Article Information

Author:
A.H. (Andries) Snyman1

Affiliation:
1Department of New Testament, University of the Free State, South Africa

Correspondence to:
A.H. (Andries) Snyman

Email:
asnyman44@gmail.com

Postal address:
PO Box 339, Bloemfontein 9300, South Africa

Dates:
Received: 12 Jan. 2015
Accepted: 07 Apr. 2015
Published: 11 June 2015

How to cite this article:
Snyman, A.H., 2015, ‘’n Retoriese analise van Romeine 9:1–10:4’, In die Skriflig 49(1), Art. #1921, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i1.1921

Copyright Notice:
© 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

’n Retoriese analise van Romeine 9:1–10:4
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Retoriese situasie
Analise van Romeine 9:1–10: Atlanta:4
   • Romeine 9:1–5: Die raaisel van Israel se ongeloof
   • Romeine 9:6–13: Die ware Israel is die kinders van die belofte, nie die nageslag van Abraham nie
   • Romeine 9:14–29: God se uitverkiesing berus op sy ontferming
   • Romeine 9:30–10:4: God se geregtigheid word slegs op grond van geloof in Christus verkry, nie op grond van wetsonderhouding nie
Konklusie
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Footnote
Abstrak

Die artikel is ’n poging om Paulus se retoriese strategie uit die teks self te rekonstrueer, eerder as om ’n klassieke of moderne retoriese model op die teks toe te pas. ’n Voorstel vir so ’n teksgesentreerde benadering word kortliks opgesom, gevolg deur ’n beskrywing van die retoriese situasie wat Paulus in die brief wil ondersoek. Daar word geargumenteer dat Romeine 9:1–10:4 ’n integrale deel van Paulus se retoriese strategie vorm met die doel om sy gehoor te oortuig om sy siening van God se verlossingsplan, asook sy beoogde sending na Spanje te steun. In die proses van oorreding gebruik hy verskillende soorte argumente en retoriese tegnieke om die trefkrag van sy kommunikasie te verhoog. Die gevolgtrekking is dat ’n teksgesentreerde benadering (met fokus op die funksionele aspekte van die teks) ’n beter alternatief as die bestaande benaderings (met fokus op die formele aspekte van die teks) bied.

Abstract

A rhetorical analysis of Romans 9:1-10:4. This article is an attempt to reconstruct Paul's rhetorical strategy from the text itself, rather than applying ancient or modern rhetorical models to his letters. A proposal for such a text-centred approach is briefly summarised, followed by a discussion of the rhetorical situation that Paul wants to address in this letter. It is argued that Romans 9:1–10:4 forms an integral part of his rhetorical strategy, aimed at persuading his audience in Rome to support his view on God's plan of salvation as well as his forthcoming mission to Spain. In the process of persuasion Paul uses various types of argument and rhetorical techniques to enhance the impact of his communication. The conclusion is that a text-centred approach (with its focus on the functional aspects of the text) provides a better alternative to existing approaches (which focus on the formal aspects of the text).

Inleiding

Bryan (2000) skryf oor Romeine 9:1–11:36:

The section is in some ways the most rhetorically striking of the entire letter, and makes extensive use of virtually the entire range of techniques of the podium and the classroom. (p. 160)

Hierdie stelling word bevestig deur die groot aantal retoriese analises wat die afgelope jare oor die gedeelte gepubliseer is. Die studies word hoofsaaklik deur twee benaderings gekenmerk. Die eerste is om ’n model van buite te gebruik om die retoriese struktuur van ’n brief mee te beskryf. Feitlik al Paulus se briewe is al op dié wyse geanaliseer en wel deur die Grieks-Romeinse sisteem met sy bekende exordium, propositio, narratio, probatio en peroratio te gebruik (sien die subopskrifte vanaf Romeine 9:1–5 tot by Romeine 9:30–10:4 hieronder). Deur die tweede benadering word die studie van oorreding beperk tot ’n paar retoriese tegnieke en stylfigure. Sporadiese opmerkings hieroor word in die meeste kommentare gevind, maar selde is probeer om dit binne ’n bepaalde raamwerk te ondersoek, of die funksies daarvan binne konteks te beskryf (sien die subopskrifte vanaf Romeine 9:1–5 tot Romeine 9:30–10:4 hieronder, asook kommentare in die bronnelys).

Anders as deur bogenoemde twee benaderings, word retoriese analise in hierdie artikel verstaan as ’n beskrywing van al die middele in die teks (wyse van redenering, tipes argumente en ondersteunende retoriese tegnieke) wat die outeur gebruik om die lesers van sy standpunt te oorreed. ’n Model van buite word nie op die teks afgedwing nie, maar alles wat tot die proses van oorreding bydra, word geïdentifiseer en hulle funksies binne konteks bepaal. ’n Voorstel vir so ’n teksgesentreerde metode van retoriese analise word in die proefskrif ‘Persuading the Galatians’ (Tolmie 2005) gemaak. Tolmie (2005:28) beskryf sy voorstel as ’n ‘minimal theoretical framework to guide the analysis’ en beklemtoon dat dit nie verstaan moet word as ’n rigiede metode wat stiptelik op die teks toegepas moet word nie. Sy voorstel het heelwat byval gevind en kan soos volg opgesom word:

  • ’n Beskrywing van die retoriese situasie van die brief, d.w.s. wát Paulus in die brief as geheel wil bereik.
  • ’n Ontleding van hoé hy sy lesers probeer oorreed, gebaseer op sy ‘minimal theoretical framework’, wat uit die volgende elemente bestaan: die identifisering van die dominante retoriese strategie in elke gedeelte of fase deur die primêre retoriese doel daarvan te beskryf en aan te dui hoe Paulus probeer om dit te bereik. In die proses val die klem op die wyse waarop hy redeneer en die tipes argumente wat hy gebruik om sy gehoor te oorreed. Ten slotte word die sogenaamde retoriese tegnieke, wat dien om die trefkrag van sy kommunikasie te verhoog, geïdentifiseer en hulle funksies beskryf.

Die doel van hierdie artikel is om Tolmie se voorstel vir retoriese analise op Romeine 9:1–10:41 toe te pas en die waarde daarvan te bepaal deur die proses van oorreding aan die hand daarvan te beskryf. In die beskrywing staan die teks dus sentraal en word die verskillende oorredingsmiddele in die teks geïdentifiseer en hulle funksies bepaal ten einde aan te toon hoé hulle die gang van die beredenering (te wete Israel se rol in God se verlossingsplan) ondersteun. Dit lei tot ander resultate as die formele afbakening van die teks aan die hand van eksterne kategorieë en die blote benoeming van erkende oorredingsmiddele en stylfigure, sonder om hulle funksies te beskryf.

Retoriese situasie

As vertrekpunt van hierdie artikel word aanvaar dat Paulus die Romeine van sy standpunt oor ’n bepaalde saak of sake wou oorreed. Sonder om te herhaal wat in enige goeie kommentaar gevind kan word, word by twee sake wat Jewett (2007:41–42, 80) in sy standaardwerk belig het, aangesluit. Die eerste is die bestaan van verskillende huiskerke in Rome, wat onderling oor leerstellige aangeleenthede verskil het. Met die brief probeer Paulus die konflikte tussen veral die Joodse en heiden-christene bylê, deur die kernboodskap van die evangelie waarvoor hy geroep is om aan die hele wêreld te verkondig, te beklemtoon (1:17; Given 2001:140–147). Paulus fokus hierop in die eerste 11 hoofstukke van die brief en toon aan dat alle mense (Jode sowel as nie-Jode) vrygespreek is as hulle in Christus glo en dat hulle as vrygespreekte mense moet lewe. Die posisie van die volk Israel in die hele proses van verlossing is vir hom van buitengewone belang en daarom bespreek hy dit breedvoerig in hoofstukke 9–11, wat die konteks is waarbinne 9:1–10:4 verstaan moet word. Met die brief wil Paulus sy gehoor waarsku teen dié ‘wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is’ (16:17).

’n Tweede saak blyk uit hoofstuk 15 wat oor Paulus se toekomsplanne in die uitvoering van sy taak as apostel aan die heidene handel. Hy staan op die punt om die evangelie in die Weste (Spanje) te gaan verkondig (15:23–24). Om dit te doen, moes hy in Rome aandoen as gevolg van die belangrike rol wat die gemeentes daar in die kerk van die Weste vervul het – vandaar sy voorneme ‘om julle op my deurreis te sien en dan deur julle daarheen voortgehelp te word’ (15:24). Deur sy brief wil hy dus die band met die gemeentes in Rome versterk en só hulle ondersteuning kry vir sy voorgenome besoek aan Spanje wat sy wêreldwye sendingtaak sou voltooi (Debanné 2006:196).

Analise van Romeine 9:1–10: Atlanta:4

Geleerdes wat verkies om die Grieks-Romeinse retoriese sisteem te gebruik om Paulus se briewe te analiseer, verskil oor die indeling van die brief. Volgens Jewett (2007:viii–ix) is 1:1–12 die exordium, 1:13–15 die narratio, 1:16–17 die propositio, 1:18–15:13 die probatio en 15:14–16:24 die peroratio daarvan. Talbert (2002:14) het dieselfde indeling, terwyl Reid (1995:117–139) die brief verdeel in die exordium (1:8–15), transitus (1:16–17), narratio (1:18–3:20), propositio (3:21–31), probatio (4:1–11:36), paraenesis (12:1–15:13) en die peroratio (15:14–33). Hoofstuk 16 is vir hom nie deel van die retoriese struktuur nie. Vir Witherington (2004:21–22) word die brief as geheel verdeel in die briefopening en groete (1:1–7), exordium (1:8–10), narratio (1:11–15), propositio (1:16–17), probatio (1:18–8:39, wat uit agt argumente bestaan), refutatio (9:1–15:13, met vier argumente) en peroratio (15:14–21), asook ’n aantal mededelings oor Paulus se reisplanne en groetewense (15:22–16:27). Hierdie groot verskeidenheid indelings vanuit dieselfde retoriese sisteem plaas die teoretiese regverdiging vir die gebruik daarvan onder ernstige verdenking. Om hierdie rede word verkies om (saam met Tolmie en ander) ’n teksgesentreerde benadering te volg, waar die teks self as vertrekpunt van analise dien. Hiermee word nie ontken dat Paulus, soos Mitchel (2002) tereg aangetoon het, deur die Grieks-Romeinse retoriek beïnvloed is nie. Hierdie beïnvloeding beteken egter nie dat hy sy briewe as geheel op basis van gemelde retoriese kategorieë gestruktureer het nie.

Dit is interessant dat die meeste geleerdes wat die klassieke sisteem gebruik hoofstukke 9–11 as ’n eenheid beskou, en wel as deel van die probatio van die brief. Volgens Louw (1979) wat teksgesentreerd werk, vorm die drie hoofstukke ook ’n eenheid:

dealing with Israel in relation to faith as the basis of being put right with God. Though this unit constitutes a section on its own, it links with the previous large section (1:18–8:39) to compose the main part of the letter. In fact, it will be shown by our analysis that 9:1–11:36 actually involves an application to the situation of Israel of the thesis expounded in 1:18–8:39. (p. 97)

Romeine 9:1–10:4 vorm die eerste deel van die eenheid en is op grond van inhoudelike en retoriese oorwegings afgebaken. Die gedeelte word in vier dele uiteengesit wat soos volg afgebaken kan word: Eerstens, 9:1–5 word gekenmerk deur emfatiese styl, die gebruik van die eerste persoon enkelvoud, lofprysing aan die einde van vers 5, en met ἀμήν afgesluit. Die raaisel van Israel se ongeloof, wat Paulus in 9:1–5 so diep bedroef, word in die tweede onderdeel (9:6–13) beantwoord deur daarop te wys dat nie al die afstammelinge van Abraham in God se belofte ingesluit is nie. Die ware Israel berus nie op afstamming nie, maar op sy vrymagtige verkiesing. Die bespreking in die gedeelte word met ’n Skrifsitaat uit Maleagi 1:2–3 afgesluit. By 9:14 begin die derde onderdeel, wat van die vorige een deur die konkluderende vraag, naamlik ‘Wat sal ons dan sê?’ (9:14a) onderskei word en strek tot by die volgende konkluderende vraag in 9:30a. In 9:14–29 argumenteer Paulus dat God se verkiesing op sy ontferming berus; nie op iets wat die mens kan doen nie en dat die mens Hom op geen wyse kan weerspreek nie. Die konkluderende vraag in 9:30a lei die laaste onderdeel in en word tot by 10:4 beredeneer. In sy beredenering wys Paulus op die regte en verkeerde manier om geregtigheid te verkry. Met ’n sterk emosionele wens in 10:1, wat aan 9:1–5 herinner, sluit hy die laaste onderdeel af en omraam só die hele gedeelte onder bespreking.

Die vier dele waarin 9:1–10:4 verdeel kan word, is dus 9:1–5; 9:6–13; 9:14–29 en 9:30–10:4. Die dominante retoriese strategie in 9:1–10:4 is om die hoorders van Israel se rol in God se verlossingsplan vir die wêreld te oortuig. Die strategieë van die vier onderdele kan soos volg geformuleer word:

  • 9:1–5: Die raaisel van Israel se ongeloof.
  • 9:6–13: Die ware Israel is die kinders van die belofte, nie die nageslag van Abraham nie.
  • 9:14–29: God se verkiesing berus op sy ontferming.
  • 9:30–10:4: God se geregtigheid (δικαιοσύνη) word slegs deur geloof in Christus verkry; nie deur wetsonderhouding nie.

Aangesien hierdie artikel primêr retories is, val die klem op oorreding. Ten einde Paulus se oorredingsmiddele reg te verstaan, moet dít wat hy sê egter ook aandag kry. Gevolglik word die hooflyne van sy diskoers deurlopend verreken. Aanhalings uit Romeine kom almal uit die Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling (2014), omdat dit, as direkte vertaling, die beelde, styl en struktuur van die oorspronklike so ver moontlik behou en vir studies soos hierdie benut kan word.

Romeine 9:1–5: Die raaisel van Israel se ongeloof

In hierdie afdeling verwoord Paulus sy droefheid dat die Joodse volk nie in Christus glo nie. Hy begin in 9:1 met drie stellings wat al drie op die inhoud van wat hy in 9:2 wil sê, afgestem is: ‘Ek praat die waarheid in Christus, ja, ek lieg nie, en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig saam met my dat ek in my hart ’n ontsaglike droefheid en ’n onophoudelike pyn ervaar’ (9:1–2). Die stellings vul mekaar aan en die waarheid van wat hy teenoor sy volksgenote voel, word met ’n beroep op Christus en die werking van die Heilige Gees gewaarborg. In 9:3 bevestig hy dat hy selfs vervloek sou wou wees, ‘verwyder van Christus, in belang van my broers’. Die term ἀνάθεμα beteken ‘that which has been cursed – “cursed, accursed”’ en volgens Louw and Nida (1988:443) sou die vers ook vertaal kon word met, ‘I would wish that God himself had cursed me’. Die rede vir hierdie sterk wens word nie verskaf nie, maar dit kan deur die uitbreiding in 9:4 verklaar word: sy volksgenote, die Israeliete, deel in ’n hele klomp voorregte wat hulle behoort te oortuig dat Jesus die Messias is. Die feit dat hulle, ten spyte van al hulle voorregte, weier om Jesus as Messias te erken, is dus die rede vir Paulus se buitengewone droefheid. Die lys voorregte word afgesluit met die stelling dat Jesus self tot die Joodse volk behoort. Vir Paulus is dit die belangrikste rede vir sy droefheid en lei hom tot die doksologie aan die einde van 9:5, waarin die goddelike natuur van Christus besing word: Hy is God bo alles, ‘lofwaardig vir ewig!’ (Louw 1979:97–98).

Vir ons doel is die twee argumente wat Paulus in 9:1–5 gebruik, asook die doksologie aan die einde belangrik. Die eerste is ’n argument gebaseer op goddelike gesag in 9:1. Deur hom op Christus en die werking van die Heilige Gees te beroep, verseker hy sy gehoor dat sy droefheid oor Israel wáá r en ég is. As enigiemand sou twyfel aan die egtheid van sy toewyding aan die Joodse volk, sou die beroep op Christus en die Heilige Gees hom of haar van die teendeel oortuig. Om die werklikheid van sy droefheid te betwyfel, sou op niks minder as twyfel aan Christus en die werking van die Heilige Gees neerkom nie.

Tweedens gebruik Paulus in die gedeelte ’n argument gebaseer op emosie. Die raaisel van Israel se ongeloof bring mee dat hy in sy hart ‘’n ontsaglike droefheid en ’n onophoudelike pyn ervaar’ (9:2). Al is hy ’n apostel vir die heidene, is hy diep besorg en bedroef oor sy eie mense se weerstand teen die evangelie. Die emosie is daarop gemik om ’n soortgelyke gevoel by sy hoorders te ontlok, deur hoofsaaklik sy heiden-christelike gehoor te oorreed ‘to share his profound and anxious compassion for the Jews who have not yet embraced the fulfilment of what is properly their destiny’ (Elliott 1990:263). Ter wille van sy volksgenote is hy selfs bereid om ’n vervloeking te wees, ‘verwyder van Christus’ (9:3). Die stellings dui almal op sterk emosie en is op die meelewing van sy gehoor afgestem – ’n meelewing wat ook implikasies kan hê vir sy voorgenome besoek aan Spanje waarmee hy beoog om sy wêreldwye sendingtaak te voltooi. Die emosie bevestig immers die erns waarmee hy sy taak as apostel bejeën.

Die verwysing na Christus as God in die doksologie van 9:5 is ook belangrik vir Paulus se beredenering in 9:1–5. In die eerste deel van vers 5 wys hy op die belangrike voordeel vir die Joodse volk: uit húlle het Christus as mens gekom. Hierdie stelling oor Christus se mensheid roep egter om voltooiing: Hy is nie net mens nie, maar ook ‘God bo alles, lofwaardig vir ewig’. Deur sy godheid in die doksologie te verwoord, voer Paulus sy argument in 9:1–5 tot ’n hoogtepunt en beklemtoon hy dat, om Jesus as Christus te erken, die erkenning van sy goddelike natuur insluit. Laasgenoemde was juis die belangrikste struikelblok vir die Jode om Christus as Messias te aanvaar.

Retoriese tegnieke wat Paulus se kommunikasie in 9:1–5 versterk, sluit in:

  • die chiasme in 9:2, waar die terme ontsaglike droefheid en ’n onophoudelike pyn in die oorspronklike Grieks as droefheid (s.nw.); ontsaglik (b.nw.); onophoudelik (b.nw.); en pyn (s.nw) georden is. Op hierdie wyse word die aandag van die gehoor op die inhoud van die teks gevestig (Tolmie 2005:151). Die inhoud is veral relevant vir die onmiddellike konteks wat oor die raaisel van Israel se ongeloof handel;
  • homoioteleuton met die uitgange -θεσία, -α, -αι en -θεσία, -α, -α (9:4), waarop die Griekse woorde wat die Israeliete se voorregte beskryf, eindig (Jewett 2007:556). Deur hierdie tegniek word die reeks voorregte aan mekaar verbind;
  • die sesvoudige herhaling van καί [en] in 9:4, wat bekend staan as polisundeton (Nida et al. 1983:177) en gebruik word om die groot aantal voorregte waarin die Israeliete deel te verbeeld;
  • die herhaling van die genitief meervoud ὧν of ἐξ ὧν aan die begin van drie opeenvolgende frases in 9:4–5 wat beklemtoon dat die voorregte alles ‘aan hulle’ (d.i. die Israeliete) behoort. Op hierdie wyse word die raaisel van Israel se ongeloof verdiep. Die tegniek staan bekend as epanaphora (Nida et al. 1983:175) en nie as paronomasia, soos Jewett (2007:556) beweer nie. Paronomasia is die herhaling van dieselfde vorme met verskillende betekenisse, soos λιμοί [hongersnood] en λοιμοί [epidemies] in Lukas 21:11. (Nida et al. 1983:179);
  • die plasing van ‘uit hulle het ook die Christus as mens gekom’ (9:5) aan die einde van die reeks voorregte, beklemtoon dat die voorregte geldig bly en nie tot die verlede behoort nie, omdat dit in Hóm steeds geldig is. Dit verdiep Paulus se droefheid oor sy volksgenote nog verder (Tobin 2004:305).
Romeine 9:6–13: Die ware Israel is die kinders van die belofte, nie die nageslag van Abraham nie

Daar is verskille oor die vraag of die onderdeel by 9:13 eindig (soos Käsemannn 1980:260–267; Siegert 1985:123–127 en Schlier 1977:289–293 beweer) of by vers 18 (soos Louw 1979:99–100 en Jewett 2007:570–584 dit afbaken). Na my mening vorm 9:6–13 ’n eenheid en wel om die volgende redes:

  • Sleutelterme in die gedeelte is nageslag, kinders en veral belofte. In die volgende gedeelte (9:14–29) handel dit nie hieroor nie, maar oor God se ontferming oor die ware Israel.
  • Historiese inligting oor God se uitverkiesingsproses kenmerk die betrokke gedeelte, maar ontbreek vanaf 9:14. Die name van Abraham, Isak, Sara, Rebekka, Jakob en Esau word slegs hier genoem en dien om ‘God se voorneme volgens sy uitverkiesing’ (9:11–12) te illustreer.
  • Die gedeelte begin by 9:6, omdat die doksologie en die ‘Amen’ aan die einde van 9:1–5 dit duidelik van 9:6–13 onderskei.
  • Die gedeelte strek tot by 9:13, omdat die konkluderende vraag ‘Wat sal ons dan sê?’ in 9:14a ’n nuwe bespreking, net soos ’n soortgelyke vraag in 9:30a die laaste onderdeel (9:30–10:4) inlei.

Die diskoers in 9:6–13 begin met die vraag na die geldigheid van God se woord in die lig van die feit dat Israel geweier het om Jesus as Messias te aanvaar (9:1–5). In 9:6 word die geldigheid bevestig, gevolg deur ’n rede: ‘Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie.’ Dié stelling, wat die verdere bespreking oorheers, word vervolgens met ’n aanhaling uit Genesis 21:12 bevestig: nie alle afstammelinge van Abraham is God se ware kinders nie! Dit is die basiese antwoord op die probleem wat in 9:1–5 aan die orde was en vir Paulus soveel droefheid veroorsaak het: die ware Israel is nie ’n saak van fisiese afstamming nie. Wat dit werklik is, word vanaf 9:8 verduidelik: dit is ’n saak van belofte. Dit word nogeens met ’n sitaat uit Genesis 18:10, 14 gestaaf.

Die inhoud van die belofte word vervolgens in 9:10–12 uiteengesit. Dit behels dat Israel slegs deur Isak sal voortbestaan. Isak het twee seuns by Rebekka gehad en dit bring Paulus by die kern van die saak: nie al Abraham se kinders is by die belofte ingesluit nie. Al het Rebekka twee seuns gehad, was die belofte net vir éé n van hulle bedoel, en wel op grond van ‘God se voorneme volgens sy uitverkiesing’ (9:12b). Dit word met ’n sitaat uit Maleagi 1:2–3 bevestig: ‘Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ’n afkeer gehad’ (9:13). Die onderskeiding tussen Jakob en Esau is afdoende bewys van Paulus se stelling in 9:6b dat nie almal wat uit Israel afkomstig is, die ware Israel is nie.

Vanuit ʼnretoriese perspektief gebruik Paulus twee soorte argumente in 9:6–13. Die eerste is ’n argument gebaseer op die gesag van die Skrif. Volgens Witherington (2004:237–238) bevat 9:1–11:36 die meeste Skrifsitate in die hele brief; trouens, 31% van Skrifsitate in al Paulus se briewe word in hierdie drie hoofstukke gevind. Volgens Tobin (2004:299–300) plaas die groot aantal Skrifsitate die gedeelte (8:31–11:36), wat hy as ’n eenheid beskou, in ’n klas van sy eie en dien dit om die gedeelte van die res van die brief te onderskei. Sulke Skrifsitate is retoriese belangrik omdat dit:

  • die band tussen Paulus en sy gehoor versterk, deur hulle aan die God van Israel te bind;
  • die gehoor oortuig van Paulus se standpunt wanneer hulle sien hoe vaardig hy die gewyde teks hanteer;
  • alle menslike argumente en oorwegings oortref as synde die gesaghebbende en finale woord oor enige saak;
  • in goed-gestruktureerde beredenerings ingebed is – dikwels nadat hulle ietwat aangepas is om die verband tussen die sitaat en die argumentasie duideliker te maak (Stanley 1998:712–716).

Die funksie van elke Skrifsitaat is in die analise hierbo uitgestippel. Telkens dien dit om sekere basiese stellings in die diskoers te bevestig as synde die gesaghebbende woord oor die saak onder bespreking.

Die tweede soort argument is een wat op die dissosiasie van idees gebaseer is. In 9:12b dissosieer Paulus dít wat mense doen (d.i. die nageslag van Abraham) van dít wat God doen (d.i. sy roeping) en bied laasgenoemde as basis van die uitverkiesing aan wanneer hy skryf: ‘Dit het gebeur sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep.’ Vir hierdie soort argument gebruik Paulus gewoonlik antiteses waarin die klem op die tweede deel van die teenstelling val (Tolmie 2005:17, 53, 61). In die lig hiervan wil Paulus dus die handeling van God (sy roeping) as grond van die uitverkiesing beklemtoon, deur dit te dissosieer ‘van mense se dade’. Die argument word met die Skrifsitaat uit Maleagi 1:2–3 bevestig.

Wat retoriese tegnieke betref, wys Jewett (2007:572) op die parallelle sinstruktuur in 9:8 wat die belangrikheid van die betrokke teks in Paulus se hele diskoers beklemtoon: ‘kinders na die liggaam’ (d.i. almal wat uit Israel afkomstig is) is nie almal ‘kinders na die belofte’ (d.i. die ware Israel) nie.

Romeine 9:14–29: God se uitverkiesing berus op sy ontferming

Daar is eenstemmigheid oor die afbakening van die gedeelte. Dit begin in 9:14a met die konkluderende vraag: ‘Wat sal ons dan sê?’ en bespreek dit aan die hand van verdere vrae, wat handel oor God se regverdigheid (9:14b) en wat die mens beplan en doen, omdat hy of sy God nie kan weerspreek nie (9:19–20). Die vrae word almal beantwoord en voorsien van Skrifsitate, wat (soos genoem) kenmerkend is van Paulus se beredenering in hoofstukke 9–11. Die bespreking strek tot by 9:29 wat deur ’n tweede konkluderende vraag in 9:30 gevolg word en só die laaste gedeelte (9:30–10:4) inlei. In sy beantwoording van die vrae, soos gestel in 9:14b en 9:19–20, probeer Paulus die handelinge van God regverdig deur sy gehoor te oortuig dat God se optrede teenoor Jode én heidene volledig in pas is met dít wat die Skrif sê en wat hy as apostel verkondig.

Paulus se opmerkings oor die uitverkiesing in die vorige gedeelte (9:11–13) gee aanleiding tot die logiese beswaar in 9:14a: ‘Wat sal ons dan sê?’ Die diskoers wat volg, word met die vraag in 9:14b ingelei: ‘Is daar dan enige onreg by God?’ (9:14b). Dit word heftig ontken met μὴ γένοιτο [geensins] en gevolg deur ’n Skrifsitaat uit Eksodus 33:19: ‘Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie Ek barmhartig wil wees.’ Hiermee word God se oppermag bevestig: Dit wat die mens doen, beteken niks en dus is God nie verplig om enigiets vir hom te doen nie. Wat God doen, doen Hy enkel uit ontferming. In 9:16 word dit presies so verwoord en in 9:18 herhaal – ondersteun deur die Skrifsitaat uit Eksodus 9:16. Soos belofte die sleutelwoord was in die vorige onderdeel (9:6–13), so is ontferming die sleutelwoord in 9:14–29. God se uitverkiesing is ’n saak van ontferming, nie ’n menslike reg nie (Louw 1979:100).

Laasgenoemde lei vanself tot die vrae van ’n denkbeeldige opponent in 9:19: ‘Hoe kan Hy dan nog ’n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?’ Die vrae word in 9:20–29 beantwoord en ingelei met die skerp teenvraag: ‘Wie is jý tog, o mens, om God te weerspreek?’ (9:20a). Daarop volg die vergelyking van die pottebakker en sy werk met God en dit wat Hy in sy ontferming doen – weereens afgesluit met Skrifsitate uit Hosea en Jesaja.

In hulle eksegese van 9:14–29 het Skrifverklaarders soos Louw (1979:102–103), Achtemeier (1985:164–165), Barrett (1991:171), Wright (2002:635–639), Witherington (2004:255) en Jewett (2007:590–605) insiggewende opmerkings oor Paulus se beskouing van die uitverkiesing gemaak. Dit gaan vir Paulus nie oor verkiesing versus verwerping nie, en ook nie oor die lot van invidue nie. Sy diskoers fokus op die positiewe sy van God se uitverkiesing, naamlik sy ontferming. Dit gaan nie om wat Israel doen of nie doen nie, maar oor die feit dat God sy verlossingsplan in die wêreld verwerklik al laat alle mense Hom in die steek, omdat die plan deur en deur op sý ontferming berus. Dit gaan ook nie oor die verkiesing of verwerping van enige individu nie, maar oor God se handelinge met die volk Israel – selfs al het die volk sy eie Seun verwerp. Om ’n uitverkiesingsleer vir individue op die gedeelte te bou (soos menige dogmatikus gedoen het), is dus om die strekking en doel van Paulus se hele diskoers verkeerd te verstaan. Die diskoers handel oor korporatiewe entiteite: oor die ou Israel en die nuwe Israel (die kerk).

Dit bring ons terug by Paulus se basiese stelling in 9:6: ‘Nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie.’ God se mense (die ware Israel) is nie op natuurlike afstamming gebaseer nie, maar op sy ontferming oor alle nasies. In sy groot ontferming kies Hy sy mense uit alle nasies – nie op grond van wat hulle doen nie, maar op grond van sy genadige besluit. Daardie mense word deur die geloof, as vrug van God se verkiesing, gered, want δικαιοσύνη is gebaseer op geloof alleen. Dit word die sentrale besprekingspunt in 9:30–10:4 as die laaste onderdeel van Paulus se oorhoofse retoriese strategie in 9:1–10:4, naamlik om sy hoorders van Israel se rol in God se verlossingsplan vir die wêreld te oortuig.

In 9:14–29 gebruik Paulus drie soorte argumente om sy gehoor te oorreed. Die eerste is weer argumente gebaseer op die gesag van die Skrif. Die tipe argument word onder andere gebruik om te bevestig dat:

  • God nie onregverdig is nie, omdat sy uitverkiesing nie op sy ongekwalifiseerde wil berus nie, maar op sy vrymagtige ontferming (9:15, met verwysing na Eks 33:19);
  • God vir farao gebruik het as voorbeeld van ’n ongelowige in diens van die uitvoering van sy verlossingsplan vir die hele wêreld (9:17, met verwysing na Eks 9:16);
  • die nuwe volk van God, die christelike gemeenskap, uit Jode en nie-Jode bestaan (9:25–26, met verwysing na Hos 2:22 en 1:10);
  • die evangelie van verlossing die hele aarde sal bereik en ‘’n oorblyfsel’ dus ook uit Israel verlos sal word (9:27–28, met verwysing na Jes 10:22–23 en Hos 1:10);
  • die ware Israel ook uit die nageslag van Abraham, wat oorgebly het om saam met alle gelowiges op die oordeelsdag te deel in God se ontferming, sal bestaan (9:29, met verwysing na Jes 1:9).

Die tweede soort argument is gebaseer op die dissosiasie van idees soos in 9:12b hierbo uiteengesit. Die argument word in die sleutelvers van die diskoers, naamlik 9:16 gevind: ‘Dit berus dus nie by die mens wat hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.’ In die antitese val die klem weer op die tweede deel daarvan: God se uitverkiesing kan slegs binne die konteks van sy ontferming verstaan word. Die basiese waarheid word in die res van die gedeelte uitgewerk, naamlik in 9:20–24, waarin die handelinge van die pottebakker met dié van God vergelyk word.

Die derde soort argument is op analogie gebaseer. Hierdie soort argument word deur sy eenvoud gekenmerk en is daarom ’n effektiewe oorredingsmiddel: ’n Situasie word eers geskets en dan op die saak onder bespreking toegepas (Tolmie 2005:145). In die geval van 9:20–24 beskryf Paulus ’n situasie wat goed bekend was aan sy gehoor: ’n pottebakker het die reg om uit dieselfde stuk klei verskillende voorwerpe te maak, sonder dat ’n voorwerp die reg het om te vra hoekom hy só gemaak is (9:20b–21). Dit word dan in 9:22 toegepas: soos die pottebakker die reg het om verskillende voorwerpe te maak, só het God ook die reg om ‘voorwerpe van toorn’ en ‘voorwerpe van ontferming’ te maak en met hulle na goeddunke te handel (9:22–24). In 9:24 kom Paulus by sy eintlike punt as hy wys op die implikasie van die analogie vir sy hoorders: ‘Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode.’ Ons is ‘die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het’ (9:23). Die argument is effektief en versterk die verhouding tussen Paulus en sy gehoor op ’n besondere wyse.

Dit is te betwyfel of die vergelyking tussen die pottebakker en God in 9:20–24 ’n voorbeeld is van ’n argument a minore ad maius soos Louw (1979:101) dit verstaan. Daar is nie ’n aanduiding in die teks om so ’n interpretasie te steun nie.

Retoriese tegnieke in die gedeelte sluit in:

  • die antitetiese parallelisme in 9:16, wat die inhoud (en só die sentrale posisie van die teks in 9:14–29) beklemtoon: Wat die mens wil en waarvoor hy hom inspan, is irrelevant wanneer dit kom by God se ontferming as grond vir die uitverkiesing;
  • die uitroep ὦ ἄνθρωπε [o mens] aan die begin van 9:20 in die oorspronklike Grieks, wat op kragtige wyse die teenstelling tussen God en mens onderstreep;
  • die praktyk om op vrae, nie met antwoorde nie, maar met retoriese vrae te reageer (soos in 9:20–21). Tegnies staan dit as anteisagoge bekend (Jewett 2007:589) en verhoog die argumentatiewe effek van die diskoers.
Romeine 9:30–10:4: God se geregtigheid word slegs op grond van geloof in Christus verkry, nie op grond van wetsonderhouding nie

Die afbakening van die gedeelte is problematies. Die vraag is of 9:30, onafhanklik van hoofstuk 9, ’n nuwe hoofdeel inlei en waar die gedeelte eindig as dit deel van hoofstuk 9 vorm. Volgens Käsemannn (1980:277–279), Schlier (1977:305–308) en Siegert (1985:141) vorm 9:30–33 ’n afsonderlike eenheid wat hoofstuk 9 afsluit. Volgens hulle begin ’n nuwe perikoop by 10:1. Vir Louw (1979:103–104), Dunn (1988:578–579), Schreiner (1998:534–549) en Jewett (2007:606–620) is 9:30–10:4 egter ’n eenheid en begin ’n nuwe perikoop by 10:5. Na my mening het laasgenoemdes gelyk, omdat:

  • die term δικαιοσύνη sewe keer in 9:30–10:4 voorkom en dus die sentrale tema van die diskoers vorm;
  • dit ingelei word met ’n konkluderende vraag in 9:30 en só van 9:14–29 onderskei word;
  • 10:1 dieselfde emosionele strekking as 9:1–5 het en só die seksie 9:1–10:4 omraam;
  • 10:2–4 basies dieselfde argument voer as 9:30–33, naamlik die regverdigmaking deur geloof in Christus alleen, en dus deel van die diskoers in 9:30–10:4 vorm.

Die gedeelte begin met die konkluderende vraag: ‘Wat sal ons dan sê?’ (9:30a), gevolg deur verdere vrae in 9:30b–32a en die antwoord in 9:32b. In hierdie gedeelte, wat weer met ’n Skrifsitaat in 9:33 afgesluit word, wys Paulus op sekere implikasies van sy bespreking in 9:14–29. Die heidene word as mense wat nie die geregtigheid nagejaag het nie gedefinieer, terwyl Israel dit wel gedoen het deur die wet te probeer onderhou. Die Jode het nie in hulle doel geslaag nie; die heidene wel. Die rede waarom die Jode gefaal het, word in 9:32b verwoord: hulle wou nie die geregtigheid op grond van geloof verkry nie, maar op grond van hulle dade. So het hulle oor die struikelblok, Jesus Christus, gestruikel.

Hoofstuk 10:1 is ’n invoeging waarin Paulus sy hartewens, naamlik dat sy volk verlos mag word, uitspreek. Die vers bind asundeties aan die vorige een en herinner aan die persoonlike trant in 9:1–5 waar Paulus ook in die eerste persoon enkelvoud geskryf het. Tobin (2004:302–306) gaan breedvoerig in op die gebruik van die eerste persoon enkelvoud in passasies wat as beslissende momente in Paulus se diskoers beskou kan word. In 10:1–2 dien dit om, soos in 9:1–5, sy besorgdheid oor die lot van sy volksgenote te onderstreep. Die sinsdeel ‘my hartewens en my gebed tot God’ is sterk gestel en verwoord Paulus se gesindheid teenoor hulle: al het hulle hom as renegaat behandel, is hy geensins vyandig teenoor hulle nie. As sodanig is die invoeging retories belangrik en bind dit sy gehoor aan hom. Dit is ook effektief omdat dit, as invoeging, aandag op die inhoud daarvan vestig.

In 10:2–4 word die diskoers van 9:30–33 voortgesit: Israel dien God met ywer, ‘maar sonder insig’ (10:2). Die stelling word in verse 3–4 verduidelik: God se geregtigheid kan slegs deur geloof in Christus wat ‘die einddoel (τέλος) van die wet is’, verkry word. Al die vorige Afrikaanse vertalings het τέλος met ‘einde’ vertaal. Die 2014-vertaling se ‘einddoel’ is egter in pas met die beste kommentare wat die term teleologies verstaan en dit met ‘fulfilment’ of ‘goal’, in plaas van met ‘end’ vertaal (vir ’n bespreking van die vertaalprobleem, vgl. Tobin 2004:312).

In 9:30–10:4 word weer ’n argument gebaseer op die gesag van die Skrif gebruik as Paulus in 9:33 uit Jesaja 28:16 aanhaal: ‘Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer om oor te struikel, ’n rots om oor te val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.’ Volgens die aanhaling sit God self die klip neer, wat vir die gehoor die einde van alle teenspraak moes beteken. Binne konteks is die skaamte waarna verwys word, eskatologies bedoel: dit is om op die oordeelsdag verleë voor God se regterstoel te verskyn (Witherington 2004:259). Vir Paulus en sy medegelowiges was dit egter nie ’n struikelblok nie. Op hierdie wyse onderskei die Skrifsitaat Paulus en sy mede-christene van die ongelowiges en bind hulle aan mekaar en aan die God van die Skrifte wat die finale woord spreek.

Retoriese tegnieke in 9:30–10:4 sluit in:

  • anastrophe met δικαιοσύνη in 9:30. Die stylfiguur beteken dat dieselfde woord aan die einde van die vorige en die begin van die volgende sinsdeel herhaal word (Nida et al. 1983:188). Dit word gewoonlik vir beklemtoning gebruik;
  • die metafoor van die struikelblok in 9:32b, waardeur die hoorders gekonfronteer word met ’n nuwe, ongewone uitkyk op ’n saak en hulle aandag dus meer daarop gefokus word (Tolmie 2005:99). Hier word die metafoor vir geloof in Christus as die grond of basis van δικαιοσύνη gebruik;
  • die aanspreekvorm ἀδελφοί [broers] in 10:1, wat op die emosionele band tussen Paulus en sy hoorders dui en dit versterk;
  • τέλος in 10:4, wat as eerste woord in die sin in ’n beklemtoonde posisie staan.
Konklusie

Die slotsom van die artikel is dat verskillende oorredingsmiddele in die teks, waarvan die funksies binne konteks bepaal is, ’n sinvolle bydrae lewer om die beredenering te versterk en die hoorders van Paulus se standpunt te oortuig, sonder om retoriese modelle of middele van buite vir die doel te gebruik. In hierdie artikel is 9:1–10:4 op grond van enkele inhoudelike en retoriese oorwegings afgebaken, en in vier dele verdeel, naamlik 9:1–5; 9:6–13; 9:14–29 en 9:30–10:4. Elke afdeling is gemotiveer en in die analise is op die soorte argumente wat Paulus gebruik, asook die retoriese tegnieke wat die kommunikasieproses ondersteun, gefokus. Sy argumentasie is veral gekenmerk deur argumente gebaseer op die gesag van die Skrif, terwyl argumente gebaseer op goddelike gesag, op die dissosiasie van idees, op emosie en op analogie ook gevind is.

Verskeie erkende retoriese tegnieke van Grieks-Romeinse oorsprong is ook gebruik om die trefkrag van Paulus se kommunikasie te verhoog en sy gehoor te oorreed om sy siening van Israel se rol in die uitvoering van God se verlossingsplan vir die wêreld te steun.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Achtemeier, P.J., 1985, Romans, John Knox, Atlanta.

Barrett, C.K., 1991, A Commentary on the Epistle to the Romans, Black, London.

Bryan, C., 2000, A preface to Romans: Notes on the epistle and its literary and cultural setting, Oxford University Press, Oxford.

Debanné, M.J., 2006, Enthymemes in the Letters of Paul, T& T Clark International, London/New York.

Dunn, J.D.G., 1988, Romans 1-8; Romans 9-16, 2 vols., Word, Dallas. (WBC, 38a, 38b)

Elliott, N., 1990, The Rhetoric of Romans: Argumentative Constraint and Strategy and Pauls Dialogue with Judaism, Sheffield Academic Press, Sheffield. (JSNT, Sup. 45).

Given, M.D., 2001, Pauls true rhetoric. Ambiguity, cunning and deception in Greece and Rome, Trinity Press International, Harrisburg.

Jewett, R., 2007, Romans. A Commentary, Fortress Press, Minneapolis.

Käsemannn, E., 1980, Commentary on Romans, transl. G.W. Bromiley, Eerdmans, Grand Rapids.

Louw, J.P., 1979, A Semantic Discourse Analysis of Romans, 2 vols., University of Pretoria Press, Pretoria.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains, 2 vols., United Bible Societies, New York.

Mitchel, M.M., 2002, The heavenly trumpet: John Chrysostom and the art of Pauline interpretation, Westminister John Knox, Louisville.

Nida, E.A., Louw, J.P., Snyman, A.H. & Cronje, J. v. W., 1983, Style and Discourse, Bible Society of South Africa, Goodwood.

Reid, M., 1995, ‘Paul's rhetoric and mutuality: A rhetorical reading of Romans’, in SBL Seminar Papers, pp. 117-139, Scholars Press, Atlanta.

Schlier, H., 1977, Der Römerbrief, Herder, Freiburg. (HThKNT, 6).

Schreiner, T.R., 1998, Romans, Baker, Grand Rapids. (BECNT, 6).

Siegert, F., 1985, Argumentation bei Paulus gezeigt an Röm 9-11, Mohr-Siebeck, Tübingen. (WUNT, 34)

Stanley, C.D., 1998, ‘Biblical quotations as rhetorical devices in Paul's letter to the Galatians’, in SBL Seminar Papers, pp. 700-730, Scholars Press, Atlanta.

Talbert, C., 2002, Romans, Smyth & Helwys, Macon.

Tobin, T.H., 2004, Pauls rhetoric in its contexts: The argument of Romans, Hendrickson, Peabody.

Tolmie, D.F., 2005, Persuading the Galatians. A text-centred rhetorical analysis of a Pauline letter, Mohr-Siebeck, Tübingen. (WUNT, 2/190)

Witherington, B., 2004, Pauls letter to the romans. A socio-rhetorical commentary, Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MIchigan.

Wright, N.T., 2002, ‘Romans’, in L.E. Keck, The New Interpreters Bible, vol. 10, pp. 393–770 Abingdon, Nashville.

Footnote

1. Verder verwysings na die boek Romeine sal slegs deur hoofstukke en verse aangedui word.



Crossref Citations

No related citations found.