About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2024, ‘Paul Kruger oor die gelofte van 1838: Was hy in die kol?’, In die Skriflig 58(1), a3100. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3100

Original Research

Paul Kruger oor die gelofte van 1838: Was hy in die kol?

Piet J. Strauss

Received: 11 June 2024; Accepted: 12 Aug. 2024; Published: 03 Oct. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Paul Kruger on the covenant of 1838: Was he on target? Many Afrikaners and those associating with them, keep the promises made by the Voortrekkers in the Covenant of 16 December 1838 in connection with the battle of Blood River between them and the Zulu impis of King Dingane. As a champion of the Afrikaner in the 19th century, Paul Kruger as the elected president (1883–1900) of the Boer Republic, called the Zuid-Afrikaansche Republiek, partook in the Day of the Covenant as being celebrated by Afrikaners every year. This is a spiritual event the people associating with the Covenant should use to thank God for his salvation and for saving them and their forebears in a military crisis. With this view, Kruger as a Reformed Christian Afrikaner, would also have been able to accept the resolution of the General Synod of the Dutch Reformed Church of 1990, about the Covenant of 1838 being celebrated in South Africa after the change in government and the public attitude in 1994. As far as Kruger was concerned, the gratitude of people observing the Covenant of 1838, should be part of a life of gratitude and obedience to God, as their answer to his salvation and saving in everyday life. This view of Kruger came to the fore in his speeches in December 1886, 1891, and 1896 at Paardekraal, Krugersdorp. Paardekraal became the venue for festivities every five years around the Day of the Covenant in the old Transvaal. This was an implementation of a resolution of the government of the Zuid-Afrikaansche Republiek in 1883.

Contribution: The well-known and debated covenant of 1838 of the trekking Boers, or Voortrekkers of that year once again is the reason for this article. The contribution is written from a historical and church-historical perspective, providing clarity on what it means to keep the covenant for those who ascribe to it at the moment. This theme is compared with the views of Paul Kruger, a representative of the Afrikaners in the 19th century.

Keywords: a religious feast; content and meaning of the 1838 Covenant; promise to claim the church as the centre of the community; promise to tell children; to whom does the Covenant appeal?; the nature of the appeal.

Inleiding en vraagstelling

Dit is ’n historiese gegewe dat die Gelofte soos afgelê voor die Slag van Bloedrivier in 1838, jaarliks op 16 Desember herdenk én herhaal word. Dit is ’n herdenking wat tradisioneel verbind word aan Christen-Afrikaners wat Geloftefees vier én diegene wat hulle hiermee assosieer. Wat die viering van Geloftefees kompliseer, is verskille wat oor die inhoud en betekenis daarvan voorkom – om ’n gangbare Afrikaner-term vir die vierings te gebruik. Vrae wat hieruit ontstaan is onder andere: Wat is die inhoud en betekenis van die Gelofte van 1838 vir vandag en wie word daarby betrek? Voortvloeiend hieruit ook: watter mense (volke of gemeenskappe) word deur die Gelofte van 1838 gebind?

Dit is hierdie vrae of kwessies en Paul Kruger se betrokkenheid daarby, wat hierdie artikel ondersoek.

Die laaste president van die Boere Republiek of Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) (1852–1902), Stephanus Johannes Paulus Kruger, kom deur vier presidentsverkiesings vanaf 1883 tot 1900 in die saal. As ’n kampvegter vir sy ZAR en ’n kampioen vir die Boere-republikanisme van die negentiende eeu, word Kruger geleidelik ook ’n sleutelfiguur en kampvegter vir die Afrikaner. Hy word deur ‘vriend en vyand’ as ’n simbool van sy volk se ‘hardnekkige eksklusiwiteit’ erken. ’n Biograaf van Kruger, D.W. Krüger (1976:475), stel dit soos volg: ‘As ’n Boer was hy ’n tipe van sy tyd en hy bly vir sy eie volk nog een van die grootste Afrikaners van alle tye’.

Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar dat Paul Kruger, as ’n simbool van die Boere of die Afrikaners, meer as een keer as hoofspreker tydens Geloftefees op Paardekraal by die huidige Krugersdorp, die plek in Transvaal wat destyds daarvoor gebruik is, opgetree het.1 Sy interpretasie van die inhoud en betekenis van die Gelofte van 1838 blyk uit die toesprake wat hy op 13 Desember 1881 (met die openingsrede van die herstelde Volksraad van die ZAR, deur ’n volksvergadering van 8000 tot 10 000 ná die Eerste Vryheidsoorlog), én in 1886, 1891 en 1896 aldaar gelewer het. Na die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881, wys Kruger op 13 Desember 18812 by Paardekraal daarop, dat die Here in die gees van die Gelofte van 1838 deur die oorwinning op Majuba hom opnuut oor die ZAR en die Boere ontferm het. Hierdie slag was ‘voor ons land en onze vrijheid … het bloed aldaar gestort is dierbaar in des Heeren oog’. Sover dit Kruger aangaan, het die Afrikaner met sy stryd vir politieke vryheid die pad geloop wat die Here God in sy voorsienigheid vir hom bestem het (Bredell & Grobler 1947:214; Du Plessis s.a.:32, 44, 49, 56, 83, 93, 132). Daarom moet hy sy geloftes aan die Here betaal en God met sy hele lewe as ’n offer van dankbaarheid gehoorsaam. Die Boere het op 13 Desember 1881 by Paardekraal byeengekom om ‘den Heer te danken voor zijne weldaden aan ons bewezen’ (Bergh 2017:27). Met verwysing na die klipstapel wat in 1880 deur die Boere by Paardekraal opgerig is, as teken dat hulle nie sou rus voordat die onafhanklikheid van die ZAR herstel is nie (Grobler 1980:105), sê Paul Kruger dat hulle hul daarmee opnuut tot gehoorsaamheid aan God verbind – gedagtig aan die beloftes in die Gelofte van 1838. Die gebeure rondom die klipstapel vervang nie die Gelofte van 1838 nie, maar volg dieselfde prinsipiële lyn. Dit gaan hier oor gelowige Boere wat hulle staatkundige onafhanklikheid van God afbid, met die oortuiging dat die Here dit so wil. Op 16 Desember 1886 sê Kruger by Paardekraal dat die Boere die klipstapel gebou het by ’n byeenkoms waar hulle hul oor ongehoorsaamheid en versuim voor God verootmoedig het. Die president vra dat die Boere as gelowiges (Bergh 2017):

… [I]n die stof voor die almagtige God – buig en aan hom ons nood in gebed … opdra. Hy sou ons in ons benoudheid en die opregtheid van ons harte verhoor. (p. 27)

Die klipstapel het ’n teken geword van die dank van die Boere aan die Here vir sy redding en die geskenk van die hernude onafhanklikheid aan die ZAR na die Eerste Vryheidsoorlog van 1880–1881. Bergh (2017) verwoord hierdie versugting:

Laat ons toch niet meer van den Heer afwijken, want deze steenen hier door ons opgehoopt zullen eens tegen ons getuigen als wij Hem weer verlaten. Wij zijn hier opgekomen om feest te vieren en ’t is zoo, alles wat in de dienst der wereld gebruikt kan worden, kan ook gebruikt word om den Heer te loof. (p. 27)

Die vraag is nou: hoe het Paul Kruger die inhoud en betekenis van die Gelofte van 1838, soos dit deur die ‘Wenkommando’ van die Voortrekkers in Natal onder Andries Pretorius geïnisieer is, verstaan? Hierdie kommando het uit gelowige Boere bestaan wat as kerklidmate God saam aanbid het (Strauss 2021:10–11). Wie is volgens Kruger by die Gelofte betrek en wie moes hierdie Gelofte, syns insiens, nakom?

Om Kruger se houding ten opsigte van hierdie vrae te verstaan is bronne waarin toesprake én uitsprake van hom opgeneem is, geraadpleeg. Bergh (2017) se publikasie, Paul Kruger: toesprake en korrespondensie van 1881–1900, is ’n sleuteldokument in dié verband. ’n Tradisionele bron van vergelyking om die juistheid van uitsprake wat aan Paul Kruger toegeskryf word, te toets, is dié van J.S. du Plessis (s.a.): President Kruger aan die woord, verkiesingsmanifeste, intreeredes en toesprake (kyk Bergh 2017:26 e.v.). Nog ’n bron wat moontlikhede vir beperkte vergelykings bied, is H.C. Bredell en Piet Grobler se Gedenkskrifte van Paul Kruger (1947). Hierin is bylaes met toesprake van die president opgeneem wat die verstaan van sy denke verdiep. Die verskynsel dat Kruger met sy optrede by Geloftefeeste – veral by Paardekraal – weergawes van sy standpunt oor die Gelofte van 1838 gee, vergemaklik ’n soektog na sy houding oor hierdie saak.

Ten einde ’n ondersoek na Paul Kruger se houding, of ’n antwoord op die vrae in die probleemstelling te loods, word aan drie hoofpunte aandag geskenk: ’n kernskets van die inhoud en die betekenis, of die gevolge van die Gelofte van 1838, Paul Kruger se houding jeens die Gelofte van 1838, en ’n evaluering van sy standpunt.

Die Gelofte van 1838: teks, inhoud en betekenis

In ’n akademiese tydskrif beweer Froneman (2015:126, 129) dat belangstelling in Geloftefeeste onder ’n nuwe geslag Afrikaners aan die afneem is. Hy verwys na ’n nuwe geslag wat nie aan Geloftedag of 16 Desember die sentrale plek toeken wat dit, soos hy dit sien, in die apartheidsideologie of volksgodsdiens van die Afrikaner, gehad het nie. Sonder verwysings vir sy aannames of die idee van ’n volks-ideologie, koppel Froneman die viering van Geloftedag deur Afrikaners aan ’n ideologie wat aan die afneem is, omdat apartheid – amptelik, én op die publieke forum in Suid-Afrika – nie meer aanvaarbaar is nie. Dit is ’n ideologie wat hy as onbybels en onchristelik beskou; ’n ideologie wat met die bewindsoorname van die African National Congress (ANC) in 1994 en ’n Akte van individuele menseregte in die Grondwet van 1996, die doodsklok móés gehoor het. Vir Froneman is dit duidelik: die grondwetlike klem op die regte van die individu téénoor ’n groepsassosiasie in die handhawing van Geloftefees, stimuleer ’n verandering in die denkklimaat in Suid-Afrika. In hierdie proses – dit sê hy egter nie – word van die individu met sy nukke en grille, ’n norm gemaak en word ’n groepsassosiasie deur Afrikaners, as gedaan beskou.

Moontlik was dit flitse van hierdie klimaat wat die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK of NG Kerk) in 1990 oortuig het om op die vooraand van ’n bewindsoorname en ’n nuwe openbare denkklimaat in Suid-Afrika, die meriete van die viering van Geloftedag in ’n nuwe situasie en onder nuwe omstandighede, te heroorweeg. Die voortgang van die viering van die Gelofte van 1838 is immers afhanklik van Christelik-prinsipiële gronde wat die toets van die tyd kan deurstaan; ’n voortbestaan van Geloftefees, wat op grond van indrukke van feesgangers, ten spyte van hierdie negatiwiteit, vir talle oues én jonges aanvaarbaar is.

Hoe dit ook al sy, die Algemene Sinode van die NG Kerk wat kerkordelik as ’n stem van sy gemeentes standpunt (NGK 1990:560–561) inneem, het positiewe besluite oor die viering van die dag geneem. Besluite wat, eie aan ’n kerkvergadering, die toets van bybelse beginsels moet kan deurstaan.

Die motivering vir hierdie besluite is egter nie in die besluite self vervat en daarmee goedgekeur nie. Tog het die vergadering ’n duidelike koers aangedui oor hierdie saak. Die Algemene Sinode oordeel dat ‘Geloftedag [wel] gevier behoort te word en moedig lidmate aan om hulle met die historiese en godsdienstige betekenis [van die dag] “te vereenselwig”’. Die ‘godsdienstige aspek van Geloftedag’ moet in die viering voorrang geniet, maar die dag kan óók met kulturele aktiwiteite gevul word. Met inagneming van die nuwe omstandighede in Suid-Afrika na 1994, moet ’n gees van versoening by die fees op 16 Desember nagestreef word – soos dit blyk uit die amptelike naamsverandering in 1994 as Versoeningsdag in Suid-Afrika (NGK 1990:560–561).

Die Algemene Sinode van 1990 het hom nie oor vrae rondom die Gelofte van 1838 uitgelaat nie, maar bloot sy goedkeuring aan uitgangspunte vir ’n verantwoorde viering van hierdie dag geheg. Wat die Sinode wou sê, is dat so ’n viering moontlik is indien die fees met ’n godsdienstige inslag ‘gevier … word’. Die vraag is egter: pas die houding van Paul Kruger of Anna M. Louw se Groot Gryse hierby in?

Op grond van ernstige vrae wat in die aanloop tot die besluit van die Algemene Sinode van 1990 opgeduik het, moet die volgende kwessies onder die tema, ‘Paul Kruger en die Gelofte van 1838’, aandag kry.

Die eerste is ’n geloofwaardige teks van die Gelofte van 1838; met ander woorde: wat is in 1838 van die Here gevra en aan hom belowe? ’n Teks van die Gelofte van 1838 soos dit by die eerste aflê op Sondag 09 Desember 1838 onder Sarel Cilliers gedoen is, het nie bewaar gebly nie. ’n Teks wat egter wyd aanvaar word, is W.E.G. Louw se vertaling van Sarel Cilliers se weergawe, wat kort voor sy dood in 1871 in sy joernaal opgeneem en in 1876 deur Hofstede gepubliseer is (aanhangsel 1 in Gerdener [1925:112–132]). Hierdie teks is op 07 Februarie 1962 deur die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) aanvaar en sedertdien algemeen in gebruik. Die kritiek op die Cilliers-teks handel nie oor wat in 1838 van die Here gevra en belowe is, of die kern van die Gelofte nie. Die kritiek is dat die Gelofte van 1838, net soos geloftes wat aan God gedoen word, in gebed as die kanaal waardeur met die Here gepraat word, gedoen is, maar Cilliers het in sy teks nie met die aanspreek van die Here begin nie. Inteendeel, hy begin met Mijne broeders en mede-landgenoten … (Snyman & Barnard 1992:117; Spoelstra 1982:7–9). So ’n vergissing sou ’n vraagteken agter die geloofwaardigheid van die Cilliers-teks plaas en daarmee ook die aard van sy aangeduide viering. Van Jaarsveld (1979:48) bevraagteken die betroubaarheid van die Cilliers-verhaal met sy teks van die Gelofte, en etiketteer dit as ’n ‘onbetroubare herinneringstuk’!

Wat hierdie kritici egter rondom Cilliers se inleidende woorde ignoreer, is sy breë verhaal of die konteks waarin hy die kern van die Gelofte plaas. By die eerste aflê van die Gelofte op Sondag 09 Desember 1838 te Wasbank, het Cilliers die Wenkommando (die Bloedrivierkommando van 16 Desember 1838) meegedeel dat hulle in die lig van die verwagte botsing met Dingaan se Zoeloe-impi’s, ’n gelofte voor die Here gaan aflê. Hulle gaan die Here vra om aan hulle ’n oorwinning te gee, omdat die Trekkers in Natal in ’n krisis en in haglike omstandighede verkeer en die sukses van hulle verhuising vanuit die Kaapkolonie in gevaar is. Die vestiging van ’n gemeenskap van Boere met die behoefte aan ’n selfstandige staat, is op ’n mespunt gebalanseer. Met sy inleidende woorde aan die Wenkommando het Cilliers nie die gelofte afgelê nie, maar in sy voorafverduideliking aan die Wenkommando die inhoud van die gelofte weergegee, ’n gelofte-inhoud wat in ’n gebed sou oorgaan. Volgens hom moes die kommando – almal reeds vooraf ten opsigte van die Gelofte geraadpleeg en wat belydende Christene was – die aflê van die Gelofte van 1838, wat in ’n gebed op sy verduideliking sou volg, met hom deel. Omdat daar steeds geen beswaar was nie, het hy ná die verduideliking sy hande na die hemel opgehef en die gelofte as ’n gebed afgelê, in de naam van ons allen. Vroeër in sy joernaal sê Cilliers dat daar besluit is dat hy sal voorgaan by die aflê van die gelofte in ’n gebed aan die Here, in de naam van allen. Volgens Cilliers (in Duvenage 1988:166; Gerdener 1925:121–122), is die Geloftegebed van 9–16 Desember ook ná die Slag op 16 Desember, op drie plekke in die laer van die Wenkommando waar daar godsdiens gehou is, herhaal. Tog moes hy sommige van die Trekkers, ná hulle oorwinning op 16 Desember 1838, maan teen blyke van menslike selfverheffing na de belofte (sy woord vir ’n gelofte) in onze gebeden aan onze Heer (Cilliers in Gerdener 1925:125; De Jongh 1987:169). Dat die Gelofte van 1838 as ’n gebed afgelê is, word deur betroubare weergawes van die Gelofte van 1838, naas dié van Cilliers, bevestig (Strauss 2001:823).

Zo als een Sabbath …

Die tweede kwessie waaroor Cilliers se weergawe onder skoot kom, is sy stelling dat die viering van die Gelofte van 1838, ’n viering zo als een Sabbath, moet wees. In sy besluit oor hierdie saak, moes die Algemene Sinode namens die NG Kerk as ’n godsdienstige instelling, rekening hou.

Die drie mees gesagvolle bronne oor die Gelofte van 1838 is waarskynlik eerstens, Cilliers se Journaal, omdat hy by die aflê daarin voorgegaan het, sensitief vir detail daarvan was, en dit ’n hoogtepunt in sy lewe was; tweedens, die Boere-aanvoerder by Bloedrivier en inisieerder van die Gelofte, Andries Pretorius, se brief aan die reeds bestaande Natalse Volksraad ’n week ná die Slag van Bloedrivier op 23 Desember 1838; en derdens, die Joernaal van Jan Bantjes oor die Wenkommando. Bantjes was die sekretaris van die Wenkommando en sy bevelvoerder was Andries Pretorius. Al drie hierdie outeurs was by die kern van die wedervarings van die kommando betrokke (Strauss 2001:821–822). Indien hierdie bronne dus oor ’n saak saamstem, is die kanse groot dat die punt waarom dit gaan, sodanig verstaan moet word. (Vir bronne oor die Gelofte van 1838, kyk Strauss 2001:821–822; 832–834).

In Pretorius se brief wat op 16 Februarie 1839 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer is, praat hy van die dag waarop die Gelofte van 1838 herdenk sou word, as ’n dag wat aan die Here gewy en met danksegginge gevier word. Bantjes maak gewag van ’n dag wat tot eer van die Here gevier word en Cilliers noem dit naas ’n Sabbat, ook ’n verjaar-, bid-, gedenk- en dankdag (in Gerdener 1925:67–68; Strauss 1994:17–20). Ingeligte kerklikes onder Afrikaners sal saamstem dat Cilliers met die benaming, zoo als een Sabbath, nie daarvan ’n Sondag uit ritme met én teenoor die skepping van 52 Sondae soos deur God gegee, maak nie, maar wel die gees aandui waarin die dag gevier moet word. Kerklike feesdae soos Kersfees en Goeie Vrydag is vir jare soos ’n Sabbat of ’n Sondag deurgebring. Dit beteken dat Cilliers se benaming, zoo als een Sabbath, hoegenaamd nie uit pas of omstrede is nie. Boonop het hy met sy puriteinse leefstyl van ’n streng Sabbat, aangesluit by die woorde van Pretorius en Bantjes en inhoud daaraan probeer gee (De Jongh 1987:255–256).

Wat ook hieruit duidelik is, is dat die kern van die Gelofte van 1838 nie bevraagteken word nie. Hierdie kern is die gevraagde oorwinning oor die vyande van die Trekkers, en indien dit gebeur, die belofte om dié dag dan soos ’n dankdiens of godsdienstige feesdag of Sabbat (Sondag) elk jaar deur te bring, ’n kerk of tempel vir die Here te bou waar het Hem zou behagen, en dit aan onzen kinderen en opkomende geslachten oor te dra, sodat hulle met ons daarin moet deel. Anders uitgedruk: die drie dinge wat aan die Here belowe is, was om 16 Desember elke jaar as ’n godsdienstige feesdag te vier, om ’n kerk as die middelpunt van die samelewing van die Trekkers as ’n Christelike gemeenskap (daar was reeds ’n Volksraad in Pietermaritzburg; vgl. die brief van Andries Pretorius op 23 Desember 1838) te bou, en om die inhoud en beloftes van die Gelofte van 1838 aan die nageslag oor te dra.

Wat die nakom van hierdie beloftes in die viering van die Gelofte vereenvoudig, is dat die aflê van die Gelofte van 1838 nie vir al die lede van die Wenkommando as verpligtend beskou is nie, maar ’n uitvloeisel was van ’n morele appèl, wat die inhoud van die Gelofte op die betrokkenes maak. Volgens sy eie getuienis, het Sarel Cilliers by die aflegging van die Gelofte wat deur ’n erediens voorafgegaan is, dit dadelik aan die begin duidelik gestel dat ’n aanwesige wat nie die gelofte wou aflê of dit in die toekoms wou nakom nie, hom- of haarself vanuit daardie plek moes verwyder. ’n Gelofte, of ’n belofte aan God, moet vanuit die hart kom en nie teen die gewete van die een wat dit aflê, ingaan nie. Op hierdie punt, het Cilliers op Psalm 50:14 gewys, ‘ … het is beter dat wij niet beloof als dat wij beloofd en niet betaal’. Volgens Cilliers, het niemand hul op hierdie punt van die aflê van die Gelofte onttrek nie. Ná die aflê van die Gelofte van 1838, het die aanwesiges uit ‘één mond die woord Amen na hom [Cilliers] herhaal’ en daarmee hulle instemming met die gelofte betuig. Hierdie daad toon ’n bybelse instemming deur omstanders op ’n openbare gebed (vgl. 1 Kor 14:13–17). Hoewel nie in soveel woorde nie, bevestig Cilliers hiermee dat die Gelofte van 1838 as ’n gebed afgelê is. Na sy verduideliking oor wat beplan word, het die aflegging gevolg op Cilliers se voorlees van Rigters 6:1–24, en volgens Cilliers, ’n toespraak (sy preek as ’n ouderling en erkende voorganger in die NG Kerk3) daaroor. ‘Aan die einde is Psalm 134’ waarin die seën van die Here afgebid word, gesing (joernaal van Cilliers in Gerdener 1925:66–67; Strauss 2021:9–10).

Paul Kruger en die Gelofte van 1838

’n Opsomming van die gegewens oor die Gelofte van 1838 is ’n begronde saak waarmee die Algemene Sinode van 1990 van die NG Kerk ook vir Paul Kruger sou kon konfronteer. Dit vra aan diegene wat deur die Gelofte aangeroer word as ’n saak waarmee Christen-Afrikaners uit oortuiging sal assosieer, wel vir ’n godsdienstige herdenking hiervan elke jaar. Die nakom van die Gelofte van 1838 lê nie ’n gedwonge plig op elkeen wat met die Christen-Afrikaner assosieer nie, maar ’n morele verpligting wat deur die meriete van die Gelofte en die betekenis daarvan vir die toekoms, aangeroer word.

’n Ontleding van Paul Kruger se siening van die Gelofte van 1838 asook die viering daarvan, toon dat hy hom met die besluite van die Algemene Sinode van 1990 sou kon vereenselwig. Hierdie gevolgtrekking spruit uit sy redes gelewer op Geloftefeeste te Paardekraal op 16 Desember 1886, 1891 en 1896. Hierin beklemtoon Kruger dat die fees rondom die Gelofte van 1838 ’n godsdienstige fees moet wees (Bergh 2017:386; Kruger-toesprake oor aspekte van die Christelike godsdiens met Geloftefees in Bergh 2017:98 e.v., 221 e.v.; 282 e.v.). Vir Paul Kruger as ’n Gereformeerde Afrikaner, was die viering van Geloftefees deel van sy lewensomvattende dankbaarheid, of ’n lewe as ’n offer van dankbaarheid aan God vir sy verlossing (vgl. Rom 12:1 en 2). In sy rede van 1886 begin hy as ’n Dopper, met Sondag 1, vraag en antwoord 2 van die Heidelbergse Kategismus. Volgens Kruger moet die viering van die Gelofte van 1838 voldoen aan die eise vir ’n Christen se dankbaarheidslewe aan God vir sy lewensomvattende verlossing. Vraag 2 van die Kategismus vra die groot vraag: Hoeveel dinge is vir jou nodig om te weet ten einde getroos te lewe en te sterwe? Die antwoord soos vervat in die Bybel (sien NG Kerk 2004), dui op drie dinge:

[E]erstens hoe groot my sonde en ellende is; tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees. (p. 39)

Die verlossing van die Here by Bloedrivier was deurslaggewend. Daarsonder was ’n Boere-oorwinning onmoontlik. Die viering van die Gelofte van 1838 met dank aan God, moet egter nie slegs lippetaal wees nie, maar uit die hart kom. Daarom moet die viering ’n godsdienstige aard adem, wat die gewetens van Christen-Afrikaners bind (Bergh 2017:104).

In 1886 koppel Paul Kruger die nakoming van die Gelofte van 1838 aan die ‘predestinasieleer of … uitverkiesingskwessie’ (Bergh 2017:98–105). Om hierdie standpunt te verstaan, moet dit in gedagte gehou word dat volwasse Afrikaners in 1838 belydende kerklidmate van die NG Kerk was (Strauss 1994:13–17). Wat Kruger betref, gebruik hy die Ou Testament met die Ou Verbond dikwels voor belydende Christen-Afrikaners, omdat ‘die geskiedenis van ons volk … soveel ooreenkoms met dié van Israel toon’.

Waarom sou Kruger impliseer dat God se leiding van gelowige Afrikaners, ooreenkomste toon met sy leiding van Israel? Dit is nie omdat die Afrikaners soos Israel, as ’n volk uitverkore is nie, maar wel omdat hulle as konsekwente Christene, óók deur God in die volle lewe, én dus in hul volk-wees, bestem en gelei word. God se hantering van Israel as sy sondige maar gelowige volk, is ook ’n aanduiding van sy hantering van gelowige, maar sondige Afrikaners. God red (alle) gelowiges in ’n krisis, sowel as militêre situasies, emosionele krisisse én in ekonomiese terugslae. Daarom gaan die viering van Geloftedag om ’n herdenking of ’n viering van God se redding van Christen-Afrikaners, en volgens Kruger, wel ook uit die hande van Mzilikazi en sy krygers by Vegkop, die mag van Dingaan by Bloedrivier, en die heerssug van ’n Britse imperialisme deur die welslae van die Boere in die (Eerste) Vryheidsoorlog van 1880–1881. Volgens Bergh (2017) wil Kruger op grond van die Calvinistiese geloof van eer aan God alleen, uit die geskiedenis van die Boere aantoon hoe genadig die Here God met ons gehandel het:

’n [M]ens [sou] sien dat ons na sy bevele moes handel om as ’n [vryheidsoekende] volk genade in sy oë te vind. In die jare 1835 en 1836 het ons volk uit die Kaapkolonie begin trek en in 1837 die Vaalrivier bereik waar hulle niksvermoedend deur die bloeddorstige Dingaan (Mzilikazi?) aangeval en baie vroue en kinders vermoor is. (p. 102)

Volgens Paul Kruger is Geloftefees op 16 Desember ’n godsdienstige én ’n dankfees vir die genade van God en sy verlossing, om die Afrikanervolk te bring tot waar hulle tans is (Bergh 2017:101–103). Du Plessis (s.a.) vermeld dat President Kruger rondom die klipstapel van 1883, die volgende verklaar:

[E]k sal ’n vloek op my haal indien ons onafhanklikheid deur my geskend word aangesien God ons so sigbaar gelei het dat die blindste heiden en mees ongelowige skepsel moes erken dat dit God se hand was wat ons ons onafhanklikheid geskenk het. (p. 49)

Die feesredes van Paul Kruger op Geloftefees by Paardekraal as ’n godsdienstige fees, word versier met verwysings na Bybelgedeeltes wat hy op die Christen-Afrikaner van toepassing maak (vgl. Bergh 2017:27, 98–105, 221–232, 382–391). Hierdie verwysings, so verklaar hy, kom uit sy hart omdat hy die Gelofte van 1838 sien as ’n daad van dankbaarheid teenoor God Drie-enig vir sy ewige én tydelike verlossing; ’n dankbaarheid wat spruit uit hulle geloofsverhouding met die God van die Bybel. Hoewel die aard van die viering van die Gelofte van 1838 vir Paul Kruger as ’n jong seun in die Groot Trek nie ’n debatspunt was nie, maar ’n vanselfsprekendheid, was die Gelofte van 1838 vir Kruger ’n belofte en dus ’n gelofte aan God. So ’n versoek kan alleen in ’n gebed, deur oorlegpleging met God, plaasvind. Kruger sou die saak vanuit sy goeie kennis van die Ou Testament kwalik anders kon sien. Indien hy by die debat betrek was, sou Kruger die Gelofte van 1838 as ’n saak van die Afrikaners met die Here God beskou het, wat juis daarom in gebed geopper moes gewees het. Wat Kruger wou beklemtoon, daarop is alreeds gewys, is dat die viering van die Gelofte van 1838 nie net lippetaal moet wees nie. Dit moet uit die hart kom. Anders gestel: ’n egte geloftegebed moet ’n ware gebed tot God wees: met geloofskennis van die situasie van ’n sondaar voor God én grondige geloofsvertroue in die genade, verlossing en almag van die Here. ’n Vertroue dat God sal gee wat gevra word, omdat Hy die meriete van die versoek sal goedkeur en Hom in sy almag oor sy gelowige, maar sondige kinders sal ontferm (Heidelbergse Kategismus, Sondag 45 oor gebed; Die Bybel 1983 Nuwe Afrikaanse vertaling [NAV]). Vir die ware gelowige is ’n gelofte ’n daad van oorgawe aan God oor die meriete van die saak wat geopper word, en ’n vertroue op God wat op sy manier begenadig en verlos.

Paul Kruger, die belofte aan ’n kerk en die binding van die nageslag

Die belofte van die bou van ’n kerk vir die Here en om die Gelofte van 1838 aan die nageslag oor dra vir hulle nakoming daarvan, is die twee ander beloftes vervat in die Gelofte van 1838. Dit was egter ook nie ’n kwessie vir Paul Kruger gewees nie. Dit is die rede waarom sy geraadpleegde toesprake oor die Gelofte van 1838 nie daarna verwys nie, en waarom hy hierdie omstrede debatspunte nie ophaal nie. Vir hom as ’n Christen-Afrikaner, was die Geloftekerk en die oordrag van die Gelofteboodskap aan die nageslag ’n vanselfsprekendheid – soos vir sy eietydse volksgenote. Die kerkgebou as die middelpunt van ’n Christelike gemeenskap wat op God gerig is, is later ook in die ZAR in Voortrekkerdorpe soos Potchefstroom, Lydenburg en Pretoria opgerig. Daarby leef die siening van die kerk van Christus as die middelpunt van ’n Christelike samelewing, met sy Nederlands-gereformeerde wortels soos aanvaar was in die NG Kerk en die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, alreeds in die Kaapkolonie voor die Groot Trek van 1835–1840 (vgl. Ps. 48:1–15).

In sy toesprake van 1891 en 1896 by Paardekraal, haal Paul Kruger ter ondersteuning van sy standpunt oor Geloftefees as ’n fees van dankbaarheid in ’n lewe van totale gehoorsaamheid, die berymde Psalm 25:2 aan. Bergh (2017) wys daarop dat juis hierin die leiding van die Here afgebid word, om deur sy Woord en Gees (’n tweeling wat Calvyn gebruik het) aan die gelowige bekend te maak waar en hoe sy regte weë loop:

Leid mij in Uw waarheid; leer yv’rig mij Uw wet betrachten; want Gij zijt mijn heil o Heer! ‘k Blijft U al den dag verwachten. (pp. 222, 383)

Dit is duidelik dat Paul Kruger Psalm 25:2 sodanig vertolk dat dit sy verstaan van die hele lewe, met al sy fasette, verbind aan die Calvinistiese Soli Deo Gloria [aan God alleen die eer] vanuit die sentrale liefdesgebod as ’n samevatting van die Tien Gebooie. Vir Kruger in sy aanvaarding van Abraham Kuyper se geloof in die ewige beginsels van Gods Woord vir elke faset van die lewe (vgl. Krüger 1961:269), praat Psalm 25:2 van die regte weë van God wat aan die hele lewe koers gee. By twee Geloftefeeste, in 1891 en 1896 haal hy die berymde vers 2 van Psalm 25 in sy rede aan. Daarmee gee die President ’n aanduiding van God se redding en beginsels vir die hele lewe met al sy kante – syns insiens ook by Bloedrivier in 1838, waar die Here volgens Kruger, positief op die gelofte van Christen-Afrikaners geantwoord het. Op 16 Desember 1891 by Paardekraal, versoek hy sy toehoorders om hom te probeer verstaan. Bergh (2017) haal hom soos volg aan:

God is in ons midde; God is hier teenwoordig of ons Hom hier wil hê of nie; of ons met ons gedagte teen Hom woel, al woel ons ook tot ons dood is, Hy bly die alomteenwoordige God, en Hy wil ook sy oor tot ons neig om elkeen te hoor. Hy weet wat ons harte spreek en Hy het geen lus in die taal van ons lippe nie. U, ou inwoners van die land, u sal seker hierdie woorde wil uitspreek: ‘My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk’. As u dit saam met my wil sê, staan dan stil en vra u hart af of u sy weg ken. (p. 221)

Met die betaal van sy geloftes aan die Here, haal Kruger in sy toespraak voor Afrikaners ook Psalm 116:18 aan. Die Here is volgens Kruger van geslag tot geslag, in sy Ou Verbond én vandag is Hy dieselfde en handel Hy dieselfde. Bergh (2017) meld voorts dat Kruger dan vervolg:

[S]it alle ander gedagtes opsy sodat u die weg van die Here verstaan, wat verordineer is om my, u, as volk van die land … ou inwoners van die land, vreemdelinge, nuwe inkomelinge, ja selfs u, moordenaars en diewe, met bande van liefde gevange te neem en voor God se aangesig te bring. Sê dan die woorde van Psalm 25 vers 2 na terwyl ons ons neerbuig en alle menslike roem opsy sit, en slegs Gods hand, Gods almag, sy wysheid en sy bestuur opmerk … dat ons kan verstaan waarom ons geloftes betaal en wat die geloftes is. (p. 221–222)

In sy Geloftetoespraak by Paardekraal op 16 Desember 1896, laat Kruger ten aanvang Psalm 25 vers 2 sing. Hy herhaal sy slotsom dat alle menslike roem rondom geloftes uitgesluit is, en dat hy as kind by die Groot Trek ’n oor- en ooggetuie van hulle ervaringe, sterk en swak punte was. Desnieteenstaande het die Here die Trek gelei en aan Afrikaners vryheid gegee. Kruger herhaal sy opvatting oor die ou verbond en die hede. Volgens hom strek die grondslag van God se beloftes in die ou verbond hom uit tot die ‘laaste nageslag’ vandag. Binne hierdie raamwerk is die Gelofte van 1838 afgelê, en is die viering daarvan ’n godsdienstige aangeleentheid. Alle menslike roem en eer is uitgesluit, want die lewe is by uitstek ’n geleentheid om God te dien en te eer. Kruger was ’n ‘jongeling van tien jaar’ en ’n ‘oor- en ooggetuie’ van Gods genade en leiding in die Groot Trek. Soos in die Ou Testament, handhaaf die Here, aldus Kruger, steeds sy beloftes van tydelike en ewige genade in sy verbond (Bergh 2017:383–386).

Om op te som: Paul Kruger as Afrikaner was vanuit ’n geloofshoek verbind aan die Gelofte van 1838, omdat hierdie saak verband hou met God se verbond van genade met die uitverkore gelowiges, en sy voorsienigheid in alle aspekte van hulle lewe. Vir Kruger was dit ondenkbaar dat die Gelofte van 1838 buite God se verhouding met die gelowige Afrikaner staan, en dat die Here by die aanhoor van hulle gebedsversoeke anders sou optree as die God (God Drie-enig) van die Ou Verbond. Die God wat volgens Kruger permanent hier teenwoordig is (Bergh 2017:221), is dieselfde God van die Ou en Nuwe Testament. Die Here lei deur sy ewige bybelse beginsels, omdat Hy tot in ewigheid die God van sy verbond is, met sy beloftes van genade en sy eise van geloof en gehoorsaamheid (Bergh 2017:383).

Slotgevolgtrekking: Paul Kruger en die Gelofte van 1838

In sy raamwerk van ’n jaarlikse Geloftefees op 16 Desember, wat op ’n godsdienstige wyse gevier word op ’n dag wat daarvoor afgesonder is, én wat deur Christen-Afrikaners wat uit oortuiging daarmee assosieer, en dit so aan hulle kinders en kleinkinders oordra, maak die Algemene Sinode van die NG Kerk van 1990 dit vir Paul Kruger moontlik om as ’n gereformeerde Afrikaner daarmee te assosieer. Hernude kennis van sy opvattings oor die Gelofte van 1838 en die uitvoering van die beloftes daarin vervat, belig ’n totale lewe van dankbaarheid aan God vir sy redding, én ’n kultuurgemeenskap wat in alles na sy eer soek. In sy ingesteldheid van Soli Deo Gloria [aan God alleen die eer], is dit nie vreemd nie dat Paul Kruger hierdie fees verbode verklaar vir enige vorm van menslike selfverheffing, of vir die verabsolutering van die mens as individu of ’n groep wat rondom ’n doel vorm. Daarmee kies hy, as ’n groot gees onder Afrikaners, kant teen enige vorm van humanisme wat die inrigting van ’n samelewing bepaal. Vir Kruger was die viering van die Gelofte van 1838 as ’n fees van dankbaarheid en ’n verering van God, deel van die volle lewe van dankbaarheid en gehoorsaamheid wat die Bybel van verloste mense – ook Afrikaners – vra. Vir ’n gereformeerde Kruger was hierdie oortuiging so natuurlik, dat hy ten aanvang van sy feesrede in 1886, antwoord 2 van die Heidelbergse Kategismus aan die orde stel: hoe groot my sonde en ellende is, hoe ek daarvan verlos kan word, en hoe ek vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

In sy feesredes by Geloftefees te Paardekraal in ongeveer die laaste 20 jaar van die negentiende eeu, het Paul Kruger met hierdie standpunte die pas aangegee ten opsigte van die Geloftefees onder sy mede-Afrikaners en tydgenote.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

P.J.S. is die alleen-outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsing

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Bibliografie

Bergh, J.S., 2017, Paul Kruger toesprake en korrespondensie van 1881–1900, Protea, Pretoria.

Bredell, H.C. & Grobler, P., 1947, Gedenkskrifte van Paul Kruger, Van Schaik, Pretoria.

De Jongh, P.S., 1987, Sarel Cilliers, Perskor, Johannesburg.

Du Plessis, J.S., s.a., President Kruger aan die woord, verkiesingsmanifeste, intreeredes en toesprake van President S.J.P. Kruger, Sacum, Bloemfontein.

Duvenage, G.D.J., 1988, Die Groot Trek die eerste drie jaar – Die Gelofte, Sigma Press, Pretoria.

Froneman, J.D., 2015, ‘Die Kerkbode en die viering van Geloftedag 1910–2010’, Stellenbosch Theological Jounal 1(10), 125–150. https://doi.org/10.17570/stj.2015.v1n1.a6

Gerdener, G.B.A., 1925, Sarel Cilliers die vader van Dingaansdag, 2de dr., Van Schaik, Pretoria.

Grobler, J.E.H., 1980, ‘Paardekraal: Eensydige herstel van onafhanklikheid’, in F.A. Van Jaarsveld, A.P.J. Van Rensburg, & W.A. Stals (reds.), Die Eerste Vryheidsoorlog 1880–1881, pp. 103–116, HAUM, Pretoria.

Krüger, D.W., 1976, ‘Kruger, Stephanus Johannes Paulus’, in W.J. De Kock (red.), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I, pp. 464–475, Tafelberg, Kaapstad.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1990, Handelinge van die agste vergadering van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

NG Kerk, 2004, Ons glo … : die drie formuliere van eenheid en ekumeniese belydenisse, p. 103, 3de uitg, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Snyman, S.D. & Barnard, S.L., 1992, ‘Gedagtes oor Geloftedag’, Acta Theologica 12(2), 113–119.

Spoelstra, B., 1982, Kan Geloftedag oorlewe?, PU vir CHO, Potchefstroom.

Spoelstra, C., 1915, Kerkelijk en godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek, Kok, Kampen.

Strauss, P.J., 1994, Geloftedag in die ‘nuwe’ Suid-Afrika, Druforma, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2001, ‘Nogeens: Die agtergrond, inhoud en implikasies van die Gelofte van 1838’, Hervormde Teologiese Studies 57(3 & 4), 814–834. https://doi.org/10.4102/hts.v57i3/4.1849

Strauss, P.J., 2021, ‘Die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1990 en die Gelofte van 1838’, In die Skriflig 55(1), a2717, 2–24. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2717

Van Jaarsveld, F.A., 1979, Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle, Tafelberg, Kaapstad.

Voetnotas

1. Die Volksraad van die ZAR het in Julie 1883, na afloop van die Eerste Vryheidsoorlog van 1880–1981, besluit dat 16 Desember elke vyf jaar in die ZAR met ’n gesamentlike fees – waarskynlik te Paardekraal – gevier sou word. Hier het die Boere voor hierdie oorlog hulle opnuut aan die Here gewy en sy hulp afgesmeek. In die woorde van Paul Kruger was die doel hiervan ‘om mekaar onderling te herinner aan ons geloftes (en) dit bekend te maak aan ons kinders en kindskinders, sodat die herinnering aan dié dag by die nageslag lewendig sou bly …’ (Bergh 2017:100).

2. Hierdie toespraak van Paul Kruger as vise-president in die afwesigheid van die gewese president, ds. T.F. Burgers wat deur die Britse anneksasie van die ZAR in April 1877 afgesit is, was die openingsrede in die herstelde Volksraad van die ZAR op pad na ’n herstelde, onafhanklike ZAR. Die Volksraad van die ZAR het op 13 Desember 1880, in opdrag van die groot volksvergadering by Paardekraal in Desember 1880, die eerste keer sedert 1877 vergader. Die Volksraad het die nuwe bestuur van die ZAR aan ’n driemanskap opgedra, naamlik Paul Kruger as vise-president, oud-president M.W. Pretorius en generaal P.J. Joubert. Grobler (1980:103–105) op die spoor van ’n mededeling van E.P.J. Jorissen, was daar op hierdie dag tussen 8000 en 10 000 ZAR-burgers (Boere) by Paardekraal bymekaar. Hierdie getalle weerspieël die omvang van die weerstand onder die Transvaalse Boere teen die Britse anneksasie en oorname van die ZAR.

3. Spoelstra (1915:25) toon aan dat bekwame of bevoegde ouderlinge soos Sarel Cilliers, tydens en na die Groot Trek by ’n gebrek aan predikante, soms die werk van die predikant onder die Boere oorgeneem het.



Crossref Citations

No related citations found.