Jongmense en self-mutilasie

Book Title: Die noodkreet van jongmense wat hulleself sny: Pastoraat aan die self-mutileerder
Author: W. Coetzer
ISBN: 978-0-86955-197-4
Publisher: Potchefstroomse Teologiese Publikasies, 2012, R100.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Hennie J.C. Pieterse1
Affiliation: 1Philosophy, Practical and Systimatical Theology University of South Africa, South Africa
How to cite this book review: Pieterse, H.J.C., 2012, ‘Jongmense en self-mutilasie’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), Art. #538, 1 page. http//dx.doi.org/ 10.4102/ids.v46i1.538
Postal Adress: 262 Marais Street, Brooklyn 0181, South Africa.
Copyright Notice: © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Prof. Coetzer van Potchefstroom het in die bogenoemde boek pastorale versorgers van mense wat betrokke is by die redelik nuwe verskynsel van self-mutilering deur tieners ‘n groot guns bewys. Ek moet erken dat ’n hele nuwe wêreld van insig en begrip vir my oopgegaan het by die lees van die boek. In my omgewing het ek met die verskynsel te doen gekry en ek het nou veel meer begrip vir en empatie met die gesinne en tieners wat hierdie probleem ervaar het.

Die outeur behandel ’n tema wat eers in die afgelope dekades aan ernstige studie onderwerp is. Hy hanteer die eerste klassieke boeke daaroor wat eintlik eers in die 1990s verskyn het, asook al die relevante nuwe literatuur daarna. Coetzer se hantering van die literatuur is akademies en die boek is goed gedokumenteer en wetenskaplik aangebied. Tog slaag hy daarin om dit so leesbaar aan te bied dat elke ouer en predikant dit gemaklik kan lees. ’n Groot voordeel van die boek is dat dit deurspek is met gevallestudies wat elke punt wat gemaak word, pragtig verhelder.

In hoofstuk 1 beskryf die outeur as inleiding die aktualiteit van die tema en die belangrikheid van ’n holistiese benadering tot die mens (liggaam, gees en emosies). Hy definieer ook die terminologie van dié komplekse verskynsel en verduidelik ’n belangrike punt, naamlik wat self-mutilering nie is nie. Dit verhoed dat mense hierdie ernstige verskynsel sal kan wegrasionaliseer. In hoofstuk 2 word ’n lang lys redes gegee waarom jongmense self-mutilering toepas. Die verskynsel spruit uit verskillende traumatiese ervaringe uit die kinderjare, en vir die betrokke jongmense is dit die enigste manier om te sê wat in hulle binneste aangaan. Hierdie hoofstuk moet deeglik deur elke ouer en predikant gelees word. Dit maak ’n wêreld oop van die emosionele lyding van kinders in ons tyd. In hoofstuk 3 word die tekens aangestip wat sou kon dui op ’n probleem in hierdie verband. Hoofstuk 4 is ’n sentrale gedeelte van die boek. Dit beskryf die belangrike rol van die emosies wat in hierdie saak die kern is van die jongmense se lyding. Hoofstuk 5 is ’n beskrywing van die dinamika van die proses. Dit moet verstaan word om die verskynsel te kan begryp. In hoofstuk 6 volg ’n uitgebreide lys van praktiese riglyne vir die pastor wat by die genesingsproses betrokke is. Hoofstuk 7 verskaf pastorale perspektiewe wat teologies goed onderlê is binne ons gereformeerde verstaan van die Skrif. Hierin word die regstel van wanpersepsies oor God, die rol van vergifnis, die rol van die Nagmaal, die rol van gebed en die teenwoordigheid van die pastor deur dik en dun by so ’n jongmens en die gesin behandel. Hoofstuk 8 bring die leser ’n bietjie aarde toe met die nugtere waarskuwing om bedag te wees op terugvalle.

In hierdie boek sluit teorie en praktyk goed by mekaar aan. Ons kry ’n akademiese blik op die probleem, maar die boek is ook ’n praktiese handleiding vir die pastorale versorging van die betrokkenes. Die boek behoort deur elke ouer, predikant en teologiese student in ons kerke gelees te word.



Crossref Citations

No related citations found.