Article Information

Author:
Pieter Maré1

Affiliation:
1Department of Religious Studies, University of Johannesburg, South Africa

Correspondence to:
Pieter Maré

Email:
pietermare0409@gmail.com

Postal address:
PO Box 11973, Aston Manor 1630, South Africa

Dates:
Received: 19 Jan. 2015
Accepted: 26 May 2015
Published: 31 Aug. 2015

How to cite this article:
Maré, P., 2015, ‘Die metafoor ‘julle is die tempel van God’ as ’n etiese kernmoment in ’n postmoderne leefwêreld’, In die Skriflig 49(2), Art. #1933, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i2.1933

Note:
Die teks is gegrond op die outeur se proefskrif: Mare, P., 2012, ‘Die metafoor ‘julle is ’n tempel van God’ (1 Kor 3:16) as ’n kernmoment in die raamwerk van ’n Pauliniese leefstyl’, PhD proefskrif, Departement Godsdienskunde, Universiteit van Johannesburg. Dele wat na die postmodernisme verwys, is gegrond op die outeur se MA-verhandeling: Mare, P. 2008, ‘’n Kritiese evaluering van geselekteerde beeldspraak volgens Matteus 5–7 as kernmomente in ’n Christelike lewensetos’, MA-verhandeling, Departement Godsdienskunde, Universiteit van Johannesburg.

Copyright Notice:
© 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die metafoor ‘julle is die tempel van God’ as ’n etiese kernmoment in ’n postmoderne leefwêreld
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Metaforiese taal oor God
Die tempelmotief in die Bybel
Die tempelmetafoor in 1 Korintiërs 3:16–17
Die metafoor naos theou este in etiese perspektief
Samevatting
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstrak

Die idee van die tempelmotief is my fokuspunt in hierdie artikel en daarom gaan ek teoretiseer oor die retoriese vraag waarmee die apostel Paulus die gemeente in Korinte konfronteer: Ouk oidate hoti naos theou este kai to pneuma tou theou en humin oikei? [Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?] (1 Kor. 3:16). Het hierdie vraag enige etiese implikasies vir die gemeente in Korinte ingehou en het dit nog enige hermeneutiese waarde vir die geloofsgemeenskap in die postmoderne leefwêreld waarin hulle hulself bevind?

Abstract

The metaphor ‘you are the temple of God’ as an ethical core moment in a postmodern world.

The idea of the temple motif is my focal point in this article, and therefore, I am going to theorise on the rhetorical question asked by Paul in his first letter to the Corinthians: Ouk oidate hoti naos theou este kai to pneuma tou theou en humin oikei? [Do you not know that you are God's temple and that God's Spirit dwells in you?] (1 Cor 3:16). Did this question hold any ethical implications for that congregation, and does it still have any hermeneutical value for the faithful community in the postmodern milieu in which they find themselves today?

Inleiding

Die leefwêreld waarin die huidige geloofsgemeenskap hulle bevind, is ’n wêreld waarin beginselvastheid die uitsondering en nie die reël is nie. Selfs die Kerk is in eie geledere nie van hierdie verval gevrywaar nie en die ongekende hoë egskeidingsyfer onder Christene is maar een van die bewyse van hierdie morele agteruitgang. Waar kerkleiers se menings tot in die onlangse verlede nog rigtinggewend was sover dit morele vraagstukke betref, word hulle nie alleen nie meer geraadpleeg nie, maar hulle opinie is ongevraag. As die talle uitsprake in die media in berekening gebring word, raak veral die skeptiese nuwer geslag al hoe meer van tradisionele geloofsbeskouings vervreemd en word konsepte soos God gerelativeer. Die Kerk word beskou as ’n instelling wat uit ’n prehistoriese beskawing dateer. In hierdie artikel word die moontlikheid ondersoek of die geloofsgemeenskap met ’n leefstyl wat Bybelse beginsels beaam en nie verloën nie, ’n rol kan speel om hierdie sinisme in ’n postmoderne milieu jeens die Kerk en die geloofsgemeenskap die hoof te bied.

Die hedendaagse samelewing kan in drie kultuurgroepe verdeel word: tradisioneel, modern en postmodern (Gibbs 2000:20; McLaren 2000:160). In die tradisionele opset is die Kerk die spil waarom alles draai. Die Kerk se mening is gesaghebbend en die Kerk word in ’n verskeidenheid sake geraadpleeg (Gibbs 2000:20). In hierdie periode, wat Du Rand (2005:221) premodern noem, is geglo dat die betekenis van die Bybelteks in die teks self geleë is en letterlik verstaan moet word.

In modernisme is die mens die spil waarom alles draai en die mens se outonomiteit is essensieel (Du Rand 2005:224). In hierdie moderne opset is die samelewing selfversekerd. Die gevoel van eiewaarde is gekoppel aan prestasies wat mense laat glo dat hulle in beheer is van hulle eie lotsbestemming (Gibbs 2000:21). Die moderne mens bejeën die tradisionele kultuur met skeptisisme en voel verhewe daarteenoor. Sweet (1999:197) stem hiermee saam en hy is van mening dat die betekenis van sukses in die moderne wêreld op een of albei van die volgende berus: die status van jou beroepsrigting en rykdom. Immanuel Kant se leuse ‘Dare to think!’ is die basis. Solank iets rasioneel verklaar kan word, is dit wetenskaplik (Duits: Wissenschaftlich). Wanneer gevolgtrekkings deeglik beredeneer word, is hulle waar. Alleenlik wetenskaplike studie is betroubaar en gesaghebbend. Wanneer Bybelverklaarders aandring op rasionele verduidelikings wat op gesistematiseerde wyse deur Bybelverklaarders ingesamel is, kan dit aan die invloed van die modernisme toegeskryf word (Du Rand 2005:220–221). Ontnugtering met die modernisme het ingetree toe daar ontdek is dat tegnologiese vooruitgang net soveel vraagstukke veroorsaak as wat dit oplos (Gibbs 2000:23).

In die postmoderne kultuur is die mens teleurgesteld en ontnugter met die tradisionele lewenswyse sowel as met die modernisme (McLaren 2000:160). Die optimisme van die moderne liberale humanistiese tradisie het plek gemaak vir pessimisme en skeptisisme. In ’n atmosfeer van sinisme soek die postmodernis na die motiewe agter waarhede wat verkondig word (Gibbs 2000:23). Volgens die postmodernistiese lewensbeskouing is objektiewe waarheid ’n onmoontlikheid. Alle gedagtes word beskou as relatief en vloeibaar (behalwe hulle eie). Selfs die Skrif kan nie op waarheid aanspraak maak nie (Van der Watt 2005:257). Postmoderniste het ’n groot behoefte aan outentieke ervarings, aan stimulasie, sosialisering en emosionele bevrediging (Sweet 1999:192). Kreatiewe verbeelding speel hier ’n groot rol en realiteite word nie meer as vaste entiteite beskou nie, maar ’n aanhoudende skeppende taak waar verbeelding ’n beslissende rol speel (Du Rand 2005:225). Ons bevind ons in ’n veranderde kulturele konteks van pluralisme wat post-Christelik is (Gibbs 2000:27). ’n Professor aan Yale Universiteit, Louis Dupré (in Sweet 1999:45), het tot die gevolgtrekking gekom dat dit wil voorkom asof die Weste die Christelike kultuur finaal die rug gekeer het. Sweet poneer ook dat Christenskap nie die postmoderne verbeelding aangryp en motiveer nie en stel die vraag of die Christelike Kerk enige goeie nuus oor het.

Die Christelike geloof het die missionêre opdrag om die goeie nuus (evangelie) aan die mensdom bekend te maak (vgl. Matt 28:19). Die uitdagings is ontsaglik omdat die drie kulture (tradisioneel, modern en postmodern) nie opeenvolgend is nie, maar sy aan sy bestaan (Gibbs 2000:25). Die postmodernistiese kultuur is egter oorheersend in hierdie tydsgewrig waarin die geloofsgemeenskap sigself vandag bevind. Vanaf die Nuwe-Testamentiese tyd was die geloofsgemeenskap se leefstyl van kardinale belang (vgl. bv. Matt 5:13–16; Fil 2:15; 1 Pet 3:14–16). Meeks (1993) beklemtoon hierdie feit wanneer hy sê:

Almost without exception, the documents that eventually became the New Testament and most of the other surviving documents from the same period of Christianity's beginnings are concerned with the way the convert to the movement ought to behave. (p. 5)

As gelowiges se leefstyl in antieke tye van belang was, is dit in hierdie postmoderne tyd essensieel. Lewis (2001:12) konstateer die feit dat ons in ’n tyd leef waar die klem vanaf proklamasie na demonstrasie verskuif het. Gibbs (2000:28) huldig dieselfde mening wanneer hy die opmerking maak dat Christene in die missionêre uitdaging van die postmodernisme hulle moet afvra of hulle woorde en dade ooreenstem. Sweet (1999:54) maak melding van die advertensiewêreld wat die geweldige moontlikhede van ‘leefstyl-bemarking’ ontdek het – maatskappye bemark nou nie net meer produkte nie, maar ook leefstyl. Volgens Sweet behoort gelowiges met hulle leefstyl te evangeliseer. Hy noem dit leefstyl evangelisasie wat die waarde beklemtoon om in Christus te leef. Sonder proefhoudende leefstyle as bewys is die Christendom se boodskap van ’n God wat lewens kan verander, waardeloos (Lewis 2001:60).

Met inagneming van die voorgaande kan ’n mens jouself nou afvra wat die tempelmetafoor in 1 Korintiërs 3:16–17 met die geloofsgemeenskap in Korinte en ook die hedendaagse leefstyl in gemeen het. Kan ’n metafoor wat 2000 jaar gelede vir ’n geloofsgemeenskap in Korintiërs sin gemaak het vandag nog van enige hermeneutiese waarde wees? Kan hierdie metafoor nog sinvol met die postmoderne mens kommunikeer? (vgl. Van der Watt 2005:251). Volgens Marshall (1977:8) is Nuwe-Testamentiese interpretasie nie alleenlik met die betekenis van die teks vir die oorspronklike lesers gemoeid nie, maar bereik dit net sy doel wanneer die betekenis daarvan vir vandag ondersoek word en die teks toegelaat word om ons siening en insig te beïnvloed. Thiselton (2006:320) sluit hierby aan wanneer hy in teenstelling met die meer algemene opvattings wat kritiese en historiese ondersoeke na vore gebring het die mening uitspreek dat die navorsing oor Paulus se Korinte kenmerke aan die lig gebring het wat met kenmerke van die vroeë 21ste eeu ooreenstem. In hierdie artikel word die hermeneutiek gevolg waar die teks gelees word om te hoor (Snodgrass 2002:1). Brueggemann (2005:6) praat van die stemhebbende klank wat in die teks gehoor word. Hierdie gesaghebbende stem is volgens Brueggemann inderdaad die stem van die Heilige God. Die betekenis van die Bybelse boodskap in sy konteks word behou, terwyl dit ook in kontemporêre vorm op die huidige tydvak toegepas word (Du Rand 2005:157). Dit is uit hierdie hermeneutiese perspektief wat bepaal sal word of die tempelmetafoor ’n gesaghebbende, toepasbare etiese kernmoment is in die postmoderne leefwêreld waarin ons onsself bevind.

Metaforiese taal oor God

McFague (1982:1) maak die stelling dat daar groot onsekerheid is oor die voldoendheid van woorde om aan God as ’n realiteit uitdrukking te gee. Volgens Avis (1999:vii) is die konsep van God bo enige menslike verbeelding en oortref dit enige menslike taal en daarom kan ontmoetings tussen God en mens net in beeldspraak deur middel van simbole en metafore uitgedruk word. Caird (1980:18) poneer dat alles, of bykans al die taalgebruik waarvan in die Bybel gebruik gemaak word om na God te verwys, metafories is. Van der Watt (2000) stel dit as volg:

Theories about figurative language and metaphor in biblical material are common in theological discussions. It is often argued that divine reality is communicated mainly by means of language, and specifically by means of metaphors. How this takes place is explained variously and this may range from merely interpreting single sayings as metaphors, to actually theorizing about the presence and reality of God being communicated as a metaphorical event. (p. xvii)

Wat is ’n metafoor? Volgens Van der Watt (2000:15) is die vergelyking ’n stylfiguur waar twee dinge wat in wese van mekaar verskil met die woord ‘soos’ verbind word – ‘X is soos Y’. Die onbekender woord word verklaar deur die bekende. Om te sê ‘X is Y’ is ’n metafoor. Dit is net die weglating van die vergelykingsterm ‘soos’ wat die metafoor van die vergelyking onderskei (Ricoeur 1977:174). Om dus te sê ‘die man is soos ’n leeu’ is ’n vergelyking, terwyl ‘die man is ’n leeu’ ’n metafoor is. McFague (1982:38) verklaar dat metafore by die semantiek hoort en nie die sintaksis nie. Met ander woorde, dit handel oor betekenis. Van der Watt (2000:11,12) poneer dat konteks ’n belangrike rol in die identifisering en analisering van metafore speel. Metafore funksioneer net as metafore binne die konteks waarin dit voorkom. ’n Goeie voorbeeld ‘My Vader is die boer’ mag ‘binne een konteks (soos in Joh 15:1) ’n metafoor wees, maar in ’n ander konteks kan dit ’n letterlike stelling wees. Van der Watt beklemtoon ook die feit dat wanneer metafore geïnterpreteer word, dit nie tot een woord beperk moet word nie. Metafore kan uit ’n enkele sin, ’n paragraaf of selfs uit ’n hele teks bestaan. Wheelwright (1962:72) onderskei in sy metafoormodel tussen die epifoor en die diafoor. Die metafoor as epifoor kom ooreen met die tradisionele siening van die metafoor dat die onbekende deur die bekende verklaar word. Die diafoor suggereer daarteenoor ‘teenwoordigheid’ deur sekere ondervindings (werklik of verbeel) aan die gehoor bekend te maak in ’n poging om betekenis daaraan te verleen en dit te verklaar. Die metafoor in Korintiërs kan as ’n diafoor beskou word, want dit impliseer God se teenwoordigheid tussen sy mense in die Persoon van die inwonende Heilige Gees.

Die tempelmotief in die Bybel

Die tempelmotief speel ’n beduidende rol in die Antieke Nabye Ooste en in die Bybelse geskrifte. Van Dyk (2009:422) sê dat die Skepping en die oprigting van die tempel baiemaal in die Antieke Nabye Ooste met mekaar verband gehou het en dat die tempel simbolies as die hele wêreld bejeën is. Barker (2004:2), welbekend vir haar ‘tempelteologie’, beskryf die tempel as ’n ‘model van die skepping’. Volgens Beale (2005:7–10) was die tuin van Eden die eerste heiligdom in gewyde heilige geskiedenis en Adam was die eerste priester wat tempeldiens gedoen het en oor God se tempel gewaak het (vgl. Gen 2:15; Barker 2004:10). Hy verklaar voorts dat Eden die plek was waar Adam met God gewandel en gepraat het. Met ander woorde, dit was die eerste plek waar God se teenwoordigheid tasbaar ervaar is. Beale (2004:7) meld dat die latere tempel in die Ou Testament die unieke plek van God se teenwoordigheid was. Van Dyk (2009:431) se mening stem hiermee ooreen, want hy sê die heiligheid van die tempel word verklaar in terme van die feit dat God se teenwoordigheid in die tempel as wesenlik beskou is.

In Eksodus 25:8 gee die Here die volgende opdrag aan Moses (Die Multivertaling Bybel – MVB): ‘Hulle moet vir my ’n afsonderlike tent oprig dat ek tussen hulle kan woon.’ Hierdie heiligdom het bekend gestaan as ’n ‘tabernakel’ en ‘die tent van samekoms’. Die tabernakel en die belofte van God om onder sy mense te woon, vorm die versekering (verbaal en tasbaar) dat God werklik tussen hulle is. Nadat Moses al die werk voltooi het, het ’n wolk die tabernakel oordek en die heerlikheid van die Here het dit gevul sodat Moses nie daar kon ingaan nie (Eks 25:34–35).

Die tabernakel is op ’n latere stadium vervang met die tempel in Jerusalem op grond van ’n begeerte van koning Dawid om vir God ’n permanente huis te bou. Sy seun, Salomo, het uiteindelik hierdie wens uitgevoer (Bredin 2003:45). In die narratief van 2 Kronieke 2:1–7:10 lees ons dat Salomo die tempel gebou, dit met nuwe meubilering uitgerus en die ark vanaf die tabernakel na die tempel gebring het. Nadat die priesters die ark in die Allerheiligste geplaas en dit verlaat het, het ’n wolk die tempel gevul en die priesters kon nie die tempel binnegegaan het nie omdat die heerlikheid van die Here die tempel gevul het (2 Kron 7:1–2). Die klem lê hier op die tempel as die plek van God se teenwoordigheid. Die tempel was die plek waar mense God se teenwoordigheid op tasbare wyse ervaar het. In daardie sin is die tabernakel en die tempel metafore wat God se unieke teenwoordigheid openbaar.

Die tempel as metafoor word nêrens in die profetiese geskrifte beter geïllustreer as in die boek Esegiël nie. Hierdie boek wat met die openbaring van die asemrowende teenwoordigheid van God aan ’n priester in ballingskap begin, eindig met ’n visioen van God se ideale stad met ’n nuwe naam: ‘Jahwe is daar’ (Eseg 48:35). Volgens Tuell (2009:6, 11) kan die boodskap van hierdie boek saamgevat word in die begeerte van God om in die midde van sy mense te woon en in ’n intieme verhouding met hulle te staan. Een van die uitstaande gebeurtenisse in hierdie profeet in ballingskap se lewe was sy ingrypende visioene van die heerlikheid van Jahwe (Eseg 1–3; 8–11; 40–48). In hoofstuk 1–3, met sy roeping as profeet, word Esegiël met ’n visioen oor die heerlikheid van Jahwe tussen die ballinge in Babel gekonfronteer. Hy sien wesens en wiele en ’n troon. Die betekenis van die wiele en hulle vryheid van beweging dra ’n belangrike boodskap. Jahwe se troon is nie ’n stoel nie, maar ’n voertuig. Jahwe se teenwoordigheid is verplaasbaar. Aangesien Jahwe se troon ’n voertuig is, kan Hy sy unieke teenwoordigheid laat manifesteer net waar Hy verkies om dit te doen. Vir Israel was hierdie unieke teenwoordigheid van Jahwe aan die tempel gekoppel, maar nou ervaar die profeet dat Jahwe verkies om by sy mense in ballingskap te wees. Esegiël was ’n getuie van die vertrek van God se heerlikheid vanaf die tempel en Jerusalem en daarmee saam die vertrek van sy unieke teenwoordigheid.

Die profeet Esegiël beskryf in hoofstuk 40 tot 48 ’n tempel waarin sowel ’n plan vir ’n geïdealiseerde nuwe tempel as ’n stel pseudo-Mosaïese reëls oor die manier waarop aanbidding daar gedoen sal word, geïnkorporeer is. Die profeet vertel hoedat hy in ’n bevoorregte posisie in die binneste voorhof ervaar hoe God se heerlikheid die tempel vul (Eseg 43:1–5). In sy laaste visioen sien die profeet die heerlikheid wat die visioenêre tempel binnegaan en Iemand wat vanuit die tempel ’n belofte uiter (Eseg 43:7a, MVB): ‘Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole, waar Ek vir altyd tussen die Israeliete sal lewe’. Kasher (1998:208) sê dat ’n uitstaande kenmerk van hierdie toekomstige tempel die absolute verhewe heiligheid rondom die tempel is as gevolg van God se teenwoordigheid daarbinne. Die vraag ontstaan of hierdie visie na ’n letterlike tempel verwys wat nog in die eindtye herbou sal word of nie. Vakkundiges soos Block (1998), Blenkinsopp (1990) en Beale (2004; 2005) beskou dit as ’n metaforiese tempel. Block (1998:505–506) vat dit soos volg saam: Die beskrywing van die tempel in Esegiël 40–48 is dus nie ’n bloudruk vir ’n toekomstige gebou wat met menslike hande opgerig sou word nie. Dit gaan nie hier oor fisiese geografie nie, maar oor geestelike realiteite. Esegiël se finale visioen is ’n voorstelling van ’n verhewe geestelike ideaal: Waar God is, daar is Sion. Waar God is, is daar orde en die vervulling van sy beloftes. Bowendien, waar daar vir die teenwoordigheid van God erkentlikheid is, is daar reinheid en heiligheid.

Die boodskap van God se teenwoordigheid in die Nuwe Testament kan in die woorde van Stefanus in Handelinge 7:48 (MVB) saamgevat word: ‘Die Allerhoogste woon egter nie in geboue wat met die hand gemaak is nie’. Met die verskyning van Jesus op die toneel, het Hy die teenwoordigheid van God sigbaar gemaak (Joh 1:14, 18; 2:11, 19–22; 14:9). Hy is Immanuel, ‘God met ons’ (Matt 1:23). Na Jesus se dood en opstanding het Paulus die verklaring gemaak dat die gelowige gemeenskap nou God se tempel is. Hy doen dit by drie geleenthede, naamlik in sy onbetwiste briewe in 1 Korintiërs 3:16 en 2 Korintiërs 6:16 en in sy betwiste briewe in Efesiërs 2:21–22. In I Korintiërs 6:19 verklaar hy dat die liggaam van die gelowige ’n tempel van die Heilige Gees is. Ons vind die tempelmotief in ander boeke in die Nuwe Testament soos Hebreërs en 1 Petrus ook, maar vir die doeleindes van hierdie artikel word daarmee volstaan. Die tempelmotief vind sy kulminasie in Openbaring 21:22 (MVB): ‘En ’n tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.’

Die tempelmetafoor in 1 Korintiërs 3:16–17

Paulus skryf aan die gemeente in Korinte ’n brief waarin hy hulle oor ’n verskeidenheid kwessies aanspreek. Paulus vermaan hulle oor verdeeldheid (1 Kor 1:11–13), groepvorming rondom leiers (1 Kor 3:1–9), onsedelikheid in die gemeente (1 Kor 5:1–13), hofsake tussen gemeentelede (1 Kor 6:1–8), ongerymdhede tydens die Nagmaal (1 Kor 11:17–34) en so meer. In hoofstuk 3 maak hy van metafore gebruik om die gemeente te beskryf. In vers 9 is hulle ‘God se saailand’ (geōrgion) en ‘God se gebou’ (oikodomē). In vers 16 word hierdie gebou geïdentifiseer met ‘julle is die tempel (naos) van God’. Paulus konfronteer hierdie gemeente met die volgende retoriese vraag (1 Kor. 3:16–17): Ouk oidate hoti naos theou este kai to pneuma tou theou en humin oikei? ei tis ton naon tou theou ftheirei, ftherei touton ho theos; ho gar naos tou theou hagios estin, hoitines este humeis. [Weet julle nie dat julle die tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God verwoes (skade aandoen), sal God hom verwoes (skade aandoen), want die tempel van God is heilig, wat julle ook is. (eie vertaling – PM)]. Die vraag moet nou beantwoord word of Paulus Ou-Testamentiese profetiese vervulling in gedagte gehad het. Fee (1987:147) is oortuig daarvan en maak die stelling dat die huidige ervaring van die kerk as dié plek waar die Gees woon die herstelde tempel in Esegiël se visioen is, waar die Here beloof het om tot in ewigheid by hulle te woon (Eseg 43:9). Die feit dat die heiligdom vir die volk in ballingskap nie in ’n gebou gesetel was nie, maar in God wat persoonlik tussen die mense teenwoordig was (Eseg 11:16), het waarskynlik ’n bydrae gelewer tot die hermeneutiese grond waarvolgens Paulus die gemeente in Korinte as God se heiligdom (tempel) beskryf het (Beale 2005:22). Block (1998:506) maak melding van die feit dat selfs heidense gemeenskappe onder die nuwe verbond in die lewende tempel van God getransformeer word. Hulle word die tempel van God as gevolg van die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Twee Griekse woorde, naamlik hieron en naos, wat beide met ‘tempel’ vertaal kan word, is hier van belang. Waar hieron in die Nuwe Testament altyd na die tempel in Jerusalem verwys (met uitsondering van Hand 19:27)1, wat die tempel en die aangrensende gebied met sy geboue, binnehowe en stoorkamers insluit (Louw & Nida 1989:83 7.16; vgl. ook Danker [1957] 2000:470), verwys naos volgens Liddell en Scott ([1889] 1985:524) na die woonplek van ’n god, ‘… the inmost part of a temple, the cell, in which the image of the god was placed’. Met ander woorde, dit dui op die ‘Allerheiligste’ van die tempel in Jerusalem. In die Pauliniese geskrifte is dit die woord wat gebruik word om na die gelowiges, gesamentlik en individueel, as tempel van God te verwys. Die onderskeid tussen die twee woorde was nie noodwendig in die Griekse taal van die Nuwe-Testamentiese periode aan die orde nie, maar dit lyk of die gebruik daarvan in die LXX, waar die onderskeid oor die algemeen getref is, Paulus hier beïnvloed het (Fee 1987:146). Volgens Thiselton (2000:315) word die fokus tot die kwessie van heiligheid en God se heiligmakende inwoning vernou.

Die inleidende frase, ouk oidate hoti (1 Kor 16.1a), kom 10 keer in 1 Korintiërs voor.2 Dit gee ’n aanduiding van die intensiteit van Paulus se oortuiging en sy geloof dat die beginsel wat hierin voorkom, aksiomaties vir gelowiges is (Thiselton 2000:316). Hierdie retoriese vraag impliseer dat die geloofsgemeenskap in Korinte alreeds met die inhoud daarvan vertroud was. Die geloofsgemeenskap is nie net ’n gebou wat aan God behoort nie (1 Kor 3:9), maar God se tempel; dié plek waar God se heilige teenwoordigheid in gelowiges se lewens sigbaar behoort te wees. Paulus verwys na die inwonende Heilige Gees as die wesenlike teenwoordigheid van God in die midde van die Christelike gemeenskap wat dit op ’n spesiale manier die plek van God se teenwoordigheid tussen sy mense maak (Fitsmyer 2008:202). Dit is egter duidelik met inagneming van hulle leefstyl dat hierdie gemeente dit vergeet het of hulle eenvoudig nie daaraan gesteur het nie. In wese sê Paulus vir hulle: ‘Handhaaf ’n leefstyl in ooreenstemming met wie en wat julle is.’ God se heilige teenwoordigheid is dus van die tabernakel na die tempel verplaas, en net soos Hy sy heilige teenwoordigheid in die persoon van Jesus openbaar het, doen Hy dit nou deur die geloofsgemeenskap.

Die metafoor dui daarop dat die geloofsgemeenskap se identiteit gesetel is in die feit dat hulle dié tempel van God is en die inwonende Heilige Gees maak dat God dus binne die geloofsgemeenskap teenwoordig is. Dit het ’n toegewyde, deugsame etos tot gevolg. Die geloofsgemeenskap is dié plek waar God se spesiale teenwoordigheid gedemonstreer word, want die Heilige Gees woon onder en in hulle. God se heilige teenwoordigheid is nou nie meer tot plek en ruimte beperk nie, want sy openbaring vind gestalte waar sy kinders teenwoordig is. Net soos God se heerlikheid op ’n unieke wyse in die tempel in Jerusalem teenwoordig was, behoort dit nou in die Korintiërs se leefstyl gesamentlik sowel as individueel te manifesteer, aangesien hulle die nuwe tempel is (Beale 2004:252). Die Korintiërs se leefstyl het niks hiervan gereflekteer nie en daarom die retoriese vraag: ‘Weet julle nie …? (1 Kor 3:16).

Paulus maak ’n verbasende stelling in vers 17. Hy verklaar dat die verdeelde, hoogmoedige, sondige Korintiërs ‘heilig’ is. Aangesien God se tempel heilig is en hulle daardie tempel is, is hulle ook heilig (vgl. ook 1 Kor 1:2). Die woord ‘heilig’ word tot vandag toe heeltemal misverstaan en ’n mens hoor dikwels uitsprake soos ’niemand kan heilig wees nie’ en dít selfs binne die gelowige gemeenskap. Die woord ‘heilig’ dui op toewyding. Met ander woorde, om na ’n Christen as heilig te verwys, beteken dat so ’n persoon in toewyding aan God leef, en ’n heilige gemeenskap is ’n gemeenskap wat aan God toegewy is. Wanneer Paulus na die Korintiërs as heilig verwys, dui dit op ’n geloofsgemeenskap wat aan God behoort, afgesonder vir sy diens, met ander woorde, ’n toegewyde gemeenskap. Hierdie toewyding is egter ’n lewensproses (vgl. 1 Tim 4:7–8) wat as heiligmaking bekend staan. Volgens Du Rand (2013:428) vind heiligmaking as ’n proses plaas wanneer die Heilige Gees ‘… aan iemand se gees beitel om die Christusbeeld duideliker uit te bring’. Die gelowige word eenmalig deur die wedergeboorte in Christus geheilig, maar die proses gaan voort deur die wegbeiteling van die skerper kante. Dit is hierdie proses wat by die gemeente in Korinte afwesig was. Hierdie proses van heiligmaking kan ook ’n heilige leefstyl of ’n heilige etos genoem word. Die groep mense wat deur ’n heilige etos gekenmerk word, is dus mense wat in toewyding aan God leef.

Paulus waarsku die gemeente in vers 17 dat diegene wat verdeeldheid in die hand werk, besig is om God se tempel in Korinte te verwoes. Sodanige persone veroorsaak groot skade en speel met vuur, want God sal hulle ook verwoes. Volgens Ciampa en Rosner (2010:161) beteken die verwoesting van God se tempel dat iemand ’n negatiewe impak op gelowiges se geestelike welsyn het. Daardeur word ’n persoon van sy ‘genade en vrede’ (1 Kor 1:2), wat elke gelowige se erfenis is, beroof. Wat duidelik in vers 17 uitstaan, is die gepaste straf vir die oortreding: ‘as iemand die tempel verwoes, … sal God hom verwoes’. Die rede waarom God iemand sal verwoes wat sy kerk verwoes, het betrekking op die heilige status van die kerk (‘want die tempel van God is heilig, wat julle ook is’). Die feit dat die kerk ‘heilig’ genoem word, onderstreep die waarde wat God aan sy kerk heg. Die kerk (sy tempel) is baie spesiaal, want dit behoort aan die Here.

Die metafoor naos theou este in etiese perspektief

Om hierdie metafoor vanuit ’n etiese oogpunt in perspektief te kry, is daar twee begrippe van belang, naamlik identiteit en etos. Identiteit is verwant aan die vraag ‘wie is ek of ons?’ Identiteit verwys na ’n persoon of persone se siening van hulleself of homself of haarself asook die motivering waarom die persoon nou juis daardie spesifieke siening het? ’n Persoon se identiteit het ’n direkte en bepalende invloed op etos en etiek (Van der Watt 2006:vi). Die kern van Christelike identiteit lê in ’n innerlike hartsverandering wat volg op geloof in die verrese Jesus wat ’n leefstyl onder beheer van die inwonende Gees tot gevolg het (vgl. Gal 5:25, Nuwe Afrikaanse Vertaling). Die inwonende Heilige Gees gee aan die Kerk haar heilige – afgesonder vir God as instrument van verlossing – identiteit. Hierdie heiligheid raak pertinent die Kerk se aansien en leefstyl (1 Pet 1:15–16). Dit is ook bepalend vir gelowiges as getuies van Jesus Christus in ’n postmoderne leefwêreld (Du Rand 2013:412). Etos dui ‘… op die wyse waarop ’n bepaalde groep mense hulle oortuigings aangaande reg en verkeerd, goed en kwaad, uitleef’ (Smit 1992:303–304). Etos is dus die leefstyl wat ’n bepaalde groep mense handhaaf. In die Skrifgedeelte hier ter sprake (1 Kor. 3:16–17), tree identiteit en etos duidelik na vore. Die gemeente is tempel van God (hulle identiteit) en as tempel is hulle heilig (etos – ’n heilige leefstyl). Na my mening bied hierdie teksgedeelte (1 Kor 3:16–17) die oplossing vir die meeste van die negatiewe kwessies binne hierdie gemeente. Dit is duidelik dat die Korintiërs die begrip van hulle ware identiteit verloor het. As hulle begryp het wie hulle is (die tempel van God) en wie in hulle woon (die Heilige Gees) en dit met erns bejeën het, sou ’n heilige leefstyl ’n noodwendige gevolg gewees het. Etici oor die spektrum heen stem saam dat die identiteit van ’n groep essensieel vir hulle morele vorming is. ’n Opsomming van die logika van Paulus se etiek is die gesegde: ‘Word wat julle is.’

Dit geld ook vir die Kerk van vandag. As die gelowige gemeenskap waarlik besef dat hulle die tempel van God is, dié plek waar God se spesiale teenwoordigheid openbaar word, sal baie van die morele ongerymdhede wat dikwels in die geledere van die Kerk gevind word soos mis voor die son verdwyn. Daar kan met reg vir die gelowige gemeenskap gesê word dat hulle moet word wie en wat hulle is. Dit sal in ’n baie groot mate die Kerk se geloofwaardigheid binne ’n sekulêre gemeenskap herstel. Die inwonende Heilige Gees maak van die gelowige gemeenskap tot vandag nog die tempel van God. Dit is God se Gees wat gelowiges die begrip gee van hulle identiteit as die Here se spesiale besitting (Saucy 2011:95). Dit is sy teenwoordigheid binne die gelowige gemeenskap wat van hulle die tempel van God maak.

Hierdie metafoor konfronteer die gelowige gemeenskap vandag nog in ’n postmoderne leefwêreld. Gelowiges moet besef dat die Bybelse teks nie net ’n historiese dokument is wat as ’n venster dien om na die antieke wêreld van Paulus, die Korintiërs en die Grieks-Romeinse konteks te kyk nie, maar dat dit ook ’n spieël van ons wêreld en geloof is. Paulus se doelwit met hierdie skrywe was om ’n betoog te lewer wat sou help om die Korintiërs se harte en denke geheel en al te transformeer sodat hulle waarlik sou verstaan dat hulle God se tempel is en ’n leefstyl sou handhaaf soos gelowiges waarin God se Gees woon. Ons leer net die ware betekenis van die teks ‘… if we submit ourselves to its power in such a way that we are changed by it’ (Crocker 2004:10, 46). So ’n getransformeerde Kerk word ’n lewende metafoor van die krag van God waarvan die teks ook getuienis dra – die teks vorm die gemeenskap en die gemeenskap vergestalt die betekenis van die teks. So ’n gemeenskap van gelowiges sal ’n lewende verkondiging van die Evangelie aan die wêreld wees en die vorming van sulke gemeenskappe is die belangrikste hermeneutiese taak (Hays 1996:304–306). As Paulus se verwagting daarin gelê het dat die gemeente in Korinte as tempel van God ’n heilige leefstyl sou handhaaf, kan ons met reg aanneem dat dit ook op die hedendaagse gelowige gemeenskap van toepassing is. ’n Heilige leefstyl (’n leefstyl toegewy aan God) is vandag nog net so gebiedend noodsaaklik soos in antieke tye.

Die aanleidende oorsaak van die konfrontasie tussen hierdie Skrifgedeelte en die gelowige gemeenskap van vandag om te transformeer, lê daarin dat die hedendaagse Kerk net soos die Korintiërs nie ’n leefstyl handhaaf wat met God se wil ooreenstem nie. Daar bestaan baie maniere waarop die Kerk (God se tempel) skade kan lei: partyskappe, kettery, die verwatering van die kruisboodskap en om minder belangrike items voorrang te laat geniet. Om die Kerk te bou met oppervlakkige ‘bekerings’ en programme wat nie mense se kennis van God laat verdiep nie, sal dit ook doen. Om mense te vermaak sonder om ooit die belangrikheid van ’n heilige leefstyl en opofferende liefde te beklemtoon, sal ’n gemeenskap van godsdienstige mense bou maar die Kerk van die lewende God vernietig. Kwaadpratery, biddeloosheid, Bybelse ongeletterdheid, selfverheffing en materialisme is alles bydraende faktore wat die Kerk van binne af vernietig (Carson 1993:83–84). Hierdie aangeleenthede kom vandag te dikwels in die geledere van die gelowige gemeenskap voor en daarom moet die hermeneutiese waarde van 1 Korintiërs 3:16–17 nie gering geskat word nie. Inteendeel, as ’n deelnemer in die kerklike opset dink ek dat hierdie verse vandag nog meer van toepassing is as wat dit destyds die geval was. In hierdie tydsbedeling bly dit nog die belangrikste advertensie vir die goeie nuus: ’n gemeenskap van gelowiges waar God se spesiale teenwoordigheid deur hulle heilige leefstyl sigbaar gemaak word. Dit impliseer ’n leefstyl in ooreenstemming met hulle belydenis. Hierdie leefstyl vind ook uitdrukking in funksionaliteit. Die gelowige gemeenskap behoort ook hulle lewe te wy aan goeie dade waarvoor hulle bestem is (Ef 2:10). Die gelowige gemeenskap se funksionaliteit openbaar hulle identiteit as God se tempel sowel as die heilige etos waaraan hulle deel het. Die gelowiges se belydenis word nou sigbaar in hierdie stukkende wêreld waarin hulle leef.

Kan die metafoor ‘julle is die tempel van God’ as ’n etiese kernmoment in die postmoderne leefwêreld dien? Die Christelike gemeenskap is die tempel van God waarin die Heilige Gees woon. Dit is ’n gegewe. Dit is die gelowiges se identiteit. Die tempel is heilig en daarom is hierdie gemeenskap ook heilig. Dit is ’n gegewe. Hierdie heiligheid moet nou deur die krag van die Heilige Gees in hierdie gemeenskap se leefstyl reflekteer word. Dit is hulle etos. Hierdie leefstyl behoort ‘in such a mesmerisingly beautiful way’ geleef te word dat diegene wat dit sien en daarvan hoor nie anders kan as om meer van Christus te wil weet nie (Cameron 2007:24). Dit is ’n leefstyl in lyn met die gelowige gemeenskap se belydenis. Hierdie heilige etos vind ook uitdrukking in funksionaliteit: ’n gelowige gemeenskap wat aktief betrokke is binne die gemeenskap waarin hulle leef. Dit is geloof in aksie. Efesiërs 2:10 stel dit so: ktisthentes en Christō Iēsou epi ergois agathois [geskape in Christus Jesus vir goeie werke (eie vertaling – PM)]. Goeie werke bring nie redding nie, dit is ’n noodwendige gevolg van redding soos Snodgrass (1996:121) dit tereg stel: ‘salvation is not from works, but is for good works’. Gelowiges wat hulle identiteit waarlik begryp as God se tempel waarin die Heilige Gees woon, sal ’n heilige leefstyl handhaaf deur die krag wat die Gees verleen. Dit is ’n produktiewe leefstyl wat God se voornemens met die mensdom tot uitvoering bring. Ek glo so ’n leefstyl is die antwoord om ’n postmoderne samelewing van die waarheid van die Evangelie te oortuig. Volgens Beale (2005:31) is die taak van die Kerk om God se tempel te wees, so gevul met sy teenwoordigheid dat die Kerk sal uitbrei en die wêreld met God se teenwoordigheid gevul word. Dan sal die samelewing sien en ervaar dat die gelowige gemeenskap volgens hulle belydenis leef.

Samevatting

Die tempelmotief speel regdeur die Christelike kanon ’n prominente rol. God se spesiale teenwoordigheid en heiligheid is veral eienskappe wat aan die tempel toegeskryf word. God se begeerte om tussen sy mense te woon, het die bou van die tabernakel tot gevolg gehad. Salomo se tempel het die tent-tabernakel vervang en na die vernietiging van hierdie tempel, is ’n tweede tempel gebou wat deur Herodes opgeknap is. Met die koms van Jesus is God se spesiale teenwoordigheid en heiligheid in Hom geopenbaar. Hy was die absolute voorbeeld van ’n lewe toegewy aan God. Na sy dood, opstanding en hemelvaart, verklaar Paulus en ander Nuwe-Testamentiese skrywers dat die gelowiges as gemeenskappe en as individue die rol van die tempel oorgeneem het. Dit is selfs gedoen terwyl die tempel in Jerusalem nog gestaan het. Hierdie tweede tempel is ook vernietig en die Kerk is tot vandag toe God se tempel waarin die Heilige Gees woon. ’n Heilige leefstyl is die noodwendige gevolg van die inwonende Gees. Paulus se waarskuwing dat enige persoon wat die tempel skade aandoen ook skade sal ervaar, is vandag nog van toepassing. Die gelowige gemeenskap moet waak teen enige verdeeldheid, hoogmoed en aardse wysheid in hulle geledere, want dit is dinge soos hierdie wat ernstige skade aan God se tempel (die Kerk) doen. Die heilige etos van die gelowige gemeenskap is die spieëlbeeld dat God werklik deur die Gees onder hulle woon. Dit is ’n funksionele leefstyl wat uitdrukking vind in die goeie werke van die gelowiges. Hierdie metafoor is dus ’n etiese kernmoment in ’n postmoderne leefwêreld en dit gee uitdrukking aan die identiteit en etos van die gelowige gemeenskap. Wanneer die Christelike gemeenskap as lewende tempels binne hierdie postmoderne leefwêreld so ’n heilige leefstyl handhaaf, sal ’n gebroke wêreld die bewoording kan ervaar wat 54 keer in Esegiël voorkom: ‘Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.’

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Avis, P., 1999, God and the creative imagination: Metaphor, symbol and myth in religion and theology, Routledge, London. http://dx.doi.org/10.4324/9780203279373

Barker, M., 2004, ‘Temple of creation’, viewed 10 June 2015, from www.margaretbaker.com › Papers

Beale, G.K., 2004, The temple and the churchs mission: A biblical theology of the dwelling place of God, InterVarsity, Downers Grove. (New Studies in Biblical Theology 17).

Beale, G.K., 2005, ‘Eden, the temple, and the church's mission in the new creation’, Journal of the Evangelical Theological Society 48(1), 5–31.

Blenkinsopp, J., 1990, Ezekiel, John Knox, Louisville. (Interpretation).

Block, D.I., 1998, The Book of Ezekiel, chapters 2548, Eerdmans, Grand Rapids. [The New International Commentary on the Old Testament].

Bredin, M.R., 2003. ‘John's account of Jesus’ demonstration in the temple: Violent or nonviolent?’, Biblical Theology Bulletin 33(2), 44–50.

Brueggemann, W., 2005, ‘Biblical authority in the postcritical period (1992)’, in P.D. Miller (ed.), The book that breathes new life: Scriptural authority and biblical theology, pp. 3–19, Fortress, Minneapolis.

Caird, G.B., 1980, The language and imagery of the Bible, Westminster, Philadelphia.

Cameron, A.J.B., 2007, ‘How to say YES to the world: Toward a new way forward in evangelical social ethics’, Reformed Theological Review 66(1), 23–36.

Carson, D.A., 1993, The cross and Christian ministry: An exposition of passages from 1 Corinthians, Baker, Grand Rapids.

Ciampa, R.E. & Rosner, B.S., 2010, The first letter to the Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids. (The Pillar New Testament Commentary).

Crocker, C.C., 2004, Reading 1 Corinthians in the twenty-first century, T&T Clark, London.

Danker, F.W. (ed.), [1957] 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, rev. 3rd edn., based on Walter Bauer's Griechisch-deutsches Wörterbuch zu den Schriften des Neuen Testaments und der frühchristlichen Literatur, 6th edn., ed. By Kurt Aland and Barbara Aland, with Viktor Reichmann and previous English editions by WF Arndt, FW Gingrich and FW Danker, The University of Chicago, Chicago.

Du Rand, J.A, 2005, ‘Interpreting and understanding the Bible’, in J.A. Du Rand (ed.), Coming to grips with the world and text of the Bible, pp. 148–228, RAU, Johannesburg.

Du Rand, J.A., 2013, Die einde, CUM, Vereeniging.

Fee, G.D., 1987, The first epistle to the Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids. (The New International Commentary on the New Testament).

Fitsmyer, J.A., 2008, First Corinthians: A new translation with introduction and commentary, Yale University, New Haven. (The Anchor Yale Bible, vol. 32).

Gibbs, E., 2000, Church next, InterVarsity, Downers Grove.

Hays, R.B., 1996, The moral vision of the New Testament, Harper, San Francisco.

Kasher, R., 1998, ‘Anthropomorphism, holiness and cult: A new look at Ezekiel 40–48’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft 110(1), 192–208. http://dx.doi.org/10.1515/zatw.1998.110.2.192

Lewis, R., 2001, The church of irresistible influence, Zondervan, Grand Rapids.

Liddell, H.G. & Scott, R., [1889] 1985, An intermediate Greek-English lexicon, founded upon the 7th edn. of Liddell and Scotts Greek-English Lexicon, Clarendon, Oxford.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1989, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, vol. 1 & 2, South African Bible Society, Cape Town.

Marshall, I.H., 1977, ‘Editor's foreword’, in I.H. Marshall (ed.), New Testament interpretation: Essays in principles and methods, pp. 8–9, The Paternoster, Exeter.

McFague, S., 1982, Metaphorical language: Models of God in religious language, Fortress, Philadelphia.

McLaren, B.D., 2000, The church on the other side, Zondervan, Grand Rapids.

Meeks, W.A., 1993, The origins of Christian morality: The first two centuries, Yale, New Haven.

Ricoeur, P., 1977, The rule of metaphor, transl. R. Czerny with K. McLaughlin and J. Costello, University of Toronto, Toronto.

Saucy, M.R., 2011, ‘Regnum spiriti: The role of the Spirit in the social ethics of the Kingdom’, Journal of the Evangelical Theological Society 54(1), 89–108.

Smit, D.J., 1992, ‘Oor “Nuwe-Testamentiese etiek”, die Christelike lewe en Suid Afrika vandag’, in C. Breytenbach & B. Lategan (reds.), Geloof en opdrag: Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament, pp. 303–325, Scriptura, Spesiale Uitgawe.

Snodgrass, K.R., 1996, The NIV application commentary: Ephesians, Zondervan, Grand Rapids.

Snodgrass, K.R., 2002, ‘Reading to hear: A hermeneutics of hearing’, Horizons of Biblical Theology 24, 1–32. http://dx.doi.org/10.1163/187122002X00016

Sweet, L., 1999, Soul tsunami, Zondervan, Grand Rapids.

Thiselton, A.C., 2000, The first epistle to the Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids. (The New International Greek Text Commentary).

Thiselton, A.C., 2006, ‘The significance of recent research on 1 Corinthians for hermeneutical appropriation of this epistle today’, Neotestamentica 40(2), 320–352.

Tuell, S., 2009, Ezekiel, Hendrickson, Peabody. (New International Biblical Commentary).

Van der Watt, J.G., 2000, Family of the King: Dynamics of the metaphor in the gospel according to John, Brill, Leiden.

Van der Watt, J.G., 2005, ‘Huidige uitdagings vir die Ned Geref Kerk rakende fasette van Skrifhantering’, Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 46(2), 247–259.

Van der Watt, J.G., 2006, ‘Preface’, in J.G. van der Watt (ed., assisted by F.S. Malan), Identity, ethics, and ethos in the New Testament, pp. v–ix, Walter de Gruyter, Berlin. (Beihefte zur Zeitschrift für die neutestamentliche Wissenschaft, Band 141).

Van Dyk, P., 2009, ‘Creation, temple and magic, A magico-mythical reading of Genesis 1’, Old Testament Essays 22(2), 422–436.

Wheelwright, P., 1962, Metaphor and reality, Indiana University Press, Indiana.

Footnotes

1. ’n Verwysing na die tempel van Artemis in Efese.

2. Vergelyk ook 1 Korintiërs 5:6; 6:2, 3, 9, 15, 16, 19 en 9:13, 24 (Thiselton 2000:316). Paulus gebruik dieselfde aanspreekvorm in Romeine 6:16.



Crossref Citations

No related citations found.