Abstract
Leading and equipping people for good deeds as a crucial part of parish ministry. The article examines the role that equipment for good works, as an integral part of church ministry, can play in revitalising and help congregations to grow. The investigation is conducted through an exegetical analysis of Ephesians 2, focusing on verse 10. The results of the study of Ephesians are then compared with other Scriptures where good works are mentioned. From this research, it becomes clear that good works do not play a role in the justification and salvation of believers, because it is solely the work of God’s undeserved grace. However, good works are an integral part of God’s purpose in his redemption of humanity. Humanity is not saved by good works but rather unto good works. According to Ephesians, good works serve to proclaim the greatness of God’s grace towards believers. God prepares the good works for believers. Believers are enabled to do good works through the gifts that Christ and the Spirit give them, and the equipment they receive through the special services. From the Gospels, it is evident that good works were a characteristic of Jesus’ mission, and therefore also the calling of his disciples. In the pastoral letters, good works are described as part of Christ’s purpose for which He acquired a people for Himself. The ultimate goal of equipping from the Word, is the ability to do good works. Therefore, good works testify to maturity in faith, reliability, and dedication. A lack of good works puts a question mark on someone’s faith. The conclusion from the research is that deliberate equipping of members to actively do good works, should be an integral part of church ministry. Each member of the congregation should be held responsible for using the opportunities that God creates for them, to do good works. The lack of a structured ministry of equipping members for distributing God’s grace by good works, can be a leading cause of stagnation and decline in congregations.
Contribution: The article contributes to practical theological reflection on ministry in the church through in-depth exegetical analysis and comparison of Scripture with Scripture. The place of equipping for good works, which is often overlooked in reformed circles, is highlighted here.
Keywords: Leading; equipping; good works; parish ministry; exegesis; Ephesians; Evangelical; Pastoral letters.
Inleiding
Daar is reeds baie gepubliseer rondom die stagnasie en agteruitgang in getalle van die breër verband van gereformeerde kerke, asook die faktore wat moontlik daartoe aanleiding gee. Aandag is geskenk aan ʼn verskeidenheid faktore wat elkeen opsigself ʼn bydrae tot die probleem kan lewer, of gesamentlik ʼn bepaalde dinamiek inisieer en momentum laat opbou (Ferreira 2020; Hendriks 1993:545; Jenkins 2007:161; Nürnberger 2002:75–76; Strong 2007:107–109; Walls 2002:195–214).
Hierdie artikel wil deur middel van eksegese ’n bydrae lewer tot die nadenke oor die praktyk van die bediening, en voorstelle formuleer waardeur moontlike vernuwing, vitalisering en groei in kerke kan plaasvind.
In Efesiërs 2 word die lewewekkende daad van God in sy kinders se lewe, beskryf (Thielman 2010:132, 133). Vers 8–10 spel die verhouding tussen die indikatief van God se genade en die imperatief, wat dit vir gelowiges inhou, uit (DeSilva 2022:128; Osborne 2017:np). In vers 10 word die plek van goeie werke in die gelowiges se lewe beskryf (DeSilva 2022:124–128). Efesiërs 2:10 word binne die konteks van die hoofstuk en die brief ondersoek, ook in vergelyking met ander Skrifgedeeltes wat oor dieselfde onderwerp handel. Die fokus val vanuit die vers dus uiteraard op een bepaalde aspek van die bediening, naamlik wat doelbewuste en doelgerigte toerusting van lidmate, om ʼn lewenstyl waarvan goeie werke ʼn integrale deel is, te handhaaf, tot gemeentegroei kan bydra.
Efesiërs
Efesiërs 2 binne die konteks van die brief
Navorsers wys daarop dat Ef 1:10 waarskynlik ʼn kernvers is wanneer na die doel van Paulus se skrywe gevra word (vgl. Petrenko 2011:94–97). Die doel van die brief sal volgens hierdie vers wees om God se raadsplan (οἰκονομία) te beskryf, waardeur Hy die tye reël, sodat alle dinge onder Jesus Christus as hoof verenig sal word. Hierdie waarneming word bevestig wanneer die herhaalde verwysing na die uitvoering van God se plan, in die brief raakgesien word (Floor 2011:467–469). Ook wanneer die inhoud van die verskillende hoofstukke beskou word.
In Hoofstuk 1 word die werk van die drie-enige God beskryf waardeur God alle dinge onder Jesus se voete werp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente, wat sy liggaam is, gee. Die gemeente is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Hoofstuk 2 beskryf die lewewekkende werk van God in die individuele gelowige, en die doel van sy werk (2:1–10). Die laaste deel van die hoofstuk beskryf die uitwerking van hierdie werk op die gelowiges se verhouding tot God en medegelowiges, asook die eenwording in Christus van gelowiges uit alle nasies. Soos in Hoofstuk 1, sluit hierdie hoofstuk weer af met die beskrywing van die kerk in haar verhouding (eenwording) met Jesus Christus, asook met die Vader en die Heilige Gees (vs 19–22). In Hoofstuk 3 beskryf Paulus hoe God hom by sy plan (οἰκονομία, 3:2) betrek het. Sy dienswerk (3:7) was om die evangelie aan die heidene te verkondig (3:6), volgens die tyd in God se raadsplan wat nou aangebreek het (3:8, 9), sodat die kerk volgens sy ewige voorneme (3:11), God se wysheid kan bekendmaak (3:10). Ook Hoofstuk 3 eindig met die beskrywing van die innige verhouding tussen Christus en sy kerk (3:17), deur hulle kennis van sy liefde (3:18), en dit alles moet wees tot eer van God (3:18).
Baie navorsers is van die oortuiging dat die brief in twee gedeel is, Hoofstuk 1–3 word gesien as die hoofsaaklik indikatiewe deel, en Hoofstuk 4–6 as die hoofsaaklik imperatiewe deel. Jordaan (1990:61) wys egter daarop dat 4:1–16 hoofsaaklik die indikatief van Christus se toerusting van sy kerk beskryf. Daar is ook ʼn ander wyse van indeling, wat gegrond kan word op die gebruik van die woord οἰκονομία in 1:10 en 3:2. Hierdie siening berus op die aanname dat Paulus God se raadsplan (οἰκονομία) in Efesiërs beskryf (vgl. Schnackenburg & Heron 2001:58–59, 129). Hoofstuk 1 en 2 beskryf die drie-enige God se werk sonder die bydrae van die mens, terwyl hoofstuk 3–6 beskryf hoe God die mens by die uitvoering van sy raadsplan betrek. Dit is nie nodig om ʼn keuse te maak tussen hierdie twee indelings nie, solank in gedagte gehou word dat nie een ʼn uitsluitende indeling verteenwoordig nie. Die eerste drie hoofstukke bevat ook imperatiewe, al is dit meer implisiet, en hoofstuk 4 tot 6 bevat ook indikatiewe. So beskryf hoofstuk 1 en 2 ook op enkele plekke die werk van die mens, en hoofstuk 3–6 ook die werk van God, al is dit telkens in die minderheid.
Hoofstuk 4:1–16 kan gesien word as ʼn oorgang van die indikatief na die imperatief en die oorgang word bewerk deur die gawes wat Christus gee, om die gelowiges in staat te stel om hulle roeping te vervul binne die liggaam van Christus, en daar buite. Hoehner (2002:vii, 62, 66–69) wys op die funksie van die woord περιπατέω [loop, lewe] as struktuurmerker in veral hoofstuk 4–6. Hierdie woord kom egter ook twee keer in hoofstuk 2 voor, en verbind daarmee hoofstuk 2 ten nouste met hoofstuk 4–6. Hoofstuk 4:17–6:24 beskryf daarom die nuwe wyse waarop die gelowiges moet lewe (περιπατέω), omdat hulle deur God nuut gemaak is (2:4–9).
Deurlopend word in die brief ook die stryd tussen God, sy kinders, en die bose magte beskryf. Daarom gebruik Paulus ook dikwels op strategiese plekke woorde wat mag en krag aandui (vgl. 1:19-21; 3:7, 17, 20; 6:10).
Wanneer Efesiërs 2:10 verklaar word, moet dit dus gedoen word in die lig van die struktuur van die brief. Dit wil sê, in die lig daarvan dat hierdie vers ook deel van die uitvoering van God se plan beskryf, wat Hy in Christus tot uitvoering bring, midde in die aanslag van die bose magte, met die oog daarop om alles onder die heerskappy van Christus te bring (vgl. Osborne 2017).
Dit is ook belangrik om vers 10 binne die struktuur van Efesiërs 2 (vgl. Figuur 1) te verstaan.
|
FIGUUR 1: Voorgestelde struktuur van Efesiërs 2. |
|
Indien hierdie struktuur aanvaar word, kan vers 1a as die draer van die primêre boodskap (naamlik dat God die gelowiges nuut gemaak het), gesien word, wat deur die res van 2:1b–2:10 nader beskryf word. In vers 1b tot 3b word die dood beskryf waaruit God die gelowiges lewend gemaak het. Die beskrywing bestaan uit twee dele: 2:1b–3a beskryf die doodsheid vanweë die verskillende magte wat in die mens werksaam is. Vers 3b beskryf die mens se doodsheid ten opsigte van sy verhouding met God.
Vers 5, 6 sluit ten nouste aan by vers 1–3, deur weer die toestand te herhaal waarin die gelowiges was voordat God hulle lewend gemaak het, en dan in groter detail te beskryf wat dit inhou dat God hulle nuut gemaak het, naamlik dat hulle saam met Christus uit die dood opgewek is en saam met Hom in die hemel plek gegee is. Vóór hierdie beskrywing, dui hy egter in 2:4 aan waaruit hierdie daad van God voortvloei, naamlik God se ryke barmhartigheid en sy grote liefde waarmee hy die gelowiges liefgehad het. In vers 5 word dit ook beklemtoon dat hierdie redding uit genade kom, en vers 6 teken die gelowiges as oorwinnaars saam met Christus in die hemel.
Vers 7 begin met die woord ἵνα (sodat) en daarmee beskryf hy God se doel waarom hy die gelowiges lewend gemaak het. Die doel word met die woord ἐνδείκνυμι weergegee. Hierdie woord word in die betekenismoontlikhede gebruik van ‘demonstreer, vertoon, bewys – deur argument of handelinge. Wat hy wil vertoon is die uitnemende rykdom van sy genade en goedertierenheid oor gelowiges in Christus Jesus. Dit wil hy doen in die eeue wat kom (Pennington 2011:102, 103).
Vers 8 en 10 gee die twee redes waarom Paulus sê dat dit God se doel is. Vers 8 begin met die woorde τῇ γὰρ (want) en vers 10 met die woorde αὐτοῦ γάρ (want sy [God]). Die rede wat vers 8 gee is dat hulle uit genade gered is en dit deur die geloof, met die bevestiging daarby dat dit nie uit hulleself is nie (nie die redding nie en ook nie die geloof nie), dit is ʼn gawe van God. Vers 9 bevestig dit tot oormaat van duidelikheid ‘nie uit die werke nie’, en die doel dat alles van God kom, word ook in vers 9b ingelei met die woord ἵνα (sodat), ‘sodat niemand kan roem nie’. Paulus maak baie seker dat sy lesers verstaan, dat die doel van God se lewendmakende daad is, dat sy genade ten toon gestel word, en nie dat die gelowiges daarvoor enige eer sal ontvang, of sal kan sê dat hulle enige bydrae gelewer het nie.
Pennington (2011) sê:
In Ephesians 2:7–10, Paul identifies three reasons that God acted in sovereign grace to rescue sinners: 1) To display the glory of His grace (v. 7); 2) To destroy all human boasting (vv. 8–9); and 3) To guarantee good works (v. 10). (p. 102)
Dit is belangrik om die gebruik van die woord περιπατέω (loop) in hoofstuk 2 raak te sien. Die hoofstuk begin met die beskrywing van die wyse waarop mense, wat (nog) nie deur God nuutgemaak is nie, wandel (περιπατέω–2:2). Vers 10 eindig met die wyse waarop die nuutgemaakte mens bedoel is om te wandel (περιπατέω–2:10). In die verse binne die omraming van vers 2 en 10, word God se motivering vir sy lewendmakende daad en sy doel met die daad beskryf, met as eindpunt (hoogtepunt) vers 10b (Hoehner 2002:66–69, 349–350).
Die woord περιπατέω word eers weer in 4:1 gebruik, waar dit nou verbind word met die oproep aan die gelowiges om waardig in hulle roeping te wandel. Hierdie roeping vloei voort uit dit wat God volgens hoofstuk 1–3 gedoen het (vgl. die begin van 4:1 met die woord οὖν – daarom).1 In hoofstuk 4–6 word περιπατέω as ʼn struktuurmerker gebruik om die roeping van die gelowiges te beskryf (vgl. 4:1, 4:17, 5:2, 5:8, 5:15). Hoehner (2002) sê dat die woord ἵστημι (staan) in 6:14 in die plek van περιπατέω gebruik word en daarom deel vorm van die struktuur. Deel van die roeping van die gelowiges is, om vas te staan in die stryd teen die bose magte.
God maak die mens lewend en verhoog hulle saam met Christus, sodat die omvang van sy genade deur hulle goeie werke ten toon gestel kan word.
Dit is ook belangrik om ʼn detailontleding te maak van Efesiers 2:10.
Ontleding van Efesiërs 2:10
In vers 10 staan die woord αὐτοῦ, wat na God verwys, voorop. Paulus beklemtoon dus God as die handelende persoon in aansluiting by die vorige verse. Die gelowiges word beskryf as God se handewerk of kunswerk. Die woord κτισθέντες [geskep] verklaar die handewerk as ʼn skeppingsdaad. Die skeppingsdaad word verder verklaar deur twee sinne. Dit is gedoen in Christus Jesus en die doel van die skeppingswerk is, dat dit tot goeie werke sal lei (sien Figuur 2). Die goeie werke word nader bepaal deur die feit dat God dit vooraf berei het, voorbeskik of gereed gemaak het. Die doel waarom Hy dit voorberei het, is dat die gelowiges daarin sal wandel. Hier is dus sprake van ʼn nuwe identiteit (God se nuutskepping) en ʼn nuwe lewensdoel (wandel in God se voorbeskikte goeie werke).
|
FIGUUR 2: Voorgestelde struktuur van Efesiërs 2:10. |
|
ʼn Belangrike vraag is, wat die goeie werke is waarvan hier sprake is. Hoehner (2002) sê oor die begrip goeie werke in 2:10 (vgl ook Osborne 2017):
The attribute adjective ἀγαθοῖς which decribes the works as good, normally has a moral as well as a benificial connotation. In other words we are created in Christ Jesus for works that are morally and benificially good for us, for those around us, and for God. (p. 348)
Verdere duidelikheid hieroor kan egter verkry word wanneer die gebruik van die woord περιπατέω in vers 2 en vers 10 vergelyk word met die gebruik van hierdie woord in 4:1 en 4:17. In beide pare word die ou lewenswandel en die nuwe lewenswandel beskryf.
In Efesiërs 4:1–16 word die gelowiges se roeping (wandel) binne die liggaam van Christus beskryf, en in 4:17 – 6:23 word die roeping (wandel) in verskeie situasies van elke dag se lewe, beskryf. In 4:12 word die woord ἔργον verbind met die woord διακονία, om die dienswerk van die gelowiges aan te dui (Mbennah 2009:9, 56–61).
Hieruit kan afgelei word dat in die brief aan die Efesiërs, goeie werke beteken, dit wat die gelowiges binne die gemeente en in elke dag se lewe doen, voortvloeiend uit God se werk in hulle (hulle roeping).
Hulle word hiervoor toegerus deur die genadegawes wat Christus aan elkeen gee, en ook die spesiale gawes wat hy aan die gemeente gee, om die gelowiges te bekwaam vir die dienswerk (εἰς ἔργον διακονίας) waarin hulle moet wandel. Die wandel waartoe hulle geroep word, staan ook in kontras met die onvrugbare werke van die duisternis (τοῖς ἔργοις τοῖς ἀκάρποις τοῦ σκότους – 5:11), waarmee hulle geen gemeenskap mag hê nie, maar dit eerder moet bestraf (5:11).
Hiermee word die werke van die gelowiges in verband gebring met die stryd teen die bose magte (Petrenko 2011:99–110). Dit stem ooreen met die konteks waarin die werke geplaas word, in sowel hoofstuk 2 as hoofstuk 4. Daar is geen aanduiding dat daar in 2:1 ʼn nuwe onderwerp begin word, wat losstaande van hoofstuk 1 is nie (Osborne 2017:np). Hoofstuk 1 eindig met die gebed van Paulus, dat die gelowiges die hoop van hulle roeping (vgl ook 4:1) sal begryp, en die heerlikheid van die gelowiges as erfdeel van God, asook dat hulle sal verstaan wat die uitnemende grootheid is van God se krag wat hy in hulle werk, volgens die werking van die krag van sy sterkte (κατὰ τὴν ἐνέργειαν τοῦ κράτους τῆς ἰσχύος αὐτοῦ). Paulus stapel in hierdie beskrywing (1:19) woorde op, wat krag en mag uitdruk (DeSilva 2022:128, 129). Hierdie klem op God se mag, word in vers 20–23 verder beskryf, waar Jesus se opwekking uit die dood en sy verhoging bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy, geteken word. Alles is aan Hom onderwerp, en in hierdie posisie is Hy as hoof aan die kerk gegee (1:22). Die kerk is sy liggaam en voltooi Hom (is sy volheid), Hy wat alles en almal vervul (1:23). In die lig van hierdie magswerking en verhoging en regering van Christus, en die verhouding van die kerk tot hierdie Maghebber, moet die lewewekkende werk van God gelees word, wat dan in hoofstuk 2 beskryf word, (Hoehner 2002:307). Hoofstuk 2 beskryf die mag van God wat Hy in gelowiges werk, maar dit beskryf ook hoe Jesus saam met wie hulle in die hemel sit as oorwinnaar (2:6), hulle in diens stel van sy heerskappy (Osborne 2017:np). Hy heers ook deur die goeie werke waartoe hulle geskep is, en wat God vir hulle voorberei het. Die goeie werke is dus koninkrykswerke, maar ook verbondswerke, as 2:11–22 in ag geneem word (vgl. Schnackenburg & Heron 2001:110). Die goeie werke vloei voort uit die noue verhouding tussen die gelowige en Christus (vgl die herhaalde gebruik van die uitdrukking ‘in Christus’–vers 5, 6, 7, 10).
Hierdie verbinding van die werke met die oorwinningsheerskappy van Christus, word in hoofstuk 4 bevestig. Wanneer Paulus die kerk se roeping binne die gemeente beskryf, haal hy Psalm 68 aan om Jesus se koms na die aarde en sy oorwinningtog na die hemel, met hulle roeping te verbind. In sy oorwinningstog, deel Hy genadegawes uit, waarmee die gelowiges hulle dienswerk kan doen. Hulle dienswerk staan in diens van sy regering as verheerlikte Koning (vgl. Mouton 2014:3–7; Wilder 2010:186–188).
Toerusting vir die roeping
Christus gee besondere gawes aan die gemeente, om die gelowige toe te rus vir hulle dienswerk (εἰς ἔργον διακονίας – 4:11) tot opbou van die liggaam van Christus. Hierdie opbou is gemik op die groei na volwassenheid van elke gelowige. Hulle groei om meer en meer soos Christus te word. Hulle groei na standvastigheid in die geloof, sodat hulle nie deur verkeerde lering verlei sal word nie. Die gemeente bedien mekaar met die waarheid wat in Christus is, sodat elke lid ʼn bydrae lewer om die gemeente in liefde op te bou. Die toerusting en die groei is daarom ʼn onlosmaaklike deel van die gemeente se lewe en noodsaaklik, sodat die lede hulle roeping kan vervul om goeie werke te doen (4:13–16; Mbennah 2009:61–68; 2016:131).
In 4:17–20 word die kontras tussen die lewenswyse van hulle wat nog nie deur God lewend gemaak is nie en die gelowiges, in terme van verstandskennis geformuleer. Die heidene wandel in die verdwaasheid van hulle gemoed, is verduisterd in hulle verstand, en vervreemd van God deur onkunde (Hoehner 2002:309, 310). Die gelowiges daarenteen, het Christus leer ken. Hierdie kennis sit ʼn proses in hulle aan die gang. Hulle sien dinge nou anders en daarom breek hulle met die ou lewenswyse, en trek voortdurend die nuwe mens aan in hulle wandel (Hoehner 2002 4:20–24). Hierdie nuwe mens is na God geskape (vgl 1:10) in ware geregtigheid en heiligheid (Hoehner 2002 4:24; 2002:593–594).
Die gemeente moet daarom die gelowiges doelbewus en doelgerig toerus, om dit waarvoor God hulle nuut gemaak het, te kan doen. Hulle moet verantwoordbaar gehou word om hulle roeping tot goeie werke, gedurende elke dag se lewe (wandel) uit te leef.
Gevolgtrekking
Vanuit die studie van Efesiërs 2:10 binne die konteks van die brief en die hoofstuk, kan die volgende prakties-teologiese riglyne getrek word:
- Goeie werke is nie ʼn opsionele ekstra vir die gelowiges nie, maar ʼn wesenlike deel van hulle as nuutgemaakte mense.
- Goeie werke word gedoen tydens hulle gewone lewe en wandel, wanneer hulle onder leiding van die Gees volgens God se waarheid wat in Christus geopenbaar is, leef en God se genade binne en buite die gemeente bedien.
- Die gelowiges moet doelbewus en doelgerig toegerus word vir hulle dienswerk en daarvoor verantwoordbaar gehou word.
- Die goeie werke onderskei hulle van diegene wat nog nie nuutgemaak is nie.
- Deur die toerusting en hulle dienswerk, vind daar groei tot volwassenheid by die gelowiges plaas.
- Deur die groei kom daar standvastigheid en weerbaarheid teen verleiding; op hierdie wyse word die bose oorwin en Christus se koningskap hier op aarde gevestig.
- Die groei laat individuele gelowiges en die gemeente as liggaam, meer en meer soos Christus word.
- Die doel waarom gelowiges goeie werke doen, is in die eerste plek om die grootheid van die genade van God, wat aan hulle bewys is, ten toon te stel.
- Die gelowiges verkondig die genade van God aan die wêreld, deur hulle goeie werke, om God aan hulle bekend te stel en hulle tot geloof te roep.
Die vergelyking van Skrif met Skrif
Jesus se roeping en dié van sy volgelinge
Volgens Lukas 4:18–19 kondig Jesus sy eie roeping aan, en dui dit aan as ʼn vervulling van die profesie wat in Jesaja 58:6 en 61:1–2 (AV 2020) opgeteken is.2
Die Gees van die Here is op My, omdat Hy my gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, om die genadejaar van die Here aan te kondig.
Blythe (2019:46, 54) sê oor hierdie verse: ‘Luke 4:16–30, emphasizes the holistic mission program of Jesus Christ as he participates in God’s salvific purposes for the world.’ Hy (Blythe 2019:61) sê verder: ‘Luke 4:16–30 presents this mission as the centrifugal grace of God, pushing out in Jesus Christ for the holistic salvation of various people groups.’
Hierdie opdrag word ook in en deur Jesus geformuleer met die woorde: ‘Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.’ (vgl. Mt 20:28; Mk 10:45; Lk 22:27). Telkens is sy verkondiging dat sy dissipels hom hierin moet navolg.
In Johannes 10 is Jesus se verkondiging van homself as die Goeie Herder opgeteken. In reaksie op sy verkondiging, wil die Jode Hom stenig. Jesus antwoord hulle dan met hierdie woorde: ‘Baie goeie werke (πολλὰ καλὰ ἔργα) het ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My?’ Jesus beskryf sy lewe hier op aarde as een van goeie werke. Hierdie taak dra Jesus ook aan sy volgeling op volgens Matteus 5:16: ‘Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke (τὰ καλὰ ἔργα) kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.’ Paulus se verkondiging oor goeie werke in Efesiërs (soos hierbo aangedui), eggo hierdie onderrig van Jesus.
In Lukas 3:8–11 gee Johannes die Doper se verkondiging ʼn definisie van goeie werke, en wys op die noodsaak van goeie werke by God se verbondsvolk, asook die gevolge as daar geen goeie werke is nie:
Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte (καρπὸν καλὸν) dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.
Goeie werke is volgens sy verkondiging, daadwerklike liefdesdiens (vgl. Mt 25:34–46).
Breed (2016:160–184) toon uit Johannes 15 aan dat die wat deur die geloof in Jesus Christus ingelyf is, (soos wingerdstokke in die grond van die wingerd), is daar om baie vrug te dra. God die Vader as die landbouer, hou toesig oor die wingerd en verwyder die wingerdstokke wat nie vrug dra nie, maar versorg dié wat vrug dra, sodat hulle meer vrug kan dra. Die wingerdstokke sal vrug dra as hulle in die liefde wat daar tussen die Vader en die Seun is, bly. Dit sal duidelik word as hulle mekaar liefhet. Die vrugte vloei voort uit die eenheid tussen die gelowiges en God. Hulle deel in die liefde en eenheid tussen die Vader en die Seun. Om in die liefde van Christus en die Vader te kan bly, moet hulle binne die grense van Jesus se opdragte (sy Woord) leef. Jesus se woorde trek die grense van sy liefde. Om binne sy woord te bly, veroorsaak dat hulle binne sy liefde sal bly in hulle verhouding met Hom, en met ander mense. Wanneer hulle in sy woord en in sy liefde bly, sal hulle sy volle vreugde ervaar. Op hierdie wyse sal die Gees hulle in eenheid met die Vader, en die Seun en met mekaar, laat leef, sodat hulle baie vrug kan dra. ʼn Deel van hierdie vrug is hulle getuienis aan ander, waarvoor sommige mense (die wêreld) hulle sal haat en vervolg.
Die ooreenkoms tussen die goeie werke waarvan Paulus in Efesiërs 2:10 praat, en die vrug wat die wingerdstokke, volgens Johannes 15 moet dra, lê in die volgende:
- Die werk van die Vader, wat die uitverkorenes lewend maak en saam met Christus opwek uit die dood, en wat die wingerdstokke in Christus plant, en hulle reinig in sy bloed.
- Die vrugte en die goeie werke vloei voort uit die gelowiges se eenheid met God in Christus.
- Die vrugte en die goeie werke word gedoen vanuit die kennis van die Woord, en die liefde van Christus, en lei tot liefde vir mekaar.
- Die vrugte en die goeie werke getuig van God se genade aan dié wat een is met Christus.
- Die vrugte en die goeie werke lewer, deur die Gees, getuienis van God se genade in Christus.
- Die vrugte en die goeie werke is ʼn wesenskenmerk van dié wat in Christus is – daarsonder is dit duidelik, dat hulle nie deel het aan Hom nie en weggeneem sal word.
Binne die gemeentebediening, moet gelowiges begelei word tot groei in hulle kennis van die Woord, en in hulle uitlewing daarvan, sodat hulle in Christus en sy liefde sal bly, en so baie vrug sal dra wat, van God se genade aan hulle sal getuig.
Die pastorale briewe
Die pastorale briewe bevat praktiese riglyne vir gemeentebediening (Knight 1992:3), ook rondom die plek van goeie werke in gelowiges se lewe. Dit is dus belangrik dat hierdie briewe ook ondersoek word, en met die resultate van die eksegese uit Efesiërs vergelyk word.
2 Timoteus 3
In 2 Timoteus 3 praat Paulus met Timoteus oor verskillende reaksies wat daar op die waarheid van God se Woord sal wees. Hy identifiseer sommiges as mense wat ‘altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kom nie’ (vs 7), en wat ‘onbetroubaar is ten opsigte van die geloof’ (vs 8). Vanaf vers 10 kontrasteer hy Timoteus se lewe en gesindheid met daardie mense se lewe. In vers 1–9 word die proses beskryf, wat aan die gang is in die lewe van mense wat die waarheid van God se Woord verwerp, en in vers 10–12 die proses wat in Timoteus se lewe, in navolging van Paulus, afspeel. Hy volg Paulus na in ‘leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolging en lyding’ (vs 10, 11, vgl. Lange, Schaff & Van Oosterzee 2008:107).
Vers 13 keer terug na die proses in die goddelose mense se lewe: hulle sal voortgaan van kwaad na erger, en hulle verlei mense, en word verlei. Vers 14, 15 beskryf nogeens die proses in Timoteus se lewe, nie een van misleiding nie, maar van onderrig in die waarheid van die Skrif. Daarin moet Timoteus volhard, want dit maak ʼn mens wys tot die verlossing, deur die geloof in Christus Jesus. Die verlossing waarvan hier sprake is, kan insluit die aanvanklike verlossing of regverdigmaking deur die geloof. Dit kan ook insluit die voortgaande verlossing van die verkeerde, wat nog in die gelowige se lewe oorgebly het (heiligmaking).
Collins (2013) sê oor vers 12:
The Pastor uses a formulaic expression, ‘to live in godly fashion in Christ Jesus’ (eusebos zen en Christo Iesou), to sum up the Christian life. He speaks of those who have made a decision (thelontes) to live such a life. His description of the Christian life uses one of the apostle’s favorite expressions, ‘in Christ Jesus’. (n.p.)
In vers 16 en 17 word die aard van die Skrif beskryf, waarvoor dit gebruik kan word, en die einddoel van die gebruik van die Skrif (sien Figuur 3). Dit beskryf ook die wyse waarop die Skrif die gelowige kan wys maak tot die verlossing in Christus, met die veronderstelling dat dit deur Paulus se lewe geïllustreer word asook in Timoteus se lewe, in navolging van Paulus. Die struktuur van vers 16 en 17 kan soos volg voorgestel word: vers 17 begin met die woord ἵνα, waarmee ʼn beskrywing van die doel van die gebruik van die Skrif ingelei word, naamlik om die mens wat aan God behoort, te bekwaam, en vir elke goeie werk ten volle toegerus te wees. Hierdie bekwaammaking vind in die nouste verhouding (ὁ τοῦ Θεοῦ ἄνθρωπος) met God plaas. Om die betekenis van hierdie doel te begryp, is dit nodig dat die verskillende fasette van die toerusting waarvoor die Skrif gebruik kan word (v. 16), nader ondersoek word.
|
FIGUUR 3: Voorgestelde struktuur van 2 Timoteus 3:15, 16. |
|
Liefeld (1999) sê oor die opbou, in vers 15, 17:
There may be a sequence intended here: first, refuting the false teaching that Timothy was confronting, and second, straightening everything out. The final item in the sequence is providing an ongoing ‘training in righteousness’ … Structurally, ‘teaching’ stands at the head of this series and the purpose of it all is expressed in verse 17, ‘for every good work’. (n.p.)
διδάσκω
Rengstorf (1964:135) sê hierdie woord het die betekenismoontlikhede van onderrig, leer in die wydste moontlike betekenis, om inligting of praktiese kennis oor te dra met die oog op die aanleer van bepaalde vaardighede. Louw en Nida (1996:412–413) sê dit verwoord onderrig in formele en informele situasies. Dit kan daarom gesien word as die aanvanklike en voortgaande toerusting van gelowiges (kinders) met in-diepte kennis, wat hulle in staat stel om die Woord reg te verstaan en toe te pas, soos die geval was in Timoteus vanaf sy kinderdae.
Rengstorf (1964) kom tot die volgende gevolgtrekking:
Thus διδάσκειν is the word used more especially for the impartation of practical or theoretical knowledge when there is continued activity with a view to gradual, systematic and therefore all the more fundamental assimilation. (p. 135)
ἐλέγχω
Die woord beteken ‘to show someone his sin and to summon him to repentance’ (Büchsel 1964:474).
ἐπανόρθωσις
Die volgende stap in die proses is om iemand te help, om op grond van die genade wat daar in Christus is, reg te stel wat verkeerd gedoen is. Preisker (1964) stel dit baie duidelik:
To cause something to be or to become correct, with the implication of a previous condition of faults or failures – ‘to correct, correcting faults. (Louw en Nida, 1996:673)
The term ὀρθός has been brought into line with the eschatology of primitive Christianity. It is not just used ethically, as in classical Greek, Stoicism, and Jewish Wisdom literature, but indicates the orientation of life to χαρά, and the pledge of this χαρά. ὀρθός thus expresses the eschatological attitude of the disciples of Jesus. (pp. 449–450)
Kittel, Friedrich, en Bromiley sê dat die woord in die eerste plek beteken, om iets of iemand te laat regop staan (vgl. Paulus se woorde aan die lam man om regop te staan – Hand 14:10). Daarna kan dit ook die betekenis dra, om sonder afdraai, direk (in ʼn reguit lyn) op ʼn doelwit af te beweeg (vgl. Heb 12:13).
Die Skrif is dus nuttig om die gelowiges toe te rus met kennis, en indien hulle afgedwaal het, weer vanuit die kennis van en insig in die Woord van God se genade, uitsluitlik te fokus op die doel waarvoor hulle geroep is en so te lewe.
Παιδεία
Wanneer iemand se foute uitgewys is, en hy begelei is om weer op die regte pad te gaan, is daar volharding en groei nodig om ʼn nuwe lewenswyse te vestig. Hierdie vestiging van ʼn lewenswyse word deur die woord παιδεία, uitgedruk. Louw en Nida (1996) verklaar dit:
To provide instruction, with the intent of forming proper habits of behavior – ‘to teach, to instruct, to train, teaching, instruction.’ παιδεύωa: ἐπαιδεύθη Μωϋσῆς ἐν πάσῃ σοφίᾳ Αἰγυπτίων ‘Moses was trained in all the wisdom of the Egyptians’ Acts 7:22. (p. 413)
Bertram (1964) meen ook:
παιδεία is both the way of education and cultivation, which has to be traversed, and also the goal which is to be attained. (p. 596)
δικαιοσύνη
Schrenk (1964) verwys in sy verklaring van die betekenisinhoud van δικαιοσύνη, na 2 Korintiërs 9:9:
In 2 C. 9:9 f., where we twice have δικαιοσύνη in a quotation from the OT (ψ 111:9; Hos. 10:12), the context, which deals with the collection, might well suggest the sense of almsgiving. It is more likely, however, that after the earlier reference to ‘every good work,’ what is meant is right conduct worked out in acts of love. (p. 210)
Wanneer hierdie verklaring van die betekenis van δικαιοσύνη in 2 Korintiërs 9:9 vergelyk word met die konteks waarin die woord in 2 Timoteus 3 staan, word δικαιοσύνη in beide gevalle in noue verbinding met goeie werke gebruik. Hieruit kan afgelei word dat in Paulus se oortuiging, ʼn lewe van geregtigheid ʼn lewe is wat elke goeie werk insluit. Geregtigheid vind gestalte in dade van liefde. Swindoll (2014:241) sê:‘Scripture trains us to align our behavior so that it matches our new, righteous identity (2 Cor. 5:17; Eph. 2:10; 4:24; Col. 3:10)’.
Collins (2002) lewer kommentaar aangaande δικαιοσύνη in vers 16:
The Scriptures are also deemed to be useful for training in righteousness (pros paideian ten and dikaiosyne). This is the high point of the Pastor’s reflections on the usefulness of the Scriptures. Using the rhetorical technique of climax (climax or gradatio), he has placed ‘training in righteousness’ at the end of his list and provides emphasis by adding a purpose clause (v. 17). (n.p.)
ἔργον ἀγαθὸν
Wanneer Paulus Timoteus se navolging van sy voorgangers en hulle onderrig verbind met die gebruik van die Skrif (vs. 14–17), wat uitloop op die gereedheid om goeie werke te doen, kan vers 10 as beskrywing van die goeie werke wat hy moet navolg, gesien word.
Liefeld (1999) sê oor vers 17:
The importance of good works in the Pastoral Letters cannot be overemphasized. These are the marks of the genuine servants and people of God in contrast to the false teachers. This emphasis is consistent with the repeated theme of the blending of sound doctrine and godly living. (n.p.)
Dit is ook belangrik om raak te sien dat Paulus hier die intieme verhouding van die gelowige met God verbind met die gereedheid om goeie werke te doen. Die mense wat aan God behoort, gee daarvan getuienis deur die wyse waarop hulle lewe.
Thomas en Kostenberg (2006) som die plek van goeie werke, volgens 2 Timoteus 3 soos volg op (vgl. ook Osborne 2017):
While salvation comes through faith in Christ (2 Ti 3:15; cf. 1:9; Ti 3:5), the purpose of a person’s calling is good works, a major theme in the PE [Pauline Epistles] (1 Ti 2:10; 3:1; 5:10, 25; 6:18; 2 Tim 2:21; Tit 1:16; 2:7, 14; 3:1, 8, 14). Once again the message is consistent with Paul’s teaching elsewhere (Eph 2:8–10). (n.p.)
Thomas en Kostenberg (2006:np) gaan voort en maak ʼn lys van die volgende kenmerke van die toerusting van gelowiges:
- Gegrond in die Skrif (nie blote humanistiese beginsels en waardes nie).
- Intensief – daar is geen kort paaie na geestelike groei nie.
- Nie bloot gemik op die gelowige se eie toerusting of intellektuele groei nie, maar gerig op gereedheid om ander te kan bedien.
Titus
Die begrip goeie werke (καλῶν ἔργων/ ἔργον ἀγαθὸν) kom vyf keer voor in Titus.
Volgens 1:16 word die egtheid van iemand se belydenis dat hulle God ken, getoets aan hulle werke.
Sommiges se werke verloën hulle belydenis, omdat hulle ‘ongeskik is vir elke goeie werk’ (vgl. Rm 2:9, 10; 1 Tim 5:25; Jak 3:13).
Volgens 2:7 word Titus aangemoedig om homself in alles te betoon as ʼn voorbeeld van goeie werke, en daaruit sal sy onvervalstheid in die leer, waardigheid en opregtheid duidelik word (vgl. 1 Pet 2:12; Hand 9:36; 1 Tim 2:10).
Volgens 2 Timoteus:14 het Jesus Homself vir ons gegee ‘om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke’. Deel van Jesus se doel om ons te verlos, is sodat ons ywerig in goeie werke sal wees (vgl.1 Tim 5:10).
Volgens 3:8 roep Paulus vir Titus op om dit voortdurend te bevestig, dat die gelowiges moet sorg dra om in goeie werke te volhard (προΐ́στημι). Hierdie goeie werke is dit wat goed en nuttig is vir mense (vgl. Heb 10:24; 1 Tim 6:18).
In Titus 3:14 sê Paulus dat die gelowiges geleer moet word om te volhard (προΐ́στημι) in goeie werke sodat in die noodsaaklike behoeftes voorsien sal word – dan sal hulle nie onvrugbaar (ἄκαρπος = sonder vrugte, vgl. Joh 15) wees nie.
Paulus skryf aan Titus oor hoe die praktiese bediening ingerig behoort te word (Knight 1992:3). Ook in die verse uit Handelinge, 1 Timoteus, Jakobus en Hebreërs, hierbo genoem, word die praktiese bediening benadruk. Uit al hierdie verse is dit duidelik dat goeie werke ʼn wesenskenmerk van elke gelowige is, en deel uitmaak van die verlossingsdoel van Jesus se werk. Gelowiges moet goeie werke doelbewus en ywerig navolg, en mekaar daarvoor verantwoordbaar hou. Volhardende goeie werke toon die egtheid van iemand se geloof, sy geskiktheid vir besondere dienswerk en dit wek vertroue by medegelowiges. Die afwesigheid van goeie werke verloën die belydenis dat jy God ken, ware kennis van God sal die gelowige dring om vanuit sy of haar verhouding met God, as navolger van God, goeie werke te doen.
Samevatting
Uit die navorsing het die volgende duidelik geword:
- Volgens die Evangelies is die wese van Jesus se opdrag, om die genade van God aan mense in nood te bedien. Daarom was die doel van sy koms om te dien, en nie om gedien te word nie.
- Die werk wat Jesus doen, is die werk van sy Vader; Hy bedien dus die liefde van die Vader aan mense vanuit sy intieme verhouding met sy Vader.
- Jesus betrek die gelowiges by hierdie verhouding met die Vader, en gee daarmee saam aan hulle dieselfde opdrag wat Hy van die Vader ontvang het, naamlik om sy genade aan mense te bedien.
- Goeie werke (vrugte) vloei volgens die evangelies voort uit die gelowiges se verhouding met die Vader en die Seun; die verhouding is gegrond in die waarheid (opdragte) wat Jesus aan hulle verkondig het, en ontspring daarom ook uit sy liefde.
- Om vrugte te dra, moet die gelowiges in die waarheid en in die liefde bly; hiertoe lei en bekragtig die Gees van God hulle, sodat God deur hulle werke openbaar word. Daarom sal hulle ook vervolg (gehaat) word soos Jesus ter wille van die waarheid gehaat is.
- Volgens Efesiërs behoort goeie werke tot die wese en die doel van diegene wat deur God nuut geskep is in Christus Jesus.
- Goeie werke se doel is om die uitsonderlike grootheid van God se genade ten toon te stel.
- Goeie werke is daarom bediening van God se genade gedurende elke dag se lewe, deur woorde en dade wat voortvloei uit die kennis van Jesus Christus, en in navolging van God.
- Goeie werke is koninkrykswerke en verbondswerke, en vloei daarom voort uit die oorwinning van Christus oor die bose, en dra by tot die eenheid en groei van sy liggaam.
- Christus as oorwinnaar-koning deel gawes aan sy liggaam uit, om te dien deur die goeie werke. Elkeen ontvang gawes en die liggaam ontvang ook besondere gawes, om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk.
- Wanneer die gelowiges toegerus word en hulle dienswerk doen, groei elkeen asook die liggaam, na volwassenheid, d.i. na Christus toe.
- Die liggaam groei wanneer hulle mekaar met die waarheid bedien, en wanneer hulle elkeen hulle funksie binne die liggaam vervul – in daardie noue verhouding met Christus, uit wie die hele liggaam groei.
- In hulle daaglikse wandel, tree hulle op vanuit hulle kennis van wat met hulle gebeur het in Christus (lewend gemaak, opgewek, saam met Christus in die hemel). Hierdie kennis se vrug dien as ʼn voortdurende vernuwingsproses in hulle denke en dade.
- Die Gees van God deur wie hulle verseël is, dring hulle hiertoe, en hulle mag Hom nie bedroef nie, maar moet soek om deur Hom vervul te word.
- Wanneer hulle so vanuit die God se genade en die kennis leef, kan hulle vasstaan teen die aanslae van die bose magte en God verheerlik.
- Volgens die pastorale briewe aan Timoteus en Titus:
- Speel navolging en groei ʼn belangrike rol in die toerusting van gelowiges, om goeie werke te doen.
- Is die Woord van God deur Hom geïnspireer, om die mense toe te rus met die waarheid, en indien nodig, hulle met die woord te oortuig van die verkeerdheid van hulle weë, om hulle met die woord die pad terug aan te dui, en om hulle dit in te oefen om die waarheid deel van hulle lewe te maak, sodat hulle toegerus is vir elke goeie werk.
- Goeie werke is deel van die geregtigheid waarvoor hulle toegerus word, en dit staan teenoor die ongeregtigheid van mense wat God nie ken nie.
- Goeie werke is ʼn wesenlike deel van die gelowige se lewe en moet met ywer, voortdurend deel gemaak word van hulle optrede. Gelowiges en die voorgangers in die gemeente, moet medegelowiges verantwoordbaar hou om met goeie werke te lewe.
- Mense wat sê dat hulle God ken, maar nie goeie werke doen nie, verloën hulle belydenis.
- Goeie werke getuig van voorgangers en ander gelowiges se egtheid, betroubaarheid en toewyding.
Slotsom
Doelbewuste en doelgerigte toerusting en verantwoordbaarheid vir goeie werke, is ʼn onlosmaaklike deel van die Nuwe-Testamentiese opdrag aan gemeentes. Binne die bedieningsplan van ʼn gemeente, behoort strukture geskep te word wat verseker dat hierdie opdrag gehoorsaam word. Wanneer gemeentelede die geleenthede, wat God op hulle pad bring, benut om goed te doen aan ander, verkondig hulle dade die God van genade. Gehoorsaamheid aan hierdie opdrag, kan lei tot groei in die geloofsvolwassenheid van die gemeente. Dit kan ook lei tot die groei in getalle wanneer die gemeente uitdelers van God se genade word, in ʼn wêreld vol swaarkry en pyn, selfsug, nepotisme en korrupsie, onbetroubaarheid en leë beloftes. ʼn Gebrek aan volwasse leiers en die krimpende getalle in kerke, kan ʼn direkte gevolg wees van ongehoorsaamheid aan die opdrag om die goeie werke, waartoe God ons herskape het, te doen, omdat die grootheid van God se genade dan nie ten toon gestel word nie.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
G.B. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.
Verwysings
Blythe, S., 2019, ‘The place of preaching in the church’s mission Luke 4:16–30’, The Journal of the Evangelical Homiletics Society 19(2), 46–67.
Breed, G., 2016, ‘What can we do to stem corruption? Ethical guidelines from John 15’, in F. Kruger & B. de Klerk (eds.), Corruption in South Africa’s liberal democratic context, pp. 160–184, AOSIS, Cape Town.
Büchsel, F., 1964, ‘Ἐλέγχω, Ἔλεγξις, Ἔλεγχος, Ἐλεγμός”, in G. Kittel, G.W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the new testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Collins, R.F., 2002, I & II Timothy and Titus: A commentary, Presbyterian Publishing Corporation, ProQuest Ebook Central, viewed 16 November 2023, from http://ebookcentral.proquest.com/lib/northwu-ebooks/detail.action?docID=3416800.
DeSilva, A.D., 2022, Ephesians, Cambridge, Cambridge University Press.
Ferreira, I.W., 2020, ‘Die GKSA se ‘sendingstilstand’ na 150 jaar / The RCSA’s “missional standstill” after 150 years’, In die Skriflig 54(2), a2576. https://doi.org/10.4102/ids.v54i2.2576
Floor, L., 2011, ‘Een blauwdruk voor de toekomst, Efeziërs 1:9–10’, In die Skriflig 45(2 & 3), 467–480. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.24
Hendriks, H.J., 1993, ‘Die 1991-bevolkingsensus-tendense en die Afrikaanse kerke’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 34(4), 542–551.
Hoehner, H.W., 2002, Ephesians: An exegetical commentary, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Jenkins, P., 2007, The next Christendom – The coming of global Christianity [Die volgende Christendom – Die koms van globale Christenskap], University Press, Oxford.
Jordaan, C.J.G., 1990, ‘Die verhouding tussen indikatief en paraklese in die brief aan die Efesiërs’, In die Skriflig 24(1), 49–69. https://doi.org/10.4102/ids.v24i1.1341
Knight, G.W., 1992, The Pastoral Epistles: A commentary on the Greek text, New International Greek Testament Commentary, Eerdmans, Carlisle.
Lange, J.P., Schaff, P. & Van Oosterzee J.J., 2008, A commentary on the Holy Scriptures: 1 & 2 Timothy, transl. E.A. Washburn & E. Harwood, Logos Bible Software, Bellingham.
Liefeld, W.L., 1999, 1 and 2 Timothy, Titus, HarperCollins Christian Publishing, ProQuest Ebook Central, viewed 16 November 2023, from http://ebookcentral.proquest.com/lib/northwu-ebooks/detail.action?docID=5397279.
Louw, J.P. & Nida, E.A. 1996, Greek-English Lexicon of the New Testament: Based on Semantic Domains, United Bible Societies, New York.
Mbennah, E.D., 2009, The mature church: A rhetorical-critical study of Ephesians 4:1–16 and its implications for the Anglican Church in Tanzania, PhD, North West University, Potchefstroom.
Mbennah, E.D., 2016, ‘The goal of maturity in Ephesians 4:13–16’, Acta Theologica 36(1), 111–132. https://doi.org/10.4314/actat.v36i1.7
Mouton, E., 2014, ‘“Ascended far above all the heavens”: Rhetorical functioning of Psalm 68:18 in Ephesians 4:8–10?’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), 2058. https://doi.org/10.4102/hts.v70i1.2058
Nürnberger, K., 2002, ‘The Spirit of God: A soteriological metaphor in biblical history and its significance for us today’ [Die Gees van God: ’n soteriologiese metafoor in bybelse geskiedenis en die hedendaagse betekenis daarvan]’, Scriptura 79(1), 55–80. https://doi.org/10.7833/79-0-773
O’Toole, R.F., 1995, ‘Does Luke also portray Jesus as the Christ in Luke 4,16–30?’, Biblica 76(4), 498–522.
Osborne, G.R., 2017, Ephesians verse by verse, Lexham Press, ProQuest Ebook Central, viewed 23 November 2023, from http://ebookcentral.proquest.com/lib/northwuebooks/detail.action?docID=5153170.
Pennington, T., 2011, ‘All the world’s a stage: Understanding the ultimate purpose of our salvation (Eph 2:7)’, Master’s Seminary Journal 22, 99–113.
Petrenko, E., 2011, Created in Christ for good works: The interpretation of soteriology and ethics in Ephesians, Pater Noster, Milton Keynes.
Preisker, H., 1964, ‘Ὀρθός, Διόρθωσις, Ἐπανόρθωσις, Ὀρθοποδέω’, in G. Kittel, G.W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the new testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Rengstorf, K.H., 1964, ‘“διδάσκω”’, in G. Kittel, G.W. Bromiley & G. Friedrich (eds.), TDNT, vol. 2, pp. 135–148, Wm. B. Eerdmans Publishing, Grand Rapids, MI.
Schnackenburg, R. & Heron H., 2001, Epistle to the Ephesians: A Commentary, Bloomsbury Publishing, ProQuest Ebook Central, viewed 23 November 2023, from http://ebookcentral.proquest.com/lib/northwu-ebooks/detail.action?docID=1644288.
Strong, P., 2007, Romans 12:2 as an important paradigm for transformation in a Christian: A practical theological study [Romeine 12:2 as ’n belangrike paradigma vir transformasie in ’n Christen: ’n Praktiese, telogiese studie], thesis submitted for the degree PhD, Pastoral Studies, North-West University (Potchefstroom Campus).
Swindoll, C.R., 2014, Insights on 1 and 2 Timothy, Titus, Tyndale House Publishers, Carol Stream.
Thielman, F., 2010, Ephesians, Baker Academic, Ada Mi.
Thomas, R.L. & Kostenberger, A.J., 2006, 1 and 2 Thessalonians, 1 and 2 Timothy, Titus, Zondervan, Grand Rapids, MI.
Walls, A.F., 2002, The Cross-cultural process in Christian history – Studies in the Transmission and Appropriation of Faith [Die Kruis-kulturele proses in die Christelike geskiedenis – Studies in die Oordrage en Bewilligheid van Geloof], Clark, Edinburgh.
Wilder, W.N., 2010, ‘The use (or abuse) of power in high places: Gifts given and received in Isaiah, Psalm 68, and Ephesians 4:8’, Bulletin for Biblical Research 20(2), 185–200. https://doi.org/10.2307/26424295
Voetnotas
1. Vgl. Petrenko (2011:18, 19) vir ’n vergelyking van verskillende standpunte oor die rol van οὖν in 4:1.
2. O’Toole (1995:499) wys daarop dat Lukas 4:16–30 die agenda van Lukas en Handelinge aandui.
|