Abstract
A reflection on the identity of the club of Yahweh in Jeremiah 51:20: This article reflected on the identity of the club of Yahweh referred to in Jeremiah 51 v.20. Various solutions have been offered. These solutions generally have a decisive effect on the interpretation as well as the translation of Jeremiah 51 vv. 20–23. This article commenced with an examination of Jeremiah 51 vv. 20–23. Subsequently, the immediate context of Jeremiah 51 vv.20–23, namely the other oracles against Babylon in Jeremiah vv. 50–51, was used as an interpretative lens. Attention was specifically paid to possible catchword connections with the surrounding material. The immediate context of the club song suggests that the Medes should be identified as the club of Yahweh. The translation of Jeremiah 51vv.20–23 in the Afrikaans 2020-Bible translation should therefore be preferred. The author of Jeremiah 51v.20 deliberately does not disclose the identity of the club in order to emphasise Yahweh’s sovereignty. Yahweh would bring about the demise of the Neo-Babylonian empire. The Median king was merely the instrument used by Yahweh to bring about the downfall of Babylon.
Contribution: This article demonstrated that the club song in Jeremiah 51vv.20–23 emphasises that Yahweh is sovereign – a notion prevalent in the book of Jeremiah. Yahweh would use a nation from the north as club to destroy Babylon.
Keywords: club of Yahweh; club song; oracles against Babylon; Yahweh’s sovereignty; Afr20-translation of the Bible.
Inleiding
’n Knuppel1 was ’n wapen, vervaardig uit hout, klip of been, wat in die antieke Nabye Ooste gebruik is om vyande katswink te slaan. Daarmee is ledemate gebreek en ernstige hoofbeserings aangerig (cf. Sharp 2021:v. 401). In Jeremia 51v.20a2 neem die HERE3 die knuppel waarmee Hy nasies verbrysel en koninkryke verwoes, in oënskou. Met die knuppel verpletter Hy perderuiters en strydwabemannings, mans en vroue, ou mense en jong mense, jong mans en jong meisies, skaapwagters en landbouers, streekgoewerneurs en landvoogde (vv. 20b–23).
Probleemstelling
Alhoewel die Hebreeuse teks van vers 20 geen eksplisiete aanduiding van die identiteit van die knuppel gee nie, word verskeie moontlikhede geopper. Die meeste kommentatore identifiseer die knuppel óf met Babel (cf. Allen 2008:528; Bright 1981:356; Keown, Scalise & Smothers 1995:370; Longman 2008:381; McKane 2014:1311; Rudolph 1968:297; Thompson 1980:756), óf met die koning van Babel (Goldingay 2021:937). Verskeie alternatiewe word egter voorgestel. Aangesien Israel in Jeremia 51v.19 as die ‘stam van die HERE’ beskryf word, sou die antesedent in vers 20 Israel kon wees (cf. Graybill 2021:544; Holladay 1989:424). ’n Ander moontlikheid is dat die knuppel na die profeet Jeremia verwys (cf. Lundbom 1997:121). Hy is immers oor nasies en koninkryk aangestel om uit te ruk en af te breek (cf. Jer 1:10). Ander alternatiewe is dat die knuppel op die Mediërs, of op die Perse, of selfs op Kores sou dui (Fretheim 2002:639; Stipp 2019:797–798). In die uitsprake teen Babel in Jeremia 50–51 word die verwoesting van Babel immers aan die koning van Medië toegeskryf (cf. vv. 11, 28). Dit is egter insiggewend dat Brueggemann (1998:475–476) die identiteit van die knuppel oop laat, terwyl Stulman (2005:362) oordeel dat vv. 20–23, oftewel die knuppellied, doelbewus kripties is.
In die Masoretiese Teks (MT) van die boek Jeremia word die uitsprake teen Babel as die woord van die HERE deur die profeet Jeremia oor Babel en die land van die Galdeërs getipeer (cf. Jer 50v.1). Dit is dus onwaarskynlik dat die profeet in vers 20 as die knuppel van die HERE voorgehou sou word. Alhoewel diegene wat die verowering van Jerusalem deur die Babiloniërs beleef het, in vv. 34–35 om wraak roep, is Juda of Israel nêrens in die uitsprake teen Babel die instrument waarmee die HERE ’n einde aan die Babiloniese ryk bring nie. Die knuppel behoort dus ook nie met Israel geïdentifiseer te word nie. Dit skyn of die belangrikste alternatiewe vir die identifikasie van die knuppel Babel of Medië is, of andersins ’n koning van Babel of ’n koning van Medië.
Dit is insiggewend dat die beskouing met betrekking tot die identiteit van die knuppel oor die algemeen ’n beslissende rol in die vertaling van vv. 20–23 speel. ’n Vergelyking van die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel (AFR20), wat by wyse van ’n voetnota die knuppel as Medië aandui, met die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel (AFR83), wat die knuppel uitdruklik met Babel identifiseer, illustreer die argument:
Die werkwoorde והשחתי en ונפצתי in vv. 20–23 sou handelinge kon beskryf wat in die verlede, die hede of die toekoms plaasvind. Hierdie werkwoorde kan immers óf as gewone perfekta, óf as waw-konsekutiewe gelees word. Indien die betrokke werkwoorde as gewone perfekta geneem word, beskryf hulle handelinge wat in die verlede plaasgevind het. Dit sou daarop dui dat die knuppel met Babel of die Babiloniese koning, Nebukadnesar, geïdentifiseer moet word. Hierdie interpretasie is selfs moontlik indien die werkwoorde handelinge beskryf wat in die hede geskied – ’n standpunt wat byvoorbeeld deur Hill (1999:171) gehuldig word. Indien והשחתי en ונפצתי as waw-konsekutiewe gelees word, is die knuppel oënskynlik die koning van Medië. Die Mediërs word immers in die uitsprake teen Babel as die volk uit die noorde aangetoon wat ’n einde aan die Babiloniese Ryk sou bring. Babel is dan die een wat die knuppelhoue moet verduur.
Oogmerk met ondersoek
Jeremia 50–51 word tereg as die mees anti-Babiloniese deel van die boek Jeremia beskryf (cf. Thelle 2009:211). Die houding ten opsigte van Babel in die uitsprake teen Babel verskil radikaal van dié in die res van die boek. Teenoor Jeremia 25 v.9, 27 v.6 en 43 v.10 waar die Babiloniese koning, Nebukadnesar, die dienaar van die HERE genoem word, word hy in 51v.34 as ’n monster beskryf wat Israel ingesluk het. Terwyl die Judese ballinge in Babel in Jeremia 29 v.7 aangespoor word om die belange van die stad te bevorder, vra die ballinge in vers 35 dat Babel gestraf moet word vir dit wat Jerusalem aangedoen is. As gevolg van die anti-Babiloniese houding in Jeremia vv. 50–51 is die versoeking groot om hierdie hoofstukke as ’n blote aanhangsel tot die res van die boek te beskou. Verskeie ondersoeke het egter aangetoon dat Jeremia 50–51 ten minste in die Masoretiese weergawe van die boek Jeremia ’n baie belangrike rol speel. Kessler (1999:67, 71) meen dat hierdie hoofstukke beslissend vir die verstaan van die boek as geheel is. Hy ag die uitsprake teen Babel as een van die pilare wat die totale struktuur van die boek ondersteun. Holt (2003:197) beskou die vyand-uit-die-noorde-uitsprake in Jeremia 4–6 as die strukturele teenstuk van die uitsprake teen die vreemde nasies (hoofstukke 46–51), spesifiek die uitsprake teen Babel (hoofstukke 50–51). Duidelikheid oor die identiteit van die knuppel sou dus nie net vir die vertaling van vv. 20–23 van betekenis wees nie, maar ’n bydrae oor die rol van die uitsprake teen Babel in die boek Jeremia kon maak. Indien die knuppel na Babel sou verwys, sou dit impliseer dat die knuppellied ironie uitdruk. Waar Babel die instrument was waarmee die HERE Juda en die buurvolke geoordeel het, word Babel nou aan die oordeel van die HERE onderwerp (cf. v. 24). In Jeremia 50 v.23 word inderdaad spottend na Babel as die hamer verwys wat die hele aarde verpletter het, maar nou self verpletter is. Die identifikasie van die knuppel met die volk uit die noorde, met ander woorde met Medië, sou, aan die ander kant, demonstreer dat die HERE deur die Mediërs sy doel bereik. Hy is immers die Koning (v. 57).
Benadering
Jeremia 50 en 51 bevat ’n verskeidenheid van literêre vorme. Pogings om ’n struktuur in hierdie hoofstukke aan te toon (bv. Aitken 1984:63; Bellis 1999:199), kon nie algemene instemming verkry nie. Stipp (2019:761) beskryf die versameling uitsprake in Jeremia 50–51 as ’n antologie, aangesien die verskillende literêre eenhede oënskynlik toevallig, of dan om vae redes aaneenskakel. Kessler (2003:51), aan die ander kant, meen dat die materiaal ’n literêre mosaïek uitmaak. Dit is egter duidelik dat die uitsprake, ten minste deur ’n hooftema, die aankondiging van die einde van die Neo-Babiloniese Ryk, en ’n subtema, die aankondiging van die terugkeer van die Judese ballinge uit Babel, saamgebind het. Daarbenewens is hoofstuk 51 meer Babel-georiënteerd as hoofstuk 50 (cf. Kessler 2003:149).
Van Hecke (2003:85) vind ’n sterk ontwikkeling in die aanwending van pastorale metafore vir die beskrywing van Israel en Juda se lot, asook vir die konseptualisering van Babel se lot in die uitsprake teen Babel. Israel, wat eens ’n trop verstrooide en verswelgde skape was, word deur die HERE, hulle herder, teruggebring na hulle oorspronklike weiding. Babel, wat aanvanklik gekonseptualiseer word as ’n leeu, word in skape verander wat deur HERE vernietig word. In die knuppellied is die knuppel ’n metafoor vir ’n militêre mag wat deur die HERE gebruik word. Jeremia 50:25 verwys na die HERE se arsenaal, terwyl ’n swaard in vv. 35–38a opdrag ontvang om Babel te verwoes. Sou die verwysing na die knuppel waarmee die HERE nasies verbrysel en koninkryke verwoes, verband hou met die aanwending van hierdie militêre metafore? Dit skyn dus dat vv. 20–23 teen die agtergrond van die uitsprake teen Babel getakseer behoort te word. Ten spyte van die feit dat die verskillende literêre eenhede oënskynlik toevallig of dan om vae redes aaneenskakel, behoort daar ook erns met die direkte konteks van die knuppellied gemaak te word. Sodanige ondersoek noodsaak egter ’n noukeurige analise van vv. 20–23.
Die knuppellied in Jeremia 51:20–23
Jeremia vv. 20–23 vorm ’n afgebakende eenheid. Inhoudelik verskil dit van vv. 15–19 sowel as v. 24. In vv. 15–19 is ’n polemiek teen afgode, teenoor vv. 20–23 waarin die HERE sy knuppel aanspreek en v. 24 ’n uitspraak aan die Judeërs rig. Die HERE gaan Babel vergeld vir dit wat die Babiloniërs in Sion gedoen het.
Die knuppellied word saamgebind deur sewemalige gebruik van die werkwoord ונפצתי asook ’n inclusio, gevorm deur die terme גוים [nasies] en ממלכות [koninkryke] in v. 20 en die terme פחות [streekgoewerneurs] en סגנים [landvoogde] in v. 23 (cf. Lundbom 1997:121–122). Die herhaalde gebruik van kort frases en die hoë graad van parallelistiese herhaling, boots die slae van die knuppel na (cf. Sharp 2022:414).
In Jeremia 13 v.14 en 48 v.12 word die werkwoord נפץ ook gebruik om verwoesting uit te druk. Daar is die onderliggende metafoor egter dié van wynkanne wat stukkend geslaan word. Volgens Jeremia 13 v.14 neem die HERE Hom voor om die inwoners van Juda tesame met hulle konings, priesters en profete, wat as wynkanne geteken word, teen mekaar te verpletter. Hy sal niemand spaar of oorsien nie. Jeremia 21 v.7 stel dit inderdaad dat Nebukadnesar, wat deur die HERE gebruik word om Juda te straf, niemand sal spaar of verskoon nie (cf. Fretheim 2002:208). Jeremia 48:12 vorm deel van die uitspraak teen Moab. Daarvolgens sou die HERE ’n vyand, oënskynlik die Babiloniërs, die wynkanne van Moab laat stukkend slaan. Teenoor Jeremia 13 v.14 en 48 v.12, word ’n ander metafoor in Jeremia 51 vv.20–23 aangewend. Hier is die knuppel die instrument waarmee verwoesting aangerig word. Dit is betekenisvol dat die wapen ’n מפץ genoem word – ’n substantief van die stam נפץ. Die lys teikens wat deur die knuppel verpletter word, is omvattend: Elke aspek van die samelewing van die vyand word geteiken (cf. Brueggemann 1998:476; Fretheim 2002:639).
In v. 20 word die knuppel as die HERE se כלי מלחמה beskryf, met ander woorde, sy oorlogswapen. Babel word herhaaldelik in Jeremia 50–51 as vroulik geag (Jer 50 v.2, vv. 9–15, vv. 23–30, vv. 35–40; Jer 51 vv.2–4, vv. 6–9, v. 11, vv. 13–14, v. 33, vv. 36–37, vv. 41–43, v. 45, vv. 47–48, vv. 52–53, vv. 55–57). Die manlike persoonlike voornaamwoord התא in v. 20 sou dus ’n aanduiding kon wees dat die aangesprokene, met ander woorde die knuppel, ’n koning is. Dit is egter betekenisvol dat Babel in vv. 25–26 wel as manlik geag word.
Die uitsprake in Jeremia vv. 50–51 is teen ’n spesifieke koninkryk, Babel, en ’n spesifieke nasie, die Babiloniërs, gerig. Die meervoudsvorme גוים en ממלכות in v. 20 sou as aanduidings geïnterpreteer kon word dat die knuppellied nie die vernietiging van Babel beskryf nie. Babel het egter wel koninkryke vernietig en volke onderwerp. Volgens Jeremia 27 v.6 het die HERE die lande waarvan teenwoordigers in Jerusalem byeengekom het, in die hand van Nebukadnesar, koning van Babel, oorgegee. In die uitsprake teen Egipte, Kedar en Gasor word dit pertinent genoem dat die HERE ook die koninkryke in die hand van Nebukadnesar oorlewer (cf. Jer 46:26; 49:28).
In vv. 20–23 is die HERE telkens die subjek van die werkwoorde ונפצתי en והשחתי. Hy is persoonlik betrokke by die aanval op die vyand. Die verhouding tussen die HERE en die knuppel is dié van meester tot instrument (Kessler 2003:118). Op sigself geneem bied die knuppellied egter geen eksplisiete aanduiding oor die identiteit van die knuppel nie. Sou die breëre konteks van die knuppellied wel aanduidings van die identiteit van die knuppel kon bied?
Jeremia 51 verse 20–23 beoordeel binne die breëre konteks daarvan
Soos vroeër genoem, word spottend in Jeremia 50 v. 23 verklaar dat Babel, die פטיש van die hele aarde, stukkend gekap en verpletter is. Die פטיש, ’n hamer waarmee rotse stukkend geslaan is (Jer 23 v.29), is self stukkend geslaan. Babel, wat by wyse van spreke die hele aarde flenters geslaan het, is nou aan die ontvangkant. Die Babiloniese heerskappy oor die wêreld van destyds is beëindig. Babel, wat deur sy militêre mag die magtige septer van Moab, die pragtige staf van Moab (cf. Jer 48:17) verbreek het, word deur dieselfde lot getref. Die verlede tyd in Jeremia 50:23 stel die vernietiging van Babel as ’n voldwonge feit (cf. Stipp 2019:778). Die vernietigingswerk wat in vv. 20–23 beskryf word, word egter nie deur ’n פטיש nie, maar deur ’n מפץ, ’n knuppel, met ander woorde, ’n oorlogswapen, aangerig. Verder is dit betekenisvol dat Babel nie in Jeremia 50:23 die HERE se hamer genoem word nie. In vv. 20–23 is die knuppel, daarenteen, ’n wapen in die hand van die HERE. Hy rig daarmee vernietigingswerk aan.
Volgens Jeremia 50 v. 25 het die HERE die כלי זעמו, die wapens van sy vervloeking, uit sy arsenaal (אוצרו) uitgehaal om teen Babel aan te wend. Gewoonlik dui die term אוצר bloot op ’n voorraadkamer. Aangesien die HERE die wapens van sy vervloeking daaruit haal, is die vertaling van אוצרו as die HERE se arsenaal van pas. Jeremia 50 v.25 impliseer dat die HERE self teen Babel oorlog voer (cf. McKane 2014:1277), ’n tema wat ook in die knuppellied gevind word. Dit is betekenisvol dat die uitdrukking כלי זעמו in Jr13 v.3 na die groep volkere verwys wat die HERE teen Babel gebruik (cf. Kessler 2003:90). Gesien teen die agtergrond van Jeremia 50 v. 3, verwys die uitdrukking in v. 25 na die nasie uit die noorde wat ’n einde aan die Neo-Babiloniese Ryk sal maak.
In die sogenaamde swaardlied, Jeremia 50 vv.35–38a, kry ’n swaard opdrag om Babel tref. Dit word teen die hoë amptenare, die wyse manne, die orakelpriesters en die helde, teen Babel se perde, strydwaens en huursoldate gerig. Die uitdrukking כל־הערב in Jeremia 50 v. 37, wat met ‘die hele gemengde bevolking’ vertaal kan word, dui waarskynlik op Babel se huursoldate (McKane 2014:1289). Indien die term חרב in Jeremia 50 v.38, in navolging van die lesing in die Septuaginta, as חֶרֶב [swaard] gelees word, impliseer dit dat die swaard selfs teen Babel se waters gerig is, met ander woorde, teen die kanale wat die stad nie net van water voorsien nie, maar ook ’n belangrike rol in die verdediging daarvan gespeel het.
In Jr 50 vv.35–38a ontbreek werkwoorde telkens in die hoofsinne waarin die swaard opdrag ontvang om sy vernietigingswerk aan te rig. Met die vertaling, ‘Trek die swaard teen …’, poog die Bybel 2020-vertaling (AFR20) om die teks meer leesbaar te maak. Wanneer die Hebreeuse teks nougeset nagevolg word, is dit egter duidelik dat die swaard in die swaardlied op die nasie uit die noorde, wat ’n einde aan die Neo-Babiloniese Ryk gaan maak, sinspeel. Die swaard is by uitstek een van die wapens wat deur die HERE gebruik word (cf. e.g. Job 20:24; Jes 27:1; 31:8; 34:5–6; 65:12). In die uitspraak teen die Filistyne in Jeremia 47:6 word ’n swaard van die HERE, oënskynlik Babel, aangeroer. Aan die ander kant is die swaard van die HERE die nasie uit die noorde wat Babel gaan verwoes in die swaardlied soos in Jeremia 50 vv. 35–38a opgeteken.
Die partikel לכן [daarom] in Jeremia 50 v. 39 verbind die verwoesting wat in vv. 39–40 beskryf word met die aanwending van die HERE se swaard. Geen mens sal in Babel oorbly nie. Die stad sal vir ewig onbewoon bly. Soos in die uitspraak in Jesaja 13 vv.19–22, waar ooreenstemmende terminologie gebruik word, word die algehele vernietiging van Babel in die vooruitsig gestel.
Dit is insiggewend dat die frase אל־סוסיו ואל־רכבו [teen haar perde en haar strydwaens] in Jeremia 50:37 ’n invoeging uit 51:21 skyn te wees. Perde en strydwaens kan immers nie vrouens wees nie (cf. Holladay 1989:394). Met die oorname van ’n frase uit die knuppellied word ’n duidelike verband tussen die swaardlied en die knuppellied gelê. Dit is verder opvallend dat in die swaardlied sowel as in die knuppellied die aangesprokene wat die HERE se oordeel moet voltrek, ongeïdentifiseerd bly. Soos die swaard in die swaardlied blyk die knuppel ’n wapen uit die HERE se arsenaal te wees. Volgens Jeremia 50 v. 25 word die wapens uit die HERE se arsenaal teen Babel gerig. Die implikasie is dat die swaard sowel as die knuppel na die volk verwys wat Babel sou vernietig (cf. Carroll 1986:844).
Die werkwoord שחת [om te vernietig] in Jeremia 20 v. 4 verbind die knuppellied met vv. 1–10 en vv. 11–14 (cf. Lundbom 1997:121). Volgens vers 1 rig die HERE die gees van die vernietiger (משחית) teen Babel. In Jr 20 v. 11 sê Hy dat Hy van plan is om Babel te verwoes (להשחיתה). Beuken (2016:70) maak ’n saak daarvoor uit dat die term הנני [cf., Ek] in vers 1 die aanvang van ’n nuwe retoriese eenheid aandui. Die HERE is op ’n missie om Babel te vernietig. Verse 1–24 word inderdaad van die begin tot die einde deur die tema van oordeel oor Babel gedomineer. Die simpatieke houding jeens Babel wat in v. 8 en 9 gesuggereer word, is retories of selfs satiries (cf. Carroll 1986:844). Vers 8 stel dit dat Babel, die wynkelk wat die hele aarde dronk gemaak het, flenters geslaan is. Die verlede tyd impliseer dat die verwoesting van Babel as ’t ware ’n voldwonge gebeurtenis is. Volgens vers 9 is Babel se siekte ongeneeslik. Vers 11 stel dit dat dit die HERE se plan is om Babel te verwoes uit wraak vir dit wat sy tempel aangedoen is. In vers 13 word verklaar dat Babel se einde aangebreek het. Die doksologie in vv. 15–19 stel die HERE teenoor die nikswerd afgode wat tot niet sal gaan. Die verwysings na Israel en Juda in vers 5 en Sion in vers 10 vorm slegs ’n tipe tussenspel (cf. Beuken 2016:65).
In die lig van die sterk beklemtoning van die oordeel oor Babel in vv. 1–24 kan met reg gevra word of die knuppel in die hand van die HERE nogtans na Babel of die Babiloniese koning sou verwys. Die feit dat ’n duidelike verband tussen die knuppelllied en die swaardlied gelê word, toon dat die knuppel na alle waarskynlikheid na die nasie uit die noorde verwys. Verder laat die sterk klem op die oordeel oor Babel in vv. 1–24 ook nie ruimte vir die identifikasie van die knuppel met Babel nie. Die feit dat die knuppel nasies verbrysel en koninkryke verwoes, behoort nie ’n belemmering in die identifisering van die knuppel met die Mediërs te wees nie. In Jesaja 45:1 word immers gemeld dat die Persiese koning, Kores, wat in 539 vC Babel verower het, die gesalfde van die HERE is aan wie Hy nasies onderwerp.
Omgekeerde rolle
Daar is reeds in die bespreking van Jeremia 50:23 gemeld dat Babel, die hamer wat die hele aarde stukkend geslaan het, self stukkend geslaan word. Die motief word ondersteun deur die aanwending in Jeremia 50:44–46 van ’n uitspraak wat in 49:19–21 teen Edom gerig is. Waar Babel in die uitspraak teen Edom die aanvaller was, teken Jeremia 50:44–46 Babel as die slagoffer. In die uitsprake teen Babel word die rolle inderdaad omgekeer. Die vyand uit die noorde wat volgens Jeremia 6:22–23 Juda bedreig, word in die Masoretiese teks in 25:9 met koning Nebukadnesar en die Babiloniërs geïdentifiseer. Soos wat die vyand uit die noorde, Babel, Juda bedreig het, so bedreig die vyand uit die noorde nou vir Babel (Jer 50:2–3).
In die uitspraak teen Babel in Jesaja 14 word ’n ironiese klaaglied, vv. 4b–21, wat na alle waarskynlikheid oorspronklik op ’n Assiriese koning betrekking gehad het, op ’n Babiloniese koning van toepassing gemaak (cf. Eidevall 2009:120–121). Soos genoem, is die uitsprake in Jeremia 50–51 teen ’n spesifieke koninkryk, Babel, en teen ’n spesifieke nasie, die Babiloniërs, gerig. Die meervoudsvorme גוים en ממלכות in vers 20 sou ’n aanduiding kon wees dat die knuppellied oorspronklik wel die vernietiging van koninkryke en nasies deur Babel in die oog gehad het. Die moontlikheid kan nie buite rekening gelaat word dat die knuppel, voordat die knuppellied in die uitsprake teen Babel opgeneem is, wel na Babel of ’n Babiloniese koning kon verwys het nie (cf. Lundbom 2018:225; Stipp 2019:798). Babel was immers volgens vers 7 die goue beker waaruit die HERE die hele wêreld laat drink het. Of die knuppel oorspronklik na Babel of ’n Babiloniese koning verwys het, bly nogtans spekulasie. Wat egter vasstaan, is die feit dat wanneer die konteks van die knuppellied in vv. 20–23 in aanmerking geneem word, die knuppel na die nasie of koning verwys wat ’n einde aan die Neo-Babiloniese Ryk maak. Dit bring die volgende vraag na vore: Waarom sou die identiteit van die knuppel verswyg word?
Die verswyging van die identiteit van die knuppel beklemtoon die soewereiniteit van die HERE
Soos vroeër vermeld, is Stulman (2005:362) van oordeel dat die knuppellied doelbewus kripties is. Dit is betekenisvol dat die verhouding tussen die HERE en die knuppel in vv. 20–23 geteken word as die van meester tot instrument. Deur die identiteit van die knuppel te verswyg, word beklemtoon dat die HERE die Een is wat die verwoesting van Babel bewerk. In die eerste 45 hoofstukke van die boek Jeremia word die HERE herhaaldelik geteken as die Een wat Juda en Jerusalem verwoes (cf. Jer 6:8; 7:34; 9:9, 11; 12:4; 25:4). Hy veroorsaak dat Jerusalem ’n lêplek vir jakkalse, en die dorpe van Juda ’n woesteny, sonder inwoners word (cf. Jer 9:11). Nou is dit Babel se beurt. Die groot stad met talle indrukwekkende geboue sal klipstapels word – ’n lêplek vir woestynjakkalse, sonder inwoners (cf. v. 37). Die HERE het Babel as instrument gebruik om Jerusalem en Juda te straf. Nou gebruik Hy ’n volk uit die noorde om die Babiloniërs te straf. Die oordeel oor Babel vorm die kontrapunt van die oordeel oor Jerusalem en Juda (cf. Brueggemann 2006:113).
Dit is betekenisvol dat die knuppellied in vv. 20–23 deur ’n doksologie in vv. 15–19, waarin die HERE se soewereiniteit beklemtoon word, voorafgegaan word. Hy het die aarde gemaak deur sy krag (vers 15). In die knuppellied kom sy soewereiniteit daarin na vore dat Hy ’n volk uit die noorde gebruik om Babel mee te vernietig. Teen Hom kan Babel, ten spyte van sy gewaande grootheid, nie standhou nie. Deurdat die identiteit van die knuppel nie in vers 20 geopenbaar word nie, plaas ook die knuppellied die HERE se soewereiniteit in die sentrum – ’n konsep wat ’n uiters belangrike rol in die boek Jeremia speel (cf. Brueggemann 2006:43–55).
Gevolgtrekking
Die ondersoek toon dat wanneer met die konteks van die knuppellied in Jeremia 51 vv.20–23 erns gemaak word, dit duidelik is dat die knuppel na die nasie verwys wat ’n einde aan die Babiloniese Ryk sal maak – ’n nasie wat in vv. 11 en 28 as die Mediërs aangetoon word. Die vertaling van die knuppellied in die AFR20 laat dus aan die oorspronklike teks reg geskied. Alhoewel die Bybel 1983-vertaling (AFR83) die meerderheid kommentatore navolg, moet die identifikasie van die knuppel met Babel bevraagteken word.
Deur die identiteit van die knuppel te verswyg, word die soewereiniteit van die HERE beklemtoon. Soos wat Hy Nebukadneser gebruik het om Jerusalem en Juda te straf, so gebruik Hy ’n nasie uit die noorde om ’n einde aan die Neo-Babiloniese Ryk te maak.
Babel is uiteindelik nie deur die Mediërs nie, maar deur die Perse onder Kores in 539 vC verower. Verder het die verowering van die stad nie met die verwoesting, wat in die uitsprake teen Babel voorspel word soos spesifiek in vv. 20–23 uiteengesit word, gepaard gegaan nie. Kores het egter wel ’n einde aan die Neo-Babiloniese Ryk gemaak. Daar moet egter rekening gehou met die feit dat die beskrywings van die verwoesting van Babel en die gevolglike verlatenheid van hierdie stad in die uitsprake teen Babel bedoel is om die lot van Babel met die lot van Juda en Jerusalem gelyk te stel. Soos Jerusalem en Juda verwoes is, so sal Babel verwoes word. Soos Jerusalem sonder inwoners gelaat is, sal Babel sonder inwoners gelaat word. Dit alles sal deur die HERE met sy knuppel bewerk word.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel negatief kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
M.D.T. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname deur mense.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel verskyn, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is alleen verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Bibliografie
Aitken, K.T., 1984, ‘The oracles against Babylon in Jeremiah 50–51: Structures and perspectives’, Tyndale Bulletin 35, 25–63. https://doi.org/10.53751/001c.30576
Allen, L.A., 2008, Jeremiah. A commentary, OTL, Westminister John Knox Press, Louisville, KY.
Bellis, A.O., 1999, ‘Poetic structure and intertextual logic in Jeremiah 50’, in A.R.P. Diamond, K.M. O’Connor & L. Stulman (eds.), Troubling Jeremiah, JSOTSup 260, pp. 179–199, Sheffield Academic Press, Sheffield.
Beuken, W.A.M., 2016, ‘Common and different phrases for Babylon’s fall and its aftermath in Isaiah and Jeremiah’, in E.K. Holt & H.C.P. Kim (eds.), Concerning the nations. Essays on the oracles against the nations in Isaiah, Jeremiah and Ezekiel, SHB/OTS 612, pp. 53–73, Bloomsbury, London.
Bright, J., 1981, Jeremiah, 2e uitgawe, AB, Anchor, Garden City, NY.
Brueggemann, W., 1998, A commentary on Jeremiah. Exile and homecoming, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Brueggemann, W., 2006, The theology of the book of Jeremiah, Cambridge University Press, Cambridge.
Carroll, R.P., 1986, Jeremiah. A commentary, OTL, SCM Press, London.
Eidevall, G., 2009, Prophecy and propaganda. Images of enemies in the book of Isaiah, Coniectania Biblica OT Series 56, Eisenbrauns, Winona Lake, IN.
Fretheim, T.E., 2002, Jeremiah, Smyth & Hellwys Bible Commentary, Smyth & Hellwys Publications, Macon, GA.
Goldingay, J., 2021, The book of Jeremiah, NICOT, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Graybill, R., 2021, ‘The Jeremian oracles against the nations’, in L. Stulman & E. Silver (eds.), The Oxford handbook of Jeremiah, pp. 534–553, Oxford University Press, New York, NY.
Hill, J., 1999, Friend or foe? The figure of Babylon in the book of Jeremiah MT, BIS 40, Brill, Leiden.
Holladay, W.L., 1989, Jeremiah 2. A commentary on the book of Jeremiah Chapters 26–52, Hermeneia, Fortress Press, Minneapolis, MI.
Holt, E.K., 2003, ‘The meaning of an inclusion: A theological interpretation of the book of Jeremiah MT’, Scandinavian Journal of the Old Testament 17(2), 183–205. https://doi.org/10.1080/09018320410001010
Keown, G.L., Scalise, P.J. & Smothers, T.G., 1995, Jeremiah 26–52, WBC 27, Zondervan, Grand Rapids, MI.
Kessler, M., 1999, ‘The function of chapters 25 and 50–51 in the book of Jeremiah’, in A.R.P. Diamond, K.M. O’Connor & L. Stulman (eds), Troubling Jeremiah, JSOTSup 260, pp. 64–71, Sheffield Academic Press, Sheffield.
Kessler, M., 2003, Battle of the gods: The God of Israel versus Marduk of Babylon: A literary / theological interpretation of Jeremiah 50–51, Royal Van Gorcum, Assen.
Longman III, T., 2008, Jeremiah, Lamentations, Baker Books, Grand Rapids, MI.
Lundbom, J.R., 1997, Jeremiah. A study in ancient Hebrew rhetoric, 2nd edn., Eisenbrauns Winona Lake, IN.
Lundbom, J.R., 2018, ‘Language and rhetoric in Jeremiah’s foreign nation oracles’, in J.R. Lundbom, C.A. Evans & B.A. Anderson (eds.), The book of Jeremiah: Composition, reception, and interpretation, VTSup 178, pp. 211–229, Brill, Leiden.
McKane, W., 2014, Jeremiah 26–52. A critical and exegetical commentary, ICC, vol. 2, Bloomsbury, London.
Rudolph, W., 1968, Jeremia, 3e verbeterde uitgawe, HAT 1/12, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.
Sharp, C.J., 2022, Jeremiah 26–52, International Exegetical Commentary on the Old Testament, Verlag W. Kohlhammer, Stuttgart.
Stipp, H.-J., 2019, Jeremia 26–52, Mohr Siebeck, Tübingen.
Stulman, L., 2005, Jeremiah, Abingdon Old Testament Commentaries, Abingdon, Nashville, TN.
Thelle, R.I., 2009, ‘Babylon in the book of Jeremiah (MT): Negotiating a power shift’, in H.M. Barstad & R.G. Kratz (eds.), Prophecy in the book of Jeremiah, BZAW 388, pp. 187–232, De Gruyter, Berlin.
Thompson, J.A., 1980, The book of Jeremiah, NICOT, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Van Hecke, P.J.P., 2003, ‘Metaphorical shifts in the oracle against Babylon (Jer 50–51)’, Scandinavian Journal of the Old Testament 17(1), 68–87. https://doi.org/10.1080/09018320308949
Voetnotas
1. By gebrek aan ’n presiese Afrikaanse ekwivalent vir die Hebreeuse term מפץ, word soos in die AFR20 die term knuppel gebruik.
2. Let asseblief daarop dat alle verdere verwysings na Jeremia 51 slegs met versnommers aangedui sal word.
3. Die gebruik in die AFR20 om die naam יהוה met HERE weer te gee, word deurgaans in hierdie artikel nagevolg.
|