings met ’n enkelouer (veral enkelma’s) toeneem (Statistics South Africa 2020a:8).

Volgens Statistics South Africa (2020a:10) woon slegs 32% van Suid-Afrikaanse kinders (0–19 jaar) in gesinne waar beide biologiese ouers nog teenwoordig is; 42% van Suid-Afrikaanse kinders word sonder hulle biologiese vaders groot. Hierdie analise dui slegs die tendens aan wat binne gesinne plaasvind. Die verslag is op Statistieke Suid-Afrika se verslae vanaf 2002 tot 2019 gebaseer. Die syfer vir egskeidings uit blanke huishoudings (2018) was 22.9, 2% van alle egskeidings in 2018 (Statistics South Africa 2020b:37). Daarbenewens was die persentasie van die totale egskeidings in Suid-Afrika waarby kinders betrokke is in 2018, 56.6%. Hierdie statistiek het slegs ten doel om aan te dui dat daar ’n beduidende getal adolessente is wat deur die vervreemding van ouers geraak word. Die lidmate in gemeentes is ook deel van ’n gebroke wêreld waar gesinsverbrokkeling ’n groterwordende probleem raak (Holborn & Eddy 2011:6; cf. Venter 2004:62). Ten spyte hiervan word die uitdaging van die veranderingsimpak op gesinstrukture nie dikwels op gemeentelike of kerkgenootskapvlak bespreek nie.

Dit is ook duidelik dat veral egskeiding nie net ’n skeiding tussen twee partye is nie, maar ook ’n skeiding bring in familiebande, geloofsgemeenskappe, sosiale gemeenskappe en dat egskeiding ook ’n oorsprong van diep emosionele seer is.

Probleemstelling

Die navorsingsvraag waarop hierdie artikel fokus is: Waarom ervaar enkelouergesinne hulle nie as volwaardige gesinne binne kerkverband nie en waarom ontvang hulle ook nie die nodige toerusting en ondersteuning in die geloofsvorming van hulle adolessente kinders nie?

Om te bepaal hoe enkelouergesinne hulle aanvaarding binne ’n gemeente beleef, is dit belangrik dat hulle weergawes van hulle belewenisse ‘gehoor’ moet word. Om mense te hoor en hulle belewenisse te interpreteer, vra ’n kwalitatiewe benadering in die ondersoek. Kwalitatiewe navorsing wil, volgens Osmer (2008:49–50), die ‘actions and practices in which individuals and groups engage in everyday life’ en die betekenis van hulle ondervinding daarvan beskryf. Hierdie metode word gewoonlik gevolg waar daar intensiewe navorsing van ’n baie spesifieke aard nodig is en die onderwerp tot persone in ’n spesifieke lewensituasie (soos enkelouergesinne) beperk is. In die navorsing is van gestruktureerde onderhoude gebruik gemaak.

As navorsingsmetodologie is die Reflektiewe Ewewigsmodel van Osmer (2011:2–3) gevolg. Die model maak voorsiening dat daar nie ’n spesifieke beginpunt is nie, maar dat al die navorsingstake met mekaar in ’n reflektiewe verband staan. Die studie het by die normatiewe taak (dus eers die literêre studie) begin, dan die empiriese navorsing (empiriese taak) wat die resultate en bevindings (interpretatiewe taak) na elke onderhoudsvraag met mekaar in verband bring – dus eintlik ’n empiries-interpretatiewe taak. Daarna is die pragmatiese taak hanteer wat strategieë en aksiestappe voorstel.

As basis vir die interpretasie van die empiriese bevindings, word daar eerstens, uit die literatuurstudie, die verhouding tussen jeug- en gesinsbediening geskets om ’n teologiese basis vir ’n inklusiewe benadering te vorm. Daarna word die primêre hermeneutiese ruimte vir die verstaan van geloof beskryf. Hierin word die rol van die ouer as primêre rolmodel geskets, die adolessent in die hermeneutiese ruimte (sy of haar huis) geplaas en ook die spanning tussen twee hermeutiese ruimtes (huise) bespreek. Daar word na die kerk se ondersteuning in geloofsvorming verwys. Daarna word die enkelouergesin gedefinieer en daar word aan die bybelse verwysing na enkelouergesinne en hulle spiritualiteit geraak. Hierna volg die rapportering en bevinding van die empiriese ondersoek; en die artikel word met gevolgtrekkings en enkele voorstelle afgesluit.

Die onderwerp van enkelouergesinne in die Suid-Afrikaanse konteks is besonder wyd en word deur kulturele grense gekleur. Dit is duidelik dat verskillende kultuurgroeperings enkelouergesinne ook verskillend hanteer word (Sooryamoorthy & Makhoba 2016:309). Om al die verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika in die navorsing te betrek, sou die studie te omvangryk maak. Dus is hierdie navorsing binne ’n bepaalde kultuurgroep gedoen. Die respondente is bepaal as Afrikaanse enkelouers as verteenwoordigers van die enkelouergesin (waarvan die respondente die primêre versorger is), nog ’n adolessent in die huis het, ’n egskeiding die oorsaak was vir die ontstaan van die enkelouergesin, en die gesin nie tot ’n spesifieke kerkgenootskap behoort of noodwendig kerklik aktief is nie.

Die verhouding tussen jeug- en gesinsbediening

Jeug- en gesinsbediening is ’n integrale aspek van Praktiese Teologie. Nie dat alle teoloë altyd daarmee saamgestem het nie (Nel 2018:4, 5, 13). Jeugbediening as ’n dissiplinêre onderdeel van Praktiese Teologie, het al hoe meer na vore begin kom as ’n belangrike fokus om juis die kommunikatiewe handeling met en aan jongmense, dus namens God (Nel 2018:11), te fasiliteer.

Die inklusiewe gemeentelike benadering van die jeug as ’n wesenlike of inklusiewe deel van die gemeente is die raamwerk van waaruit daar in hierdie studie na die bediening aan die enkelouergesin en die geloofsvorming van hulle kinders gekyk is.

Nel (2018:213–242; cf. Nel 1998:77–96, 2001:2–22) se teorie van inklusiewe jeugbediening wat hier gevolg word, verklaar dat die jeug ’n integrale deel van ’n gemeente en ’n omvattende gemeentebediening vorm (Nel 2018:215). Nel (2018) verklaar verder dat:

[C]hurches are challenged to “see” youth, to know them for who they are, to sense their needs and to serve them and serve with them as part of the faith community. (p. 22)

Avenant (2021:3) sluit hierby aan wanneer hy beklemtoon dat die inklusiewe benadering ekklesiologie en jeugbediening nader aan mekaar bring, en die jeugbediening help om op ’n meer teologiese basis te funksioneer.

God kom primêr deur sy Woord en Gees na die wêreld, maar Hy sluit mense (ouers) in by hierdie koms (Nel 1998:80, 2018:217). Om betrokke te wees by jeugbediening, is niks minder nie as ’n deelname aan God se koms en ’n deelname aan wat Hy besig is om te doen. Al die mense se pogings om ‘bediening’ te verstaan, is volgens Nel (1998:80, 2018:217), pogings om God se koms deur sy Gees en Woord en deur die diens van mense te verwoord.

Die diens van mense kan in bedieningsmodii beskryf word. Nel (2018:221) noem agt modii: Verkondiging (Kerugma), Erediens of Aanbidding (Leitourgia), Pastorale sorg (Paraklese), Onderrig (Didache), Gemeenskap (Koinonia), Diens (Diakonia), Getuienis (Marturia), en Leierskap of Administrasie (Kubernetiek).

Jeug- en gesinsbediening is om hierdie rede nie ’n ander of bykomende bediening, of modus van God se koms na die jeug (of gesinne) toe nie (cf. Nel 1994:10; 1998:82–83; Nel & Van der Westhuizen 2015:74). Wat dus in ’n gemeente se bediening met die ouers gebeur, behoort saam met hulle kinders te gebeur (Nel 1998:83).

Jeugbediening se taak is tweeledig: Eerstens, om elke bediening te sensiteer om dit vir die jeug en vir gesinne relevant te maak. Tweedens, om die jeug en gesinne se plek in die gemeente te herontdek en te herdefinieer. Avenant (2021) voeg ’n derde by:

[N]aamlik om gesinne te bemagtig, aan te moedig en te ondersteun om deel te neem aan die bedieninge en op te tree as fasiliteerders van hulle kinders se identiteitsontdekking en -ontwikkeling in hierdie proses. (p. 3)

Brierley (1993:89–168) wys daarop dat sonder inklusiwiteit in ’n gemeente, daar ’n negatiewe evaluering deur die jeug gemaak word. Wanneer gesinne nie deel voel of beleef dat hulle deel is van die totale bediening van die gemeente nie, voel hulle uitgesluit, nie aanvaar nie, en dit beïnvloed ook die kinders negatief.

Totale bediening veronderstel dus dat ouers en ander volwassenes deel moet wees van die bemiddeling van die koms van God deur sy Woord en diens aan mense (cf. Nel 1998:88; 2018:242) en kan jeugbedienings, en dus geloofsvorming, nie effektief plaasvind sonder dat die gesin inklusief deel daarvan uitmaak nie (hoe ons ook al die gesin sou definieer).

Die gesin as primêre hermeneutiese ruimte in geloofsvorming

Navorsing van veral die afgelope paar dekades het aangetoon dat gesinsverhoudings ’n besondere invloed op die geloofsvorming van jongmense en sekerlik veral van adolessente het (Avenant 2011:42; 2021:15; Müller 2002:54; cf. Nel 1982:177; 1998:109; Strommen & Hardel 2000:9). Adolessente is veral op verhoudings ingestel (Branje 2018:172; Wagner-Ferreira 2005:21) en die eerste en primêre verhoudings waarin hulle staan, is met hulle ouers binne gesinsverband. Hieroor skryf Strommen en Hardel (2000:15) is daar twee basiese konsepte vir gesinne: (1) verhoudings – en dan nie in die sin van ’n kollektiewe eenheid nie, maar die verhouding tussen ouer en kind (Strommen & Hardel 2000:15); en (2) prioriteite (wat die verhoudings bepaal) – die gesinslewe is ’n tydelike deel van die koninkryk van God, soos die opdrag van Matteus 6:33 bepaal, en wat uitgebrei word in Matteus 10:37–39 (Strommen & Hardel 2000:16). Daarom kom die koninkryk van God eerste en die gesin tweede. Wat egter belangrik is, is dié twee sleutelverhoudings – ’n sterk gesinsverhouding, en ’n sterk verhouding met God.

Die kinders van verbondsmense, mense in ’n verhouding met God en met mekaar, is integraal deel van die geloofsgemeenskap van die gemeente in al sy ‘gestaltes’ (Nel 1998:18; cf. Nel 2018:77). Binne hierdie ekklesiologiese (korporatiewe) ruimte, is daar ’n kleiner eenheid aan wie God op ’n besondere wyse ’n hermeneutiese funksie gee: die gesin. Dean en Foster (1998:77) noem die gesin ’n ‘little congregation’. Bengtson Biblarz en Roberts (2002:20) praat van ‘nested contexts’ waarin daar in ’n intieme verhouding waardes, geloof, begeertes of drome gevestig word deur modellering, beloning, straf en verskeie ander maniere.

’n Mens sou kon sê dat die kind ouers nodig het om tot verstaan te kan kom (Nel 2001:16). Deur die oorvertel van geloofstories, deur saam aan belangrike geloofseremonies deel te hê, kom die kind tot verstaan en vind geloofsvorming plaas (Veldsman 2005:64).

Hier kan ook ’n saak gemaak word vir ’n [unintentional teaching process] waar kinders hulle ouers dophou en naboots. Dit gebeur dus sonder dat die ouers doelgerig handel om hulle kinders ’n geloofsopvoeding te gee. Hierdie fyn nuansering van ’n gesin se binnewerking is ’n Godgegewe guns [blessing] aan ouers (Kennemur 2018:178).

Binne die huisgesin word God en sy handelinge op die mees natuurlike maniere aan die gesin geïnterpreteer. In hierdie hermeneutiese ruimte kom jy op die mees spontane en ‘natuurlike’ wyse tot verstaan. Dit beteken egter nie dat God aan hierdie ruimte gebind is en dat verstaan nie kan plaasvind waar en wanneer hierdie ruimte ontbreek as gevolg van egskeiding of ander faktore nie. Die gesin stel nie perke aan God se vermoë om tot verstaan te bring nie.

Die verantwoordelikheid van die ouer as primêre geloofsmodel

Wanneer na ouers en primêre opvoeders as mentors verwys word, dan is die bedoeling dat hulle in die eerste instansie die bemiddelaars van geloof is (Nel 1998:109; 2018:241). Daarin is ouers gawes van God aan hulle kinders (Nel 1998:109; 2018:241). Kinders ontvang van hulle ouers, wat Firet (1977:191) hulle oorspronklike sisteem noem.

Voordat kinders nog kan verstaan en enige formele onderrig kan plaasvind, ervaar hulle die realiteit van geloof in Jesus Christus deur die lewe van hulle ouers. In Deuteronomium 6:7 word die beginsel reeds vasgelê, waar ouers se rol binne die proses van inlywing in die verbondsfamilie uitgespel word. Hulle is dus primêr verantwoordelik vir die begeleiding van hulle kinders tot identiteitsvinding. Daar is genoegsame navorsing reeds gedoen om te bevestig hoe belangrik die rol van ouers in die vestiging van geloof is (cf. Nel 1982:176–179; Avenant, Nel & Jordaan 2021:1).

Dit is dus onbetwisbaar dat ouers se rol in die lewens van adolessente uiters bepalend is vir hulle geloofsvorming. Nel (2018:86; cf. 1998:20) beskryf die gesin as die primêre hermeneutiese ruimte vir die verstaan van geloof, terwyl Dean en Foster (1998:77) die familieruimte, soos vroeër genoem, beskryf as ‘Little Congregations’. Terwyl daar net een Verbondsmiddelaar is, speel ouers ’n sleutelrol in die intermediêre koms van God na kinders (Nel 2001:95).

Die adolessent binne die hermeneutiese ruimte

Binne hierdie hermeneutiese ruimte (of ruimtes waar daar twee ouerhuise is) word kinders groot en groei hulle in die geloof. Vir die doeleindes van hierdie navorsing is net op enkelouergesinne met adolessente gefokus. Kirgiss (2015:48, 132) is van mening dat adolessensie volgens die mediese geskiedenis so ver as 1250 tot 1500 n.C. teruggevoer kan word. Dit neem, volgens Nel (2018:128), niks weg van dit wat aangaande adolessensie geleer is as ’n sosio-ekonomiese-en-kulturele verskynsel, wat net meer as 100 jaar terug beskryf is nie (cf. Avenant 2021:116).

Volgens Nel (1998:31), verwys die konsep adolessensie vandag dus na die tydperk tussen puberteit en volwassenheid (cf. Koteskey 1991:43). Kirgiss (2015:36) help ons ook deur hierdie tydperk te beskryf as ‘the stage of life that includes the latter part of middle school, all of high school, and an unspecified amount of college’.

Hoewel daar in hierdie tydperk ’n versnelling in persoons- en geloofsontwikkeling plaasvind, is dit ook ’n tydperk van fisiese verandering, kognitiewe ontwikkeling, en identiteitsvinding. Hierdie konsep (soos deur Erikson uiteengesit) beskryf die ‘psychological work of the self during adolescence’ (Osmer 1996:19). Volgens Erikson se teorie is die adolessent hoofsaaklik besig om ’n antwoord te soek op die vraag, ‘Wie is ek?’, wat impliseer dat identiteitsontwikkeling eintlik ’n identiteitskrisis (Louw, Louw & Ferns 2007:309) is.

Van belang in hierdie navorsing is die geloofsontwikkeling soos deur Fowler (1981) beskryf. Die eerste twee fases van geloofsontwikkeling, naamlik intuïtief-projekterende geloof (3–7 jaar) en misties-letterlike geloof (7–13 jaar) (cf. Fowler 1981:122–150) het ’n hoë afhanklikheid van die ouers se insette. Navolging en eenvoudige beredenering volg mekaar op. Die derde fase, sinteties-konvensionele geloof (Fowler 1981:151–173; Osmer 1990:236–242), val min of meer saam met die adolessent tussen die ouderdom van 13–17 jaar. Tydens hierdie fase word oortuigings en waardes gevorm om hulle leefwêreld te beoordeel. Hierdie vermoë sluit nóú aan by die psigologiese vermoë tot identiteitsvorming en die teologiese proses van die ontdekking van hulle nuwe identiteit in Christus (Nel 1998:149).

Spanning tussen die hermeneutiese ruimtes (huise)

Dit is egter ook in hierdie fase waar die spanning tussen twee ouerhuise die vorming van ’n geloofsidentiteit uitdaag en moeilik maak (Scholtz 2018:81). Wanneer die hermeneutiese ruimte dan ‘breek’ om twee ruimtes te wees, is daar ’n aantal faktore wat sodanig op beide hierdie ruimtes inwerk, sodat die spanning binne en op die ruimtes ’n bepaalde negatiewe invloed op die adolessent binne en tussen die ruimtes reflekteer.

Hierdie faktore is onder andere, die verlies aan sekuriteit, vrees vir die verlies aan ’n ouer, die verlies van kindwees (Marquardt 2005:32; Root 2010:56; cf. Wallerstein & Lewis 2004:360) en die spanning om identiteit tussen twee wêrelde te vorm (Marquardt 2011:187–190; cf. Root 2010:49–50).

Die kerk in ondersteunende rol

Die kerk, in ’n breër sin en plaaslik (die gemeente), is ’n gemeenskap van Christusgelowiges wat in gemeenskap met God en met mekaar is, met Christus as die hoof wat sy gemeente deur sy Woord en Gees versorg en regeer (Nel 1994:15; Pieterse 1993:83).

Die kerk wat op familiebediening fokus se hooftaak behoort te wees om ouers by die geloofsvorming van hulle kinders te betrek, sodat hulle ondersteun kan word om beter rolmodelle vir hulle adolessente te wees (Avenant 2011:166). Ouers is deur die verbond van God tot hierdie vennootskap geroep. Vaderskap en moederskap kan alleen teruggevind en teruggewin word binne die verbondskap en verwantskap wat God daar gestel het (Wagner-Ferreira 2008:37).

Families moet gehelp word om hulle identiteit in Jesus Christus te ontdek en positiewe verhoudings te beleef (Nel 1998:114). Ander rolmodelle in die gemeentes sal help sodat die jongmense deel van die positiewe bediening van die kerk kan wees (Strommen & Hardel 2000:16–17; Van der Watt & Thesnaar 2005:6). Die erediens kan die sentrum van ’n intergenerasionele ruimte wees waar verskillende generasies saamkom om God te ontmoet.

Die enkelouergesin

’n Enkelouergesin verwys na ’n huishouding waarin een ouer die primêre versorgingsrol en verantwoordelikhede vir ’n kind of kinders aanvaar (Rush 2012:15; Townes 2017:8; cf. Van Gasse 2020:4; Van Staden 2020:3; Walker 2015:4). Enkelouergesinne kom voor vanweë verskeie omstandighede: egskeiding, skeiding by die verbreking van ’n verhouding, die dood van ’n gade, of die keuse om ’n enkelouer te word deur aanneming of deur ander metodes (cf. Sooryamoorthy & Makhoba 2016:316). In ’n enkelouergesin is daar tipies geen lewensmaat of eggenoot in die huishouding teenwoordig nie. Voorheen is daar na hierdie gesinne as gebroke gesinne of huise verwys (Connors 1999:61; Quinn 2011:2; Van Staden 2020:26). Hierdie afbrekende verwysings kom nie meer in resente studies voor nie.

Na die verskyning van Wallerstein, Lewis en Blakeslee (2000) se longitudinale studie wat oor 25 jaar strek oor die effek wat egskeiding op kinders het, het daar vanaf die vroeë 2000’s meer stemme begin opgaan om die verandering in gesinsamestelling na te vors. Hiervan was Elizabeth Marquardt seker een van die belangrikste navorsers. Na haar werk ‘Between two worlds – the inner lives of the children of divorce’ (Marquardt 2005) verskyn het, word sy by verskeie ondersoeke na die verandering in gesinstrukture betrek. Een van die grootste studies waaraan Elizabeth Marquardt deelgeneem het, was in opdrag van die Institute for American Values. Die verslag word onder die titel Does the shape of families shape faith? gepubliseer (ed. Marquardt 2013) en die enkelouergesin as ’n gesinstruktuur word sterk op die voorgrond geplaas, ook wat geloofsaspekte aanbetref.

Bybelse verwysing na enkelouergesinne

Hagar is die eerste enkelouer waarvan ons in die Bybel lees (Gen 16:1–3). Wanneer Abraham vir Hagar en Ismael wegjaag (Gen 21:14), gee hy kos en water saam. Hagar word ook die voorbeeld van God wat enkelouers hoor (Gen 16:13; 21:17) en nie alleen laat, of verlaat nie. Hagar is die enigste enkelouer waarvan ons lees wat as gevolg van ’n skeiding tussen die ouers ’n enkelouer word.

In die Nuwe Testament is daar geen verwysing na enkelouers vanweë egskeiding nie. Die meeste verwysings na enkellopende ouers in die Nuwe Testament is deernisvolle verwysings na weduwees en hulle stryd om oorlewing (cf. Luk 7:11–17; 1 Tim 5:3–16; Jak 1:27).

Spiritualiteit of geloof by enkelouergesinne

Uit die navorsing van Scholtz (2018) aangaande die invloed van egskeiding op die geloofsvorming van adolessente, is gevind dat:

[D]ie duidelikste tendens wat uit die onderhoude na vore gekom het, was die verskraaldheid van ’n geloofslewe in die ouerhuis(e) wat daartoe lei dat die hermeneutiese ruimte van die gesin ook ’n verskraalde verstaan van geloof, God en ’n geloofslewe tot gevolg het. (p. 81)

Wallerstein et al. (2000) maak die opmerking dat verskeie van die kinders gemeld het dat hulle geloof ‘was shaken for several years by their experience as children’. Die meeste van die kinders wat hierdie opmerking gemaak het, was in situasies waar een ouer hulle verlaat het en nie weer teruggekeer het nie. Dan word die volgende opmerking gemaak: ‘It appears that their disappointment stood in the way of relying on their religion for support’ (Wallerstein et al. 2000:xv).

Die kerk word geroep om veral aan kinders wat die mees kwesbare is ’n bediening van omgee en begeleiding te gee. Dis waar hierdie navorsing wys dat kinders uit ’n egskeiding oor die algemeen minder religieus is wanneer hulle grootword. Die kerk moet verstaan waarom dit so is (Marquardt 2011:186).

Andrew Root se ouers skei wanneer hy in sy twintigerjare is. Dit laat hom (Root 2010:xvii) vrae vra oor sy geloof, sy identiteit en sy ‘being’. Eintlik wil hy dit duidelik maak dat die egskeiding van sy ouers hom in sy hele wese geraak het.

Navorsing het reeds getoon dat die kerk ’n uiters belangrike rol in die welstand van gesinne speel (cf. Bengtson, Putney & Harris 2013:11; Browning 2007:57; Dean 2010:17–21). Van Staden (2013:2) dui egter aan dat dit duidelik is dat kerke nie hulle verantwoordelikheid teenoor gesinne en die groter gemeenskap nagekom het nie (cf. Bengtson et al. 2013:11; Browning 2007:57; Dean 2010:17–21; Strommen & Hardel 2000:17).

Uitdagings vir enkelouergesinne

In die literatuurstudie as deel van die navorsing vir hierdie artikel, is daar verskeie aspekte as uitdagings vir die enkelouergesin opgemerk. Die bronne wat beskikbaar is om die enkelouergesin en die uitdagings van die enkelouergesin te beskryf, is oorwegend vanuit ’n Amerikaanse, Britse, en Nederlandse konteks. Vanuit die Suid-Afrikaanse konteks word hoofsaaklik op die sosio-maatskaplike en psigologiese effek op kinders uit ’n egskeiding gefokus. Om die bediening aan die enkelouer vanuit ’n inklusief intergenerasionele benadering te belig, moet die kompleksiteit van die enkelouer se omstandighede in gedagte gehou word (cf. Letablier & Wall 2018), omdat dit lig werp op die faktore wat bydra tot hulle uitdagings en die ondersteuning wat hulle van geloofsgemeenskappe benodig.

Vanuit die literatuurstudie word daar vier belangrike uitdagings vir enkelouergesinne aangedui (cf. Quinn 2011:2–3; Van Staden 2020:58; Walker 2015:11–13):

  • finansiële uitdagings
  • alleenverantwoordelikheid
  • tydsbestuur (of die gebrek aan tyd vir alles en almal)
  • eensaamheid.

Om die enkelouergesin beter te verstaan, die uitdagings aan te hoor, hulle belewenis van aanvaarding in die kerk op te teken en hulle ondersteuningsraamwerk te identifiseer, is ’n empiriese ondersoek gedoen. Soos reeds vroeër aangedui in hierdie artikel, is ’n kwalitatiewe benadering in die ondersoek gevolg. Daar is 20 enkelouers ewekansig uit 40 moontlike deelnemers geïdentifiseer. Die deelnemers het die etiese toestemming soos deur die Universiteit van Pretoria vereis, geteken. Daar is met 17 enkelouers onderhoude gevoer; drie van die geïdentifiseerde ouers het nie die afsprake nagekom nie. Die deelnemers het uit 15 enkelma’s en twee enkelpa’s bestaan. Aan elke enkelouer is dieselfde nege vrae gevra, opgeneem en getranskribeer vir datadoeleindes.

Uit die kwalitatiewe navorsing kan die volgende bevindings gemaak word met die navorsingsdoelwitte as riglyn:

Doelwit 1: Om die eie aard van die enkelouergesin met adolessente se geloofsdinamika of die afwesigheid daarvan te beskryf.

  • Die egskeiding ontstaan, is intens en raak die enkelouergesin, sowel as die grootouers (76%).
  • Die twee grootste faktore wat dinamiek binne ’n enkelouergesin bemoeilik, is finansies en die emosionele effek van verwerping, ouers wat nie meer saam wil wees nie en die verskil in twee huishoudings waarin die adolessente hulle eie identiteit moet ontwikkel (100%).
  • Die spanning in die verhouding tussen die geskeide partye, veral oor besoekregte en die nie-betaling van onderhoud is ook ’n negatiewe faktor (41%).

Doelwit 2: Om die uniekheid van die enkelouergesin as primêre hermeneutiese ruimte vir die verstaan van geloof te beskryf.

  • Die kerk moet kennis neem van die vlak van geloofsgesprekke in enkelouers se huise, veral die vrae wat die adolessente vra en die verlies aan ’n geloofsrolmodel (65%) en dit terwyl ’n rolmodel uiters nodig is.
  • Daar moet definitief aandag gegee word aan die spanning wat tussen die twee ouerhuise (twee hermeneutiese ruimtes) bestaan vanweë ’n verskil in geloofsoortuiging (94%).
  • Daar is ’n verband tussen die kontak van ouers met hulle kinders en spanning oor geloofsake: Die adolessente wat ’n minder gereelde kontak met sy of haar ander ouer het, is meer geneig om spanning met geloofsake te ervaar (72%).

Doelwit 3: Om die adolessent en die invloed van die enkelouergesinsamestelling op die ontwikkelingsfases van geloof, te identifiseer.

  • Dit blyk dat ouers nie ooreenkomste aangaan oor die geloofsopvoeding van hulle kinders nie (71%). Die kerk moet kennis neem daarvan dat ouers oor alles van die kinders ooreenkomste aangaan by egskeiding, maar nie oor hulle geloofsake nie. Die kerk kan hier, met sensitiwiteit en oorleg, help dat daar wel ooreenkomste aangegaan word sodat die spanning tussen die geloofsoortuigings van twee ouerhuise verminder word.
  • Enkelouers ontvang duidelik nie ondersteuning van die kerk in die geloofsvorming van hulle kinders nie. Daar is wel die ruimte vir berading, maar nie enige ander wyse van toerusting aan die ouers nie (100%). Hierdie bevinding is teleurstellend. Die kerk sal dus op ’n meer intergenerasionele en netwerk-georiënteerde manier by lidmate in gesinsverband en dus inklusief betrokke moet raak om ondersteuning in geloofsvorming te kan gee. Hierdie opmerking geld egter nie net vir enkelouers nie.

Doelwit 4: Om die moontlike ondersteuning en toerusting wat die kerk aan enkelouergesinne kan bied, te beskryf en te ondersoek.

  • Met die aanvanklike antwoord op die vraag of enkelouers en hulle gesinne aanvaarding in die kerk beleef, het 16 (94%) van die respondente dadelik ‘Ja’, gesê en slegs een (6%) ‘Nee’ geantwoord. Met die hantering van die daaropvolgende vrae en die reaksie daarop, het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat die werklike persentasie enkelouers wat aanvaarding beleef, slegs 35% is.
  • Enkelouers wat aktiewe lidmate van ’n kerk is voor en na die egskeiding, ervaar aanvaarding en kon ook die verandering in gesinstruktuur makliker hanteer (35%).
  • Die mees prominente faktor wat enkelouergesinne aanvaarding laat beleef, is die verhouding met die leraar of kerkleier (71%). Hierdie verrassende bevinding kan deur gemeentes benut word in die bediening aan enkelouergesinne om gemeentelike aanvaarding te bevorder.
  • Enkelouers is ongemaklik met kleingroepe en het hulle duidelik daarteen uitgespreek (74%). In die onderhoude het die enkelouers hulle sterk teen ondersteuningskleingroepe uitgespreek. Diegene wat al by ondersteuningsgroepe was, vind dit blootstellend, etiketterend en nie akkommoderend genoeg vir hulle unieke omstandighede nie.
  • Enkelouers beleef aanvaarding op ’n baie meer persoonlike basis as deur ’n gemeente of kleingroep (60%).
  • Daar is ’n aantal uitdagings wat selfs lank na die egskeiding steeds in die enkelouergesin bestaan: finansies; alleenheid; emosionele spanning; alleenverantwoordelikheid; dissipline van kinders; die rolaanpassing en verlies van ’n rolmodel; werksituasie wat spesifieke eise stel; die problematiek van tydsbestuur; en die ondersteuning van die kinders se aktiwiteite.
  • Die vraag na die kerk se moontlik hulp in enige van die uitdagings was redelik duidelik beantwoord deurdat die respondente nie dink dat die kerk regtig kan help nie (65%).
  • Een van die belangrikste aspekte wat na vore gekom het, is dat die kerk in die meeste gevalle nie eers daarvan bewus was dat die gesin se struktuur verander het nie (68%). Enkelouers gee nie kennis aan ’n gemeente se administrasie dat hulle status verander het nie.
  • Die rol van die ondersteuningsnetwerk het ook nou meer prominent geword en veral grootouers se betrokkenheid (finansieel en emosioneel) by die enkelouergesin is van belang. Ouers sou deur verwantskap byna outomaties as ’n ondersteuningstelsel gereken kon word. Die navorsing het egter aangedui dat dit wel ’n keuse, met opofferings, is wat ouers maak om hulle kinders by te staan (76%).

Indien die kerk enkelouers wil ondersteun, sal daar ’n groter bewusmaking van die uitdagings van enkelouers moet wees. Daar sal meer op individuele en persoonlike vlak aandag gegee moet word en die benadering op grond van die ondersteuningsnetwerk sal meer intergenerasioneel moet wees. Daar sal egter ook bepaal moet word waar die grense van ondersteuning is.

Inklusief en intergenerasioneel

Die bediening aan die enkelouergesin staan nie los van enige ander bediening in die kerk of gemeente nie. Vanuit die verbondsbenadering en bybelse ekklesiologie kan dit ook nie anders nie (Nel 1982:112; 2001:6, 10; cf. Nel 2018:22). Daarom kan daar ook nie anders oor die bediening van enkelouergesinne gedink word nie.

Die digotomie van volwassenes teenoor kinders (jeug) wat sterk na vore kom in die kerk, werk juis nie vir enkelouergesinne nie. Die empiriese data het aangedui dat die gesagstruktuur in die enkelouergesin, veral in die tydperk met adolessente in die huis, ’n rolverandering ondergaan met meer verantwoordelikheid aan die adolessent. Wanneer die gemeente met lidmate kommunikeer, kan die adolessente dus dieselfde (gelyke) kommunikasie ontvang.

Dit is juis die interaksie tussen die mediasie van die Christelike geloof en die praksis van ons samelewing (Heitink 1999:8) wat ons laat verstaan hoe God deur ons handelings na die wêreld kom (cf. Nel 2018:7). In die samelewingsverbande van die respondente is gehoor dat byna almal na die grootouers verwys as betrokkenes op een of ander manier – veral as hulle ondersteuningsnetwerk. In sommige huise is daar selfs drie geslagte wat saamwoon.

Gevolgtrekking en merkers vir die kerk en gemeentes

Enkelouergesin

Die enkelouergesin as hermeneutiese ruimte het besonderse aandag nodig:

  • ‘n Volledige plan behoort deur die jeug- en gesinsbediening en ander bedienings uitgewerk te word oor hoe om hierdie paradigmaskuif te maak, en hoe dit op alle bedienings in die gemeente sal impakteer.
  • Beplanning sal nodig wees om te bepaal hoe die kerk gesinne kan ondersteun deur bemagtiging, voorsiening van hulpbronne, en deur geloofsontwikkeling tuis te ondersteun.
  • Enkelouergesinne sal meer aandag moet geniet en spesifiek ondersteun word.
Die enkelouer (primêre versorger)

Ouers wat deur ’n egskeiding gaan, of wat dit reeds afgehandel het, het nodig om te weet dat ’n gemeente hulle sonder enige veroordeling nie net aanvaar nie, maar ook wil ondersteun:

  • Enkelouer-leiding kan deur ’n mentorskapsprogram aangebied word.
  • Die empiriese ondersoek het getoon dat enkelouers nie deel wil vorm van ondersteuningsgroepe nie. Dus is ’n individuele kontakplan die beste en daarom is dit nodig om mentors op te lei om enkelouergesinne by te staan.
  • Om met beide biologiese ouers kontak te maak en te behou.
Die adolessent

Adolessente het mense nodig om hulle moreel te ondersteun wanneer hulle ouers geskei is en hulle in twee wêrelde moet leef:

  • Jeugleiers kan opgelei word om as ondersteuners op te tree.
  • ’n Lys van professionele persone wat terapeutiese dienste lewer, kan opgestel en beskikbaar gestel word.
  • Gemeentelede wat as mentors (en rolmodelle) sal optree, kan geïdentifiseer word.
  • Die kerk behoort ’n vriendelike ruimte vir alle generasies te wees.
Grootouers

Die empiriese data het getoon dat grootouers op byna elke vlak by die enkelouergesin betrokke is. Hulle offer ook baie op om hulle kinders (die enkelouergesin) te ondersteun. Hulle wat ondersteuning bied, kry ongelukkig nie self ondersteuning nie:

  • ’n Ondersteuningsbasis vir grootouers kan geskep word.
  • Grootouers kan met inligting toegerus en bemagtig word.
  • Grootouers kan gehelp word om beter te verstaan wat die emosionele behoeftes van die enkelouergesin is.
  • Grootouers behoort die oordeelsvermoë aan te leer oor waar die grense van ondersteuning is.
Die gemeente en die leraar of kerkleier

Die gemeente speel ’n belangrike rol as die ruimte waarbinne mense hulle geloof kan uitleef, kan groei en in diens kan tree. Die gemeente is ook ’n veilige hawe vir almal wat seer het en wat ondersteuning nodig het:

  • Nuwe taal moet ontwikkel word om meer gesinsvriendelik te wees (bv huisgeloof, in plaas van gesinsgeloof).
  • Leiers moet met kennis toegerus word.
  • ’n Veilige hawe vir enkelouers en kinders moet geskep word waar hulle hul emosies kan deel.
  • Fasiliteer ’n ondersteuningskursus soos Divorce care vir persone wat midde in ’n egskeidingsproses is.
  • Die lidmate van die gemeente kan prakties bydra om die las van die enkelouer te verlig met hulp soos vervoer, kinderoppassers, ensovoorts.

Dis duidelik dat die leierskap van ’n gemeente belangrik vir aanvaarding deur die enkelouergesin is (71%). Daarom behoort die leraar des te meer te let op die strategiese prosesse wat help om verandering teweeg te bring. Dus is ’n aanbeveling om van leierskapstyle, soos deur Osmer (2008:176-177) voorgestel, te gebruik: taakbekwame-, transaksionele- en transformerende leierskap.

Mentorskapsprogram

Enkelouers het duidelik aangedui dat hulle nie in kleingroepe wil wees nie. Die navorser beveel ’n mentorskapsprogram aan vir enkelouers deur ’n persoon van dieselfde geslag wat meer as vier jaar geskei is, met kinders (al is hulle al volwasse), en wat as enkelouer reeds goed oorleef het. So ’n program kan ontwerp word en die enkelouergesin vir ’n tydperk van ongeveer ses maande begelei.

’n Mentorskapsprogram kan dan die volgende insluit:

  • ’n emosionele hawe
  • hantering van alleenverantwoordelikheid
  • finansiële bestuur
  • tydsbestuur
  • dissipline van kinders
  • logistieke uitdagings
  • nuwe gesinstradisies
  • kontak vir praktiese huishoudelike hersteltake, ensovoorts
  • selfversorging
  • geestelike hawe en mentor.
Multidissiplinêre span vrywilligers

Enkelouers het nie geredelik finansies om vir die hulp van kundiges te betaal nie. Indien die gemeente ’n span vrywilligers kan saamstel om met die volgende te kan help, sal dit die uitdagings van die enkelouergesinne definitief verlig:

  • leraar, kerkleier of jeugwerker
  • prokureur
  • finansiële raadgewer
  • opvoedkundige sielkundige
  • maatskaplike werker.

Samevatting

Die vraag na hoe enkelouergesinne aanvaarding in die kerk beleef en die bystand wat hulle in die geloofsvorming van hulle kinders ondervind, het veel meer gelewer as wat die oorspronklike vraag was. Hoewel dit geblyk het dat enkelouergesinne in ’n mindere mate aanvaarding in die kerk beleef, en nie ondersteuning in die geloofsvorming van hulle kinders ontvang nie, is dit nou duidelik dat die antwoord op die vraag baie meer kompleks is as wat verwag is.

Dat gesinne en gesinsbediening in die kerk belangrik is, word sterk deur die verstaan van die gesin as hermeneutiese ruimte ondersteun. Die spanning wat adolessente tussen twee hermeneutiese ruimtes (huise) beleef, behoort met sensitiwiteit in oënskou geneem te word.

Dat die enkelouergesin uitgesproke is oor die gemeente wat nie na hulle uitreik en deel vorm van hulle kinders se geloofsvorming nie, moet ondersoek word. Dit geld egter nie net vir enkelouers nie, maar alle ouers in die gemeente.

Die enkelouergesin, as ’n gesinstruktuur, behoort dieselfde status as enige ander gesin te geniet. Dit is egter noodsaaklik dat die kerk sy roeping nakom en enkelouergesinne bystaan sodat hulle optimaal kan funksioneer. Die kerk moet ook daarvan kennis neem dat dit nie net die enkelouergesin is wat uitdagings het nie, maar ook hulle ouers (grootouers) en dat hulle ook ondersteuning nodig het.

Mag die gemeente, die kerk en die geloofsgemeenskap hande vat en hierdie besonderse mense dra op ’n manier dat hulle Christus se liefde en aanvaarding ten volle sal beleef!

Erkennings

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op die skrywer se proefskrif getiteld ‘Inklusiewe bediening aan enkelouergesinne: ’n Intergenerasionele geloofsvorming benadering’ teenoor die graad van Philosophiae Dokter in Praktiese Teologie in die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika, met toesighouers Prof. Malan Nel en Prof. Jacques Beukes, ontvang 2024, dit is hier beskikbaar: http://hdl.handle.net/2263/95289.

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

J.W.S. het bygedra tot die konseptualisering, metodologie, formele ontleding, navorsing en die skryf van die eerste weergawe, projekadministrasie en sagteware. M.N. het as toesighouer bygedra tot die projekadministrasie, die skryf van die artikel, die kontrolering en redigering van die artikel. J.B. het as medetoesighouer bygedra tot die projekadministrasie, die skryf van die artikel en die kontrolering en redigering van die artikel.

Etiese oorweging

‘n Aansoek om volle etiese goedkeuring is by die Universiteit van Pretoria se hersieningsraad ingedien en etiese toestemming is op 29 Augustus 2023 ontvang. Alle prosedures wat uitgevoer is in studies waarby menslike deelnemers betrokke was, was in ooreenstemming met die etiese standaarde van die Universiteit van Pretoria. Skriftelike ingeligte toestemming is verkry van alle individuele deelnemers wat by die studie betrokke was. Die etiese goedkeuringsnommer is: T037/21.

Befondsing

Die outeurs het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Die outeurs bevestig dat die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, binne die artikel beskikbaar is en dat verdere datadeling nie op hierdie artikel van toepassing is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeurs is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Literatuurverwysings

Avenant, J.C., 2011, ‘Die verhouding ouermentoraat, geloofsidentiteit en betrokkenheid van jongmense na belydenisaflegging’, MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Avenant, J.C., 2021, ‘Intergenerasionele geloofsvorming in ’n huis-gefokusde, gemeente-ondersteunde jeugbediening’, PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Avenant, J.C., Nel, M. & Jordaan, J.C., 2021, ‘Die rol van die ouerhuis in die intergenerasionele geloofsvorming van die jeug in belang van ’n geïntegreerde jeugbediening’, Verbum et Ecclesia 42(1), a2250. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2250

Bengtson, V.L., Biblarz, T.J. & Roberts, R.E.L., 2002, How families still matter: A longitudinal study of youth in two generations, Cambridge University Press, New York, NY.

Bengtson, V.L., Putney, N. & Harris, S.C., 2013, Families and faith: How religion is passed on down across generations, Oxford University Press, New York, NY.

Branje, S., 2018, ‘Development of parent-adolescent relationships: Conflict interactions as a mechanism of change’, Child Development Perspectives 12(3), 171–176. https://doi.org/10.1111/cdep.12278

Brierley, P., 1993, Reaching and keeping teenagers, Christian Research Association, London.

Browning, D.S., 2007, Equalilty and the family. A fundamental, practical theology of children, mothers, and fathers in modern societies, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Connors, W.A., 1999, ‘Single parent ministry in the local church’, PhD thesis, Liberty Baptist Theological Seminary.

Dean, K.C., 2010, Almost Christian – What the faith of our teenagers is telling the American church, Oxford University Press, New York, NY.

Dean, K.C. & Foster, R., 1998, The Godbearing life: The art of soul tending for youth ministry, Upper Room Books, Nashville, TN.

Firet, J., 1977, Het agogisch moment in het pastoraal optreden, Kok, Kampen.

Fowler, J.W., 1981, Stages of faith. The psychology of human development and the quest for meaning, Harper Collins Publishers, San Francisco, CA.

Heitink, G., 1999, Practical theology, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Holborn, L. & Eddy, G., 2011, First steps to healing the South African family, South African Institute of Race Relations, Johannesburg.

Kennemur, K., 2018, ‘Nurturing faith in the home: Equipping parents of children to be spiritual leaders’, in C. Shirley (ed.), Family ministry and the church, pp. 173–195, Randal House, Nashville, TN.

Kirgiss, C., 2015, In search of adolescence: A new look at an old idea, The Youth Cartel, San Diego, CA.

Koteskey, R.L., 1991, ‘Adolescence as a cultural invention’, in D. Ratcliff & J.A. Davies (eds.), Handbook of youth ministry, pp. 42–69, REP Books, Birmingham.

Letablier, M. & Wall, K., 2018, ‘Changing lone parenthood patterns: New challenges for policy and research’, in D. Mortelmans & L. Bernardi (eds.), Lone parenthood in the life course, pp. 29–53, Springer International Publishing, Cham.

Louw, A., Louw, D. & Ferns, I., 2007, ‘Adolessensie’, in D. Louw & A. Louw (reds.), Die ontwikkeling van die kind en adolessent, pp. 276–347, Psychology Publications, Bloemfontein.

Marquardt, E., 2005, Between two worlds – The inner lives of children of divorce, Three Rivers Press, New York, NY.

Marquardt, E., 2011, ‘Between two worlds – The inner lives of children of divorce’, Word & World 31(2), 185–191, viewed 29 August 2017, from https://wordandworld.luthersem.edu/content/pdfs/31-2_Slavery_and_Race/31-2_Marquardt.pdf.

Marquardt, E. (ed.), 2013, Does the shape of families shape faith?, Institute for American Values, New York, NY.

Müller, J., 2002, Gesinne van binne, CLF Drukkers, Bloemfontein.

Nel, M., 1982, Jeug en evangelie, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Nel, M., 1994, Gemeentebou, Orion, Halfway House.

Nel, M., 1998, Jeugbediening – ’n Inklusiewe gemeentelike benadering, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.

Nel, M., 2001, ‘The inclusive congregational approach to youth ministry’, in M.H. Senter, W. Black, C. Clark & M. Nel (eds.), Four views of youth ministry and the church: Inclusive congregational preparatory, missional, strategic, pp. 2–22, Zondervan/Youth Specialties, Grand Rapids, MI.

Nel, M., 2018, Youth Ministry: An inclusive missional approach, HTS Religion & Society Series Volume 1, AOSIS, Cape Town.

Nel, M. & Van der Westhuizen, Z., 2015, Skokkend positief: Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse kerkjeug, Bybel-Media, Wellington.

Osmer, R.R., 1990, A teachable spirit: Recovering the teaching office in the church, Westminister John Knox, Louisville, KY.

Osmer, R.R., 1996, Confirmation: Presbyterian practices in ecumenical perspective, Geneva Press, Louisville, KY.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology – An introduction, Wim B. Eerdmans Publisching Company, Grand Rapids, MI.

Osmer, R.R., 2011, ‘Practical theology: A current international perspective’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(2), #Art. 1058, 7 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v67i2.1058

Pieterse, H.J.C., 1993, Praktiese teologie as kommunikatiewe handelingsteorie, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.

Quinn, S.K., 2011, ‘Single parenting and faith: Does it have an influence on their college-aged children’s life outcomes?’, PhD thesis, Liberty University, VA.

Root, A., 2010, The children of divorce – The loss of family as the loss of being, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Rush, S.J., 2012, ‘Single parents in evangelical churches: A study of how evangelical congregations deal with single parenthood’, Durham theses, Durham University, viewed 10 April 2021, from http://etheses.dur.ac.uk/4472/

Scholtz, J.W.K., 2018, ‘Die invloed van twee gesinne as hermeneutiese ruimtes op adolessente se geloofsbelydenis’, MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Scholtz, J.W.K., Nel, M. & Beukes, J., 2024, ‘Inklusiewe bediening aan enkelouergesinne: ‘n Intergenerasionele geloofsvorming benadering’, PhD thesis, Fakulteit Teologie Universiteit van Pretoria.

Sooryamoorthy, R. & Makhoba, M., 2016, ‘The family in modern South Africa: Insights from recent research’, Journal of Comparative Family Studies 47(3), 309–321. https://doi.org/10.3138/jcfs.47.3.309

Statistics South Africa, 2020a, General household survey 2019, viewed 10 April 2021, from http://www.statssa.gov.za/publications/P0318/P03182019.pdf.

Statistics South Africa, 2020b, Marriages and divorces 2018, viewed 10 April 2021, from http://www.statssa.gov.za/publications/P0307/P03072014.pdf.

Strommen, M.P. & Hardel, R.A., 2000, Passing on the faith: A radical new model for youth and family ministry, Saint Mary’s Press, Winona, MN.

Townes, S., 2017, ‘Towards a theology of the single mother’, Seminary Masters Theses, 26, viewed 14 March 2021, from http://digitalcommons.georgefox.edu/seminary_masters/26

Van der Watt, S. & Thesnaar, C., 2005, Verslag aan die Algemene Jeugkommissie van die NGK oor die AJK Familie-Gemeente Projek, in samewerking met BUVTON en die Hugenote Kollege, voorgelê op 16 Mei, besigtig 18 Oktober 2017, vanaf https://studylib.net/doc/8449934/deel-ii--verloop-van-die-fgp-in-2003

Van Gasse, D., 2020, ‘Unfolding the single-parent family’, PhD thesis, University of Antwerpen.

Van Staden, J.M., 2013, ‘Gesinsbediening as bedieningsvennoot tussen gemeentes en gesinne’, PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Van Staden, L.Z., 2020, ‘The church and single parenting: Perceptions and social support’, MA dissertation, University of the Western Cape, Cape Town.

Veldsman, H.J., 2005, ‘Geloofsvorming vanuit ’n familiale perspektief’, MDiac-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Venter, H.V., 2004, ‘Die begeleiding van gesinne in die plaaslike kerk binne die konteks van die postmodernisme: ’n Prakties-teologiese benadering’, MTh-verhandeling, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Wagner-Ferreira, E.C., 2005, ‘’n Empiriese navorsing rakende die bedieningsbehoeftes van die tieners in die NG Gemeente Waverley met spesifieke verwysing na die erediens’, MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Wagner-Ferreira, E.C., 2008, ‘’n Prakties-teologiese ondersoek na die inkleding van die erediens met die doel om die verskillende generasies in ’n gesamentlike familie-erediens aan te spreek’, DTh-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Walker, J.E., 2015, ‘A how-to guide to single-parent ministry: An inside look to the single-parent world in the Christian community’, A senior thesis submitted in partial fulfillment of the requirements for graduation in the Honors Program, Liberty University, Virginia, viewed 11 November 2020, from https://digitalcommons.liberty.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=1594&context=honors

Wallerstein, J.S. & Lewis, J.M., 2004, ‘The unexpected legacy of divorce: Report of a 25-year study in psychoanalytic psychology’, Psychoanalytic Psychology 21(3), 353–370. https://doi.org/10.1037/0736-9735.21.3.353

Wallerstein, J.S., Lewis, J.M. & Blakeslee, S., 2000, The unexpected legacy of divorce – A 25 year landmark study, Hyperion, New York, NY.



Crossref Citations

No related citations found.