’n Bybelskool in boekvorm

Book Title: Ontsluit die Nuwe Testament
Author: Stephan Joubert
ISBN: 9781431604258
Publisher: Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy, 2012, R199.94
*Book price at time of review

Reviewer: Hendrik Goede1
Affiliation: 1Unit for Reformed Theology, Faculty of Theology, North-West University, South Africa
Postal address: PO Box 264311, Three Rivers 1935, South Africa
How to cite this book review: Goede, H., 2013, ’n Bybelskool in boekvorm, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #714, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.714
Note: Article republished with corrected title.
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Professor Stephan Joubert is goed onder gelowiges bekend as ’n openbare spreker en prediker, asook ʼn boek- en rubriekskrywer. Ook internasionaal is hy ’n gerekende navorser oor die Nuwe Testament. Veral hierdie feit spreek duidelik uit sy jongste publikasie, Ontsluit die Nuwe Testament. Met die intrapslag besef ’n mens dat hierdie nie maar net nog ’n Bybelstudiegids is nie. Joubert stel in die ‘Inleiding’ (bl. 13) dat dit ook nie ’n vers-vir-vers-kommentaar op die Nuwe Testament is nie. Die doel van hierdie publikasie is eerder om die lesers die nodige vaardighede te gee om die eie aard en inhoud van elke boek van die Nuwe Testament goed te verstaan. Dit klink dus meer na ’n inleiding tot die Nuwe Testament. Die skrywer stel vir homself ’n baie ambisieuse doelwit, naamlik om vir gelowiges in die kerkbanke ’n tipe bron beskikbaar te stel wat teoloë tipies sal benut. Sy eie beskrywing van die boek as ‘’n Bybelskool in boekvorm’, is gewis gepas.

Die boek bestaan uit 95 Bybelreise wat die leser op ’n ontdekkingstog deur die Nuwe Testament neem. Deel 1 skop af met enkele basiese beginsels vir Bybeluitleg en fokus op die aard van die Bybel as God se Woord, ’n heilshistories-eskatologiese benadering tot die Bybel, genre-sensitiwiteit en ook ’n kontekstuele lees van die Nuwe Testament aan die hand van belangrike waardes en sosiale stelsels van die tyd. Hierdie deel skep die geleentheid vir lesers om hulle eie vooronderstellings oor en verstaan van die Bybel hieraan te meet. Dit is noodsaaklike leesstof vir alle gelowiges!

In Deel 2 bespreek die skrywer elke boek of brief van die Nuwe Testament aan die hand van die volgende breë indeling: die ontstaansituasie met die klem op historiese vrae ten opsigte van die skrywer, die eerste lesers, die datering en algemene oogmerke met die dokumente; die opbou of verhaal van die boek in terme van struktuur, temas, argumentasie, ensovoorts; die uitbeelding van die hooffigure en/of die hooftemas van die dokument; en laastens ’n reis deur die boek met kerngedeeltes as stilstaanplekke. Hierdie basiese indeling is sinvol en is van groot waarde vir lesers aangesien dit die merkers vir die verantwoordelike verstaan van die dokumente uit Deel 1 vaspen. Tog word die indeling nie slaafs nagevolg nie. Slegs twee tot vier hoofstukke word in elke dokument spesifiek aan die orde gestel. Dit mag moontlik ’n frustrasie vir lesers wees wat meen dat ander gedeeltes uit ’n boek of brief dalk nader aan die kern is en dus meer aandag verdien. ’n Mens moet egter die doelwit van die totale publikasie in gedagte hou en aanvaar dat daar altyd hieroor meningsverskil sal wees.

Die vrae aan die lesers wat dwarsdeur die boek voorkom, beklemtoon die skrywer se spesifieke doel met die boek, naamlik om ’n Bybelskool in boekvorm te wees. Die inhoud daag dikwels die lesers se bestaande oortuigings uit, deur byvoorbeeld alternatiewe standpunte oor die outeurskap of die interpretasie van spesifieke teksgedeeltes te stel. Die vrae is gevolglik daarop gemik om die lesers tot nadenke te dwing. Soms verg die vrae self verdere navorsing (bv. die vraag op bl. 54 oor die simboliese voorstelling van die vier Evangelies) en soms is die vrae op dieper nadenke gerig (bv. die vraag oor die wese van genesing op bl. 79). Met hierdie kritiese vrae word die lesers persoonlik by die inhoud betrek eerder as wat hulle buitestanders bly wat bloot inligting inneem. Die vrae mag sommige lesers dalk moedeloos maak, want die skrywer bied nie klinkklare antwoorde op hierdie vrae nie. Dit dwing die lesers egter tot die beoordeling van hulle eie oortuigings.

Ek beveel Ontsluit die Nuwe Testament deur Stephan Joubert sterk aan vir alle gelowiges wat erns maak met persoonlike Bybelstudie. Wees egter gewaarsku: hierdie is ’n boek wat ’n mens se persoonlike oortuigings oor baie sake rakende die Bybel en geloof op ’n verantwoordelike wyse uitdaag. Die taalgebruik neig soms na die teologiese (soos die Latynse terme op bl. 24 wat sonder vertaling aangebied word) en die omvang van die inligting wat die skrywer weergee, kan soms oorweldigend voel. ’n Mens moet werklik aan elke Bybelreis die nodige tyd en aandag spandeer wat dit verdien. Die vrug van elke reis is eweneens oorweldigend: ’n breër en verdiepte kennis van die Nuwe Testament wat mense leer om verantwoordelik met elke teks, ook in die Ou Testament, om te gaan. Ek raai elke gelowige (Bybelstudiegroep of kleingroep) aan om hierdie bron byderhand te hou wanneer die Nuwe Testament oopgeslaan word, want Joubert het uitstekend in sy ambisieuse doelwit geslaag.



Crossref Citations

No related citations found.