About the Author(s)


H.P. Malan van Rhyn Email symbol
Department of Biblical Studies, Faculty of Biblical Studies and Philosophy, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS), Pretoria, South Africa

Citation


Van Rhyn, H.P.M., 2024, ‘’Έρχομαι as wederkomswoord en die telos van die gebruik daarvan in die boek Openbaring’, In die Skriflig 58(1), a3048. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3048

Original Research

’Έρχομαι as wederkomswoord en die telos van die gebruik daarvan in die boek Openbaring

H.P. Malan van Rhyn

Received: 07 Dec. 2023; Accepted: 12 Mar. 2024; Published: 24 Apr. 2024

Copyright: © 2024. The Author Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

’Έρχομαι as a word denoting the second coming in the New Testament and the telos of its use in the book of Revelation. The purpose of this article is to exegetically determine the meaning and use of ἒρχομαι as a word denoting the second coming, in the revelation-historical tradition. A definition of the meaning of ἒρχομαι is formulated after a word study has been done in a diachronic and synchronic way. In this article it is also established what the telos of the revelation of the second coming is, where ἒρχομαι is used in the book of Revelation. The findings of the research are summed in a definition of the meaning of ἒρχομαι as a word denoting the second coming, and which is formulated as follows: It is the physical coming of Jesus Christ with his second coming, from heaven to earth, during which He will appear publicly in power and glory, to judge and to save the faithful. The telos of the revelation of the second coming by means of ἒρχομαι, is determined as the kerugma that God in Jesus is ὁ ἐρχόμενος, coming to mankind; the manner in which He will come; and that his second coming forms an essential part of God’s counsel. A second purpose for proclaiming the second coming, is to state that it is Jesus Christ himself that is coming and to direct the focus of the believers to him. Thirdly, the second coming is proclaimed to call unbelievers to repentance and to encourage believers to stay faithful. The final telos is determined as encouragement for the believers to remain faithful, to take heart in the promise of everlasting life in God’s presence, to pray for the return of Christ and to believe and obey Scripture, the written word of God.

Contribution: By means of exegesis in the revelation-historical tradition, an original theological definition of meaning of ἒρχομαι as a word, denoting the second coming of Christ, is provided and the telos for the revelation of the second coming, by means of ἒρχομαι in the book of Revelation, is determined.

Keywords: ’Έρχομαι; second coming; eschatology telos; Revelations.

Inleiding

Die belydenis dat Jesus Christus gaan terugkeer na die aarde, is ’n belydenis wat so oud is soos die Christendom self. Juis daarom word dit in die mees algemene belydenisskrif, die Apostoliese Geloofsbelydenis, verwoord. Hierdie belydenis oor die wederkoms van Christus het sy oorsprong in God se besondere openbaring in die Nuwe Testament, naamlik dat die Here Jesus met die voleinding weer aarde toe gaan kom. Die openbaring van die heilsgebeure van die wederkoms vorm ’n integrale deel van die openbaring van God in die Nuwe Testament (Van Rhyn 2021a:1). Om die Here aktief uit die hemel te verwag, vorm dus ook ’n integrale deel van die ware geloof (Van Rhyn 2017:60). Die geloof aan die wederkoms van die Here Jesus vorm dus net so deel van die inhoud van die ware geloof as wat die geloof in die Here se sterwe en opstanding deel vorm van die inhoud van die ware geloof. Die wederkoms neem immers ʼn integrale plek in die raadsplan van God in (Van Rhyn 2017:239). Die vervulling van God se beloftes en die voltooiing van God se raadsplan, vind juis gestalte in die wederkoms van die Here Jesus (Van Rhyn 2017:135–136).

Dit is egter opmerklik dat die wederkoms in die Nuwe Testament met verskillende Griekse woorde of sinsnedes weergegee word. Die vernaamste woorde waarmee die wederkoms gewoonlik weergegee word, is ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις, ἐπιφάνεια, ἒρχομαι, ἡμέρα, παρουσία en φανερόω (Van Rhyn 2017:30). Nie een van hierdie woorde kan egter direk met wederkoms vertaal word nie (Van Rhyn & Jordaan 2020:1), maar elkeen verwys in spesifieke kontekste na dieselfde heilsgebeurtenis, naamlik die terugkoms van die Here Jesus in heerlikheid (Van Rhyn 2021a:1).

Die resultaat van navorsing oor waarom daar verskillende wederkomswoorde in die oorspronklike taal gebruik word om dieselfde saak weer te gee, behoort insiggewend te wees. Daar is reeds in ’n vorige artikel (Van Rhyn & Jordaan 2020:1) voorgestel dat dit nodig is om ondersoek in te stel of die gebruik van die verskillende woorde hiervoor ’n saak van willekeur is en of elkeen van hierdie woorde nie dalk ʼn spesifieke aspek of aspekte van die wederkoms belig nie. Die moontlikheid dat verskillende openbaringsdoelwitte in die gebruik van die verskillende woorde opgesluit mag lê, moet dus openbaringshistories ondersoek word (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).

Die eerste stap van só ’n ondersoek sou wees om ʼn deurtastende woordstudie van elkeen van hierdie betrokke wederkomswoorde te doen. Met ’n betekenisdefinisie word bedoel ‘’n sistematiese samevatting van die teologiese betekenis van die betrokke woord, soos blyk uit die verskillende kontekste waarin die woord in die Nuwe Testament gebruik word’ (Van Rhyn 2021b:1).

Deur aan die einde van die navorsingsproses die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar te vergelyk, kan vasgestel word of daar nuanseverskille in die betekenis van hierdie woorde opgesluit lê. Voorts kan ook vasgestel word wát die implikasies van die moontlike verskille vir die verstaan van die wederkomsopenbaring is (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).

Daar is alreeds met so ’n proses begin, en ’n betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord is daargestel (Van Rhyn & Jordaan 2020:8). Die proses is nog verder gevoer, deur ’n betekenisdefinisie van ἐπιφάνεια daar te stel (Van Rhyn 2021b:4–5). Die proses is nóg verder gevoer deur ook ’n betekenisdefinisie van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις te formuleer (Van Rhyn 2021a:6). Die nuutste toevoeging tot hierdie navorsingsproses, is ’n betekenisdefinisie van φανερόω (Van Rhyn 2024:5).

Die doel van hierdie artikel is dus om die proses van eksegetiese navorsing oor die wederkomswoorde in die Nuwe Testament voort te sit, deur op ἒρχομαι te fokus. Wanneer al die woordstudies afgehandel is, kan daar in ’n finale artikel ’n vergelyking getref word tussen die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde. Verder het die artikel ten doel om die navorsing van die eerste afdeling te kontekstualiseer, deur eksegeties die gebruik van ἒρχομαι as wederkomswoord in die boek Openbaring na te gaan.

Die navorsing in hierdie artikel word in die reformatoriese tradisie gedoen, deur openbaringshistories en eksegeties te werk te gaan. Die uiteindelike doelwit van die navorsingsproses, waarvan hierdie artikel ’n onderdeel vorm, is om die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar te vergelyk, om sodoende ooreenkomste en verskille in die betekenis en die gebruik van die woorde te identifiseer.

In die eerste afdeling van die artikel word ’n betekenisdefinisie van ἒρχομαι as wederkomswoord geformuleer. In die tweede deel van die artikel word die gebruik van ἒρχομαι as wederkomswoord in die Openbaring aan Johannes nagegaan, om kursories vas te stel wat die telos [openbaringsdoelwit(te)] van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἒρχομαι in hierdie Bybelboek is. Sodoende word die resultaat van die navorsing in die eerste afdeling in die tweede afdeling gekontekstualiseer en in eksegese toegepas. Die tweede deel van die ondersoek kan ongelukkig, weens die beperkte aard van die artikel, nie in die hele Nuwe Testament gedoen word nie. Aangesien die wederkoms in Openbaring ’n deurlopende tema is, word hierdie Bybelboek gekies.

Die woordstudie word volgens die metode wat Janse van Rensburg et al. (reds. 2011:160–173) voorstel, in twee afdelings afgehandel. Eerstens word ʼn diakroniese woordstudie gedoen, wat die ontwikkeling van die betekenis en die gebruik van ἒρχομαι deur die eeue probeer vasstel. Daarna volg ʼn sinkroniese woordstudie, wat die betekenis en gebruik van die woord in die Nuwe Testament en die vroeg-Christelike era probeer vasstel.

Woordstudie van ἔρχομαι

Diakroniese woordstudie
Theological dictionary of the New Testament (TDNT)

In die TDNT pak Schneider (1964:666–684) ’n diakroniese studie oor die betekenisgebruike van die woord ἔρχομαι aan. Hy ondersoek die gebruik van ἔρχομαι deur die eeue in kultusse, die Septuagint, die Nuwe Testament en die Joodse tradisie. Uit sy deeglike studie blyk die volgende:

Volgens Schneider (1964:666) is die algemene gebruik van ἔρχομαι om die kom of die gaan van mense, dinge of gebeure aan te dui.

Die kultiese gebruik van ἔρχομαι, veral in antieke gebede, is egter van besondere belang. Die teenwoordigheid van die godheid is opgesoek met ʼn tipiese formule ἐλθέ of ἐλθέ μοι, saam met die naam van die god of ʼn kenmerk van die god in die vokatief. ‘By the invocation ἐλθέ μοι the god is brought down in order to fulfil what are usually the very egotistic desires of man’ (Schneider 1964:666).

In die Septuagint (LXX) word ἔρχομαι vir 35 Hebreeuse woorde gebruik, maar meestal vir בּוֹא. Dit is belangrik dat die woord ook gebruik word om die koms van God, sy Woord, sy engele of sy profete aan te dui, maar nog belangriker vir die artikel: ‘It is used especially of the coming of the Messiah … The Messiah is ὁ ἐρχόμενος ἐν ὀνόματι κυρίου …’ (Schneider 1964:667). ’Έρχομαι word egter ook gebruik om die koms van die Satan aan te dui (Job 2:1).

Wat ook vir hierdie studie van belang is, is dat ἔρχομαι in die Septuagint gebruik word om die aanbreek van eskatologies-beslissende dae mee aan te dui, veral in die Psalms en die Profete.

In die Nuwe Testament het ἔρχομαι die algemene betekenis van kom en gaan. Dit stem ooreen met die gebruik in ander Griekse literatuur. Schneider (1964) meld:

It is used indifferently of persons and things. The coming often has the sense of appearing, of coming forward publicly, of coming on the scene. It is often used of decisive events, of happenings, of natural phenomena, also of conditions etc. (e.g., τὰ σκάνδαλα, τὰ ἀλαθά). (p. 667)

Die begrip het egter ook in die Nuwe Testament ʼn besondere betekenis wanneer dit aan die eerste of die tweede koms, die geboorte of die wederkoms, van Jesus Christus verbind word.

In die Sinoptiese Evangelies word ἔρχομαι gebruik om die koms van Jesus na mense aan te dui, soos Schneider (1964) verder aandui:

The statements characterised by ἔρχεσθαι in the figurative sense lead us to the very heart of the early Christian message of salvation. They speak of Jesus the Messiah, of the nature of His appearing, of the position of men in relation to Him and of the decision to proclaim Him. The word belongs to the circle of ideas connected with the divine epiphany (→ ἐπιφάνεια). (p. 668)

Hierdie gebruik van ἔρχομαι is dus van besondere belang vir hierdie artikel.

’n Volgende belangrike gebruik van ἔρχομαι kom voor waar Jesus in die eerste persoon van Homself praat en daarmee sy Messiaanse roeping aandui. Hy stel dit soms positief met ἦλθον [Ek het gekom om …] en soms negatief met οὐκ ἦλθον [Ek het nie gekom om …]. Schneider (1964:668) groepeer die uitsprake onder die sogenaamde ἦλθον-gesegdes. Met hierdie uitsprake dui Jesus sy sekerheid oor sy roeping aan en dit verwys gewoonlik na sy eerste koms.

Die begrip ἔρχομαι word ook verbind aan die eskatologiese koms van die koninkryk van God. In die ‘Onse Vader-gebed’ het Jesus sy dissipels leer bid: Laat u koninkryk kom (Matt 6:10; Luk 11:2).

Veelseggend vir hierdie artikel, is dié uitspraak van Schneider (1964):

Lk. 23:42 … rests on the certainty that the coming of the kingdom of God is linked with the parousia of Christ. The kingdom of God is the kingdom of the Messiah. Jesus comes in and with His kingdom (Mt 16:28; Lk. 23:42 א AC al). (p. 670)

In die Joodse tradisie is die eskatologiese koms van die Messias verwoord deur na die Messias te verwys as Hy wat kom of die komende Een, wat met sy koms die tyd van verlossing inlei. Schneider (1964) stel dit treffend:

In references to the coming of Jesus in His Messianic glory the early Christian tradition borrows from Apocalyptic. Jesus is the promised Messiah who at the end of the days will come in great power and glory (Mt. 16:27; 25:31 and par.) on the clouds of heaven (Mt. 24:30; 26:64 and par.). (p. 670)

Op die vraag oor wanneer die wederkoms sal plaasvind, is die antwoord dat die tydstip onbekend is vir mense, maar dat Jesus skielik sal kom en dat sy koms voorafgegaan sal word deur vals profete, wat sal voorgee dat hulle die Messias is.

Die woord ἔρχομαι word ook gebruik om aan te dui dat God gaan kom om te oordeel (Schneider 1964:670).

Die koms van dae van besluitneming word ook deur ἔρχομαι aangedui. In hierdie verband verwys Schneider (1964:671) na ʼn hele paar uitsprake van Jesus wat ingelui word met die formule: Daar sal dae kom (ἐλευσονται ἡμέραι). Hierdie uitsprake kom veral in Lukas voor (17:22; 21:6; 23:29), maar ook in Matteus (9:15).

In die Johanneïse geskrifte word ἔρχομαι soos volg gebruik: In die Evangelie volgens Johannes is die teologiese inhoud van die ἔρχεσθαι-gesegdes, volgens Schneider (1964:671), nog meer prominent as in die Sinoptiese Evangelies. Jesus se getuienisse van homself (self-attestations) is meer talryk in die Evangelie volgens Johannes as in die ander Evangelies. Johannes gebruik dit ook meer polemies en om die ware beeld van Jesus te stel teenoor die valse beeld. Johannes gebruik die terme ἐγὼ ἦλθον of ἐγὼ ἐλήλυθα.

Schneider (1964) maak ʼn opmerking wat sekerlik net so sterk vir Jesus se tweede koms geld as vir sy eerste koms:

The basis of His Messianic claim is the certainty: οἶδα πόθεν ἦλθον καὶ ποῦ ὑπάγω (8:14). His coming rests on His divine mission (8:42). Here is the foundation of His claim (I, 444 f.). He does not come in His own name, but in the name of the Father (5:43). (p. 671)

Verder, volgens Schneider (1964:671), het die Christus in Johannes se Evangelie-beskrywing met sy eerste koms net een doel, en dit is om die kosmos van vernietiging te red, wat sou volg op die vervreemding van God (12:47).

Schneider (1964:673) meen Johannes gebruik die woorde ‘ἔχεται’ en ‘ἦλθεν’ om die gebeure rondom die verskynings van Jesus na sy opstanding uit die dood in te lui.

Die wederkoms van Jesus Christus word ook in die Evangelie volgens Johannes aan die hand van ἔρχομαι aangedui. In Jesus se selfgetuienis in Johannes 14:3, waar Hy daarop wys dat Hy weer gaan kom, gebruik Hy die frase ‘πάλιν ἔρχομαι’. In Johannes 21:22 is daar ʼn duidelike verwysing na die wederkoms van Jesus in die sin van sy eskatologiese wederkoms as die Christus. Tussen sy eerste en sy tweede koms, lê die koms van die παράκλητος, die Heilige Gees as Parakleet. Schneider (1964) meen tereg:

The coming of the Paraclete implies an unbroken continuity of the coming of Jesus. The only point is that the form of coming has changed, the personal coming being replaced by a pneumatic. (p. 673)

Dit is daarom duidelik dat ἔρχομαι spesifiek ook gebruik word om Jesus se wederkoms aan te dui.

In die briewe van Johannes is sprake van die koms van Christus, maar ook van die Antichris, wie se koms ʼn teken genoem word van die laaste uur (1 Joh 2:18; vgl. 4:3). In Johannes se briewe val die klem op die feit dat Jesus Christus in die vlees gekom het, as ʼn reaksie teenoor die docetisme: Ἰησοῦς Χριστὸς ἐν σαρκὶ ἐληλυθώς (1 Joh 4:2; 2 Joh 7) (Schneider 1964:674).

In Openbaring word God se wese en in die besonder ook sy ewigheid, volgens Schneider (1964:674), beskryf met: ὁ ὢν καὶ ὁ ἦν καὶ ὁ ἐρχόμενος (Op 1:4, 8; 4:8; vgl. ook 11:17). Daar is egter veel meer as net God se ewigheid hier ter sprake soos Schneider aanvoer. As hy reg was, sou hier goedskiks kon staan: ‘Hy wat is en wat was en wat sal wees’. Teen alle verwagting in staan hier nie sal wees nie, maar Hy wat kom, ὁ ἐρχόμενος, wat definitief ʼn eskatologiese karakter het. Schneider bly hier in gebreke om aan te toon dat ἔρχομαι (ὁ ἐρχόμενος) daarop dui dat dit God is wat in Jesus Christus mens word en wat ook weer in Hom sal kom.

Volgens Schneider (1964) het Johannes egter ʼn vroeë wederkomsverwagting, met ander woorde Johannes het die weerkoms van die Here in sy eie leeftyd verwag:

The author expects the speedy return of Christ. The exalted Lord says to the churches: ἔρχομαί σοι (2:5; ταχύ, 2:16; 22:20). The Church of Christ lives in yearning expectation of His coming again (22:17, 20). The prayer for the coming of Christ is strengthened by the words: ἀμήν, ἔρχου κύριε Ἰησοῦ (22:20). (p. 674)

Die vraag moet egter gevra word of die mening geldig is dat Johannes ’n frühe Erwartung van die wederkoms het en of gereedheid vir die wederkoms, nie eerder hier beklemtoon word nie. Schneider se standpunt strook ook nie met die belydenis dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is nie. Die Woord self wys immers so ’n vroeë verwagting af in 2 Tessalonisense 2.

Oor die wyse van Jesus se koms, word in Openbaring gestel dat Hy so onverwags soos ʼn dief kom (16:15) en dat Hy met die wolke kom (1:7). Schneider (1964) stel dit duidelik:

For the rest, the ἔρχεσθαι sayings describe the eschatological situation, namely, the coming of judgment on the one hand (6:17; 11:18; 14:7, 15; 18:10) and on the other the coming of the Messianic age of joy in all the glory of its consummation (19:7), this being preceded by the Messianic tribulation (3:10; cf. 7:14). (p. 674)

In Paulus se briewe word daar baie meer aandag gegee aan Jesus se tweede koms (wederkoms) as aan sy eerste koms (menswording). Laasgenoemde word, volgens Schneider (1964:674), slegs in 1 Timoteus 1:15 en Efesiërs 2:17 genoem.

Schneider (1964:674) maak dan die volgende aanvegbare stelling: ‘Paul lives in expectation of the imminent coming again of Christ (1 C. 4:5)’. Indien Schneider met imminent bedoel dat Paulus gedink het dat die Here binnekort sou kom, dat Paulus dus ʼn vroeë wederkomsverwagting gehad het, kan daar nie met hom saamgestem word nie – op grond van dieselfde redes waarom ʼn vroeë wederkomsverwagting by Johannes hierbo afgewys is. Indien Schneider egter bedoel dat Paulus ʼn sterk wederkomsverwagting gehad het, en dat die wederkoms sy denke gevul het, en dat hy gereedheid daarvoor bevorder het, kan daar met hom saamgestem word op grond van die Skrifgedeeltes waarna Schneider (1964) self verwys:

Distinctive is the Aramaic petition μαράνα θᾶ (1 C. 16:22). The Pauline account of the Lord’s Supper contains a reference to Christ’s return (1 C. 11:26). The death of Christ is to be proclaimed ἄχρι οὗ ἔλθῃ. Christ will come suddenly like a thief in the night (1 Th. 5:2). But He will come in all his Messianic glory (2 Th. 1:10). The time of salvation is the time which brings in what is perfect and does away what is in part (1 C. 13:10). The wrath of God will fall on unbelievers (Col. 3:6; Eph. 5:6). The appearing of Christ will be preceded by apostasy and the manifestation of the man of sin (2 Th. 2:3). (p. 674)

Daar moet dus onderskei word of Paulus die wederkoms binnekort verwag (waarteen hy juis in 2 Tessalonisense 2 standpunt inneem) en of hy gereedheid vir die wederkoms beklemtoon.

In die ander Nuwe-Testamentiese boeke (uitgesonderd die Evangelies, Johannes se geskrifte en Paulus se geskrifte) is die eskatologiese gebruik van ἔρχομαι oorheersend, aldus Schneider (1964:675).

Samevattend kan die volgende oor Schneider se navorsing, wat vir die artikel ter sake is, gesê word: Die gebruik van ἔρχομαι dui op die algemene kom en gaan van mense, dinge of gebeure. Dit word gebruik om al drie Jesus se komste mee aan te dui: sy menswording, die uitstorting van sy Gees en sy wederkoms. Hierdie woord word dikwels in eskatologiese sin gebruik en veral dan om die wederkoms van Jesus Christus mee aan te dui. Paulus gebruik die woord uitsluitlik só, in verband met die wederkoms, op twee uitsonderings na. Wanneer ἔρχομαι met betrekking tot die wederkoms gebruik word, lê die betekenis daarin opgesluit dat Hy liggaamlik kom en teenwoordig sal wees en dat Hy spesifiek na sy mense toe kom, om by hulle te wees. Voorts is die idee dat Jesus in heerlikheid kom, dat Hy as God kom en dat Hy verlossing bring, ook in die betekenis van die woord opgesluit. Die woord ἔρχομαι word ook gebruik om die aanbreek of die koms van die wederkoms of die gepaardgaande oordeel aan te dui.

Sinkroniese woordstudie
BDAG

Teoloë gebruik die naam ‘BDAG’ wanneer daar na die Grieks-Engelse leksikon van die Nuwe Testament en ander vroeë Christelike literatuur verwys word (Bauer et al. 2000). Die BDAG onderskei die volgende betekenisgebruike van ἔρχομαι:

  • of movement from one point to another, with focus on approach from the narrator’s perspective, come
  • to proceed on a course, with destination in view, go
  • to change place or position, with implication of being brought, be brought
  • to take place, come
  • ἔρχομαι in various prepositional combinations. (pp. 393–395).

Slegs die eerste betekenisgebruik word deur die BDAG self met die wederkoms in verband gebring.

Volgens die BDAG (Bauer et al. 2000:393–395) word ἔρχομαι onder andere gebruik in die betekenis van om nader te kom, om beweging van een punt na ʼn ander aan te dui, om te kom. Die woord kan verwys na die beweging of na die feit dat iemand in die openbaar verskyn.

Wanneer ἔρχομαι met Jesus as handelende persoon gebruik word, kan dit op sy eerste koms dui toe Hy van die hemel af op aarde aangekom het, by sy geboorte, en as mens in die openbaar verskyn het. Dit kan egter ook na sy wederkoms verwys, wanneer Hy vir ʼn tweede keer van die hemel af sal kom en in die openbaar sal verskyn. Hierdie verskyning word gewoonlik met krag en met heerlikheid verbind.

Die ander betekenismoontlikhede (2–4) wat die BDAG (Bauer et al. 2000:393–395) aandui, word nie deur die BDAG met Jesus se wederkoms verbind nie.

’Έρχομαι kan dus dui op Jesus se wederkoms, sy koms van die hemel af om op aarde in die openbaar te verskyn. Hierdie verskyning is in krag en in heerlikheid.

Louw en Nida

Louw en Nida (eds. 1996b:105) gee in die Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains die volgende vertalingsmoontlikhede vir ἒρχομαι: ‘ἒρχομαι, (impf ἠρχόμην, fut ἐλεύσομαι, aor ἦλθον, ἦλθα, inf ἐλθεῖν, pf ἐλήλυθα):

  • go, come (15.7)
  • come (15.81)
  • become (13.50)
  • happen to (13.117).

Dit is duidelik dat slegs ‘go, come (15.7)’ en ‘come (15.81)’ moontlik ter sake mag wees vir hierdie studie.

Beide betekenismoontlikhede word by die domein 15 Linear Movement (Louw & Nida 1996a:181–211) ingedeel. Die domein word voorafgegaan deur domein 14: physical events and states, wat hoofsaaklik oor weerverskynsels soos wind, reën en donderweer handel. Domein 15 word opgevolg deur domein 16: non-linear movement, wat veral gaan oor woorde wat beweging aandui sonder dat daar van plek verwissel word. Al wat uit hierdie vergelyking duidelik word, is dat ἒρχομαι saam met woorde gegroepeer is wat beweging aandui, wat dus op verwisseling van plek dui.

Die woord ἒρχομαι word in twee sub-domeine ingedeel, naamlik:

  • sub-domain A, ‘Move, Come/Go (15.1–15.17)’
  • sub-domain F, ‘Come, Come To, Arrive (15.81–15.87)’.

Die vergelyking van sub-domein A en sub-domein F waarin ἒρχομαι geplaas is, met die ander subdomeine, lewer nie ʼn beduidende bydrae tot hierdie studie nie, waarskynlik omdat ἒρχομαι met die betekenis van die wederkoms van Christus glad nie aan die orde gebring word nie. Dit is ook opvallend dat ἒρχομαι nie in sub-domein G return gegroepeer word nie.

Die eerste betekenismoontlikheid van ἒρχομαι word deur Louw en Nida (1996a) soos volg weergegee:

15.7 ἔρχομαιa: to move from one place to another, either coming or going – ‘to come, to go’. ἦλθεν εἰς πᾶσαν τὴν περίχωρον τοῦ Ἰορδάνου ‘so he went throughout the whole territory of the Jordan River’ Lk 3:3; μήτι ἔρχεται ὁ λύχνος ἵνα ὑπὸ τὸν μόδιον τεθῇ ἢ ὑπὸ τὴν κλίνην; ‘a lamp certainly doesn’t come in order to be put under a bowl or a bed, does it?’ Mk 4:21. Note that in Mk 4:21 the subject of ἔρχεται is not something that would normally move by its own force but would need to be brought. Accordingly, in a number of languages it is necessary to say ‘no one brings a lamp …’. (p. 183)

Daar word by die betekenismoontlikheid ʼn voetnoot aangeheg wat daarop wys dat ἒρχομαι op twee taksonomiese vlakke binne die domein van liniêre beweging voorkom (Louw & Nida 1996a:183). Die eerste vlak is generies, wat beide kom en gaan insluit. Die tweede is om te kom, in teenstelling met om te gaan.

Indien ἒρχομαι met die ander 16 woorde in 15.1–15.7 vergelyk word, wat almal te make het met beweging van een plek na ʼn ander, lewer dit nie juis ʼn bydra tot die studie nie, waarskynlik omdat die moontlike betekenis van wederkoms nêrens aangedui word nie.

Louw en Nida (1996a) gee die tweede vertalingsmoontlikheid van ἒρχομαι soos volg weer:

15.81 ἔρχομαιb; ἔλευσις, εως f: to move toward or up to the reference point of the viewpoint character or event – ‘to come, coming’.16 ἔρχομαιb: σὺ εἶ ὁ ἐρχόμενος ἢ ἕτερον προσδοκῶμεν; ‘are you the one who was going to come, or should we expect another?’ Mt 11:3; μὴ νομίσητε ὅτι ἦλθον βαλεῖν εἰρήνην ἐπὶ τὴν γῆν ‘don’t think I came to bring peace on the earth’ Mt 10:34. (p. 193)

Weereens is daar ʼn voetnoot (Louw & Nida 1996a:193) wat aandui dat hierdie betekenis meer beperk is as die vorige. Waar die eerste betekenis kom of gaan kan beteken, kan die tweede betekenis slegs kom beteken. Die wederkoms van Jesus moet waarskynlik by hierdie tweede betekenis ingedeel word, aangesien Jesus gaan kom om nooit weer weg te gaan nie.

Indien die betekenis van ἒρχομαι vergelyk word met die betekenis van die ses ander woorde in F, 15.81–15.87, lewer die vergelyking geen noemenswaardige bydrae tot die studie nie. Opvallend is egter dat παρουσία by 15.86 ingedeel word, en dat daar derhalwe ʼn nou verwantskap in betekenisgebruik is tussen ἒρχομαι en παρουσία. Beide woorde het te doen met kom, aankom by en arriveer.

Dit is opvallend dat Louw en Nida by nie een van die twee toepaslike betekenismoontlikhede van ἒρχομαι enige melding maak van die spesifieke gebruik om die wederkoms van Jesus Christus aan te dui nie.

Al wat dus uit Louw en Nida se navorsing afgelei kan word, is die volgende: ’Έρχομαι en παρουσία is op ʼn semantiese vlak nou aan mekaar verbonde. ’Έρχομαι dui die aankoms aan van iemand wat van ʼn ander plek af gekom het. Indien dit op die wederkoms toegepas word: Jesus Christus kom vanuit die hemel op die aarde aan.

The Baker Expository Dictionary of Biblical Words

Strauss en Longman (eds. 2023:165–166) toon in The Baker Expository Dictionary of Biblical Words aan dat ἔρχομαι beweging van een plek na ’n ander aandui en op die aankoms of vertrek, eerder as die kom en gaan dui. In die Nuwe Testament word ἔρχομαι veral in verhalende stof gebruik wanneer die plek of die situasie verander, byvoorbeeld in Markus 5:1 waar daar staan dat Jesus en sy dissipels by die ander kant van die see aangekom het.

Die woord ἔρχομαι word ook dikwels gebruik in die sin dat mense na Jesus toe moet kom, bedoelende dat hulle Hom moet volg. So gee Jesus byvoorbeeld die lewe aan hulle wat na Hom toe kom (Joh 5:40).

Die Here Jesus openbaar ook sy identiteit as Messias aan die hand van ἔρχομαι. In Matteus 11:3 vra Johannes die Doper aan Hom of Hy die een is wat moes kom, waarop Jesus positief antwoord, deur te verwys na die tekens en wonderwerke wat Hy gedoen het.

Van belang vir hierdie artikel, is dat ἔρχομαι prominent in eskatologiese kontekste gebruik word, aldus Strauss en Longman (eds. 2023):

In Revelation 1:4, 8; 4:8 Christ is called ‘the one who is to come’ (ho erchomenos). At the ascension the disciples are told that Jesus will come in the same way they saw him go (Acts 1:11). Similarly, warnings about events in the last days are issued using erchomai, as in 2 Peter 3:3, ‘Scoffers will come in the last days to scoff’, and Ephesians 5:6, ‘God’s wrath is coming’. (pp. 165–166)

Daar kan ongelukkig nie met Strauss en Longman saamgestem word dat Openbaring 1:4, 8 en 4:8 ’n verwysing na Christus is nie. Die redes hiervoor word in die bespreking van hierdie tekste hieronder aangevoer.

Uit Strauss en Longman (eds. 2023:165–166) se navorsing kan afgelei word dat ἔρχομαι ’n sterk eskatologiese woord kan wees in sekere kontekste, en ook ’n woord om Jesus se wederkoms mee te verwoord.

Samevattende konklusie oor die woordstudie

Die gebruik van ἔρχομαι dui op die algemene kom en gaan van mense, dinge of gebeure. Dit word met verwysing na al drie Jesus se komste gebruik: sy menswording, die uitstorting van sy Gees en sy wederkoms. Die woord word dikwels in ʼn eskatologiese sin gebruik, spesifiek om die wederkoms van Jesus Christus aan te dui. Die betekenisgebruik van ἔρχομαι sluit in dat Jesus van die hemel af sal kom om op aarde in die openbaar te verskyn. Hierdie verskyning is in krag en in heerlikheid. Hy kom liggaamlik as God om verlossing te bring en om te oordeel.

Die woorde ἒρχομαι en παρουσία is op ʼn semantiese vlak nóú aan mekaar verbonde.

Betekenisdefinisie van ἒρχομαι as wederkomswoord

Op grond van die samevattende konklusie, kan die volgende betekenisdefinisie van ἒρχομαι geformuleer word wanneer dit in verband met die wederkoms gebruik word: Dit is die liggaamlike koms van Jesus Christus met sy wederkoms, van die hemel af na die aarde, waartydens Hy in die openbaar sal verskyn in krag en heerlikheid, om te oordeel en om die gelowiges te verlos.

Die telos van die openbaring van die wederkoms aan die hand van ἒρχομαι in Openbaring

In hierdie afdeling word die gebruik van ἒρχομαι nagegaan en word openbaringsdoelwitte, waar hierdie begrip in verband met die wederkoms gebruik word, in die boek Openbaring geïdentifiseer. Die eksegese word volgens die grammaties-historiese metode gedoen. Aangesien die ruimte beperk is, kan die eksegese slegs kursories gedoen word.

Die begrip ἒρχομαι word 642 keer en in 24 boeke in die Nuwe Testament gebruik (vgl. Wigram & Winter 1978:301–306). Dit is dus ʼn redelike algemene woord en daar kan verwag word dat by die groot meerderheid van gevalle waar die woord gebruik word, dit nie spesifiek na die wederkoms verwys nie. Gesien in die lig van die groot aantal kere wat ἒρχομαι in die Nuwe Testament voorkom, word daar vir die doeleindes van hierdie afdeling van die artikel slegs op Skrifgedeeltes in die Openbaring aan Johannes gefokus, waar Jesus Christus die handelende Persoon is en waar die wederkoms self ter sprake is. Die ruimte ontbreek om byvoorbeeld verwysings na die oordeel wat kom, te bespreek. In ’n moontlike opvolgartikel sou die gebruik van ἒρχομαι as wederkomswoord in die res van die Nuwe Testament nagevors kon word.

Openbaring 1:4–8

In hierdie verse, wat deel vorm van die inleiding tot die boek Openbaring, word God bekend gestel as ὁ ὢν καὶ ὁ ἦν καὶ ὁ ἐρχόμενος, [Hy wat is en wat was en wat kom]. Hierdie is ʼn beskrywing van God die Vader, aangesien die beskrywing van die Heilige Gees in die laaste deel van 1:4 volg, en die beskrywing van Jesus Christus in 1:5 (Du Rand 2007:126). Hierdie beskrywing van God word in 1:8 en in 4:8 herhaal (Fee 2011:6). ‘O ἐρχόμενος is dus, anders as wat Strauss en Longman (eds. 2023:165) beweer, nie hier ‘n direkte verwysing na Jesus Christus wat weer kom nie, maar ʼn beskrywing van God die Vader wat in mense se situasie inkom en alles nuut kom maak (König 2009:108). Hy kom om verlossing en oordeel te bring (Du Rand 2007:126). Dit stem ooreen met die betekenisdefinisie in 2.4 hier bo.

Aangesien God ʼn drie-enige God is, behoort daar nie ʼn skeiding gemaak te word tussen die werk van die Vader en die Seun nie, maar kan daar wel onderskeid getref word. Volgens Allen (2010:531–532), is ὁ ἐρχόμενος ʼn Christologiese titel wat 17 keer in die Nuwe Testament voorkom, waarvan ses gevalle na Jesus se menswording verwys en agt gevalle na sy wederkoms. Dit beklemtoon dus die eenheid tussen die Vader en die Seun. Deur die Vader as ὁ ἐρχόμενος te beskryf in 1:4, 8 en 4:8, word gelowiges daaraan herinner dat dit God is wat mens geword het met die geboorte van Jesus Christus; dat dit Hy is wat ook in Jesus Christus weer gaan kom. Hy is ὁ ἐρχόμενος. Om aan die kom te wees na mense toe, is deel van die wese van God. Sy finale koms na die mense toe met Christus se wederkoms, om alle dinge te kom voleindig (Groenewald 1986:34), kan dus nie losgemaak word van die wese van God nie. ‘Die koms van God word werklikheid in die koms van die Messias’, aldus Groenewald (1986:37).

Die enigste direkte verwysing na die wederkoms in Openbaring 1:4–8 is in 1:7, Ἰδοὺ ἔρχεται μετὰ τῶν νεφελῶν [Kyk, Hy kom met die wolke]’. Hierdie wederkomsaankondiging is ook die tema-aankondiging van die boek Openbaring (Du Rand 2007:128; Groenewald 1986:37).

Die Een wat kom (1:7) word soos volg beskryf: Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees die Almagtige God (1:4, 5, 8). Hy is Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene van die dooies en die heerser oor die konings van die aarde (1;5). Hy is die Een vir wie ons liefhet en Hy het ons deur sy bloed van ons sondes verlos (1:5). Hy het ons ʼn koninkryk gemaak van priesters vir God, sy Vader en aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig (1:6). Op Hóm word ons aandag gevestig met Ἰδοὺ ἔρχεται μετὰ τῶν νεφελῶν … Dit beteken eintlik [Kyk op na bo, daar kom Hy!] (König 2009:113).

Jesus Christus se koms word soos volg beskryf in Openbaring 1:7:

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom treur. Ja, amen!

Indien die donker tyd van heftige vervolging van die eerste lesers in ag geneem word (Groenewald 1986:18), is die aankondiging van die wederkoms van Jesus Christus ʼn verlossingsaankondiging (vgl. König 2009:112) om hulle te vertroos en te bemoedig om te volhard in die geloof. God ‘borg … die toekoms deur die wederkoms van sy Seun’ (Du Rand 2007:103). Openbaring 1:7 bevat ook ʼn duidelike waarskuwing vir die ongelowiges om hulle te bekeer voordat Jesus Christus weer kom.

Openbaring 2:5

Daar bestaan ʼn verskil van mening of Jesus Christus se koms hier verwys na sy koms om in die tyd voor die wederkoms te kom oordeel (vgl. Groenewald 1986:50), en of hier van oordeel sprake is voor én tydens die wederkoms (vgl. Du Rand 2007:156). Daar kan egter met laasgenoemde se standpunt saamgestem word. Dit lyk asof die oordeel reeds die gemeente van Efese getref het soos Groenewald en Du Rand aantoon, maar die gemeente sal ook weer met die wederkoms geoordeel word soos Du Rand aandui.

Beale (1999) versoen die twee standpunte, deur daarop te wys dat Jesus met oordeel en verlossing kom, in die tyd, maar dat alles deel is van sy finale koms wanneer Hy met sy wederkoms kom. Beale (1999) beskryf dit duidelik:

Therefore, Christ’s ‘coming’ in 1:7 and elsewhere in the Apocalypse is understood better as a process occurring throughout history; the so-called ‘second coming’ is actually a final coming concluding the whole process of comings. (p. 198)

Die doel van die openbaring van die wederkoms is baie duidelik ʼn oproep tot bekering. Die rede vir die oproep tot bekering word in Openbaring 2:4 weergegee: ‘Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde verwerp het’. Die liefde waarna hier verwys word, is liefde tot God, maar ook liefde onder mekaar (Mounce 1997:69). Waar die liefde vir God en vir medegelowiges verflou, loop ʼn gemeente die gevaar dat sy bestaan deur God beëindig sal word (Op 2:5) (Groenewald 1986:50).

Openbaring 2:16

Ook in hierdie geval bestaan daar ʼn verskil van mening of Jesus Christus se koms verwys na sy koms om in die tyd voor die wederkoms te kom oordeel (vgl. Du Rand 2007:175), en of hier van oordeel sprake is voor én tydens die wederkoms (vgl. Groenewald 1986:56). Daar kan met laasgenoemde standpunt saamgestem word. Die oordeel kan ʼn gemeente voor die wederkoms tref, maar die gemeente sal ook weer geoordeel word met die wederkoms soos Groenewald (1986:56) en Beale (1999:198) duidelik aantoon.

In sy brief aan Pergamum, waarsku Jesus Christus hulle om hulle te bekeer; so nie, sal Hy gou na hulle toe kom en teen die skuldiges met die swaard van sy mond, oorlog maak (Op 2:16). Die rede vir die oproep tot bekering is, omdat sekere van die gemeentelede die leer van Bileam aangehang het (Op 2:14) en ander die leer van die Nikolaïete (Op 2:15). ‘In figuurlike sin kom die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïete neer op afgodery en onsedelikheid (Op 2:14 –15)’ (Du Rand 2007:174).

Openbaring 3:11

Daar bestaan ʼn verskil van mening of Jesus Christus se koms hier na sy koms in die tyd voor die wederkoms verwys (vgl. Du Rand 2007:175), en of hier van ʼn koms sprake is voor én tydens die wederkoms (vgl. Du Preez 1992:69). Daar kan egter met Du Preez (1992:69) saamgestem word: ‘Hy kom vooraf op allerlei maniere na sy kerk. En Hy kom ook aan die einde’. Jesus se koms aan die einde, met sy wederkoms, word hier ter bemoediging van die gemeente verkondig: ‘It will end their time of trial and establish them as permanent citizens of the eternal kingdom’ (Mounce 1997:104).

Die gemeente word deur Jesus Christus geprys omdat hulle gehoorsaam was aan sy Woord (Op 3:8), omdat hulle nie sy Naam verloën het nie (Op 3:8) en omdat hulle gehoorsaam was aan sy opdrag om te volhard (Op 3:10). ‘Noticeably, these twofold words of praise say basically the same thing: that these believers have been loyal to the gospel even in the midst of severe persecution’ (Fee 2011:52). Vir hierdie getroue gemeente sê Jesus Christus: ‘Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie’. Hiermee word hulle aangemoedig om getrou en gehoorsaam te bly aan die Evangelie en om daarin te volhard soos oorwinnaars (Kistemaker 2002:163).

Openbaring 16:15

Jesus Christus self is hier aan die woord en Hy vergelyk die onverwagsheid van sy koms met die koms van ʼn dief (Ladd 1972:215). Daarom moet die gelowiges wakker wees: hulle moet die wederkoms enige oomblik verwag (Ladd 1972:215). Die beeld om hulle klere byderhand te hou, sodat hulle nie kaal sal hoef te loop nie, dui daarop dat hulle beklee moet wees met die geregtigheid wat Jesus Christus gee (Patterson 2012:312).

Openbaring 22:7

Met die woorde van Openbaring 22:7 kondig Jesus sy eie wederkoms aan en die lesers word teruggeneem na die begin van die boek in Openbaring 1:7:

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom treur. Ja, amen!

Die wederkoms vorm dus ʼn inclusio vir die hele boek (Fee 2011:308). Hieruit blyk dit duidelik dat die wederkoms ʼn kardinale plek in die raadsplan van God inneem.

Tot drie keer toe sê Jesus, ἔρχομαι ταχύ, [Ek kom gou] in Openbaring 22:7, 12, 20. Daarmee word die sekerheid van die wederkoms beklemtoon (Groenewald 1986:222) en nie dat die wederkoms nog in Johannes se leeftyd sou wees nie. Die wederkomsaankondiging word hier opgevolg met: ‘Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol’. Met ὁ τηρῶν [hy wat vashou], word bedoel, hy wat die profesie bewaar en wat daarvolgens leef (Fee 2011:309). Hier is dus ’n duidelike aansporing om God se geskrewe Woord te glo en daarvolgens te leef.

Openbaring 22:12

In Openbaring 22:7 beklemtoon Jesus weereens die sekerheid van sy koms, ‘Tachu or “quickly” doubtless references the imminency of the Lord’s return for the church as well as the certainty of all these coming events’ (Patterson 2012:381). Hierdie versekering word opgevolg met, ‘En die beloning is by My om elkeen volgens sy optrede te beloon’. Dit beteken ‘[t]he reward will be spiritual blessedness to the righteous but judgment for those who are evil’ (Mounce 1997:407).

Openbaring 22:20

Vir die derde maal in Openbaring 22 bevestig Jesus Christus: ἔρχομαι ταχύ! In die drie versekerings van Jesus Christus bevestig hy self dat sy koms onteenseglik sal plaasvind. Hierop volg daar twee reaksies van Johannes en die gelowiges (Groenewald 1986:227). Die eerste reaksie is: ‘Amen!’ Hiermee eien Johannes en die gelowiges die belofte van die wederkoms vir hulleself toe (Groenewald 1986:227). Die tweede reaksie is om biddend uit te roep: ‘Kom, Here Jesus!’ Dit is ʼn gebed uit die hart van die gemeente wat uitsien na die wederkoms van hulle Here, te midde van nood en verdrukking (Groenewald 1986:227).

Die bede om die koms van die Here word opgevolg met: ‘Die genade van die Here Jesus bly by julle almal’. So sluit God sy Openbaringboek af. So sluit God sy Skrifgeworde Woord af: met ʼn gebed om die koms van die Here en die versekering dat sy genade by elke gelowige sal bly.

Samevatting

Betekenisdefinisie

Die volgende betekenisdefinisie van ἒρχομαι, as wederkomswoord, is daargestel: Dit is die liggaamlike koms van Jesus Christus met sy wederkoms, van die hemel af na die aarde, waartydens Hy in die openbaar sal verskyn in krag en heerlikheid, om te oordeel en om die gelowiges te verlos.

Openbaringsdoelwitte

Die volgende openbaringsdoelwitte is vasgestel met die verkondiging van die wederkoms, aan die hand van ἔρχομαι in die boek Openbaring.

Kerugma

Die telos van die openbaring van die wederkoms is die kerugma, dat dit deel van die wese van God is om na mense toe te kom, en Hy sal finaal met Christus se wederkoms kom om alles te kom voleindig met oordeel en verlossing (Op 1:4–8).

Die wyse van die wederkoms word geopenbaar om die volgende kennis oor te dra: Jesus Christus sal met die wolke kom, sigbaar vir almal, ook vir die wat Hom met sy kruisiging deurboor het en al die volke op die aarde sal oor Hom treur (Op 1:4–8).

Die doel van die openbaring van die wederkoms is verder om die kennis aan die gelowiges oor te dra, naamlik dat die wederkoms ʼn kardinale plek in die raadsplan van God inneem en dat die Here Jesus daarom beslis weer gaan kom (Op 22:7; 12; 20).

Jesus Christus is die Een wat kom

Voorts is die doel van die openbaring van die wederkoms om te verkondig Wié dit is wat kom: Hy is Jesus Christus, wat saam met die Vader en die Heilige Gees die Almagtige God is. Hy is die betroubare getuie, die Eersgeborene van die dooies en die Heerser oor die konings van die aarde. Hy is die Een vir wie ons liefhet en Hy het ons deur sy bloed van ons sondes verlos. Hy het ons ʼn koninkryk gemaak van priesters vir God, sy Vader, en aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig (Op 1:4–8).

Die doel van die openbaring van die wederkoms is dus om alle aandag op Jesus Christus te vestig, asook op die finale verlossing wat Hy vir sy kerk sal bring; en om hulle sodoende te vertroos en te bemoedig om te volhard in die geloof (Op 1:4–8).

Oproep tot bekering

Die telos van die openbaring van die wederkoms is verder om ongelowiges op te roep tot bekering voordat die Here kom (Op 1:4–8), maar ook om gelowiges op te roep tot bekering indien hulle begin terugsak het en in hulle liefde vir God en vir mekaar verkoel het (Op 2:5). Die oordeel, waar so ʼn gemeente se bestaan beëindig word, kan reeds voor die wederkoms plaasvind (Op 2:5). Die openbaring van die wederkoms is ook ’n wekroep tot bekering in gemeentes wat afgodery en onsedelikheid duld (Op 2:16).

’n Verdere doel van die openbaring van die wederkoms is om aan gelowiges die versekering te gee dat hulle op die dag van die oordeel, wat met die wederkoms ingelei word, ewige geestelike seën sal ontvang, en om ongelowiges te verseker van die ewige oordeel wat wag (Op 22:12).

Bemoediging

Die wederkoms word in die Skrif verkondig om gemeentes te bemoedig met die wete dat hulle Here weer gaan kom, en om hulle sodoende te vertroos en te bemoedig om te volhard in die geloof (Op 1:4–8). Ook om hulle te troos en te bemoedig met die wete dat die Here kom om hulle beproewings te beëindig, en om hulle as burgers van sy ewige koninkryk te vestig, asook om gemeentes aan te moedig om te midde van beproewings, getrou en gehoorsaam te bly aan die Evangelie, en om in die geloof te volhard soos oorwinnaars (Op 3:11). Op dié dag sal die gelowiges die ewige seën ontvang (Op 22:12).

Die wederkoms word verder geopenbaar met die doel om gelowiges aan te moedig om God se geskrewe Woord te glo, en daarvolgens te leef (Op 22:7).

Die doel van die openbaring van die wederkoms is ook ’n aanmoediging dat elke gelowige die belofte van die wederkoms vir hom- of haarself sal toeëien (Op 22:20) en biddend daarna sal uitsien (Op 22:20). Sulke gelowiges kan verseker wees daarvan dat die genade van die Here Jesus vir altyd by hulle sal wees (Op 22:20).

Erkennings

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op H.P.M van Ryn se proefskrif getiteld ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’ vir die graad Doctor Philosophiae in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus, Mei 2017, met promotor Professor G.J.C. Jordaan. Dit is beskikbaar by: https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/25925/Van_Rhyn_HPM_2017.pdf?sequence=1.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

H.P.M.v.R is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Die outeur het ontvangs van die volgende finansiële ondersteuning vir die publikasie van hierdie navorsingsartikel bekend gemaak: Die artikel is ondersteun deur AROS.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep, of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Literatuurverwysings

Allen, D.L., 2010, Hebrews, B & H Publishing, Nashville, TN.

Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3e uitg., University of Chicago, Chicago, IL.

Beale, G.K., 1999, The book of Revelation: A commentary on the Greek text, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Du Preez, J., 1992, Die boodskap van die laaste Bybelboek: ’n kommentaar op Openbaring, Pro Christo, Bloemfontein.

Du Rand, J., 2007, Die A-Z van Openbaring: ’n allesomvattende perspektief op die boek Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Fee, G.D., 2011, Revelation, Cascade Books, Eugene.

Groenewald, E.P., 1986, Die Openbaring van Johannes, N.G. Kerk-uitgewers, Kaapstad.

Janse van Rensburg, F.J., De Klerk, B.J., De Wet, F.D.W., Lamprecht, A., Nel, M. & Vergeer, W. (reds.), 2011, Preekgeboorte: Van eksegese tot preek, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchesftroom.

Kistemaker, S.J., 2002, Exposition of the book of Revelation, Baker Book House, Grand Rapids, MI.

Kittel, G., Friedrich, G. & Bromiley, G. (eds.), 1964, Theological dictionary of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

König, A., 2009, ʼn Perspektief op Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Ladd, G.E., 1972, A commentary on the Revelation of John, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996a, Greek-English lexicon of the New Testament: Vol. 1: Based on semantic domains, Electronic ed. of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Louw, J.P. & Nida, E.A. (eds.), 1996b, Greek-English lexicon of the New Testament: Vol. 2: Based on semantic domains, United Bible Societies, New York, NY.

Mounce, R.H., 1997, The book of Revelation, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Patterson, P., 2012, Revelation, B&H, Nashville, TN.

Schneider, J., 1964, ‘ἒρχομαι’, in Kittel, Friedrich & Bromiley (eds.), Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Strauss, M.L. & Longman, T. (eds.), 2023, The Baker Expository Dictionary of biblical words, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Van Rhyn, H.P.M., 2017, ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Van Rhyn, H.P.M., 2021a, ‘Ἀποκάλυψισ en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(3), a2774. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2774

Van Rhyn, H.P.M., 2021b, ‘Ἐπιφάνεια as wederkomswoord in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(3), a2705. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2705

Van Rhyn, H.P.M., 2024, ‘‘Φανερόω: ’n Wederkomswoord in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 58(1), a3011. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3011

Van Rhyn, H.P.M. & Jordaan, G.J.C., 2020, ‘’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord’, In die Skriflig 54(1), a2479. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2479

Wigram, G.V. & Winter, R.D., 1978, The word study concordance, Tyndale, Wheaton, IL.



Crossref Citations

No related citations found.