Article Information

Authors:
Ben J. de Klerk1
Fritz W. de Wet1
Hennie J.C. Pieterse2

Affiliations:
1School of Ecclesiastical Studies, Potchefstroom Campus, North-West University, South Africa

2Department of Philosophy, Practical and Systematic Theology, University of South Africa, South Africa

Correspondence to:
Hennie Pieterse

Postal address:
262 Marais Street, Brooklyn, Pretoria 181, South Africa

Dates:
Received: 27 July 2010
Accepted: 01 Mar. 2011
Published: 10 Dec. 2012

How to cite this article:
De Klerk, B.J., De Wet, F.W. & Pieterse, H.J.C., 2012, ‘Die noodsaak daarvan om metateoretiese vertrekpunte in ’n prakties-teologiese wetenskapsbeskouing en -beoefening te verreken’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(2), 11 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v46i2.59

Note:
Prof. H.J.C. Pieterse is verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hierdie navorsing is deel van ’n projek by Noordwes-Universiteit onder leiding van Prof. F.W. de Wet.

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die noodsaak daarvan om metateoretiese vertrekpunte in ’n prakties-teologiese wetenskapsbeskouing en -beoefening te verreken
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Metateoretiese verantwoording ten opsigte van ’n wetenskapsbeskouing
   • Wetenskap
   • Die teologie
   • Die praktiese teologie
   • ’n Pneumatologiese invalshoek
   • Die taak van die praktiese teologie
      • Die deskriptief-empiriese taak
      • Die interpretatiewe taak
      • Die normatiewe taak
      • Die pragmatiese taak
   • Die praktiese teologie in verhouding tot die menswetenskappe
Metateoretiese verantwoording ten opsigte van wetenskapsbeoefening
   • Die navorser gerig en bepaal deur voorveronderstellings en/of vooroordele
   • Hermeneutiese lense
   • Die taak waarmee die prakties-teologiese wetenskapsbeoefening op die ondersoekveld gerig is
   • Die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid in die verlede, hede en toekoms daarvan
’n Voorbeeld van die ontvouing van ’n prakties-teologiese navorsingsprojek
   • Metateoretiese faktore waamee die ondersoekveld benader word
   • Navorsingsprobleem, doelwitte van die ondersoek en sentrale teoretiese argument
   • ’n Oopkode analise van 12 preke uit Matteus 25:31–46 as preekteks
      • Geloofsdeelname aan Jesus
      • Identifisering deur die navolgers van Jesus met die armes
      • Sorg vir armes en geringstes deur huidige gemeentes
Slot
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outeur bydraes
Literatuurverwysings
Abstrak

Hierdie artikel is die vierde publikasie wat uit die navorsingsprojek Metateoretiese vertrekpunte in die praktiese teologie voortvloei. In die voorafgaande artikels is ’n saak uitgemaak vir die noodsaak daarvan om rekening te hou met die eie metateoretiese vertrekpunte rakende werklikheidsbeskouing en met kriteria waarvolgens die hermeneutiese proses wat in handelinge in die navorsingsveld van die praktiese teologie ter sprake kom, geïnterpreteer word. In hierdie artikel verskuif die fokus na die metateoretiese vertrekpunte wat in die navorser se wetenskapsbeskouing en -beoefening ter sprake kom. Die rol wat metateoretiese faktore speel in die manier waarop die wese en taak van die wetenskap gedefinieer word, kry aandag. ’n Poging word aangewend om ’n model te ontwerp waarin die teenwoordigheid en uitwerking van die navorser se metateoretiese vertrekpunte integraal verreken word in die proses van prakties-teologiese wetenskapsbeoefening. ’n Huidige navorsingsprojek, waarmee een van die medeskrywers van hierdie artikel besig is, word bespreek as voorbeeld van die impak wat metateoretiese vertrekpunte op die ontwerp van ’n studie kan hê.

Abstract

The necessity of taking account of meta-theoretical assumptions in the scientific approach and task envisaged for practical theology. This article is the fourth in the research project Meta-theoretical assumptions in practical theology. In the preceding articles, a case was made for the necessity of expressing the own meta-theoretical assumptions regarding the view on reality and the hermeneutical process involved in understanding the actions of faith in the research field of practical theology. In this article, the focus is on the meta-theoretical assumptions at play in the researchers’ vision for engaging the research field on a scientific level. The role that meta-theoretical factors play in defining the nature and task of scientific activity, is discussed. An attempt is made to develop a model that integrates the presence and effects of meta-theoretical assumptions in the researchers’ specific vision regarding the scientific task of practical theology. An example of an actual research project is given to illustrate the impact that meta-theoretical assumptions can have on the design of a scientific study.

Inleiding

In hierdie navorsingsartikel probeer ons om die metateoretiese faktore wat bepalend is vir die manier waarop ons ’n prakties-teologiese wetenskapsbeskouing en -beoefening inrig, uit te spel en ons te verantwoord ten opsigte van die keuses wat hierin gemaak is:

• Wat die vraag na ’n wetenskapsbeskouing aanbetref, sal ons ons moet verantwoord oor die metateorie wat onderliggend is aan die beantwoording van vrae soos: Wat is wetenskap en waarin verskil dit van ander vorme van kennis? Wat is teologiese wetenskap en watter kriteria word in hierdie vorm van wetenskap gebruik om navorsingsresultate te regverdig? Wat is praktiese teologie en waarin verskil dit, vanweë die gerigtheid daarvan op die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid (praksis), van ander teologiese dissiplines? Wat is die taak van prakties-teologiese wetenskapsbeoefening? In watter opsig verskil praktiese teologie van, en kan dit aansluiting vind by ander wetenskaplike dissiplines wat vanuit `n ander invalshoek op dieselfde navorsingsveld fokus?

• Wat die vraag na wetenskapsbeoefening aanbetref, sou dit nodig wees om die navorsingsmetodologiese implikasies van onderliggende metateoretiese vertrekpunte aan te dui. Dit sou ook nodig wees om ’n model vir die navorser se wetenskaplike gerigtheid op die prakties-teologiese navorsingsveld uiteen te sit.

• Die moontlike ontvouing van ’n prakties-teologiese navorsingsprojek sou ook hier kortliks verduidelik kon word, ter illustrasie van die waarde van ’n verantwoording van die eie metateoretiese vertrekpunte. Hierdie verantwoording sou van waarde kon wees vir die begronding van die eie wetenskaplike werk en vir duidelike kommunikasie met diegene wat van die navorsingsresulate kennis neem en moontlik baat daarby kan vind.

Metateoretiese verantwoording ten opsigte van ’n wetenskapsbeskouing

Wetenskap
Kant se siening van die wetenskap het tot die modernistiese positivistiese siening van die wetenskap gelei. Die wetenskap fokus op die toename in kennis op grond van wat gesien, ervaar en beredeneer kan word. Volgens hierdie siening kan God nie die objek van die wetenskap wees nie (Heitink 1999:21). Hierdie standpunt het verandering ondergaan, want alle kennis is immers gebaseer op vooraf-, nie-wetenskaplike ervaring. Die wetenskap ontwikkel deur ’n proses van seleksie, rangskikking en kritiese beoordeling, dit wil sê deur die objektivering van die data wat deur die eksperimentele kennis verkry is. Dit is duidelik dat die doel met eksperimente nie in die eerste instansie is om ’n wetenskaplike teorie te ontwikkel of ’n dieper insig te verkry nie, maar dit het ’n praktiese oriëntasie (Heitink 1999:105).

Mouton en Marais (1989:160) gee die volgende definisie van die wetenskap: Die wetenskap is ’n sisteem van konsepte, teorieë, bevindinge en metodes wat deur ’n aantal wetenskaplikes aanvaar word. Daar is drie stelle kriteria vir wetenskaplike toetsing: operasioneel spesifiek, toetsbaarheid en kontrole. Hierdie kategorië kan egter nie gestel word as absolute kategorieë wat as wetenskaplik aangedui kan word, teenoor aparte kategorieë wat as alledaagse, onwetenskaplike kennis beskryf word nie. Nogtans kan met behulp van hierdie drie kategorieë tot ’n relatiewe konseptualisering van wetenskaplikheid gekom word (Mouton & Marais 1989:163).

Die invloed wat die waarneembare verskuiwing van die modernisme na die postmodernistiese intellektuele konteks gehad het, kan volgens Osmer (2008) in terme van vier sleutelverskuiwings beskryf word:

From science as an exemplar of scholarship in all fields, including theology, to affirmation of the variety of ways scholarly research is conducted, including theology.
From disciplinary specialization in relatively isolated fields to cross disciplinary thinking as the center of scholarly research.
From the ideal of universality, consensus, and progress to pluralism and rational dissensus.
From a sharp distinction between disinterested, pure scholarship and applied science to the recognition that scholarship is grounded in and oriented toward practice, reflecting constellations of value, interest, and power (bl. 236 e.v.).

In ’n wetenskapsbeskouing is die siening oor wie die wetenskaplike is en wat sy of haar posisie in die wetenskapsbeoefening behels, ook van belang. Dit gaan om die besef van die navorser se identiteit. Die persepsie dat gesaghebbendheid daarin geleë is dat resultate in absolute terme en teorieë tot uitdrukking gebring word, behoort deur die navorser vermy te word. Aan die ander kant moet die onegte voorgee van nederigheid en skynbare broosheid waardeur totale relatiwiteit ten opsigte van navorsingsresultate aangebied word, ook vermy word. Die navorser in die teologie se nederigheid en broosheid behoort te blyk uit sy navolging van Christus deur in die proses van die totale navorsing liefde en geregtigheid te verbeeld.

Die teologie
Die teologie word deur Heyns en Jonker (1977:137) beskryf as ‘die wetenskaplike en tyd bepalende antwoord op die openbaring van God aangaande Homself en sy direkte verhouding tot die kosmos’. Hoewel die woord teologie die fokus op God plaas, kan God self nie die onderwerp van teologiese studie gemaak word nie. God kan nie in ’n mensewoord vasgevang word nie. Die beginpunt van die teologie is kennis van die Bybel en kennis van God (Heyns & Jonker 1977:128). In die nadenke oor kennis van die Bybel moet daar met die verandering in die historiese en kulturele omstandighede van die teoloog en die impak wat die verandering op nadenke oor God en die Bybel as bron van kennis sal hê, rekening gehou word (Dingemans 2005:112 e.v.).

Pieterse (1979:39) verwys na die teologie as ‘ver-antwoordingstaak’, want die teologie moet wat die Bybel sê, vertaal en in ’n woord vir vandag verantwoord. Dit moet begrip vir die teks verskaf en daarom het die teologie ’n omvattende hermeneutiese funksie. Die betrokkenheid van die teologie binne ’n konteks impliseer dat die teologie ’n dinamiese aktiwiteit behoort te wees wat in die gang van die samelewingsontwikkeling die verstaan daarvan nuut formuleer. Om tot kennis van God te kom, gaan die mens se begripsvermoë heeltemal te bowe, maar God is Lig en daarom wil Hy Homself bekendstel. Hy is ’n handelende God en daarom laat Hy sy handelinge verklaar (Stott 1982:262). In die Bybel, as openbaring van God, gebruik die Heilige Gees soms regstreekse openbaringswyses, maar ook die weergawe van geïnspireerde mense (soos Psalmdigters) om Hom bekend te maak. Die geloof van mense wat geïnspireerd opgeteken is, dui ook op wie God is en wat sy verhouding tot mense is. God het Hom genoegsaam in sy Seun se menswording geopenbaar. Die teologie is dus die ken en kennis van God, soos Hy Hom in sy openbaringsmiddele bekend maak.

Die praktiese teologie
Pieterse (1993:108) som die praktiese teologie op as die teologiese teorie oor kommunikatiewe handelinge in diens van die evangelie. Hy beskryf die praktiese teologie elders ook as ‘the study of communicative acts in the service of the gospel within the context of modern society’ (Pieterse 2004:8). Immink (2005:170) beskryf die taak van hierdie dissipline soos volg: ‘Practical theology deals with the concrete praxis of faith.’ Die praksis is die verhouding tussen God en die wêreld waarin God as die sprekende en handelende Subjek onder, in en deur mense optree. Omdat die praktiese teologie met die bestudering van die kommunikatiewe handelinge in diens van die evangelie besig is, is dit volledig deel van die teologie (Pieterse 1993:2). In die nagaan van die betrokke handeling kry die werklikheid waarbinne die handeling geskied eie aandag. Dit het konkreet betrekking op, enersyds die teologiese sinsverband as betekenisgewend vir die handeling, en andersyds op die kulturele konteks as medebepalend vir die aard van handelinge (vgl. De Ruijter 2005:20).

Die praktiese teologie is ’n wetenskap wat teorieë vir die praktyk nastreef (Immink 2005:179), dit krities beoordeel en nuwes formuleer waar nodig (Heitink, Pieterse & Vos 2000:54). Dit is ’n wetenskap, want die ontwikkeling van die vak, soos uitgedruk in terme van teorie, metode en handelingsvelde, dui op die algemene aanvaarding van die wetenskaplikheid van die vak. Dus is die praktiese teologie ’n wetenskap, omdat dit oor ’n eie studieveld beskik, eie prakties-teoretiese teorieë vorm en wetenskaplike metodes gebruik (Louw 2003:38). Die teologiese karakter van die praktiese teologie word verder deur die verhouding tussen teorie en praksis gehandhaaf. Praksis word beskryf as die handeling van individue en groepe in die samelewing, sowel binne as buite die kerk wat bereid is om in hulle persoonlike en openbare lewens deur die Christelike tradisie geïnspireer te word en hulle so op die heil van mense in die wêreld te laat rig (Gärtner 2009:2). Teorie is die omvattende hermeneuties-teologiese standpunt wat die Christelike tradisie met ervaring, die lewe en die handelinge van die moderne mens in verband bring (Gräb 2005:195; Heitink 1999:151).

Die wyse waarop die hermeneutiese, empiriese en strategiese perspektiewe in die praktiese teologie aan mekaar verbind word, is bepalend vir die vraag of die navorser met praktiese teologie besig (Heitink et al. 2000:56). In die handelingsondersoek gaan dit immers om die vasstelling van ’n bepaalde praktyk wat as verbetering van die konkrete praksis dien (Hyun-Sook 2007:422).

Dingemans (1996:56) sien die gemeente nie alleen as ’n handelingsgemeenskap nie, maar veral as ’n interpretasiegemeenskap. Dit gaan, volgens hom, in die praktiese teologie om die praksis van die Christelike gemeente wat die evangelie van Christus via die Bybel en die Christelike tradisie gehoor het, dit in die liturgie vier, dit in die prediking en kategese deurgee, en dit in die praktyk van die pastoraat en diakonaat in die samelewing inbring. Vanuit hermeneutiese hoek beskou, is die fokus van die praktiese teologie die verstaan van die beweging van God se openbaring, en die rol van mense in die ontvangs daarvan (Pieterse 2004:4–8). Die basis van die geloofshandelinge is die handelinge van God met mense in die wêreld, sowel as die handelinge van mense wat hulle geloof met die oog op die ontstaan en opbou van geloof in God kommunikeer (Pieterse 1993:5). Die teologie is dus ’n praktiese wetenskap, want dit gaan nie net om die kennis van God nie, maar ook oor hoe om tot kennis van God te kom. Dit is ’n leerproses, ’n ervaringsproses, ’n persoonlike ken en tot kennis kom van God. ‘This learning about God is pre-eminently the field of practical theology’ (Pieterse 2004:7). Die navorsing het die verbetering en vernuwing van die geloof en die geloofsdade van mense in die oog (Pieterse, Greyling & Janse van Rensburg 2004:89).

Die praktiese teologie is ’n dissipline waarin insigte vanuit die teologie en die verskillende teologiese velde saam met insigte uit ander dissiplines op verbeeldingryke kreatiewe wyse ingespan word om mense se geloofspraktyke krities te ondersoek en te bestudeer. Die doel daarvan is die verbetering en vernuwing van die oue en die ontdekking van die nuwe. In die gebeure is die resultaat nuwe denke oor teorieë, strategieë en aksies wat in die geloofsraamwerk funksioneer (Botha 2010:41).

’n Pneumatologiese invalshoek
In die praktyk van die gemeente en gelowiges is die Heilige Gees werksaam, nie as ’n algemeen religieuse gees nie, maar as Gees wat van die Vader en die Seun uitgaan. Die Gees word die Gees van Christus genoem, maar verteenwoordig ook ’n eie gestalte in die goddelike heilsekonomie. Deur die werking van die Gees kan die stelling gemaak word dat God in, met en deur mense handel, omdat die gemeente die gawe van die Heilige Gees ontvang het.

De Wet (2005:507) bespreek die pneumatologiese perspektief vanuit die wisselwerking tussen die normatiewe en konkrete werklikheid. Terwyl die normatiewe werklikheid dien as refleksiedomein waarin daar basis-teoreties gewerk word, vind teorievorming in die konkrete werklikheid plaas. Hy pleit vir ’n dubbele benadering waarin die mens in sy konkrete situasie beskou word, en waarin God deur die geloof gesien word – ’n pneumatologie wat nie op metafisiese en onsigbare vlak vasbrand nie. Pieterse (1993:135) beskou menslike handelinge in diens van die evangelie as sinvolle handelinge en as deel van die aktiewe deelname aan die handelinge van God. Hierdie verhouding word uit die perspektief van die Heilige Gees binne die kommunikatiewe paradigma benader. In dié verband is die aanwending van die begrip teonome resiprositeit as ruimte waarin die Heilige Gees mense aan die werk sit, belangrik. Teonome resiprositeit beteken nie ’n vereenselwiging tussen God en mense nie, maar is ’n wyse waarop daar in die ruimte van die verbond aan God se genade en die mens se dankbaarheid daaroor uitdrukking gegee word (vgl. Cilliers 1996:68).

Die taak van die praktiese teologie
Osmer (2008) beskryf die praktiese teologie aan die hand van vier verskillende take.

Die deskriptief-empiriese taak
Dit gaan in hierdie taak om die versameling van inligting wat help om die patrone en dinamika van spesifieke episodes, situasies of kontekste te onderskei en te beskryf. Volgens Osmer en Schweitzer (2003:2) word die taak verwoord met die vraag: Wat gebeur? of Wat is aan die gang?

Die interpretatiewe taak
Hierdie taak is besig met die waarom-vraag (Osmer 2008:6) en ondersoek verskillende teorieë om die geïdentifiseerde patrone te verstaan en te verklaar.

Die normatiewe taak
In hierdie taak word die teologiese konsepte gebruik om etiese norme daar te stel wat as gids vir reaksie dien en wat uit die interpretasie van gebeure geleer kan word (vgl. De Ruijter 2005:116). Die vraag wat die taak rig, is: Watter vorm(e) behoort godsdienstige praksis in hierdie bepaalde sosiale konteks aan te neem? In die prakties-teologiese konteks is norme konteksbepaald en word dit deur die uitkomste van die empiriese en interpretatiewe werk beïnvloed (Osmer 2008:8).

Die pragmatiese taak
Dit gaan oor strategieë en handelinge wat onderneem word om die praksis volgens die gestelde doelwitte te verander: Hoe sou ons kon reageer op maniere wat gelowig en effektief is? (Osmer 2008:10)

Prakties-teologiese interpretasie sluit dus die vier sleuteltake in, naamlik die deskriptief-analitiese taak (verklaar), die interpretatiewe taak vanuit die Skrif, die handelingsgeskiedenis van geloofsgemeenskappe met inagneming van die resultate van ander wetenskappe (verstaan), en die strategiese (pragmatiese) taak ten opsigte van die verandering en/of vernuwing van die praksis (verander). Die prakties-teologiese interpretasie is meer in die vorm van ’n spiraal as ’n sirkel (Osmer 2008:11). Die normatiewe speel by elkeen van hierdie take ’n deurslaggewende rol.

Die praktiese teologie in verhouding tot die menswetenskappe
Die praktiese teologie tree met ander dissiplines, insluitende die teologie en sosiale en natuurwetenskappe, in gesprek. Kruis-dissiplinêre denke is ’n inherente deel van elkeen van die vier take van die praktiese teologie (Osmer 2008:240). In die empiriese werk is dit in kontak met die sosiale wetenskappe en neem dit besluite oor navorsingsmetodes wat die beste in die eie veld pas. So kom dit ook in die interpretatiewe funksie met die sosiale-, natuur- en filosofiese wetenskappe in aanraking. In die normatiewe taak tree dit met die dogmatiese en eties-teologiese wetenskappe in gesprek, en in die pragmatiese taak met wetenskappe soos die opvoedkunde-, terapeutiese, kommunikasie- en bestuurswetenskappe. Die kontak is krities ingestel sover dit die metodes en strukture in die betrokke wetenskappe aangaan, maar dit vorm altyd deel van die kruis-dissiplinêre gesprek waarin die spesifieke teologiese perspektiewe van die praktiese teologie ’n eie stem laat hoor.

Die praktiese teologie werk dus met ’n dubbele perspektief. Daar is teologiese kennis nodig wat op God se openbaring gegrond is. Tegelyk is daar ook kennis uit die ander wetenskappe, veral die menswetenskappe nodig wat op die empiriese werklikheid gegrond is. Die vraag is: Wat ... is die verhouding tussen die twee? Daar is twee hermeneutiese bewegings in die refleksie, naamlik ’n teologiese en ’n sosiaal-wetenskaplike. Teenoor ’n uitsluitlik normatief-deduktiewe model asook ’n menswetenskaplike model kan aansluiting by ’n bipolêre model gevind word (vgl. De Ruijter 2005:61). In laasgenoemde model word die kennis van albei wetenskappe erken en gehonoreer, maar daar is nie ’n gedeelde ontologie nie. Die wetenskappe bly onafhanklik van mekaar bestaan, maar daar kom ’n werklike verbinding tot stand. Hierdie verhouding kan asimmetries genoem word. Dit volg uit die feit dat die teologiese perspektief die mees verstrekkende is. Dit reflekteer in die lig van God se openbaring oor die handelingspraktyk. Alleen vanuit die teologiese perspektief word dit duidelik dat God in en deur menslike handelinge handel (vgl. De Ruijter 2005:77).

In die lig van bogenoemde tipering van die verhouding tussen die praktiese teologie en die menswetenskappe, onderskei ons tussen ’n multidissiplinêre verhouding, ’n interdissiplinêre verhouding en ’n intradissiplinêre benadering. Dit is juis laasgenoemde benadering waarby ons aansluiting vind. Multidissiplinêr beteken dat die sosiale wetenskappe met hulle eie teorieë ondersoek doen en dat die praktiese teologie as selfstandige wetenskap daarnaas die sosiale wetenskappe, gesien as hulpwetenskappe, se resultate (dikwels lukraak) gebruik. Interdissiplinêr beteken dat daar in ondersoeke gesprek en samewerking met hierdie wetenskappe is. Dit werk moeilik omdat die ervaring leer dat die invalshoeke verskil en dat die gesprek en (uiteindelike) resultate nie altyd bevredigend is nie, en dat die proses heel moeisaam verloop. Intradissiplinêr beteken dat die praktiese teoloog die empiriese instrumente van die sosiale wetenskappe in diens neem, leer om dit te gebruik en met eie invalshoek en teologiese teorieë die ondersoek doen en die resultate interpreteer (vgl. Pieterse Dreyer & Van der Ven 2003:130).

Metateoretiese verantwoording ten opsigte van wetenskapsbeoefening

Die navorser se onderliggende metateoretiese vertrekpunte sou ’n bepaalde invloed op die navorsingsmetodologiese ontwerp vir die inrigting van wetenskapsbeoefening uitoefen:

• ’n Metateoretiese onderbou ten opsigte van die gerigtheid op die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid sou bepalend wees vir onder andere die navorsingontwerp, die afbakening van die navorsingsterrein, die formulering van probleemstellings en doelwitte, asook vir die sentrale teoretiese argument waarmee gewerk word.

• Die manier waarop bronne in die verstaansproses ontplooi word en vir kritiese refleksie en met die oog op strategiese verandering normatief aangelê word, sou ook deur metateoretiese vertrekpunte bepaal word. Die manier waarop die navorser by die metodologie van die aangrensende wetenskappe aansluiting vind, sou tot ’n groot mate bepaal word deur die metateoretiese beskouing rakende die verhouding tussen die teologiese en antropologiese dimensies in die handelingspraksis wat ondersoek word.

• Die navorser se metateoretiese onderbou ten opsigte van die hermeneutiese proses wat in wetenskapsbeoefening ter sprake kom, sou bepalend wees vir die manier waarop navorsingsresultate in die ontwerp van verantwoordbare teorieë van en vir die handelingspraksis aangebied word.

Ten einde die hermeneutiese interaksie tussen die navorser en die navorsingsveld in die uitvoer van die wetenskaplike taak tydens prakties-teologiese wetenskapsbeoefening te illustreer, kan ’n basiese model (vgl. Figuur 1) ontwerp word. Die model (Figuur 1) probeer om op ’n basiese vlak en vanuit die invalshoek van die prakties-teologies navorser in sy of haar gerigtheid op die navorsingsterrein te illustreer wat tydens die navorsingsproses op hermeneutiese vlak gebeur. In ’n tweede rondte refleksie sal daar probeer word om die metateoretiese implikasies van ’n reformatoriese benadering in die model in te bou (vgl. Figuur 2).

FIGUUR 1: Hermeneutiese wisselwerking tydens wetenskaplike ondersoek.

FIGUUR 2: Die invloed van ’n reformatoriese benadering op wetenskaplike ondersoek.

Die basiese elemente wat in die bogenoemde model ter sprake kom, kan soos volg verduidelik word:

Die navorser gerig en bepaal deur voorveronderstellings en/of vooroordele
Volgens Dingemans (1996:152) het ons ’n oordeel oor die wêreld wat die kenmerk van onmiddellikheid toon. Gadamer noem ons onmiddellike, nog ongereflekteerde oordele waarop al ons kennis in eerste instansie berus, ‘Vor-meinungen’ of vooroordele, wat spontaan by ons opkom. Dit gaan om ons primêre, intuïtiewe verhouding met die werklikheid wat, logies gesproke, die refleksie voorafgaan. Die navorser benader die ondersoekterrein vanuit ’n bepaalde verstaanhorison soos dit byvoorbeeld in die denkraamwerk van ’n bepaalde werklikheidsbeskouing na vore kom. Ons kan (en moet) die vooroordele egter verdiep en korrigeer deur afstand te neem en ons vooroordele te toets. Die wetenskap is nie die vaslê van ’n (rasionele) fondament vooraf (a priori), waaruit al ons kennis afgelei kan word nie, maar ’n toetsing agterna (a posteriori) waardeur ons primêre intuïsies en ons latere argumentasies geverifieer of gevalsifiseer word (Dingemans 1996:164). Die aanvanklike verstaanshorison kan deur die proses van wetenskaplike ondersoek verruim en verdiep en selfs verskuif word (Osmer 2008):

New understanding emerges when scholars are open to hermeneutical experiences in which they become aware of the preunderstandings with which they begin their interpretative activity and are willing to put them at risk in a dialogical encounter with the objects, people, or texts they are interpreting. (bl. 23)

Hermeneutiese lense
Deur hierdie element by die model in te sluit, word beklemtoon dat die navorser in sy of haar wetenskaplike arbeid van bronne gebruik maak om op die navorsingsterrein lig te werp. Die aanlê van hierdie bronne funksioneer soos lense waardeur die navorsingsterrein waargeneem word, sodat dit wat onduidelik is, (tot ’n mate) opgeklaar kan word. Dit wat gebrekkig geken word, kan met meer perspektiefrykheid beskou word en dit wat verkeerd is, kan (voortdurend) gereformeer word. Hierdie hermeneutiese lense sluit die Skrif, die belydenisskrifte, die handelingsgeskiedenis van geloofsgemeenskappe (kerklike tradisie), wetenskaplike geskrifte (nie alleen vanuit die invalshoek van die teologie nie, maar ook vanuit die invalshoek waarmee die aangrensende wetenskappe die navorsingsterrein verken en verklaar) in.

Die taak waarmee die prakties-teologiese wetenskapsbeoefening op die ondersoekveld gerig is
Onder praktiese teoloë bestaan daar tot ’n groot mate konsensus dat die taak waarmee prakties-teologiese wetenskapsbeoefening op die ondersoekveld van die handelingspraksis in die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid gerig is, wesenlik te doen het met deskriptiewe analise van die empirie, die interpreterende (asook normatiewe) verstaan van dit wat waargeneem word, en die visualisering van strategie met die oog op verantwoordbare verandering (Osmer 2008:4; De Ruijter 2005:117; Dingemans 1996:130; Heitink 1999:165)

Die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid in die verlede, hede en toekoms daarvan
Die ondersoekveld van die prakties-teologiese wetenskapsbeoefening het bepaald te doen met die gebeurlikheidsdimensie van dit wat in die werklikheid waargeneem word. Daar word rekening gehou met die feit dat die gebeurlikheidsdimensie nie alleen ruimtelik waargeneem word nie, maar ook ten opsigte van die temporele aspek daarvan. Handelinge wat waargeneem word, het ’n bepaalde ontstaansgeskiedenis en die huidige praksis word deur bepaalde motiewe in ’n rigting gestuur volgens die toekomsvisie waarmee gewerk word.

Die interaksie tussen die verskillende elemente waaruit die model (Figuur 1) saamgestel is, toon ’n patroon van komplekse hermeneutiese wisselwerking. In ’n poging om die aard van hierdie hermeneutiese wisselwerking te tipeer, word in die prakties-teologiese besinning dikwels na ’n sirkulêre of spiraalgang verwys (vgl. Osmer 2008:11). Heitink (1999:197) verduidelik die verloop van die sirkulêre gang soos volg:

• ’n Teks of ’n nie-tekstuele element uit ’n kulturele of sosiale konteks word vanuit bepaaldheid deur vooroordeel waargeneem.
• Die waarneming lei tot (religieuse) ervaring, wat op ’n bepaalde interpretasie van ’n klein segment van die werklikheid uitloop.
• In ons diskussie met ander bronne, word dit wat geïnterpreteer is deel van ’n groter geheel en dan word bepaal of die interpretasie die toets van intersubjektiewe kritiek kan weerstaan. So loop die leerproses op die ontdekking van betekenis uit en hierdie betekenis word in ’n simboliese reservoir norme en waardes gegiet wat rigtinggewend kan wees vir aksie wat in die vernuwing van praksis onderneem word. So word uiteindelik ’n volle sirkel voltooi deurdat ’n nuwe element by ons (voor)verstaan gevoeg is.

In die model (Figuur 1) word probeer om iets sigbaars te maak van die hermeneutiese wisselwerking wat tydens die proses van wetenskaplike ondersoek in die navorser se verhouding met die navorsingsterrein ter sprake kom. Die navorser kan in sy of haar bepaaldheid deur voorveronderstellings en/of vooroordele (1) nie onbevange gerig wees op dit wat in die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid (praksis) (2) waargeneem word nie. Die navorser moet daarvan bewus wees dat hy of sy vanuit ’n bepaalde verstaanshorison werk, met ’n onderliggende beskouing oor die aard, oorsprong, voortgang, ontwikkeling en doel en/of bestemming (die verlede, hede en toekoms) van die werklikheid wat waargeneem word. Hierdie onderliggende beskouing bepaal onder andere die invalshoek waarmee op die gebeurlikheidsdimensie gefokus word en die verwagtinge wat ten opsigte van interaksie gekoester word. Die navorser se verhouding met die praksis vind egter nie by wyse van eenrigtingverkeer plaas nie. Die gebeurlikheidsdimensie is nie staties nie en kan die navorser verras met ’n dinamiek wat ver uitgaan bo dit wat verwag kon word. Dingemans (1996:156) wys (in aansluiting by Ricoeur) op die wederkerigheid in die twee bewegings wat vanaf die ‘syn’ na die waarnemer aan die een kant en vanaf die waarnemer na die ‘syn’ aan die ander kant plaasvind. Ons ontvang betekenis (in die beweging van die ‘syn’ na ons toe, waarin die ‘syn’ sigself aanbied (openbaar)). Hierteenoor probeer ons betekenis gee (in die beweging van ons na die ‘syn’ toe, waarin ons die ‘syn’ probeer begryp en interpreteer).

Ook ten opsigte van die verhouding tussen die navorser en sy of haar bepaaldheid deur voorveronderstellings (1) en die hermeneutiese lense (2) wat in die verstaansproses aangelê word, is daar van wisselwerking sprake. Kritiese vergelyking tussen bronne kan die waarnemer se voorveronderstelling verruim en verskerp.

So ook is daar tussen die verskillende take waarmee prakties-teologiese wetenskapsbeoefening op die praksis gerig word, (3) van ’n hermeneutiese spiraalgang sprake (vgl. Dingemans 1996:173). In die uitvoering van die deskriptief-analitiese taak, kan daar byvoorbeeld ’n verskuiwing van fokuspunt of verdieping plaasvind wanneer dit met die uitvoering van die interpretatief-normatiewe taak en die horison-deurbrekende lig wat daaruit voortvloei, in hermeneutiese interaksie kom (Osmer 2008:11).

Wanneer dan daartoe oorgegaan word om die metateoretiese implikasies van ’n reformatoriese benadering by die hermeneutiese model vir wetenskapsbeoefening in te bou, sou dadelik gevra moes word na die manier waarop die handelende God in die hermeneutiese proses ter sprake kom. Indien die hermeneutiese model (soos dit in Figuur 1 gevisualiseer is) nie aangepas word om die handelinge van God in en deur mense te verreken nie, sou dit daarop neerkom dat die benadering tot ’n antropologiese vertrekpunt begrens word. Dit sou ’n vertrekpunt wees waarin nie die handelende God self nie, maar die menslike ervaring van God (die Christelike geloof) in die kollig van die ondersoek staan (vgl. Heitink 1999:111). Vir ’n adekwate beskrywing van ’n prakties-teologiese perspektief sou die integrale manier waarop God self as handelende Subjek ter sprake kom, verreken moes word (Immink 2005):

… we cannot adequately analyze the praxis of faith from a practical theological perspective if we reduce God to ideas and imaginations about God, or to human experiences of God, or to ‘God’ as a religious symbol in a social–cultural system of meaning. (bl. 195)

De Ruijter (2005:39) kies vir ’n dubbele perspektief in prakties-teologiese wetenskapsbeoefening. Die handelingswerklikheid van die kerk is fundamenteel te benoem as die werk van God wat tot hierdie wêreld kom. Tegelykertyd is die handelingswerklikheid te kwalifiseer as die konkrete praksis waarin mense handelend optree. Die dubbele dimensie vra om ’n dubbele perspektief. Dit vra om refleksie rakende die kerk se opdrag tot bepaalde handelinge in die lig van God se openbaring, gekombineer met handelingsteoretiese refleksie met die oog op insig in verskynsels wat in gedragspatrone van menslike handelinge (soos dit in die navorsingsresulate van die menswetenskappe na vore kom) waargeneem kan word. Die samespel van hierdie dubbele perspektief vorm die inslag van die tekstuur van die gereformeerde praktiese teologie. Die praktiese teologie het die oë van ander wetenskappe nodig om adekwaat oor die handelinge van die kerk te reflekteer, maar doen dit in die lig van God se openbaring soos dit in sy Woord na vore kom. Dit roep die handelingspraksis van die kerk voortdurend tot verantwoording rakende die mate waarin dit met die Woord ooreenstem.

De Ruijter (2005:77) beklemtoon dat daar in ’n integrale model ’n konsepsuele selfstandigheid gegee moet word aan die perspektief waarmee die normatief-teologiese, sowel as die menswetenskaplike bydrae werk. Al is beide pole gerig op een brandpunt, naamlik die handelingspraksis, is daar van ’n asimmetrie sprake. Die teologiese perspektief reflekteer in die lig van God se openbaring oor die handelingspraksis. Alleen vanuit die teologiese perspektief word dit duidelik dat God in en deur menslike handelinge handel. Wanneer met ’n bloot empiriese perspektief gewerk word, bly God se handelinge buite beeld.

Wanneer die Goddelike handeling in ’n prakties-teologiese model in hermeneutiese wisselwerking met menslike handelinge gebring word, moet daar egter gewaak word teen ’n oorvereenvoudigde tipering van hierdie verhouding en die asimmetriese patroon wat daarin ingebed is. Sonder ’n goedverantwoorde en weldeurdagte tipering van hierdie verhouding kan ’n menslike waarnemer sy of haar eie idee oor God se openbarende handelinge interpreteer asof dit gelykgestel kan word aan wat God self sê. So kan God se openbarende handeling misbruik word om gesagvolheid en ontwyfelbaarheid aan die eie ideologiese voorkeur toe te ken, en kan daar van fundamentele denke na die hoogmoed van die fundamentalisme oorbeweeg word (vgl. Cartledge 2003:17; Zimmermann 2004:162). Ten einde aan sowel die Goddelike as menslike elemente in ’n asimmetriese inrigting van die handelingspraksis gevolg te gee, beklemtoon Immink (2005:239) dat die lewe van geloof bestaan uit ’n intersubjektiewe verhouding tussen die God wat deur sy openbare Woord (soos dit in Christus se lewe en optrede sy saamtrekpunt vind) na die wêreld kom en mense wat bewustelik, antwoordend en handelend in ’n verhouding met God lewe. Daar is van resiprositeit, maar ook van asimmetrie in hierdie (verbonds)verhouding sprake. In ’n reformatoriese benadering word die verbondsmatigheid van die verhouding tussen God en mens beklemtoon. God neem die insiatief in die sluiting van sy verbond met mense. Daarom is die verbond monopleuries in die ontstaan daarvan. Die verantwoordelikheid van die mens word egter nie geminag nie. Die verbond is dupleuries kragtens die werking daarvan, deurdat mense dit deur die krag en beskikking van God vrywillig aanvaar (Van Pelt 1999:278). God is die Heilige en neem in die kommunikatiewe proses die inisiatief, waardeur nuwe perspektiewe vir die begenadigde mens oopgemaak kan word (Immink 2005):

God meets us and has an impact on our lives in that concrete encounter; the person in that encounter is the referent God himself, not our concept of him. And during such encounters our concept may be intensified and adjusted. (bl. 266)

In ’n pneumatologiese perspektief ten opsigte van hierdie verbondsverhouding sou beklemtoon word dat die mens onder leiding van die Gees tot die gesindheid van Christus vernuwe kan word om in alles die geopenbaarde wil van die Vader te soek.

Daar moet egter ook in die resiproke verhouding tussen God en sy verbondsgenote met die menslike element rekening gehou word. In nederigheid moet mense besef dat hulle oor beperkte insig beskik en dat die omvang van hulle antwoord en die inrigting van hulle geloofspraksis deur faktore soos kleingeloof, inadekwate konseptualisering en onervarendheid ingeperk kan word (Immink 2005):

Our concepts of God changes over time. This does not mean that God also changes. Our concept of God may also be inadequate to a smaller or larger degree. It may include ideas and opinions that are incorrect because God may be just a little different from what we think he is. In the second place, our human concepts are characterized by a certain gradation: I may have some understanding of the concept of justice or mercy, but my awareness of it may increase or decrease; our experiences may lead us to deeper insights; and the intensity of a certain concept may change. (bl. 265)

In die lig van die voorafgaande bespreking sou die aanvanklike visualisering van die hermeneutiese model vir die inrigting van die praktiese teoloog se benadering tot die navorsingterrein (vgl. Figuur 1) soos volg verwerk kon word, wanneer die metateoretiese onderbou van ’n reformatoriese benadering daarin verreken wil word.

Die verrekening van die verbondskommunikasie tussen die handelende God en die handelende mens in die hermeneutiese struktuur van die wetenskaplike ondersoekproses, asook die verwerking van die metateoretiese onderbou van ’n reformatoriese benadering, gee daartoe aanleiding dat die sleutelelemente in die model soos volg ingeklee word:

• Die handelende God roep mense deur sy Woord en Gees om in sy diens te handel. Die praktiese teoloog kan sy of haar wetenskapsbeoefening nie in onafhanklikheid van God bedryf nie – asof die geloof en die wetenskap geskei kan word. Die praktiese teoloog sal dus nie alleen in die handelingspraksis wat ondersoek word, vra in hoe ’n mate dit wat in mense se lewens gesien word die werk van die Drie-enige God weerspieël nie. Sy of hy sal ook hom- of haarself onder leiding van die Gees en Woord van God plaas ten einde die afhanklikheid van sy waarheid-oopmakende lig en sekere, getroue leiding te erken. Vastigheid en troosrykheid van kennis lê nie die mens se eie ratio nie, maar in ’n verhouding met die ware en getroue God (Zimmermann 2004:164).

• In ’n pneumatologiese benadering sou bepaaldheid deur voorveronderstellings ook kon behels dat dit wat in die werklikheid ondersoek word, as ‘t ware deur die oë van Christus en met sy hartsgesindheid waargeneem kan word. Die blikwydte van voorveronderstellings kan deur die verrassende dimensies van God se genade verruim word, en krities verskerp word om iets waar te neem van die onhoudbaarheid van dit wat teen die geopenbaarde wil van God ingaan. Dit neem egter nie weg dat inperkende elemente, gebrekkige verstaan en eensydige persepsies in die voorveronderstellings teenwoordig mag wees en derhalwe in die loop van die wetenskaplike proses aan kritiese verantwoording blootgestel moet word nie.

• In die aanlê van hermeneutiese lense sou die Skrif met nederigheid as primêre gesagsbron gebruik kon word. Die Skrif word beskou as ’n gesagvolle bron wat onvoorwaardelik vertrou kan word om alles wat nodig is om te weet ten opsigte van die ondersoekterrein, te verhelder en om te dien as ’n gesonde normatiewe bron wat altyd tot ’n genesende werking in die praksis aanleiding sal gee. Dit beteken egter nie dat die onvolmaakte interpretasie van die Skrif deur die navorser nie aan kritiese beoordeling onderwerp moet word nie en dat ander bronne (bv. teoretiese bevindings deur menswetenskappe) nie ’n wesenlike bydrae tot die verstaan van verskynsels in die navorsingsveld kan lewer nie. Die noodsaak vir kritiese verantwoording is nie in die volmaakte Woord van God geleë nie, maar in die onvolmaaktheid van die Skrifinterpreteerder.

• Dit wat onder leiding van die Gees van Jesus Christus deur die relevante hermeneutiese lense in die ondersoekveld waargeneem word, kan in verbondenheid met Christus analiserend beskryf word vanuit ’n spiritualiteit van priesterlike bewoënheid wat krities-vergelykend, prinsipieel en normatief vanuit ’n spiritualiteit van profetiese onderskeidingsvermoë geïnterpreteer word en met die oog op strategiese verandering vanuit ’n spiritualiteit van koninklike diensbaarheid gestruktureer word (Osmer 2008:33, 81, 135, 183).

• In die navorser se gerigtheid op die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid word daar op menslike handelinge (praksis) gefokus, bepaald in die geloofsverbondenheid en/of onversoenbaarheid daarvan met betrekking tot die trinitariese optrede van God wat die lewe van die gelowige omraam deur sy skeppende, verlossende en voleindigende handelinge. In die teosentriese gerigtheid van die reformatoriese benadering is die navorser se wetenskapsbeoefening in die navorsingsterrein van begin tot einde geanker in die geloof in die God uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is.

’n Voorbeeld van die ontvouing van ’n prakties-teologiese navorsingsprojek

Die verslag wat hier volg, handel oor die eerste fase van ’n projek waarmee een van die skrywers van hierdie artikel tans besig is, naamlik ’n ondersoek oor die volgende tema (oorkoepelend gestel): ’n analise met behulp van die gegrondeteorie-metode (grounded theory method) van preke oor armoede uit Matteus 25:31–46 deur predikers van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk. Dit beteken dat daar begin word met ’n induktief-empiriese ontleding van preke in die praktyk waaruit uiteindelik deduktief ’n teorie, gegrond op die praktyk, oor die ondersoekveld geformuleer word. Die ondersoek geskied in drie fases. Fase 1 is ’n induktiewe beskrywing (oop kodering) van wat die prediker in sy of haar preek sê. Die koderings word in kategorieë ingedeel en uiteindelik loop dit op ’n oop-kode analitiese model uit (open-coding analytical model). Fase 2 is deduktief van aard (selektiewe kodering) waarin preke selektief gekies word op grond van die hipoteses wat uit die oop koderingsmodel voortvloei met die doel om die kategorieë en die kernkonsep wat na vore gekom het met meer eienskappe te vul, en moontlike nuwe idees vas te stel, wat die eerste fase se uitslag verryk. Fase 3 is die ontwerp van ’n gegronde teorie uit die praktyk, wat dan krities aan die hand van bestaande homiletiese teorieë getoets word.

Die navorser se werk in hierdie ondersoekveld het begin met die verskyning van ’n boek oor die prediking in ’n konteks van armoede (Pieterse 2001, 2004, 2010). Die ondersoek het verder gevorder (Pieterse 2009a) en uiteindelik is die veld van ondersoek vir die huidige ondersoek oopgebreek, naamlik prediking oor die koninkryksgelykenisse van Jesus in ons konteks van armoede (Pieterse 2009b). Aan die begin van 2009 het die sesjaarlange ondersoek ’n aanvang geneem. Met die oog op inhoudsanalise is besluit om die inhoud van die preke te ontleed en so vas te stel wat die prediker in die prediking van die teks uit Matteus 25:31–46 sê en doen. Getikte of geskrewe preke wat in ’n gemeente gepreek is, het as ondersoekdokumente gedien. Inhoud en vorm is ’n eenheid en in die taal van die preek is inhoud, vorm, struktuur, retorika, ensovoorts in die teks van die preek vervleg. Inhoud moet dus afgelei word uit die sinsverband en semantiek waarin die preekfragmente voorkom.

Metateoretiese faktore waamee die ondersoekveld benader word
Die ondersoekveld, naamlik preke oor armoede uit ’n Skrifteks, is in die gebeurlikheidsdimensie van die werklikheid (praksis) gegrond. Dit handel deur en deur oor Christelike geloofshandelinge en is dus teologies van aard. Dit is ’n konteks waarin mense in ’n geloofsverhouding met God onder leiding van die Heilige Gees en volgens hulle verstaan van die onderliggende teologiese teorieë optree. Die waarnemer in hierdie ondersoek beskou die werklikheid vanuit ’n reformatoriese werklikheidsbeskouing en dus met ’n teosentriese visie waarin die menslike handelinge deur geloof in ’n lewende geloofsverhouding of gebrekkige geloofsverhouding in die teenwoordigheid en handelinge van die Drie-enige God ingebed is. Sonder so ’n blik op die werklikheid en die praksis van die prediking sou die waarnemer die gebeure in hierdie ondersoekveld totaal misverstaan. Die beskouing van hierdie waarnemer word gelei deur die manier waarop God sy teenwoordigheid onder ons in die Skrif openbaar. Die implikasie is dat prakties-teologiese praktykanalise in hierdie ondersoek plaasvind met ’n instrument wat uit die sosiale wetenskappe deur myself as teoloog in diens geneem is (vgl. ook Brouwer 2009:452).

Die bogaande beskouing beteken dat die navorser, in ’n poging om te verstaan wat daar in die preek gebeur, ’n keuse vir ’n pneumatologies bepaalde hermeneutiek maak. Dit wat waargeneem word, word met ’n priesterlike bewoënheid onder leiding van die Gees van Christus beskryf. Hierdie priesterlike gesindheid is tydens die eksistensiële ervaringe met armes in die eerste ondersoek na prediking in ’n konteks van armoede in my hart ingebrand (vgl. Pieterse 2001:75–76). Die navorser probeer die gesindheid van Jesus, soos Hy Hom in Matteus 25:31–46 openbaar, in geloof en nederigheid navolg. Die reformatoriese invalshoek in empiriese navorsing maak hiervoor die weg oop.

Navorsingsprobleem, doelwitte van die ondersoek en sentrale teoretiese argument
Die navorsingsprobleem pas in by die algemene groot probleem in ons land, naamlik armoede. Die vraag is steeds hoe die armoedeprobleem aangespreek kan word. In ’n artikel wat die veld verken het, is daar drie moontlikhede: die ideale van die ANC om deur ubuntu die probleem op te los, Christelike geregtigheid wat regeringsbeleid word, en sorg deur die Christelike geloofsgemeenskappe (vgl. Pieterse 2009c). Laasgenoemde blyk in ons konteks lewensvatbaar te wees. Die beste plek waar gemeentes hieroor deur die Skrif aangespreek en geïnspireer kan word, is in die prediking wat in die erediens plaasvind. Die leidende navorsingsvraag is dus: Hoe gaan predikers in hulle preke uit Matteus 25:31–46 met armoede as preekteks om?

Die doel van die ondersoek is om ’n teorie oor die prediking oor ’n koninkryksgelykenis uit die praktyk te ontwikkel met Matteus 25:31–46 as voorbeeld. Die eerste doelwit is om ’n oopkode analitiese model uit die eerste geanaliseerde preke te ontwerp. Die tweede doelwit is om te kom tot ’n verryking en versterking van die konsepte wat uit die eerste fase na vore gekom het. Die derde doelwit is om uit die gegenereerde konsepte en in kritiese interaksie met bestaande homiletiese teorieë, ’n gegronde teorie oor die prediking uit ’n koninkryksgelykenis soos Matteus 25:31–46, te ontwerp.

Die sentrale teoretiese argument vir die ondersoek is dat die sosiale kapitaal van die volgelinge van Jesus Christus onder leiding van die Gees vrugbaar in hulle dienswerk aangewend kan word vir die ontwikkeling van projekte wat armes se nood aanspreek en hulle binne die konteks van spesifieke kerklike gemeentes ophef.

’n Oopkode analise van 12 preke uit Matteus 25:31–46 as preekteks
Oudstudente van die navorser in ses verskillende provinsies van die land, is gevra om volgens hulle ingeligte oordeel by predikante uit die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) en Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) ’n preek uit Matteus 25:31–46 te vra met die oog op die navorsing. Ses preke elk van predikers uit die VGK en NGK is dus op induktiewe wyse volgens die gegrondeteoriemetode, wat in die homiletiek gebruik geneem is, ontleed. Die Utrechtse homiletiese navorsingsgroep het die metode al in hulle ondersoeke verfyn (vgl. Pleizier 2010). Gesprekke is met die deelnemende predikers in elke stad en dorp oor hulle kontekste en ervaringe met armes in hulle gemeentes en omgewing gevoer. Interessante inligting wat hieruit na vore gekom het, is dat diegene wat die eredienste bywoon almal een af ander vorm van inkomste het. Die ware gemarginaliseerdes kom nie in die eredienste nie. Nadat die navorser die verskillende preke eers apart ontleed het (VGK en NGK), het dit ook uit die preke geblyk dat die voorgaande inligting korrek is. Armes is op almal se voorstoepe, oral in die land. Daarom het die navorser by die indeling in kategorieë al die kodes saam hanteer.

Die analise van die inhoud van die preke is vanuit die perspektief van die prediker gedoen, met die vraag: Wat sê en doen die prediker in die preek? Die preke is in betekenisvolle preekfragmente ingedeel. Die 12 preke het 46 fragmente opgelewer wat daarna gekodeer is. Na elke fragment is wat die prediker sê en doen op die volgende wyse in kodes beskryf:

Prediker G, fragment C (NGK), as voorbeeld: As jy enigsins dink dat jy enige waarde of meriete voor God het, dan kom krap hierdie Skrifgedeelte jou teologie heeltemal om … Ons mense kan nie uit onsself doen wat God van ons vra en verwag nie. Ons kry dit nie eens reg om die klein dingetjies te doen nie … Jesus weet reeds watter mense behoort aan hom (die skape) en wie nie aan hom behoort nie (die bokke). Dit is ’n besluit wat gemaak word op die basis van geloof alleen … Jesus wil omsien na ander mense en gebruik ons in daardie proses om vir hulle te sorg … Ons dade is bewys van ons geloof … Hierdie dade is kosbaar vir Hom. Dit is ons roeping, die vrugte van die Gees … Wil u nie deelneem aan die werk van ons gemeente in die Wilgers-hospitaal, by die ouetehuis en verskillende tronke nie?

• Prediker leer dat ons geen meriete deur goeie dade by God het nie.
• Prediker sê dat ons nie eens die klein dingetjies reg kan doen nie (soos in teks).
• Prediker sê dat Jesus reeds weet wie aan Hom behoort en wie nie.
• Prediker sê ons word deur geloof alleen deel van Hom.
• Prediker herinner dat Jesus identifiseer met diegene in nood.
• Prediker sê dat Jesus ons gebruik om te sorg en die dade is bewys van ons geloof.
• Prediker sê die sorg vir diegene in nood is ons roeping en die vrug van die Gees.
• Prediker maak ’n appèl op die gemeente om by gemeente se projekte in te skakel.

Twee van die 46 fragmente het nie ’n relasie met die res getoon nie. Ek het hulle dus uitgelaat. Die fragmente met hulle kodes is oor ’n lang tydperk konstant met mekaar vergelyk om die relasies tussen hulle vas te stel. Al die kodes is daarna geklassifiseer in verwante kategorieë waarin die kategorieë en kodes nie met mekaar oorvleuel nie. Drie hoofkategorieë met subkategorieë onder elk, is opgestel. Dit is die volgende:

Geloofsdeelname aan Jesus
• motivering vir geloofsdeelname aan Jesus
• geloofsdeelname met die gesindheid van Jesus
• geloofsreaksie op wat Jesus van ons vra
• toets vir ons geloof in ons geloofsdeelname aan Jesus
• waarskuwing om Jesus se gesindheid aan te neem in ons geloofsdeelname aan Hom
• identifisering van Jesus met die armes en geringstes
• die gesindheid van Jesus teenoor die armes en geringstes
• voorbeelde van Jesus se identifisering met die in nood is sy bediening.

Identifisering deur die navolgers van Jesus met die armes
• implikasies van identifisering met die armes deur die navolgers van Jesus soos Jesus dit doen
• identifisering met die armes deur die navolgers van Jesus is deel van ons wese.

Sorg vir armes en geringstes deur huidige gemeentes
• Suid-Afrikaanse situasie van armoede
• predikers se eie ervaringe met bedelaars
• aanmoediging om te sorg vir die armes
• praktiese wyses van sorg vir diegene in nood.

Deur konstante vergelyking moet ’n mens dan ’n sentrale konsep kry wat alle fragmente en kodes in relasies verbind. Na drie pogings het die navorser die begrip appèl, appellering (om ’n oproep te doen aan) gevind wat by die data pas. Die vraag is nou: Wat doen die predikers in die binnewêreld van die 12 preke? Die antwoord hierop is die volgende: (1) predikers appelleer (doen ’n oproep) op die hoorders van die preek deur van hulle geloofsdeelname aan Jesus gebruik te maak (2) om aan hulle te appelleer om te kies vir identifisering met die armes en geringstes, en (3) daarom in die huidige konteks van kerklike gemeentes in Suid-Afrika vir hulle te sorg.

Op grond van hierdie uitslag van die refleksie oor die data is die volgende oopkodering analitiese model opgestel wat teoreties met konsekwensies werk:

TABEL 1: Oop kodering analitiese model.

Met die ontwerp van die oopkodering analitiese model is die eerste doelwit van die ondersoek bereik. Op basis van die konsepte en hipoteses in hierdie model, moet die volgende fase in die ondersoek nou aangepak word.

Met ’n pneumatologiese hermeneutiek is die bevrydende boodskap van die evangelie (vgl. Gal) in die eerste 12 preke waargeneem. Indien die gemeentelede sou kies om Jesus in sy identifisering met diegene in nood te volg, kan ’n groot bron van sorg in ons gemeenskappe oopgaan.

Slot

In hierdie artikel is ’n poging aangewend om aan te toon hoe metateoretiese vertrekpunte die navorser se wetenskapsbeskouing en -beoefening wesenlik bepaal. Wanneer die wetenskaplike taak van die praktiese teologie vanuit ’n gereformeerde invalshoek aangepak word (soos dit die geval is met die navorsers wat by hierdie projek betrokke is), blyk die implikasies van die metateoretiese vertrekpunte duidelik:

• Wetenskaplike arbeid op die ondersoekterrein van die praktiese teologie word nie bloot as die ontleding en verklaring van menslike geloofshandelinge en ervaringe op empiriese vlak beskou nie. In die lig van God se openbaring word die waarnemingswydte van die wetenskaplike pneumatologies verruim om rekening te hou met die Drie-enige God wat handelend teenwoordig is in die werklikheid wat ondersoek word.

• Wanneer ’n model ontwerp word vir die visualisering van die gereformeerde navorser se wetenskaplike gerigtheid op die werklikheid, en die vertolking van die hermeneutiese faktore wat ’n rol in die uitvoer van die deskriptief-analitiese, interpretatief-normatiewe en veranderingstrategiese take van die praktiese teologie speel, word dit duidelik dat die teosentriese fokus kennelik ’n bepalende rol speel.

• Die introspeksie rakende die manier waarop ’n huidige navorsingsprojek (’n analise met behulp van die gegrondeteorie-metode van preke oor armoede uit Matt 25:31–46 deur predikers van die NGK en die VGKerk) beplan en uitgevoer is, toon duidelik aan die uitspel van die metateoretiese vertrekpunte vir die navorser sowel as vir mense wat van sy navorsingsresultate kennis neem ’n waardevolle perspektief bied op die teosentriese invalshoeke, kriteria en rigtinggewende elemente waarmee in hierdie betrokke wetenskaplike ondersoek gewerk word.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeur bydraes
B.J.d.K. (Noordwes-Universiteit), was verantwoordelik vir deel 1 van die artikel: Metateoretiese verantwoording t.o.v. wetenskapsbeskouing. F.W.d.W. (Noordwes-Universiteit) was verantwoordelik vir deel 2 van die artikel: Metateoretiese verantwoording ten opsigte van wetenskapsbeoefening en H.J.C.P. (Universiteit van Suid-Afrika) was verantwoordelik vir deel 3 van die artikel: ’n voorbeeld van die ontvouing van ’n prakties-teologiese navorsingsprojek. Elke outeur het dus een derde van die artikel in gelyke mate bygedra.

Literatuurverwysings

Botha, J.S., 2010, ‘Kreatiewe prediking: Kreatiwiteit in diens van die Heilige Gees in die ingewing van die preek’, PhD. Proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Brouwer, R., 2009, Geloven in gemeenschap, Het verhaal van een Protestantse geloofsgemeenschap, Kok, Kampen.

Cartledge, M.J., 2003, Practical theology: Charismatic and empirical perspectives, Paternoster Press, Carlisle.

Cilliers, J., 1996, Die uitwissing van God op die kansel, Lux Verbi, Kaapstad.

De Ruijter, K., 2005, Meewerken met God– Ontwerp van een gereformeerde praktische theologie, Kok, Kampen.

De Wet, F.W., 2005, ‘Om met die Gees te begin en in eie krag te eindig – die noodsaak van ’n Skrif–gefundeerde prakties–teologiese pneumatologie’, In die Skriflig 39(3), 505–525.

Dingemans, G.D.J., 1996, Manieren van doen: Inleiding tot de studie van de praktische theologie, Kok, Kampen.

Dingemans, G.D.J., 2005, De stem van de roepende, Kok, Kampen.

Gärtner, S., 2009, ‘Praktische Theologie als Pastoraltheologie? Wissenschafts–theoretische, Erwägungen zu einer (un-)zeitgemässen Option’, International Journal of Practical Theology 13, 1–21. http://dx.doi.org/10.1515/IJPT.2009.2

Gräb, W., 2005, ‘Practical theology as theology of religion: Schleiermacher’s understanding of practical theology as a discipline’, International Journal of Practical Theology 9(2), 181–196.

Heitink, G., 1999, Practical theology: History, theory, actions domains, Manual for practical theology, Eerdmans, Grand Rapids.

Heitink, G., Pieterse, H.J.C. & Vos, C.J.A., 2000, ‘’n Poging tot saamdink’, Praktiese Teologie in Suid–Afrika 15(2), 53–72.

Heyns J.A. & Jonker, W.D., 1977, Op weg met die teologie, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Hyun-Sook, K., 2007, ‘The hermeneutical–praxis paradigm and practical theology’, Religious Education 102(4), 419–436. http://dx.doi org/10.1080/00344080701657873

Immink, F.G., 2005, Faith: A practical theological reconstruction, Eerdmans, Grand Rapids. PMCid:1091765

Louw, D.J., 2003, ‘The paradigmatic revolution in practical and pastoral theology: From metaphysics (substantial thinking) to empirism (experimental thinking), from theism to theopaschitism (hermeneutical thinking)’, Practical Theology in South Africa/Praktiese Teologie in Suid-Afrika 18(2), 33–57.

Mouton, J. & Marais, H.C., 1989, Metodologie van die geesteswetenskappe: Basiese begrippe, RGN, Pretoria.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction, Eerdmans, Grand Rapids.

Osmer, R.R. & Schweitzer, F.L., 2003, Developing a public faith: New directions in practical theology, Chalice Press, St Louis.

Pieterse, H.J.C., 1979, Skrifverstaan en prediking, NG Kerkboekhandel, Pretoria. PMid:432740

Pieterse, H.J.C., 1993, Praktiese teologie as kommunikatiewe handelingsteorie, RGN, Pretoria. PMCid:64867

Pieterse, H.J.C., 2001, Prediking in ’n konteks van armoede, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., 2004, Preaching in the context of poverty, UNISA Press, Pretoria. PMCid:412864

Pieterse, H.J.C., 2009a, ‘Prediking wat God ter sprake bring in die Suid-Afrikaanse konteks van regstellende aksie’, in F.G. Immink & C.J.A. Vos (reds.), God in ’n kantelende wêreld: Geloof en kerk in veranderende kontekste, bl. 250–273, Protea Boekhuis, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., 2009b, ‘Prediking oor die koninkryk van God, ’n Uitdaging in ’n nuwe konteks van armoede’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #106, 7 bladsye.

Pieterse, H.J.C., 2009c, ‘Beskouinge oor die prediking in situasies van armoede volgens homiletiese literatuur’, Practical Theology in South Africa/Praktiese Teologie in Suid-Afrika 24(1), 134–148.

Pieterse, H.J.C., 2010, Third printing, Preaching in a context of poverty, University of South Africa, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., Dreyer, J.S. & Van der Ven, J.A., 2003, ‘Salvation: A way to a human rights culture? Part 1’, Practical Theology in South Africa/Praktiese Teologie in Suid-Afrika 18(2), 116–142.

Pieterse, H.J.C., Greyling, S. & Janse van Rensburg, H., 2004, ‘Die implikasies van Ricoeur se handelingsteorie vir die homiletiek’, Practical Theology in South Africa/Praktiese Teologie in Suid-Afrika 19(1), 89–115.

Pleizier, T., 2010, Religious involvemenet in hearing sermons: A grounded theory study in empirical homiletics, Eburon Academic Publishers, Delft. PMid:19789860

Stott, J.R.W., 1982, I believe in preaching, Hodder and Stroughton, London.

Van Pelt, J.W., 1999, Pastoraat in trinitarisch perspectief – De samehang tussen trinitarische en antropologische aspecten in het pastoraat, Uitgeverij Groen, Heerenveen.

Zimmermann, J., 2004, Recovering theological hermeneutics: An incarnational-trinitarian theory of interpretation, Baker Academic, Grand Rapids.


 

Crossref Citations

1. Metateoretiese vertrekpunte ten opsigte van wetenskaplike navorsing in die Liturgiek
Barend J. De Klerk
In die Skriflig/In Luce Verbi  vol: 47  issue: 1  year: 2013  
doi: 10.4102/ids.v47i1.89