About the Author(s)


Jacobus M. Vorster Email symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the SA Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Vorster, J.M., 2024, ‘Die begrippe “gemeen akkoord” en “buite kerkverband plaas” in kerkregtelike perspektief’, In die Skriflig 58(1), a3076. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3076

Original Research

Die begrippe ‘gemeen akkoord’ en ‘buite kerkverband plaas’ in kerkregtelike perspektief

Jacobus M. Vorster

Received: 14 Mar. 2024; Accepted: 22 Apr. 2024; Published: 28 May 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The concepts ‘mutual concensus’ and ‘exclusion from the church community’ in Church Polity: Ecclesiastical decisions about the calling and ordination of women in the offices in local congregations became a burning issue in Reformed Churches world-wide and even resulted in divisions and schisms. This is currently also the case in the community of the Reformed Churches in South Africa (RCA) (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika [GKSA]). The 2009 General Synod of the RCA resolved that women may not be ordained in the offices of ministers and elders. Subsequent Synods re-affirmed this decisions by a mere majority of votes according to Article 31 of the Church Order of the RCA. Despite these resolutions of various Synods, some local churches proceeded with the ordination of women in the applicable offices. Two of these local churches were subsequently excluded from the community of Reformed Churches within the RCA, by two classes with the argument that they disregarded the ‘common concent’ underlying the official synodical decisions. This study focuses on the question: what is ‘common consent’ within the context of Reformed Church polity and does this polity enable major assemblies to exclude local churches form the church community merely by way of a motion, just because they cannot reach concensus about a synodical resolution? The central-theoretical argument of the study is that the concepts ‘mutual consent’, as well as ‘exclusion from the church community’, should be revisited, because the current ‘application of these ideas in the RCA results in irresponsible collective church discipline, leads to schism in the church community, the binding of consciences and the violation of the rights of called church officials’.

Contribution: This article proposes a responsible code of conduct in the RCA regarding the matter of local congregations that cannot, as a matter of conscience and after many petitions of protest, adhere to the synodical decisions about the prohibiting of the ordination of women in local churches. ‘Mutual consent’ cannot be understood in an absolute sense and ‘exclusion of the church community’ is a hierarchical action that runs against the core principles of Presbyterial church polity. A more responsible code is of the utmost importance.

Keywords: Common accord; exclusion from the church community; woman in church office; bond of conscience; collective discipline; freedom of conscience; presbyterian church polity.

Inleiding

Die saak van die bevestiging van vroue in die besondere dienste in die plaaslike kerk is op die oomblik in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) ’n baie verdelende kwessie. Hoewel die Algemene Sinode van 2009 (GKSA 2009:665) besluit het dat vroue nie beroep mag word in die lerende en regeerdienste in die plaaslike kerk nie, in ooreenstemming met vorige besluite sedert 1988,1 het verskeie plaaslike kerke tog die roete gevolg om vroue in hierdie dienste te beroep en te bevestig, wat dus strydig is met ’n besluit van die Algemene Sinode. Dit is egter ook so dat daar sedert die besluit van 1988 herhaaldelike beswaarskrifte deur kerke en individue ingedien is teen die betrokke besluite van sinodes. Sedertdien het twee klassisse besluit om van hierdie gemeentes ‘buite kerkverband te plaas’, omdat hulle van mening is dat die betrokke kerke met die negering van die sinodebesluite, die ‘gemeen akkoord’ van kerke in die verband van die GKSA verbreek het en dus nie meer as deel van hierdie kerkverband kwalifiseer nie.2 Dit beteken dus dat die kerke nie meer as deel van die kerkverband van die GKSA beskou kan word nie en nie meer op die bystand van die kerkverband kan staatmaak nie. Die gevolg is dat die predikante van die betrokke gemeentes hulle status en voordele binne die kerkverband ontneem word, emerituspredikante en weduwees wat lidmate in die gemeentes is se versorging deur die kerkverband opgeskort word, en dat attestering van lidmate van die bepaalde kerke nie meer deur ander kerke in die kerkverband aanvaar word nie. Hierdie drastiese besluitneming rus op die aanname dat die sinodale besluite wat met meerderheidstem geneem is, die ‘gemeen akkoord’ van die Gereformeerde kerkverband vestig, en dat sodanige besluite hoëre gesag impliseer waaraan kerke gehoorsaam moet wees.

Hierdie stand van sake is kerkregtelik gesproke, uiters problematies. Die aanname dat besluite van ’n meerdere vergadering ‘gemeen akkoord’ soos gelees in die sekulêre samelewingsverbande, konstitueer, kan met fundamentele gereformeerd-ekklesiologiese beginsels in botsing wees. Die ‘buite kerkverband plaas’ deur ’n meerdere vergadering van ’n plaaslike gemeente, roep die vraag op of hier nie gevolg gegee word aan ’n kollegialistiese metodiek wat met Artikel 84KO strydig is nie. ‘Buite kerkverband plaas’, is immers in wese ’n tughandeling wat die objekte van tug uit die kerkgemeenskap ban. Die vraag kan ook gevra word of die ban op predikante van sodanige kerke, sonder die toepassing van die ordereëlings van die KO Artikels 71–81 ten opsigte van die tug, nie op regskrenking neerkom nie?

Hierdie navorsing fokus op die huidige situasie, soos hierbo geskets, in ’n beskeie poging om ’n perspektief te ontwikkel wat kan bydra tot versoening en vrede binne die kerkverband van die GKSA. Die navorsingsvraag is of ’n meerdere vergadering met ’n beroep op ‘gemeen akkoord’, ’n kerk buite kerkverband kan plaas wanneer die betrokke kerk ’n besluit of besluite van die betrokke meerdere vergadering, op grond van ’n ander interpretasie van die tersaaklike Skrifgedeeltes, of ʼn verskil in ‘eksegetiese sintese’,3 nie onderhou en nakom nie. Die sentraal-teoretiese argument is dat die begrip ‘gemeen akkoord’ in ’n kerkregtelike perspektief, weer ondersoek moet word, want soos dit tans binne die GKSA toegepas word, lei dit tot skeuring van kerke en regskrenking van beroepe diensknegte. Hierdie ondersoek wil bepaal of die ‘gemeen akkoord’, in ooreenkoms met die Reformatoriese tradisie, nie eerder op die eenheid in belydenis wys, en nie toegepas kan word soos tans binne die GKSA nie. Om die doelstelling te bereik, word agtereenvolgens aan die volgende sake aandag gegee: ‘gemeen akkoord’ as sekulêre samelewingsbegrip, ‘gemeen akkoord’ in kerkregtelike perspektief, kerk, die plek van die belydenis en kerkverband, en besluite van meerdere vergaderings. Ten slotte word op die geldigheid van die konsep ‘die plasing van kerke buite kerkverband’ gefokus.

‘Gemeen akkoord’ as sekulêre begrip

Die term ‘gemeen akkoord’ [mutuo consensu] stam uit die Nederlandse taal en dui in die sekulêre omgang op die binding van twee partye wat ’n kontrak met mekaar sluit en waar beide partye dan verplig is om die eise aan elkeen, soos die kontrak bepaal, na te kom. ‘Gemeen akkoord’ bind die partye in ’n kontraktuele ooreenkoms. Die begrip figureer in Engels as ‘mutual concensus’ (Ludwig-Guru 2023:1) en as ‘common consent’ of ‘communal agreement’ (Van Oene 1990:1). ’n Wettige huwelik voor die owerheidsgesag is byvoorbeeld in wese ‘gemeen akkoord’ van die huweliksgenote, wat vrywillig onderneem om bepaalde eise van die huwelikskontrak te eerbiedig, asook die regte van elkeen wat deur die kontrak gevestig word. Die ‘gemeen akkoord’ maak die eise afdwingbaar en hierdie eise kan slegs opgehef word wanneer die twee partye ooreenkom om daarvan afstand te doen, of wanneer ’n tribunaal die eise om een of ander rede ophef. Die idee is ook fundamenteel in die verbandreg soos Sonnekus en Schlemmer (2020:125 e.v.) in ’n onlangse Artikel beredeneer, na aanleiding van ’n spesifieke regsproses. Ook op die terrein van verenigings of gestruktureerde organisasies, wys die begrip op ’n fundamentele beginsel in die onderlinge verkeer van lede van verenigings of organisasies. ’n Vereniging kan ook gestig word met volle regsbevoegdheid op grond van die ‘gemeen akkoord’ van die lede. So ’n vereniging kan ’n lid tot sekere verantwoordelikhede verplig, en het gewoonlik ’n prosedure waardeur ’n lid van sy lidmaatskap onthef kan word.

In al hierdie sekulêre samelewingsareas en andere, dui ‘gemeen akkoord’ dus op handelinge van individue (of dele) wat ’n groter entiteit vestig, wat eise en verpligtinge daarstel waaraan die individue (of lede), as kleiner entiteit, tot voldoening van die eise en uitvoering van die verpligtinge gebonde is. ‘gemeen akkoord’ laat nie ruimte vir vryblywende deelgenootskap nie, tensy die ooreenkoms dit bepaal, of as die partye onderling ooreenkom om die akkoord op te sê. Deelnemende lede is andersins onder vepligting om eise uit te voer en bepalings na te kom, en kan uit die ooreenkoms uitgeskakel word indien die betrokke individu nie aan eise voldoen en nie die bepalings uitvoer nie. Binne die sekulêre organisatoriese prosesse het ‘gemeen akkoord’ dus ’n eenduidige betekenis, naamlik dat partye wat ’n ooreenkoms aangaan aan die bepalings van die ooreenkoms gebind is, tensy anders in die ooreenkoms vermeld word. Dit blyk dat die begrip in hierdie betekenis geïnterpreteer en toegepas word by die betrokke klassis ten opsigte van gemeentes wat vroue, strydig met sinodebesluite, tot kerklike dienste beroep en daarin bevestig. So ’n verstaan en toepassing hou myns insiens nie met die eiesoortige betekenis van ‘gemeen akkoord’ in kerkregtelike perspektief rekening nie.

‘Gemeen akoord’ in kerkregtelike perspektief

Die term ‘gemeen akkoord’, is ook in die klassieke Nederlandse kerkregtelike tradisie gebruik. Op voetspoor van die Dortse Kerkorde, is aangedui dat die Kerkorde (KO) met ‘gemeyn accoort’ aangeneem is (Dordrecht 1618–1619:art 86). Hierdie begrip is in die KO van die GKSA vertaal met ‘algemene stemme’ en die vertaling is betekenisvol, want anders as die ‘meerderheidstem’ in Artikel 31, dui dit op ’n vorm van konsensus. Kerkregtelikes binne die tradisie van die presbiteriale kerkregeringstelsel was deurgaans baie versigtig om besluite van kerklike vergaderings met die sekulêre definisie van ‘gemeen akkoord’ te stempel, veral na die sinodalisme wat die Doleansie voorafgegaan het. Vroeër het ook die afskeiding van die GKSA dieselfde sentiment gedra, toe binding aan besluite van meerdere vergaderings oor die sing van bepaalde gesange op beswaardes afgedwing is, met die beroep op sogenaamde hoër gesag van meerdere vergaderings – veral sinodes. Die ‘gesange kwessie’ in die 1850’s is ’n sprekende voorbeeld van die misbruik van sinodale mag om gewetensbeswaardes in ’n sekere rigting te dwing en nie ruimte te laat vir die uitoefening van hulle gewetensvryheid nie. Spoelstra (1989:470–472) gaan so ver as om die KO van die GKSA as ‘gemeen akkoord’ te beskou, omdat dit slegs met algemene stemme gewysig kan word. Hy kwalifiseer egter die akkoord as ‘akkoord vir kerkregering’, wat volgens hom anders is as die ‘akkoord van geloof’. In sy beredenering van die saak maan hy egter duidelik teen die toepassing van die ‘gemeen akkoord’, in die sin van die sekulêre hiërargiese betekenis daarvan. Hy stel duidelike voorwaardes vir die afdwingbare gesag van sinodebesluite en sê dat kerklike eenheid nie deur ’n meerderheidstem nie, maar deur instemming met beginsels bepaal word (Spoelstra 1989:473). Christus as die hoof van die kerk regeer deur sy Woord en Gees, en daarom moet besluitneming op duidelike beginsels bou. Algemene instemming kom dus ter sprake waar en wanneer hierdie beginsels besluite onderlê. Hy erken selfs dat daar in sommige gevalle van die KO afgewyk kan word, solank die afwyking nie duidelike Skrifbeginsels raak nie, en ook omdat die KO nie vir alle situasies waarmee kerke gekonfronteer word, voorsiening maak nie.

In kerkregtelike en ekklesiologiese perspektief word in die Gereformeerde tradisie eerder gepraat van die ‘akkoord van kerklike gemeenskap’, wat op die ‘eenheid in belydenis’ rus (Bouwman 1970:13, 61, 146 en 564). Die akkoord van kerklike gemeenskap dui op die beginselbasis waarop gemeentevorming, kerkverband en kerklike eenheid gebou word. In die beskrywingspunt van die Gereformeerde Kerk Carletonville, waarin gepleit word dat die Gereformeerde Kerk Krugersdorp buite kerkverband geplaas word, omdat laasgenoemde die akkoord van kerklike gemeenskap, gevestig in die sinodale besluit oor die verbod op die beroeping en bevestiging van vroue in die leer- en regeerdienste, verbreek het, figureer die akkoord volgens die sekulêre gebruik. In die besluit van klassis Vryburg ten opsigte van die Gereformeerde kerk Klerksdorp se besluit om vroue in die diens van ouderling te bevestig, word die akkoord van kerklike gemeenskap ook so toegepas (cf. Gereformeerde Kerk Klerksdorp 2023:2). Sonder prinsipiële kerkregtelike begronding en veral belydenisfundering, oordeel klassisse Wesrand en Vryburg dat die Gereformeerde Kerke Krugersdorp en Klerksdorp oor ’n ‘wesenlike saak’ sinodebesluite wat volgens hulle, die akkoord van kerklike gemeenskap is, verbreek het. Vir die sogenaamde ‘wesenlike saak’ beroep die twee klassisse hulleself ook op ’n sinodebesluit (Gereformeerde Kerk Carletonville 2019). Dit is duidelik dat sinodebesluite in hulle beredenerings die vorm van rigiede ‘gemeen akkoord’ aanneem soos in die sekulêre samelewing.

Verskeie kerkregtelikes en Bybelwetenskaplikes het oor die afgelope dekades daarop gewys dat die akkoord van kerklike gemeenskap nie op algemene instemming met die meerderheidsbesluite van meerdere vergaderings of die KO berus nie, maar op die instemming met die belydenisgrondslag soos in die Drie Formuliere van Eenheid vasgelê. Die akkoord van kerklike gemeenskap wys op die Woord en die belydenisgrondslag waarop gemeentevorming en die eenheid van kerke in kerkverband gebou word (Coetzee, Floor & De Klerk 1980:22; Du Plooy 1982:224 e.v., 1984:22 en 28; Strauss 1999:35; Van der Walt 1971:27). Hierdie beskouing word deur die betrokke outeurs kerkregtelik gefundeer in onderskeidelik Artikels 30, 31, 84 en 86 KO.4 Om die beredenerings te verstaan, moet enkele aantekeninge oor die verhouding kerk en belydenis gemaak word.

Kerk en die plek van die belydenis

Dit gaan in die Skrif om die vele aspekte van die koningskap van God drie-enig en die implikasies daarvan vir die skepping (vgl. Küng 1992:47), en dit gaan veral om die genadige roeping van ’n godsvolk wat aan ons as die kerk bekend gestel word. Die kerk is ’n gemeenskap van gelowiges wat met kleurryke beelde in die Skrif beskryf word (cf. Vorster 1996:40–58). In sy eksegetiese en openbaringshistoriese behandeling van die kerk as bybelse begrip, toon Snyman (1977:57) dat die kerk vanuit drie perspektiewe van die drie-eenheid van God beskryf word, naamlik as ‘volk van God’, ‘liggaam van Christus’, en ‘gebou van die Heilige Gees’. Bogenoemde kerkregtelikes in die tradisie van die GKSA, het Snyman hierin nagevolg in hulle onderskeie verklarings van die beginsels van die KO.

In dieselfde rigtinggewende studie het Snyman (1977:25) insiggewend aangetoon, dat die begrip ekklesia in die Skrif op die plaaslike gemeente wys soos die kerk in Jerusalem, Efese, Galasiërs, ensovoorts. Dit wys ook op die gelowiges oor die wêreld heen, wat die ‘universele kerk’ genoem kan word. Hierdie lyn van denke word ook by Versteeg (1985), Van Wyk (1988) en Küng (1992) gevind, wat dit dan van toepassing maak op die verskillende gestaltes van die kerk in die wêreld. Die plaaslike kerk is volledig kerk en dra al die eienskappe en kwaliteite wat die ryke beeldspraak van die Nuwe Testament aan die kerk toeken. Christus is die hoof van elke plaaslike kerk, net soos Hy hoof is van die universele kerk oor die eeue heen. Die plaaslike kerk is ook volledig die woonplek en werkplek van die Heilige Gees soos die universele kerk. Gelowiges is ook ‘ledemate’ (oog, arm, voet) van die plaaslike gemeente, wat onder die ‘kop’ [kephale], naamlik Christus, funksioneer. Die hoofskap van Christus is die deurlopende beginsel in die ontwikkeling van Gereformeerde kerkreg sedert die Reformasie soos De Jong (2018:9) aandui. Hierdie belydenis sny alle hiërargiese besluite en optredes by hulle wortel af. Die plaaslike kerk is nie ’n tak van ’n groter entiteit, sub-kerk of mini-kerk nie. Die plaaslike kerk is ekklesia completa (Smit 2018). Daarom moet die kerkraadsbesluite van die plaaslike kerk ook beantwoord aan die Christusregering wat deur die Skrif vergestalt word. Hiermee word die verantwoordelikheid van besluitneming van die plaaslike kerk, sowel as die erns waarmee sodanige besluite bejeën moet word, beklemtoon.

Kerkstigting gaan met belydenisvorming gepaard. Ten diepste is die belydenis ‘Christus, die Seun van die lewende God’. Hierop bou Christus die gemeente (elke plaaslike kerk) en gee Hy aan die kerk (elke plaaslike kerk) sleutelmagte (Mt 16:16–19). So hoog ag Hy die plaaslike gemeente. Die kerk kan nie sonder die belydenis nie. Deur die eeue het deformerende magte en sekularisme kerke telkens tot die herstel van die grondliggende belydenis verplig. Noodsaak het vereis dat die verreikende implikasies van die belydenis van ‘die Christus’ en ‘die lewende God’, uitgespel word soos in die drie ekumeniese belydenisskrifte. Die kerke van die Reformasie het dit ook nodig gevind om die grondliggende belydenis weer uit te spel, wat in verskeie belydenisskrifte neerslag gevind het. Gereformeerde Kerke in die Nederlandse tradisie het die Drie Formuliere van Eenheid sedert die Sinode van Dortrecht (1618–1619), as belydenisgrondslag aanvaar, en met die kerkplanting aan die Kaap, het dit deel van die Gereformeerde tradisie in Suid-Afrika geword.

Die GKSA het sedert hulle stigting in 1859 die Drie Formuliere van Eenheid naas die Ekumeniese Belydenisskrifte, as akkoord van gemeenskap met mekaar en met kerke in die buiteland, wat dieselfde belydenisgrondslag het, aanvaar. Die kerke is een op grond van die Woord en die gemeenskaplike belydenis. Hoe belangrik die belydenis as akkoord van gemeenskap geag word, blyk uit die vrae wat belydeniskatkisante by belydenisaflegging, en ampsdraers by die bevestiging in die dienste moet beantwoord. Nuwe lidmate word in die kerkgemeenskap ingelaat op grond van hulle aanvaarding van die gesag van die Skrif, en die inhoud van die belydenis. Doopouers beloof by die doop om hulle kinders in die leer van die Skrif en die belydenis op te voed, en by die bevestiging in die dienste, moet die voornemende predikante (en professore), ouderlinge en diakens hulle volledige instemming met die belydenis betuig, en met ’n handtekening in die ondertekeningsformulier bevestig.

Ampsdraers onderteken die belydenis, ‘omdat’ dit ooreenstem met die Skrif [quia] en nie ‘in soverre’ [quatenus] dit ooreenstem met die Skrif nie. Dit beteken egter nie dat die belydenis op dieselfde vlak is as die Skrif nie. Die belydenis kan en moet altyd weer aan die Skrif getoets word. So ’n toets moet egter die ‘kerklike weg’ volg; dit wil sê, deur gravamen (beswaarskrifte) (Artikels 30; 31 en 46 KO) na die wydste meerdere vergadering. Gesien vanuit die ekklesiologiese prinsipiële hoek, is die Belydenis die heel belangrikste kerklike dokument. Die gesagslyn binne die Gereformeerde tradisie loop soos volg: die hoogste gesag is die Skrif as die Woord van God en waaraan die kerk nie kan verander nie. Voortvloeiend uit hierdie gesag, is die gesag van die belydenis wat deur die kerk verander kan word volgens die kerklike weg, omdat die belydenis, hoe belangrik ookal, ’n menslike interpretasie van die Skrif is. Nietemin is die belydenis die akkoord van gemeenskap. Voortvloeiend uit die belydenis is die KO, wat op grond van belydenisbeginsels die orde in die kerk reël. Volgens Artikel 86 van die KO kan en, indien nodig, moet die Artikels van die KO verander word met algemene stemme. Kerke moet hulle dan daarop toelê om die aanvaarde KO te onderhou. Besluite van meerdere vergaderings dra ’n vierde vlak van gesag en moet altyd weer aan eerstens die Skrif, tweedens die belydenis en derdens, die KO getoets word. Daarom is sodanige besluite nie vryblywend wat willekeurig toegepas kan word nie. Howell (2004:203) toon aan dat juis die binding aan die Skrif en die binding aan die belydenis tot binding aan kerklike besluite lei, wat in die lig van die Skrif en belydenis geneem is. Die besluit van kerklike vergaderings is dus bindend vir alle lidmate binne die kerkverband. Howell is in beginsel korrek, maar die volgende vrae moet gevra word: Wat van die besluite wat nie oor belydenissake nie, maar oor organisatoriese en praktiese sake handel? Waarin lê hulle gesag? Die logiese afleiding is dat hulle gesag in die meerderheidsstem op ’n meerdere vergadering lê – selfs wanneer die meerderheid ’n meerderheid van een is!

Wat is dan die gesag van besluite van meerdere vergaderings? In die lig van bogenoemde beredenerings en die kerkregtelike beginsels oor kerkverband, kan verskeie rigtinggewende gevolgtekkings gemaak word. Hieraan word aandag gegee ten einde tot ’n gevolgtrekking te kom oor die vraag of kerke buite kerkverband geplaas kan word oor die nie-nakoming van besluite van meerdere vergaderings.

Kerkverband en besluite van meerdere vergaderings

In die Nuwe Testament is daar ook sprake van kerkverband soos Du Plooy (1982, 1984) met geloofwaardige eksegese aantoon. Volgens hom dui Handelinge 15 aan dat kerke ook saam besluite geneem het wat hulle dan onderhou het. Kerkverband is belangrik en moet, volgens Van der Walt (1971:24), inderdaad altyd gesoek word. Kerkverband dien as die onderlinge diens van kerke aan mekaar, en is ’n afskaduwing van die eenheid (en eensgesindheid) van kerke. Kerke kom primêr op grond van die belydenis saam in kerkverband (Smit 1984:42, cf. 1987:17–27), en neem saam besluite in die lig van die belydenis. Sulke besluite is bindend en kerke onderneem in die geloofsbrief dat hulle daarby sal hou, want kerke is deur afvaardiging mede-verantwoordelik vir die besluite. Tog is alle kerklike vergaderings feilbaar (Jansen 1952:146). Bedenklike besluite kan geneem word. Waar bedenkinge ontstaan oor die prinsipiële gronde van ’n besluit, kan ’n kerk (of individu) in terme van Artikels 31 en 46 KO, by wyse van ’n gravamen vra dat ’n meerdere vergadering hulle besluit heroorweeg, en indien dit met die belydenisgrondslag in stryd is, herroep. Kerklike vergaderings moet daarom gravamina ernstig bejeën en baie geduld aan die dag lê in die hantering daarvan. Indien ’n besluit van ’n meerdere vergadering na heroorweging steeds nie voldoen aan die Skrif en belydenis nie, mag ’n kerk dit nie onderhou nie en moet die betrokke kerk dan volgens die kerklike weg die meerdere vergadering tot bekering oproep.

Spoelstra (1989:472) stel egter ’n belangrike voorbehoud in sy verduideliking van die gesag van die KO. Hierdie voorbehoud is ook op besluite van meerdere vergaderings van toepassing. Anders as Bouwman (1970:61) sê hy ten opsigte van die binding aan die KO, dat kragtens die feit dat Jesus Christus alleen as Koning vir sy kerk wette kan voorskryf, geen kerkordelike ooreenkoms of besluit die kerke in hulle gewete, vryheid en verantwoordelikheid voor die Here kan bind nie. Daar kan ook gevalle voorkom wat nie volgens die KO hanteer kan word nie. Daarin het die kerkraad as die verantwoordelike raad in die kerk (NGB 30), die primêre roeping om te handel soos hy hom in sy gewete voor Christus kan verantwoord. Hy herhaal hierdie siening in die verklaring in sy handboek oor die KO van Artikel 84 KO (Spoelstra 1989:466) en Artikel 86 KO (Spoelstra 1989:471–472). Vir sy beredenering van die beginselgrondslae van die standpunt, kan onder andere na Spoelstra (1984:20–32; 1986:4–17; 1988:37–52) verwys word, waarin hy die gesag in die kerk as ‘organies-federaal’ en nie as ‘kollegialisties-institutêr’ fundeer nie. Meerdere vergaderings is byeenkomste wat sporadies na behoefte vergader en dan ontbind. Christus is die primêre gesagsdraer en die kerkraad die sekondêre gesagsdraer wat eerstens aan die primêre gesagsdraer verantwoording verskuldig is. Indien hierdie voorbehoud wat Spoelstra met diepgaande beginselargumente verwoord, waar is ten opsigte van kerkordelike bepalings, hoeveel te meer moet dit nie vir besluite van meerdere vergaderings geld nie!

Besluite van meerdere vergaderings wat duidelik volgens algemene instemming op die Skrif en belydenis rus, is normaalweg nie problematies nie. Besluite word egter problematies wanneer interpretasie verskille van gedagte-eenhede in die Skrif of die belydenis bestaan. Die sinode (GKSA 2009:662) het erken dat daar eksegetiese verskille op die vlak van ‘eksegetiese sintese’ in die rapport van die adviserende studie-deputate bestaan. Sodanige verskille is baie uitsonderlik in die geskiedenis van die GKSA. So ’n uitsonderlike situasie bestaan egter tans in die GKSA, ten opsigte van die bybelse gronde oor die beroeping en bevestiging van vroue in die dienste van predikant en ouderling. Beide partye bevestig hulle aanvaarding van die gesag van die Skrif, hulle gebondenheid aan die belydenis, en hulle eenderse beroep op hermeneutiese uitgangspunte (GKSA 2009:498 e.v.). Tog is daar ’n verskil oor hoe die Skrif ten opsigte van die beroepbaarheid van vroue in die twee dienste ter sprake, geïnterpreteer en toegepas moet word.

Teen die agtergrond van die bespreekte beredenerings en vrae van hierdie Artikel, kan die volgende gevolgtrekkings nou gemaak word, in ’n poging om die navorsingvraag te beantwoord:

  • Besluite van meerdere vergaderings is meerdere advies en nie hoër advies nie. ’n Meerdere vergadering kan sigself nie beroep op ʼn hoër gesag en kerke aan so ’n beroep bind nie. Kerke kan alleen gebind word deur meerdere advies, op grond van die Skrif en die belydenis. Die Woord bind absoluut (Bouwman 1970:55). Bogenoemde beredenering regverdig die gevolgtrekking, dat slegs die Skrif en die belydenis en nie die KO of besluite van meerdere vergaderings per se, as akkoord van kerklike gemeenskap beskou kan word nie. Die KO en kerklike besluite wat sulke besluite in kerk-wees wil implementeer, se gesag is van die belydenissake afhanklik. Kerklike besluite kan slegs gewetensbindend wees indien die besluite duidelik volgens algemene instemming in die Skrif en belydenis begrond is. Wanneer ’n kerklike meerdere vergadering, al is dit by implikasie, oordeel dat ’n saak nie ’n belydenissaak is nie, of dat verskille daaroor berus op ʼn verskil in interpretasie van Skrifgedeeltes en nie die Skrifgesag aantas nie, mag gewetens nie met ’n blote meerderheidstem gebind word nie.
  • Skrif en belydenis moet besluitneming op meerdere vergaderings dikteer. Daar moet groot omsigtigheid wees wanneer sake wat nie ‘belydenissake’ is nie, vir meerdere besluitneming aangebied word. Die meerdere vergadering moet voor besluitneming van die volgende seker maak: of die besluit die belydenis raak; of dit nie deur ’n mindere vergadering afgehandel kon word nie; of dit hoort op die tafel van die meerdere vergadering; en of dit inderdaad ’n kerklike saak is. Dit is ongesond dat die agenda van ’n algemene sinode al hoe meer uitbrei en die vergadertyd al hoe langer word, omdat allerlei sake vir behandeling en besluitneming aangebied word.5
  • Meerdere vergaderings is soms genoop om besluite te neem oor organisatoriese sake soos finansies, werkswyses en sittingstye. Dit gebeur dat kerke soms nie hierdie besluite honoreer nie, byvoorbeeld die nie-nakoming van finansiële verpligtinge. Sulke besluite kan nie op dieselfde vlak geplaas word as besluite oor prinsipiële sake, wat die belydenis raak nie. Daar is duidelike vlakke van besluitneming, en nie alle besluite kan dus dieselfde gewig dra nie. Kan ’n kerk wat nie ramings betaal nie, of nie uitvoering gee aan Artikel 62 (oor die formuliergebed by nagmaal), of Artikel 68 (oor Kategismusprediking) nie, summier buite kerkverband geplaas word? Hierdie vraag word tereg deur die Gereformeerde Kerk Krugersdorp (2019) gevra en die vraag word nie deur die betrokke klassis beantwoord nie.
  • Besluite van meerdere vergaderings word ook in ’n bepaalde historiese konteks geneem. As voorbeeld hiervan kan die lang lys besluite oor volkereverhoudings waarmee sinodes van die Gereformeerde kerke sedert 1958 besig was, en uiteindelik in ’n logiese geheel saamgevat is, genoem word (GKSA 1989). Die besluite is geneem om die politieke apartheidsbedeling prinsipieël in oënskou te neem. Teenoor rassime en rasseskeiding bepleit die sinodes eerder volkereskeiding, en dan ook die beskerming en goeie behandeling van vreemdelinge, verwysend na die swart mense wat buite die volksgeoriëenteerde swart tuislande woon. Intussen is die apartheidsbedeling deur ’n grondwetlike demokrasie vervang, waarin volk en vreemdeling nie ’n rol speel nie. Die historiese situasie het radikaal verander. Gaan die GKSA, in uitvoering van daardie besluite (wat nog steeds geldend is), steeds ’n volkerebedeling bepleit? Hierdie besluit en baie ander wat met maatskaplike sake te doen het, het as gevolg van die historiese verskuiwings verouderd en ontoepaslik geword, en moet teen die agtergrond van hulle historiese konteks gelees word soos wat in die hermeneutiek van die lees van historiese tekste gedoen word. Van Coller (2020:4) gee ’n goeie uiteensetting van hoe die beginsels van historiese periodisering in die verstaan en skrywe van literatuurgeskiedenis werk. Sinodebesluite is historiese literatuur en moet in die lig van die hermeneutiese beginsel van historiese periodisering gelees word. Sou dit nie dalk wenslik wees om ouer besluite na ’n bepaalde periode te herbesoek, met die oog op herbevestiging of herroeping nie?6
  • Die besluit van klassis Vryburg, waardeur die Gereformeerde Kerk Klerksdorp buite kerkverband geplaas word (Gereformeerde Kerk, Klerksdorp 2023:2), noem op voetspoor van die Algemene Sinode van die GKSA (2015:278), die saak oor die ‘vrou in die besondere dienste ’n wesenlike saak, maar nie ’n “gewetensbindende”’ saak nie. Hierdie stelling is ’n contradictio in terminis. Die Sinode het ’n wye beskrywing gegee van wat as ’n wesenlike saak beskou word. Die terme wesenlike en nie-wesenlik is egter verwarrende terminologie, wat nie in Gereformeerde ekklesiologiese denke inpas nie. Gelowiges is aan hulle belydenisgrondslag gebind – dit wat mense in die besondere dienste onderteken en wat jong gelowiges en doopouers by belydenisaflegging en doop met ’n belofte aanvaar. Kortom, die belydenis bevat die ‘wesenlike sake’, en sake wat nie ’n belydenissaak is nie, kan dus nie as ‘wesenlike sake’ beskou word nie. Belydenissake is ook gewetensbindend vir almal wat die belydenis onderskryf (cf. Bouwman 1970:560–566). Die vraag is dus nie of die saak van die ‘vrou in die diens’ ’n wesenlike saak is of nie, maar of dit ’n belydenissaak is wat gewetensbindend is. Die Sinode 2009 het sonder teenspraak aanvaar dat die saak van ‘die vrou in die besondere ampte’ nie ’n ‘belydenissaak’ is nie (GKSA 2009:662; cf. Aucamp 2024:9 se opmerkings oor 12.1 – 12.10.1 van die besluit). Hoe kan gewetens dan gebind word aan ’n saak wat nie ’n ‘belydenissaak’ is nie?
  • In die besluitnemingsproses moet ook met die interpretasie verskille wat nie die onderliggende Skrif- en belydenisfundering raak nie, rekening gehou word. Die studies wat binne die GKSA sedert 1973 gedoen is en waaroor verskeie sinodes beslis het, toon deurgaans interpretasie verskille terwyl die partye nooit hermeneutiese verskille, of leerverskille aangetoon het nie (cf. Vorster 2016a:33 e.v.; 2016b:137 e.v. en veral GKSA 2009:498 e.v.). Twee preke oor dieselfde gedagte-eenheid in die Skrif kan verskil in interpretasie en toepassing deur predikers, ten spyte van die feit dat hulle dieselfde Skrifbeskouing, Skrifgebruik en hermeneutiek toegedaan is. Voorts is dit ook so dat Bybel-kommentare van gedeë gereformeerde Bybelwetenskaplikes soms interpretasie verskille toon, en dat die individuele eksegeet dan die keuse vir ’n interpretasie moet maak. Die kerke wat in hulle voorleggings aan meerdere vergaderings oor die jare gunstig oor die beroeping en bevestiging van die ‘vrou in die besondere dienste’ oordeel, beroep hulle op interpretasie verskille en nie op ’n ander Skrifbeskouing en hermeneutiek nie. Met interpretasie verskille moet ernstig omgegaan word, en een interpretasie kan nie bloot deur ’n meerderheidstem op ’n kerklike vergadering, op ’n party met ’n ander interpretasie afgedwing word nie. So ’n optrede open die deur vir hiërargie en meerderheidsdwang, bloot op sterkte van ’n meerderheidsbeslissing. Wanneer nie bewys kan word dat ’n ander interpretasie die Skrif en belydenis verkeerd interpreteer en toepas nie, kan gewetens nie gebind word nie, moet gesprek oor die saak voortgaan, terwyl implementering oorgelaat word aan diegene wat met ’n eerlike gewete voor die Here van hulle interpretasie oortuig is. Ten opsigte van die saak van die ‘vrou in die besondere dienste’, beteken dit dat kerke wat ’n ander interpretasie het as die meerderheid, op ’n meerdere vergadering toegelaat moet word om vroue vir die besondere dienste te beroep en te bevestig, totdat geduldige en voortgesette gesprek die verskil in interpretasie kan bylê.
  • Wat van ratifikasiereg? Ratifikasiereg beteken dat ’n kerkraad eers die besluite van meerdere vergaderings geldig moet verklaar voordat hulle hulle daaraan bind (Du Plooy 2008:416). Die plaaslike kerk sal hiervolgens die reg hê om ’nee’ te sê vir besluite van meerdere vergaderings (Deddens s.a., 1946; Lehman 1983:65).7 In sy behandeling van ratifikasiereg in die lig van die gereformeerde tradisie, toon Du Plooy (2008:421, 423 & 427) met goeie gronde aan, dat die konsep nie in die gereformeerde kerkreg tuisgebring kan word nie, want al die kerke is by wyse van afvaardiging by die proses van besluitneming van meerdere vergaderings teenwoordig. Hulle deel in die besluite wat meerdere vergaderings neem. ’n Besluit van ’n meerdere vergadering is nie eers geldig wanneer kerkrade dit geldig verklaar nie, maar omdat die plaaslike kerke in kerkverband dit reeds geldig verklaar het. Wanneer daar beswaar is, is daar ’n kerklike weg om te volg ten einde die besware te hanteer (Artikels 30 en 46 KO). Ratifikasiereg laat kerke vryblywend, en maak besluite van meerdere vergaderings slegs adviserend van aard. Sodoende word meerdere vergaderings van alle gesag ontneem. Op grond van hierdie siening, kan dus gesê word dat die hiërargiese beginsel sowel as die ratifikasiereg, nie in die Gereformeerde kerkreg en kerkregering tuisgebring kan word nie. In kerklike besluitneming moet dan gewaak word teen twee uiterstes, naamlik die hiërargiese beginsel waardeur kerke verplig word om besluite van meerdere vergaderings bloot op sterkte van ‘meerderheidstem’ te aanvaar en toe te pas, en die beginsel van ratifikasiereg wat kerke vrystel van die aanvaarding van besluite, selfs oor belydenissake, wat hulle om welke rede ookal nie as geldig vir hulle beskou nie. Artikels 30 en 86 KO volg die middeweg: Besluite van meerdere vergaderings is vas en bindend, tensy langs die kerklike weg (Artikels 30 en 46 KO) bewys kan word dat die besluite nie die belydenis raak nie. Wanneer geloofwaardige interpretasie verskille wat nie die belydenis raak nie en dus nie die akkoord van kerklike gemeenskap in die gedrang bring nie, opduik, mag gewetens nie deur ’n blote meerderheidstem gebind word nie.
  • Die meerderheidsstem is self ook ’n kontensieuse saak. Is dit verantwoordelik om belangrike besluite, selfs oor wysiging aan die belydenis, te neem op grond van ’n moontlike klein meerderheid? Die KO dui in Artikel 31 aan dat sake wat vir besluitneming by ’n kerklike vergadering dien, beslis word met ’n meerderheidstem. Artikel 86 meld egter dat die ‘Artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk so opgestel en aangeneem is met algemene stemme’. Volgens Spoelstra (1989:473) se verduideliking van die ‘algemene stemme’ by Artikel 86 KO, blyk dit dat veranderinge aan die KO ook met algemene stemme beslis moet word. ‘Algemene stemme’ dui op ’n vorm van konsensus wat ontstaan wanneer daar nie teenstemme is nie, of wanneer die minderheid sonder dwang, gewillig en met ’n vrye gewete konformeer met die besluit van die meerderheid (cf. ook die beredenering van Jansen 1952:369). Oor die vroue in die amp, het sinodes deurgaans op grond van ’n blote meerderheidstem besluit (cf. die besluitnemingsprosesse van die onderskeie sittings van eers die Nasionale Sinodes van 1978 tot 2009, die Algemene Sinodes van die GKSA 2009 en daarna). Deurgaans was konsensus (algemene stemme) nie moontlik nie, vanweë die feit dat die minderheid nie kon korformeer op grond van onuitgestrykte interpretasie verskille met die meerderheid nie.

Baie gravamina was die gevolg. Is sodanige besluitneming deur ’n blote meerderheidstem dan verantwoordelik? Nêrens is daar formeel geleentheid gegee vir minderheidskonformering voordat die besluite geldig gemaak is nie. Slegs die pad van die meerderheidstem is gevolg, en ’n beduidende getal minderheidstemmers is in die koue gelaat. Sou dit nie beter wees as die betrokke sinodes eerder deur voortgesette diskussie gesoek het na ’n situasie, waar hulle met ‘algemene stemme’, ’n beslissing kon neem nie? Kerklike vergaderings kan verantwoordelike besluitneming bevorder, deur ag te slaan op die idee van ‘genoegsame konsensus’ soos dit op verskeie terreine waar onderhandelings gereeld gevoer word, met sukses toegepas word (cf. Mnookin 2003:213; Konrad 2003:225–228). Sou ‘algemene stemme’ (Artikel 86 KO), waar die minderheid gewillig konformeer, nie probleme beter as ʼn meerderheidstem kan oplos nie?

‘Buite kerkverband plaas’ en afsnyding

Om kerkverband te soek, is deel van die aard van die kerk. Kerkverband is nie net ’n weerspieëling van die eenheid van die kerk nie, maar ook van die roeping van die kerk. Kerkverband kan net verbreek word vanweë ’n sondige toestand wat die eer van God aantas, en óf die kerkverband óf deelnemende kerke óf die kerk, eerloos maak. Met ander woorde, beëindiging van deelname aan die gemeenskap van gelowiges binne ’n kerk, of van kerke binne kerkverband, is slegs moontlik deur die toepassing van die kerklike tug. volgens Artikels 72–81 van die KO. Nêrens maak die belydenis of KO voorsiening vir ’n ander wyse van die verbreking van kerkverband (lees: gemeenskap van die heiliges; liggaam van Christus) nie. Die voorstanders van ‘buite kerkverband plaas’, slaag nie daarin om sodanige beginselgrondslag aan te wys nie, en baseer hulle standpunt op die sekulêre verstaan van ‘gemeen akkoord’, waarin die groter entiteit die reg het om op met ’n beroep op hoër gesag, die lidmaatskap van ’n deelnemende deel (laer gesag) te beëindig, indien die meerderheid in die groter entiteit daarom vra.

Om die kerklike ban op ’n plaaslike kerk te lê soos deur klassis Wesrand en Vryburg gedoen is, moes die handelende agente (klassisse) die pad van die kerklike tug geloop het (cf. NGB Artikel 32). Omdat die belydenis en KO nie voorsiening maak vir kollektiewe tug nie, maar slegs vir individuele tug, moes die handelende agente die individuele lede van die betrokke kerkrade voor die kerkraad gedaag het, sodat die tug ordelik kan geskied. Indien ’n hele kerkraad betrokke is, kan die advies van naburige kerke ingeroep word. Dan moet bewys word dat die standpunt van hierdie individue en hulle interpretasie van die Skrif en die belydenis strydig is met die Woord van God, en dat dit die eer van God en die regering van Christus aantas. Indien so ’n bewys suksesvol is, moet elke oortreder met lankmoedigheid opgeroep word tot bekering, en indien hulle met die bewese sonde volhard, kan die afsnyding of ban toegepas word en hulle uit die gemeenskap van gelowiges afgesny word. Die ban kan nie bloot met ’n besluit van ’n kerklike vergadering toegepas word, onder die vaandel van ‘buite kerkverband plaas’ nie soos deur klassis Vryburg en Wesrand gedoen is nie.

Die gedagte dat ’n meerdere vergadering ’n kerk buite kerkverband kan plaas, is vreemd in die Gereformeerde ekklesiologie. So ’n idee rus op die hiërargiese beginsel van ’n ‘hoër liggaam’ wat ’n ‘laer liggaam’ onder die ban plaas. Gereformeerde ekklesiologie werk met teologiese beginsels soos die hoofskap van Christus, die kerk (elke plaaslike kerk) as sy liggaam en as die woon- en werkplek van die Heilige Gees. Die liggaam van Christus het ’n unieke bestaanswyse en ook werkwyse, en is wêreldwyd èèn. Die plaaslike kerk, as ’n heilige vergadering van almal wat in Christus glo (NGB Artikel. 27), toon al hierdie kenmerke en is verplig om dit in alle gestaltes van kerkwees te manifesteer. Die plaaslike kerk, en slegs die plaaslike kerk, het tugreg wat met erns, liefde en lankmoedigheid hanteer kan en moet word, ten einde die heiligheid van die kerk te handhaaf. Tug en uiteindelik die ban, kan egter net geskied wanneer verharding en volharding in die sonde bewys word. Het klassisse Vryburg en Wesrand sodanige toestand by onderskeidelik die Gereformeerde Kerk Klerksdorp en Krugersdorp bewys? Duidelik nie. Daarom is hulle besluit om die kerke buite kerkverband te plaas, ekklesiologies hoogs aanvegbaar, ongeldig en regskrenkend van aard. Voorts is hulle argumentasie op sekulêre uitgangspunte en nie op Gereformeerde kerkreg gebou nie.

Gevolgtrekking

Die huidige stand van sake is nie bevorderlik vir die ordelike bediening van Gereformeerde kerke nie, want dit belemmer die roepingsvervulling van Gereformeerde kerke, bevorder verdeeldheid en skep toenemende spanning. Voorts word die ruimte vir verantwoordelike en toegewyde debat geblokkeer.

Wat is die uitkoms? In die lig van die argumentering in hierdie navorsing, word geoordeel dat die ‘buite-kerkverband-plaas’ van die kerke deur die twee klassisse opgehef moet word. Die volgende redes word hiervoor aangevoer:

  • Daar is nog nie bewys dat hulle besluite en optrede kerklike tug en die ban regverdig nie.
  • Die besluite van die twee klassisse kan nie kerkregtelik verantwoord word nie.
  • Die gewetens van mense word aan ’n saak gebind wat nie ’n belydenissaak is nie, en dus nie die akkoord van gemeenskap van die gereformeerde kerke en kerke met wie gemeenskap beoefen word, raak nie.

’n Gesprek oor die interpretasie verskille wat daar onder gereformeerdes oor hierdie saak heers, moet op kerklike forums voortgesit word en ’n ooreenkoms op grond van algemene stemme (eenparige besluitneming, of ’n meerderheid met gewillige konformering van die minderheid), moet met erns gesoek word. Kerke moet in gesprek bly op ’n kerklike wyse op die forums wat die KO aandui. Intussen moet kerke vir wie dit ’n saak van gewete is, en wat die Skrif op ’n verantwoordelike wyse so interpreteer dat hulle gronde vind vir die beroeping en bevestiging van vroue in die dienste van predikant en ouderling binne die Gereformeerde kerkverband, die ruimte gegun word om sodanige beroeping en bevestiging uit te voer. Om hulle daarvan te weerhou, of sonder meer uit die kerkverband te ban omdat hulle die sogenaamde ‘gemeen akkoord’ misken, voldoen nie aan die grondbeginsels van die presbiteriale kerkregeringstelsel nie, en maak die deur oop vir sekulêre gesagsdominansie.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur is die hoofredakteur van In die Skriflig.

Outeursbydrae

J.M.V. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Befondsing

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie navorsingsartikel ontvang nie.

Etiese oorwegings

Hierdie navorsingsartikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Databeskikbaarheidsverklalrling

Datadeling is nie van toepassing op hierdie navorsingsartikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaringsverklaring

Die menings en sienings wat in hierdie navorsingsartikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie navorsingsartikel se ontleding, bevindinge en inhoud.

Literatuurverwysings

Aucamp, C., 2024, ‘Opsomming van besluite’, Die Kerkblad 124(3384), 8–11.

Bouwman, H., 1970, Gereformeerde Kerkrecht, het recht der kerken in de praktijk, tweede deel, Kok, Kampen.

Coetzee, J.C., De Klerk, B.J. & Floor, L., 1980, ‘Die hermeneuse van die Skrif met die oog op die hedendaagse kerklik-etiese vraagstukke’, Koers 45(1), 18–36. https://doi.org/10.4102/koers.v45i1.1135

Deddens, P., s.a., ‘Is het een vreemde en ongereformeerde praktijk dat de synodenbesluiten deur mindere vergaderingen worden goedgekeurd?’, in K. Schilder & P. Deddens (eds.), Eerste- en twedehands gezag: Bifdrage tot de kennis der jongste kerkelijk procedure, De Jager, Groningen.

Deddens, P., 1946, ‘De ratifiseering der besluiten van meerder vergaderingen’, in rede uitgesproken bij de aanvaarding van het Hoogleeraarsambt aan de Theologisch Hogeschool, 28 Januari, Kampen.

De Jong, K.-W., 2018, ‘Een verkennend onderzoek naar de receptie van een anti-hiërarchisch beginsel in de Nederlandse kerkorden van de gereformeerde type’, In die Skriflig/In Luce Verbi 52(2), a2350. https://doi.org/10.4102/ids.v52i2.2350

Dordrecht, 1618–1619, kyk Nationale Synode van de Gereformeerde Kerken gehouden te Dordrecht 1618/1619, Nationale Synode van de Gereformeerde Kerken gehouden, Dordrecht.

Du Plooy, A.l.R., 1982, Kerkverband: ’n Gereformeerde-kerkregtelike studie, Th.D-proefskrif, PU vir CHO.

Du Plooy, A.l.R., 1984, ‘Kerkverband. ’n Gereformeerde kerkregtelike oorsig’, In die Skriflig/In Luce Verbi 18(2), 19–36. https://doi.org/10.4102/ids.v18i71.1226

Du Plooy, A.l.R., 2008, ‘‘n Kritiese analise van die begrip ratifikasie volgens die Gereformeerde kerkreg’, HTS Theological Studies 64(1), 415–428. https://doi.org/10.4102/hts.v64i1.12

Faber, R., 2020, ‘Dortrecht, Doleantie and Church Order’, Stellenbosch Theological Journal 6(2), 235–252. https://doi.org/10.17570/stj.2020.v6n4.a10

Gereformeerde Kerk Carletonville, 2019, Beskrywingspunt aangaande kerke wat hulself afskei van die kerkverband van die GKSA deur nie te bly by die besluite van die algemene sinode van 2009, 2015, 2016, 2018, oor vroue in die besondere dienste van predikant en ouderling, Gereformeerde Kerk Carletonville, Carletonville.

Gereformeerde Kerk Klerksdorp, 2023, Appél teen ’n besluit van Classes Vryburg aan Streeksinode Noordwes, Gereformeerde kerk Klerksdorp, Klerksdorp.

Gereformeerde Kerk Krugersdorp, 2019, Gewetensverantwoording van die Gereformeerde Kerk Krugersdorp aan Classes Wesrand byeen te Gereformeerde Kerk Noordrand op 1 September 2019, Gereformeerde Kerk Krugersdorp, Krugersdorp.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, kyk, GKSA.

GKSA, 1989, Samevatting van sinodebesluite oor volkereverhoudinge, saamgestel deur die Deputate Volkereverhoudinge van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde kerk in Suid-Afrika, EFJS Uitgewers, Potchefstroom.

GKSA, 2009, Handelinge van die vyftigste Nasionale Sinode en die tiende Sinode Middellande in die eerste Algemene Sinode te Potchefstroom, Administratiewe Buro, Potchefstroom.

GKSA, 2015, Handelinge van die derde Algemene Sinode van die GKSA, geraadpleeg 12 Februarie 2024, vanaf https://gksa.org.za/.

Howell, J.H., 2004, Binding aan kerklike besluite, Ph.D-proefskrif, PU vir CHO.

Janssen, A.J., 2013, ‘An abstract question?, On the authority of a General Synod’ Perspectives 28(2), 7–8.

Jansen, J., 1952, Kerkorde der Gereformeerde Kerken, Kok, Kampen.

Konrad, K.A., 2003, ‘Sufficient consensus: Comment’, Journal of Institutional and Theoretical Economics (JITE) / Zeitschrift für de Gesamte Staatswissenschaft 159(1), 225–228. https://doi.org/10.1628/0932456032975069

Küng, H., 1992, The Church, Burns & Oates, Kent.

Lehman, P., 1983, ‘Piety, power, and politics, church and Ministry between ratification and resistance’, Journal of Theology in South Africa 44(1983), 58–72.

Ludwig-Guru, 2023, On mutual consensus, viewed 29 February 2024, from https://ludwig.guru/s/on+a+mutual+consensus.

Mnookin, R.H., 2003, ‘Strategic barriers to dispute resolution: A comparison of bilateral and multilateral negotiations’ Journal of Institutional and Theoretical Economics (JITE) / Zeitschrift für die Gesamte Staatswissenschaft 159(1), 199–220. https://doi.org/10.1628/0932456032974916

Nationale Synode van de Gereformeerde Kerken gehouden te Dordrecht 1618/1619, 1620, Kercken ordiningen Gestelt indê Nationale Synoden der Ghereformeerde Kerken tesame geroepen en gehouden by laste vande Hooghmo: Heeren Staten Generaal van de verenigde Nederlande Binnen Dordrecht, inden Iare 1618 ende 1619, Solomon de Rooy, Utrecht.

Plaatjies-Van Huffel, M., 2008, Die Doleansiekerkreg en die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Ph.D. proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Smit, C.J., 1984, ‘Kerkorde en belydenis’, In die Skriflig 18(70), 41–46. https://doi.org/10.4102/ids.v18i70.1221

Smit, C.J., 1987, ‘Kerkreg en kerkorde in diens van die kerkregering: Oorsig oor ’n beskouing’, In die Skriflig 21(82), 17–27. https://doi.org/10.4102/ids.v21i82.1304

Smit, J., 2018, ‘The decline of church polity in South Africa’, In die Skriflig 52(3), a2309. https://doi.org/10.4102/ids.v52i3.2309

Snyman, W.J., 1977, Nuwe en ou dinge, uit die skat van die Koninkryk, Pro Rege, Potchefstroom.

Sonnekus, J.C. & Schlemmer, E.C., 2020, ‘Verbandversekerde skuld sonder ’n verband of verbandgewer? Vir die hoogste hof van appel is alles moontlik danksy ’n ongepoetste engelse bril’, Journal of South African Law 2020(1), 125+, geraadpleeg 29 Januarie 2024, vanaf link.gale.com/apps/doc/A666097624/AONE?u=anon~b460527a&sid=googleScholar&xid=cbded3e8.

Spoelstra, B., 1984, ‘Gereformeerde kerkbegrip en kerklidmaatskap’, In die Skriflig 18(70), 20–32. https://doi.org/10.4102/ids.v18i70.1219

Spoelstra, B., 1986, ‘Het ons kerk-wees in strukturre gestol?’, In die Skriflig 20(80), 4–17. https://doi.org/10.4102/ids.v20i80.1289

Spoelstra, B., 1988, ‘Kerk-eenheid en meerdere vergaderings’, In die Skriflig 22(85), 37–52. https://doi.org/10.4102/ids.v22i85.848

Spoelstra, B., 1989, Gereformeerde kerkreg en kerkregering: ’n Handboek by die kerkorde, Hammanskraalse Teologiese Skool, Hammanskraal.

Strauss, P.J., 1999, ‘Goedkeuring van kerkrade vir ’n nuwe verband in die NG Kerkfamilie’, Acta Theologica 1999(2), 32–54.

Van Coller, H.P., 2020, ‘Literatuurgeskiedenis’, in T.T Cloete & H. Viljoen (reds.), Literêre terme en teorieë, geraadpleeg 12 Februarie 2024, vanaf https://www.litterm.co.za/2020/12/12/literatuurgeskiedenis/.

Van der Walt, J.J., 1971, ‘Kerk en kerkverband’, In die Skriflig 5(17), 22–32. https://doi.org/10.4102/ids.v5i17.934

Van Oene, 1990, With common consent: A practical guide to the use of the Church order of the Canadian Reformed Churches, Premier Publishing, Winnipeg.

Van Wyk, J.H., 1988, ‘Kerkeenheid: ’n Perspektief op die verhoudinge binne die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika’, In die Skriflig 22(85), 16–33. https://doi.org/10.4102/ids.v22i85.846

Versteeg, J.P., 1985, Kijk op de kerk, de struktuur van de gemeente volgens het Nieuwe Testament, Kok, Kampen.

Vorster, J.M., 1996, Is die kerk funksioneel? Gedagtes oor Gereformeerde kerkvernuwing in ’n post-moderne konteks, Potchefstroom Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Vorster, J.M., 2016a, ‘Die GKSA en die vrou in die amp, 1973–1988’, Studia Historia Ecclesiasticae 42(2), 137–156. https://doi.org/10.25159/2412-4265/1278

Vorster, J.M., 2016b, ‘Die GKSA en die vrou in die amp, 1994–2016’, Studia Historia Ecclesiasticae 42(3), 33–45. https://doi.org/10.25159/2412-4265/1279

Voetnotas

1. Die geskiedenis van die besluitneming, insluitende die besluite en samevattende inligting oor die motivering van die besluite, word in twee kerkhistoriese Artikels behandel (cf. Vorster 2016a, 2016b). Dit is dus onnodig om daardie gegewens in hierdie studie te herhaal.

2. Of die klassis die kerke ‘buite kerkverband geplaas het’, en of hulle bloot bevestig het dat die kerke met hulle optrede hulleself ‘buite kerkverband geplaas het’, is ’n semantiese verskil wat nie die kern van die saak raak nie. Die feit is dat die twee klassisse die handelende agente was, en dat die twee kerke nie aangedui het dat hulle gemeenskap met die Gereformeerde kerkverband wil verbreek nie. Die verantwoording vir die ‘buite kerkverband plaas’, rus daarom by die twee klassisse en nie by die betrokke kerke nie.

3. By die Algemene Sinode van 2009 (GKSA 2009:662) is sonder beswaar of korrigering, kennis geneem van die studiekommissie se oordeel dat die twee standpunte se verskil op die vlak van eksegetiese sintese lê, en dat beide studies van dieselfde Skrifbeskouing en hermeneutiek getuig. Daar is ook kennis geneem van die oordeel van die volle kommissie, dat die saak oor die vrou in die besondere dienste nie ’n ‘belydenissaak’ is nie. Aucamp (2024:9) dui egter aan dat die betrokke sinode eers net kennis geneem het, maar toe die twee stellings goedgekeur het en vir sy rekening geneem het.

4. Artikel 30 KO lui: Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake, en dit op kerklike wyse, behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie, of sake wat by meerdere vergaderings tuishoort. Artikel 31 Kerkorde bepaal: Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word, tensy bewys kan word dat dit in stryd is met God’s Woord of die Artikels van die Kerkorde. As iemand egter ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op ’n meerdere vergadering beroep. Artikel. 84 dui aan: Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens heerskappy voer nie. Artikel 86 KO sê: Hierdie Artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk, is so opgestel en aangeneem met algemene stemme dat hulle, as die belang van die kerke dit vereis, verander, vermeerder of verminder kan word en behoort te word. Geen besondere kerk, klassis of sinode het egter die reg om dit te doen nie, maar hulle moet hulle daarop toelê om dit te onderhou, totdat die algemene sinode anders verorden, nadat geleentheid vir advies deur die kerke gegee is deur middel van die onderskeie Nasionale Sinodes. (In 2006 is Nasionale Sinodes ontbind en hierdie bepaling sal dus nou vir streeksinodes geld.)

5. Dit sal die kerk dien as daar ’n ondersoek geloods word na die agendas van sinodes oor die afgelope 50 jaar, om vas te stel of daar nie by wyse van beskrywingspunte, en veral rapporte van deputate, te veel sake wat met die belydenis en kerkregering niks te doen het nie, op die Algemene Sinode se tafel kom nie. Hieronder tel baie etiese sake, wat eintlik by die bediening in die plaaslike kerke tuishoort soos onder andere seksualiteit, rasseverhoudinge, politieke geweld en bedieningsmetodes.

6. Met reg kan geredeneer word dat Artikel 46 KO wel hiervoor voorsiening maak, maar in die praktyk gebeur dit dikwels dat besluite sonder herroeping as gevolg van gravamina, bloot in onbruik verval en nie meer in die kerklike beleweniswêreld figureer nie.

7. Die debat oor die verhouding van die plaaslike kerk en meerdere vergadering, was sedert die Sinode van Dortrecht aktueel. In sy onlangse studie toon Faber (2020) hoe die denke van die Reformasie gewysig is, deur die Doleansie-denke wat betoog het dat die gesag van kerklike vergaderings (sinodes) nie meer gesag kan dra as die plaaslike kerk nie, omdat beide aan die gesag van Christus onderhewig is. Plaatjies-Van Huffel (2008:40–52) bied ’n deeglike bespreking van die ontwikkeling van die Doleansie-kerkreg in haar omvangryke studie aan. Dit is opmerklik hoe laasgenoemde denke telkens opgevlam het tydens kerklike afskeidings wat plaasgevind het as gevolg van dwang, wat deur sinodes op hulle toegepas is, byvoorbeeld die afskeiding van die Gereformeerde kerken (vrijgemaakt) (Vrijmaking) in 1944. Met die verdere afskeiding van die Gereformeerde kerken vrijgemaakt (buiten verband) in 1968, was hierdie denke prominent. Onlangse afskeidings vanaf die Christian Reformed Churches of North America, toon ook trekke van die Doleansie-kerkreg (cf. ook Janssen 2013:7–9 rakende die stryd oor die gesag al dan nie van die sinodale besluite van die Algemene Sinode van die Reformed Church of America, ten opsigte van die Vrymesselaar-beweging).



Crossref Citations

No related citations found.