’n Diepteblik op menswaardigheid, versoening en vergiffenis vanuit ’n reformatoriese perspektief

Book Title: Menswaardigheid, versoening en vergiffenis
Author: J.M. Vorster
ISBN: 978-0-86955-191-5
Publisher: Potchefstroomse Teologiese Publikasies, 2011, R192.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Fritz W. de Wet1
Affiliation: 1Faculty of Teology, School of Ecclesiastical Studies, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal Adress: PO Box 19120, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: De Wet, F.W., 2012, ‘’n Diepteblik op menswaardigheid, versoening en vergiffenis vanuit ’n reformatoriese perspektief’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), Art. #582, 1 page. http//dx.doi.org/ 10.4102/ids.v46i1.582
Copyright Notice: © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die manuskrip Menswaardigheid, versoening en vergiffenis van J.M. Vorster lewer ’n belangwekkende bydrae tot ’n teologies-etiese perspektief op die manier waarop die Christelike begrippe menswaardigheid, versoening en vergiffenis op ’n sosio-politieke vlak in die regstaat-denke van die huidige Suid-Afrikaanse konteks ontplooi word.

Die manuskrip word geskryf in die konteks van die groot veranderinge wat oor die afgelope twee dekades deur Christene in Suid-Afrika beleef is. Die politieke bestel in die land het ingrypend verander; en die grootste sekularisasieproses in die geskiedenis van die land het versnelde momentum begin verkry. In die nuwe grondwetlike bedeling val die klem op menseregte en alles wat daarmee saamgaan. Die implementering van herstellende geregtigheid, regstellende aksie, Swart ekonomiese bemagtiging, kwytskelding van regsaanspreeklikheid vir mense wat in die verlede aan wandade skuldig was asook die implikasies van die opkoms van die sosialistiese arbeidsbeweging het ’n groot impak gehad. Met die manier waarop die regstaat in die huidige bedeling ontplooi is, het Christene onder die indruk gekom dat ons in ’n nuwe omgewing leef en dat ons vanuit die Christelike lewensvisie en etiek daaroor moet besin.

Die vrae waarmee die outeur in hierdie publikasie werk, is die volgende: Wat beteken menswaardigheid, versoening en vergiffenis in ’n sosio-politieke konteks? Kan hierdie eg Christelike begrippe in die regstaat-denke op so ’n manier getransponeer word dat Christene daarmee vrede kan hê en daaraan beslag kan gee? Wat is die rol van die kerk in hierdie verband?

In agtereenvolgende dele word die begrippe menswaardigheid (hoofstuk 1), versoening (hoofstukke 2–3) en vergiffenis (hoofstukke 4–6) teologies verken en die manier waarop die kerk hierdie begrippe op Christelike wyse in die samelewing kan inklee, verkonkretiseer. Ten opsigte van menswaardigheid konkludeer Vorster dat die moderne neiging om versoening in Christus geheel en al te laat opgaan in sosiale geregtigheid die begrip tot ’n sosio-politieke modewoord reduseer. Die konsep mag nie ontneem word van die ryke betekenis en onskatbare waarde wat dit inhou vir die kerk se evangeliserende versoeningsrol in ’n onmenslike samelewing nie. Ten opsigte van die rol wat die kerk in versoening moet speel, werk Vorster met ’n ekklesiologiese model waarin die geïnstitueerde kerk as kragstasie van die koninkryk gesien word. Gelowiges het die roeping om as die ‘kragdrade’ van die koninkryk die etiese beginsels wat voortvloei uit God se versoeningshandeling, soos vrede, reg en geregtigheid, liefde, sorgsaamheid en barmhartigheid, in die samelewing te bevorder en te laat realiseer. Die konsep van vergiffenis word Bybels gegrond in die betekenis van feeste in die Ou en Nuwe Testament waarin geleer word dat herinnering aan die verlede essensieel is vir die herstel van die hede en die beplanning van die toekoms. ’n Gemeenskap wat ’n menslike en vreedsame gemeenskap wil word, moet gewillig wees om die moeilike pad van herinnering te loop volgens die lyne wat die Bybelse teologie voorstel. In die slothoofstuk oor vergiffenis word die praktyk van vrywaring van vervolging vanuit ’n deontologiese Christelike etiese perspektief ernstig bevraagteken. Vorster toon aan dat vrywaring nóg vergelding nóg restitusie erken en daarom daartoe bydra dat die regstelsel ondermyn word.

Die outeur beheers in hierdie publikasie die ondersoekterrein deeglik met sy kenmerkende onderskeidingsvermoë en fyn aanvoeling vir dit wat die volle gewig en draagwydte van die Christelike roeping ten opsigte van die uitleef van die Bybelse begrippe menswaardigheid, versoening en vergiffenis omvat. Die outeur is ’n kenner van sy vakgebied en hy maak sy kennis op ’n vaardige wyse toeganklik vir ’n breë spektrum lesers, van akademici tot elke Christen wat sy of haar roeping met getrouheid en integriteit in die samelewing wil uitleef.

Ek spreek graag waardering uit vir die manier waarop die reformatoriese denke van die outeur telkens in die Woord van God begrond word en konsekwent deurgetrek word na die huidige Suid-Afrikaanse sosio-politieke konteks. Die outeur dui telkens aan hoe die begrippe menswaardigheid, versoening en vergiffenis in ’n humanistiese en liberaal-politieke denksfeer op ’n horisontalistiese wyse ingerig word en dui uit die Skrif aan watter ryke dimensies daar in hierdie begrippe teenwoordig is wanneer dit in die genadige openbaring van God geanker word.

Die boek word op ’n maklik volgbare en integrale manier aangebied. Sleutelbevindinge word telkens saamgevat sodat die leser duidelike oriëntasiepunte het om sy of haar eie denke ten opsigte van hierdie tema met diepgang nuut te deurdink.



Crossref Citations

No related citations found.