Abstract
Φανερόω as a word denoting the second coming in the New Testament. The purpose of this article is to exegetically determine the meaning and use of φανερόω as a word, denoting the second coming, according to the revelation-historical tradition. A definition of the meaning of φανερόω is formulated following a word study that has been done in a diachronic and synchronic way. Furthermore, translation possibilities for φανερόω in Afrikaans are suggested. In this article, it is also cursorily established what the telos of the revelation of the second coming is where the word φανερόω is used in the New Testament. The findings of the research are: A definition of the meaning of φανερόω as a word for the second coming: It is the deliberate, visible self-revelation of Jesus Christ in public with his second coming, so that God, his Name and his works can be fully known, fulfilled and realised. Two translation possibilities in Afrikaans are proposed. When using a phrase, the following translation possibility is offered: ‘Die openbaring van Jesus Christus met sy wederkoms’ [The revelation of Jesus Christ at his second coming]. If the chosen translation method allows only one word, then ‘wederkomsopenbaring’ [revelation at the second coming] is suggested as a translation possibility. The telos of the revelation of the second coming by means of φανερόω is determined as: To convey knowledge about the second coming; as encouragement to be focused on heavenly things; as encouragement to serve faithfully; as encouragement that service will be rewarded with glory; as an encouragement to persevere in Christ so that believers may have boldness (the right of access) at the second coming; as encouragement to repentance; [kerugma], which leads to the certainty of faith, joy and the strengthening of faith; and so that believers will live holy.
Contribution: By means of exegesis in the revelation-historical tradition an original, theological definition of the meaning of φανερόω is provided and the telos of the revelation of the second coming, by means of φανερόω, is determined. Suggestions of how to translate φανερόω in the context of the second coming in Afrikaans, is also provided.
Keywords: parousia; phaneroō; telos; definition of meaning; second coming Ἀποκάλυπτω; ἀποκαλύψισ, ἐπιφάνεια, παρουσία; φανερόω.
Inleiding
Wêreldwyd bely Christene aan die hand van die Apostoliese Geloofsbelydenis dat hulle glo Jesus Christus gaan terugkom. Hierdie vooruitgesiene gebeurtenis staan in die volksmond bekend as die wederkoms. Hierdie belydenis oor die wederkoms steun op God se besondere openbaring in die Nuwe Testament dat die Here Jesus aan die einde van die tyd weer gaan kom. Die wederkomsopenbaring vorm ’n integrale deel van die openbaring van God in die Nuwe Testament (Van Rhyn 2021a:1). Om die Here aktief uit die hemel te verwag, vorm dus ook ’n integrale deel van die ware geloof (Van Rhyn 2017:60). Die geloof aan die wederkoms van die Here Jesus vorm net so deel van die inhoud van die ware geloof, as wat die geloof in die Here se sterwe en opstanding deel vorm van die inhoud van die ware geloof. Dit word ook so in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely. Die wederkoms neem verder ook ’n integrale plek in die raadsplan van God in (Van Rhyn 2017:239). Die vervulling van God se beloftes en die voltooiing van God se raadsplan vind juis gestalte in die wederkoms van die Here Jesus (Van Rhyn 2017:135–136).
Dit is egter opvallend dat die wederkoms met verskillende Griekse woorde of sinsnedes in die Nuwe Testament weergegee word. Die vernaamste woorde waarmee die wederkoms gewoonlik weergegee word, is ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις, ἐπιφάνεια, ἒρχομαι, ἡμέρα, παρουσία en φανερόω (Van Rhyn 2017:30). Nie een van hierdie woorde kan egter direk met wederkoms vertaal word nie (Van Rhyn & Jordaan 2020:1), maar elkeen verwys in ’n spesifieke konteks na dieselfde heilsgebeurtenis, naamlik die terugkoms van die Here Jesus in heerlikheid (Van Rhyn 2021a:1).
Navorsing oor waarom daar verskillende woorde in die oorspronklike taal gebruik word vir dieselfde saak, naamlik dié van die wederkoms, weer te gee, behoort verhelderend te wees. In ’n vorige artikel (Van Rhyn & Jordaan 2020:1) is voorgestel dat dit nodig is om ondersoek in te stel of die gebruik van die verskillende woorde ’n saak van willekeur is, en of elkeen van hierdie woorde nie dalk ’n spesifieke aspek of aspekte van die wederkoms belig nie. Die moontlikheid dat verskillende openbaringsdoelwitte in die gebruik van die verskillende woorde opgesluit mag lê, moet dus openbaringshistories ondersoek word (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).
Die navorsing in hierdie artikel, soos ook in die voriges in die reeks, word in die reformatoriese tradisie gedoen deur openbaringshistories en eksegeties te werk te gaan. Die uiteindelike doelwit van die navorsingsproses, waarvan hierdie artikel ’n onderdeel vorm, is om die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar te vergelyk.
Die eerste stap van so ’n ondersoek na die moontlike ooreenkomste en verskille in die betekenis en gebruik van die verskillende wederkomswoorde in die Nuwe Testament, sou wees om ’n indringende woordstudie van elkeen van hierdie betrokke wederkomswoorde te doen. Die doel hiermee sou wees om die betekenisdefinisies van die verskillende woorde met mekaar te vergelyk.’n Betekenisdefinisie dui op ‘’n sistematiese samevatting van die teologiese betekenis van die betrokke woord, soos blyk uit die verskillende kontekste waarin die woord in die Nuwe Testament gebruik word’ (Van Rhyn 2021b:1).
Deur die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar te vergelyk, kan vasgestel word of daar nuanseverskille in die betekenis van hierdie woorde opgesluit lê. Voorts kan daar ook vasgestel word wát die implikasies van die moontlike verskille, vir die verstaan van die wederkomsopenbaring is (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).
Daar is alreeds met so ’n proses begin, en ’n betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord, is deur Van Rhyn en Jordaan (2020) daargestel:
Dit is die sigbare wederkoms en troosvolle teenwoordig wees van Jesus Christus, vanuit die hemel, by sy mense op aarde, aan die einde van die tyd, in heerlikheid as Goddelike Regeerder, Koning, Oorwinnaar, Regter en Here, waarvoor sy mense voorberei het, wat gepaard sal gaan met lofprysing en eerbewys, wat sy volgelinge met hoop sal vervul omdat Hy hulle omstandighede sal verander deur hulle vir ewig te verlos. (p. 8)
Die proses is nog verder gevoer in Van Rhyn (2021b), deur ’n betekenisdefinisie van ἐπιφάνεια daar te stel:
Dit is die skielike, onverwagse en sigbare verskyning en ingryping van Jesus Christus as God met sy wederkoms in manjifieke heerlikheid om te oordeel, sy vyande te vernietig en die gelowiges te verlos. (p. 4–5)
Van Rhyn (2021a) voer die proses nóg verder deur ’n betekenisdefinisie van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις te formuleer, naamlik:
Dit is die drie-enige God se finale selfopenbaring in Jesus Christus met sy wederkoms, in heerlikheid, sodat sy Woord, sy raadsplan, sy verbond en sy beloftes volledig geopenbaar, vervul en verwesenlik kan wees en Hy vir ewig in gemeenskap met sy kinders kan wees. (p. 6)
Die doel van hierdie artikel is dus om die proses van eksegetiese navorsing oor die gebruik van wederkomswoorde in die Nuwe Testament voort te sit, deur op φανερόω as wederkomswoord te fokus. Waar παρουσία waarskynlik die prins onder die wederkomswoorde is, wil dit voorkom of φανερόω eintlik die stiefkind is. In die Nuwe Testament gebruik Paulus, Petrus en Johannes wel φανερόω met verwysing na die wederkoms, maar net by wyse van uitsondering. Paulus en Petrus doen dit albei net ’n enkele keer en Johannes slegs twee keer (Bauer et al. 2000:1048). Die betrokke Skrifgedeeltes kom later in hierdie artikel aan die orde. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie artikel soos wat die titel ook aandui, net op die gebruik van φανερόω in die konteks van die wederkoms van Jesus Christus fokus.
Hierdie artikel kan dus as ’n navorsingsverslag oor die betekenis en gebruik van φανερόω as wederkomswoord in die Nuwe Testament beskou word. In die eerste afdeling van die artikel, word ’n betekenisdefinisie van φανερόω as wederkomswoord geformuleer. In die tweede deel van die artikel, word vertalingsmoontlikhede voorgestel en die gebruik van φανερόω as wederkomswoord in die Nuwe Testament word nagegaan, om kursories vas te stel wat die telos (openbaringsdoelwit[te]) van die wederkomsverkondiging aan die hand van φανερόω is.
Die woordstudie word – volgens die metode wat Janse van Rensburg et al. (2011:160–173) voorstel – in twee afdelings afgehandel. Die genoemde metode stel die gebruik van slegs twee woordeboeke vir Nuwe Testamentiese woordstudie voor. Vir die diakroniese woordstudie word die Theological dictionary of the New Testament (TDNT) van Kittel, Friedrich en Bromily (1964) voorgestel. Vir die sinkroniese woordstudie word die semantiese woordeboek van Louw en Nida (1996a; 1996b), getiteld Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, gebruik.
Eerstens word ’n diakroniese woordstudie gedoen, wat die ontwikkeling van die betekenis en die gebruik van die betrokke woord deur die eeue probeer vasstel. Daarna volg ’n sinkroniese woordstudie, wat die betekenis en die gebruik van die woord in die Nuwe Testament en die vroeg-Christelike era probeer vasstel.
Woordstudie van φανερόω
Diakroniese woordstudie
Theological dictionary of the New Testament (1964)
Uit die deeglike navorsing wat Bultmann en Lührmann (1964:3–6) in die TDNT oor die betekenis en die gebruik van die woord φανερόω gedoen het, blyk die volgende: slegs enkele voorbeelde van die gebruik van die woord kom buite die Nuwe Testament voor. Die woord kom gewoonlik voor as die vertaling van גלה, wat gewoonlik met ἀποκαλύπτω vertaal word. ‘As a denominative verb of φανερός (→ 2, 15 ff.) in -όω, it has causative significance “to make visible what is invisible”’. Die passiewe vorm beteken ‘om sigbaar te maak en geopenbaar te word’. Op sy beurt beteken die aktiewe vorm, ‘om te verskyn’. Die teenoorgestelde is dan om versteek en onsigbaar te wees.
Alhoewel die gebruik van φανερόω buite die Nuwe Testament skaars is, is dit opvallend hoe gereeld die woord buite die konteks van die wederkoms in die Nuwe Testament en in vroeg-Christelike literatuur voorkom, aldus Bultmann en Lührmann (1964:3). Hulle verwys na die volgende: in Markus 4:22 word dit gebruik in verband met die ‘versteekte’ betekenis van gelykenisse (vgl. Mark 4:11) wat bekend sal word, of geopenbaar sal word.
Paulus gebruik φανερόω en ἀποκαλύπτω as sinonieme. In 2 Korintiërs word φανερόω nege keer gebruik in die sin van openbaring of bekendmaking, veral deur prediking. (In ’n opvolgartikel sal die uiteindelike vergelyking van die betekenisdefinisies van hierdie twee verskillende wederkomswoorde, φανερόω en ἀποκαλύπτω, aantoon of die aanname korrek is dat hulle as sinonieme beskou kan word).
In die Evangelie volgens Johannes kom ἀποκαλύπτω nie vóór die aanhaling uit Jesaja 53:1 in Johannes 12:38 voor nie, maar die gebruik van φανερόω, daarteenoor, is weer baie algemeen soos Bultmann en Lührmann (1964) dit stel:
There is a manifestation before all eyes (Jn. 7:4). Jesus discloses the divine reality, the name of God (17:6) and the works of God (3:21; 9:3). According to John all Jesus’ work may be called revelation … In the supplementary chapter (21:1, 14) φανερόω refers to the appearances of the Risen Lord …’ (p. 4)
In teenstelling met sy Evangelie, gebruik Johannes ook φανερόω in sy eerste brief vir openbaring wat nog moet plaasvind (1 Joh 2:28; 3:2), aldus Bultmann en Lührmann (1964:5).
In Openbaring kom die passief van φανερόω twee keer voor, met die betekenis van ‘sigbaar word’. In hierdie verband stel Bultmann en Lührmann (1964:5) dit soos volg: ‘… with no theological significance at 3:18, and in a hymn: ὅτι τὰ δικαιώματά σου ἐφανερώθησαν at 15:4’.
Die ná-apostoliese vaders gebruik egter die begrip om aan te dui dat Jesus Christus God se genade en almag openbaar of bekendmaak (Bultmann & Lührmann 1964:6).
Aangesien φανερόω as sinoniem vir ἀποκαλύπτω gebruik word, en verwys na openbarings wat doelbewus plaasvind, aldus Bultmann en Lührmann (1964:4), kan daar dus verwag word dat die betekenisdefinisie van φανερόω as ’n wederkomswoord baie nou aan dié van ἀποκαλύπτω verwant sal wees. Die verskille, indien enige, behoort duidelik uit die resultaat van die navorsing te blyk, waarvan hierdie artikel ’n onderdeel vorm.
Sinkroniese woordstudie van φανερόω
Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains
Die woordeboek van Louw en Nida (1996a; 1996b) is ’n semantiese woordeboek. Dit is juis waarom die waarde van die woordeboek lê in die feit dat insig in die betekenis van ’n woord verkry word, deur die betekenisdomeine (hoofdomeine en subdomeine) waar die woord ingedeel word, met omliggende domeine te vergelyk. Die proses word ook in hierdie afdeling van die artikel toegepas.
Louw en Nida (1996b:255) gee die vertaling van φανερόω aan as [cause to be seen: 24.19] en [make known: 28.36]. Twee hoofdomeine is dus hier ter sprake. Die eerste vertalingsmoontlikheid word in die hoofdomein ‘24. Sensory events and states’ (Louw & Nida 1996a:277) ingedeel. By hierdie hoofdomein is daar ’n voetnoot wat daarop wys dat hierdie hoofdomein sensoriese gebeure en toestande omvat wat al vyf sintuie, of ’n kombinasie daarvan, raak. Die voorafgaande hoofdomein is ‘23. Physiological processes and states’ (Louw & Nida 1996a:248), en die hoofdomein wat op 24 volg, is ‘25. Attitudes and emotions’ (Louw & Nida 1996a:288). Daar kan derhalwe nie veel afgelei word omtrent die betekenis van φανερόω deur ’n vergelyking met die omliggende hoofdomeine te tref nie, behalwe dat die wederkoms ’n sensories-waarneembare gebeurtenis sal wees.
Die eerste vertalingsmoontlikheid, ‘cause to be seen’, word by A, genaamd ‘See’, ingedeel. Die subdomein ‘Sien’, waarby φανερόω ingedeel is, het ook ’n voetnoot. Hiervolgens gaan dit in die subdomein nie net oor sien en om gesien te word nie, maar ook oor die vermoë om te sien of nie te sien nie. Juis hierom is begrippe soos sigbaar en onsigbaar ook hierby inbegrepe, sowel as begrippe om binne die gesigsveld te kom.
Indien die verskillende subdomeine met mekaar vergelyk word, blyk dit dat φανερόω veral op die sintuig van sig ’n indruk maak. Die gevolgtrekking kan daarom gemaak word dat φανερόω gebruik word om die sigbaarheid van ons Here Jesus met sy wederkoms te beklemtoon.
Die eerste betekenismoontlikheid word soos volg verklaar (Louw & Nida 1996a:279), ‘24.19 φανερόωa; ἐμφανίζω [to cause to become visible - to make appear, to make visible, to cause to be seen]’.
Die volgende voorbeelde word deur Louw en Nida (1996a) aangedui:
φανερόωa: μετὰ ταῦτα ἐφανέρωσεν ἑαυτὸν πάλιν ὁ Ἰησοῦς τοῖς μαθηταῖς – after this, Jesus appeared (literally ‘made himself visible’) once more to his disciples Jn 21:1. In a number of languages the meaning of ‘appeared to’ must be expressed as two closely related events, so that in Jn 21:1 it may be necessary to translate ‘Jesus came and was seen once more by his disciples’ or ‘Jesus came and once more his disciples saw him’. (p. 279)
Aangesien hier dus ’n doelbewuste daad by betrokke is om iets of iemand sigbaar te maak of te laat verskyn, kan hierdie vertalingsmoontlikheid beslis op die wederkoms van toepassing gemaak word.
Indien 24.19 met die ander 50 woorde wat in subdomein A geplaas is (24.1–24.51; Louw & Nida 1996a:277–282), vergelyk word, word die volgende duidelik: Al die woorde het te doen met sien, waarneem of verskyn. Die sintuiglike waarneming van sien, word dus beklemtoon. By φανερόω is daar egter ’n oorsaaklike element teenwoordig: om te veroorsaak dat iets gesien word.
Ἐπιφάνεια (24.21), een van die ander woorde wat gebruik word om na die wederkoms van ons Here Jesus Christus te verwys, word ook by A ingedeel. Hieruit kan afgelei word dat φανερόω en ἐπιφάνεια semanties ook naby aan mekaar geleë is. Waar dit by ἐπιφαίνομαι en ἐπιφάνεια egter bloot oor verskyn handel, gaan dit by φανερόω oor ’n doelbewuste daad om iets of iemand sigbaar te laat word.
Dit is opmerklik dat Louw en Nida by die verklaring van φανερόω nie na die wederkoms van Jesus Christus verwys nie, wat eintlik semanties gesien, ’n hoofdomein op sigself behoort te wees. Al wat uit Louw en Nida se behandeling van die eerste verklaringsmoontlikheid van φανερόω afgelei kan word, is dat Jesus Christus sigbaar, oftewel sienbaar, sal verskyn en dat sy verskyning dus sensories waarneembaar sal wees. Hierby moet gemeld word dat ’n doelbewuste daad die verskyning voorafgaan om die verskyning te laat plaasvind.
Die tweede vertalingsmoontlikheid van φανερόω word in die hoofdomein ‘28. Know’ (Louw & Nida 1996a:334) ingedeel. Die omliggende domeine, wat naby verwant in betekenis is, is ‘27. Learn’, ‘29. Memory and recall’, ‘30. Think’, ‘31. Hold a view, believe, trust’ en ‘32. Understand’. Indien hoofdomein 28 met die omliggende hoofdomeine vergelyk word, word die volgende duidelik: Woorde in domein 28 dui gewoonlik daarop dat sekere kennis opgedoen is, wat nie geleer of onthou is nie. Dit is ook nie self bedink nie, en die kennis is nie noodwendig verstaanbaar nie.
Uit hierdie hoofdomein waarby φανερόω ingedeel is, is dit duidelik dat kennis van ’n saak, die ken van ’n saak, by hierdie woorde ’n belangrike rol speel. Die feit dat die woord by ‘C. Well known, clearly shown, revealed (28.28-28.56)’ ingedeel word, maak dit duidelik dat Jesus Christus en alles wat met Hom verband hou, by sy bekendmaking, sy wederkoms, ten volle kenbaar en geopenbaar sal wees.
Indien C met die ander subdomeine vergelyk word, blyk dit dat dit oor kennis gaan wat goed bekend is, aangesien dit duidelik bekendgemaak of geopenbaar is. Hierby moet vermeld word dat hierdie kennis of kenbaarheid deur ’n doelbewuste daad voorafgegaan word, wat tot die openbaring lei.
Die begrip word soos volg verklaar (Louw & Nida 1996a):
28.36 φανερόωb; ἐμφανίζωb; φαίνομαιb; φωτίζωb; φανέρωσις, εως f; φωτισμόςb, οῦ m: to cause something to be fully known by revealing clearly and in some detail – ‘to make known, to make plain, to reveal, to bring to the light, to disclose, revelation’. (pp. 338–339)
Net soos by die eerste vertalingsmoontlikheid, word hier ook ’n daad veronderstel wat voorafgaan: ’n daad wat sorg dat iets of iemand bekendgemaak of geopenbaar word.
Indien 28.36 φανερόω – met ander woorde in die subdomein (28.28–28.56) – vergelyk word, is dit ooglopend dat al hierdie woorde betrekking het op kennis wat goed bekend is, wat ‘well known’ en ‘clearly known’ is. Die verskil is egter dat by φανερόω daar ’n doelbewuste teweegbring van die welbekende kennis in groot detail is, dit wil sê dat die kennis geopenbaar en bekendgemaak word.
Nog ’n woord wat vir die wederkoms van die Here Jesus gebruik kan word, naamlik ἀποκαλύπτω (28.38), kom ook in dieselfde subdomein voor. Waar die verklaring by ἀποκαλύπτω ‘to cause something to be fully known’ is, is die verklaring by φανερόω ‘to cause something to be fully known by revealing clearly and in some detail’. Die wyse van bekendmaking is dus meer gedetailleerd by φανερόω as by ἀποκαλύπτω, wat reeds daarop dui dat die twee begrippe nie volledige sinonieme is nie.
Ook hierdie tweede betekenismoontlikheid van φανερόω is van toepassing op Jesus Christus se wederkoms. Die Here Jesus se verskyning met sy wederkoms sal dus Godsopenbaring wees; dit wil sê God wat Homself in volledige detail openbaar, wat sy Naam en werke insluit (Van Rhyn 2017:220).
Weereens moet dit as ’n leemte vermeld word dat Louw en Nida geen melding daarvan maak dat φανεροω soms in verband met die wederkoms gebruik word nie.
Gevolgtrekking: Φανερόω het ’n dubbele betekenismoontlikheid, ‘cause to be seen: 24.19’ en ‘make known: 28.36’ (Louw & Nida 1996b:255), wat albei van toepassing is wanneer die woord gebruik word om die betekenis van wederkoms weer te gee. Φανερόω word gebruik in die betekenis van ‘om te veroorsaak dat iets of iemand sigbaar en kenbaar sal wees’. In die geval van die wederkoms, kan dus afgelei word dat φανεροω ’n daad is wat daartoe aanleiding gee dat Jesus Christus sigbaar en kenbaar sal wees.
A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature (Bauer 2000)
Volgens Bauer et al. (2000) word φανεροω in die volgende hoofbetekenisse gebruik:
‘To cause to become visible, reveal, expose publicly (with relatively more focus on the sensory aspect than on the cognitive as in 2 below. But distinctions are not always clear).’ (p. 1048)
‘To cause to become known, disclose, show, make known.’ (p. 1048)
By die eerste betekenis word verwys na die verskyning van Jesus in die wêreld ná sy geboorte as mens, ná sy opstanding, maar ook ná sy wederkoms. By die verklaring van die tweede betekenis, ‘to cause to become known, disclose, show, make known’, word daar glad nie na die wederkoms van Jesus Christus verwys nie. Daar word wel na God verwys wat Homself bekendmaak en Jesus Christus wat deur Johannes die Doper in Johannes 1:31 bekendgestel word.
Die gevolgtrekking is dus: Bauer et al. (2000:1048) verklaar φανερόω – wanneer dit met verwysing na die wederkoms van Jesus Christus gebruik word – as dat Jesus Homself sigbaar wys of openbaar, dat Hy Homself openbaar en dat Hy verskyn sodat Hy in die openbaar gesien kan word.
Samevattende gevolgtrekking oor die woordstudie
Wanneer φανερόω met verwysing na Jesus se wederkoms gebruik word, word beklemtoon dat Jesus Homself sigbaar wys of openbaar en dat Hy verskyn sodat Hy in die openbaar gesien kan word. Hy sal dan ook volledig kenbaar wees. Jesus Christus is die subjek sowel as die objek van die openbaring. Hy openbaar God, sy Naam en sy werke, maar Hyself word ook geopenbaar, sigbaar sowel as kenbaar. Voorts kan die belangrike afleiding gemaak word dat die wederkoms eintlik (doelbewuste) openbaring op sigself is, wanneer φανερόω met verwysing na die wederkoms van Jesus Christus gebruik word.
Wanneer φανερόω met betrekking tot die wederkoms van Jesus Christus gebruik word, behels dit ’n daad wat veel meer omvat as net die opdaag of verskyning van Jesus Christus, in die sin dat God, sy Naam, en sy werke, doelbewus deur Jesus Christus geopenbaar, vervul en verwesenlik word. Daarmee saam openbaar Jesus Christus Homself ook sienbaar en kenbaar.
’n Betekenisdefinisie van φανερόω
Op grond van bogenoemde samevattende gevolgtrekking, kan die volgende betekenisdefinisie van φανερόω geformuleer word: Dit is die doelbewuste, sigbare selfopenbaring van Jesus Christus in die openbaar met sy wederkoms, sodat God, sy Naam en sy werke volledig geken, vervul en verwesenlik kan word.
Die vertalingsmoontlikhede van φανερόω as wederkomswoord in Afrikaans
Bauer et al. (2000:1048) toon aan dat die wederkoms aan die hand van φανερόω in die volgende vier Skrifgedeeltes ter sake is: Kolossense 3:4, 1 Petrus 5:4, 1 Johannes 2:28 en 1 Johannes 3:2.
Die Bybel (1933-, 1953- en 1996-vertalings) vertaal φανερόω met Jesus Christus wat ‘geopenbaar’ word (Kol 3:4), die Opperherder wat ‘verskyn’ (1 Pet 5:4), en Jesus wat ‘verskyn’ (1 Joh 2:28; 1 Joh 3:2). Geopenbaar sowel as verskyn blyk geoorloofde vertalings te wees indien dit met die betekenisdefinisie vergelyk word. Die openbaringselement weeg egter swaar in die betekenisdefinisie. Om hierdie begrip bloot met verskyn te vertaal, kan dus nie ’n voorkeurvertaling wees nie.
Die Bybel (1983- en 2004-vertalings) vertaal φανερόω met Jesus Christus wat ‘by sy wederkoms verskyn’ (Kol 3:4), die Opperherder wat ‘kom’ (1 Pet 5:4), en Jesus wat ‘kom’ (1 Joh 2:28; 1 Joh 3:2). Slegs die vertaling by Kolossense 3:4 blyk ’n geoorloofde vertaling te wees wanneer die vertalings met die betekenisdefinisie vergelyk word, maar ook net omdat ‘by sy wederkoms’ duidelikheidshalwe ingevoeg word. Ek bespreek 34 Skrifgedeeltes in my proefskrif (Van Rhyn 2017:241–267) waar ἔρχομαι [kom] as wederkomswoord gebruik word. Deur φανερόω bloot as ‘kom’ te vertaal (Kol 3:4; 1 Pet 5:4; 1 Joh 2:28; 1 Joh 3:2), word daar nie in ag geneem dat φανερόω hier as wederkomswoord gebruik word en nie ἔρχομαι nie. Die vertaling van ‘kom’ laat ongelukkig die hele openbaringsgedagte wat in φανερόω opgesluit lê, buite rekening.
Die Bybel (2020-vertaling) vertaal φανερόω deurgaans met ‘verskyn’ in die vier betrokke Skrifgedeeltes; dus skiet die vertaling ook hier tekort aan die openbaringselement in die betekenisdefinisie.
Om die volle betekenisdefinisie van φανερόω in ’n Bybelvertaling weer te gee, is nie wenslik nie, behalwe wanneer die gekose vertalingsmetode dit toelaat. Die definisie is immers te lank om dit net so vir vertalingsdoeleindes te gebruik. Die betekenisdefinisie behoort eerder in ’n voetnoot weergegee te word, indien die vertalers hierdie roete sou wou volg.
Indien die gekose vertalingsmetode ’n kort sinsnede toelaat, stel ek die volgende voor: ‘die openbaring van Jesus Christus met sy wederkoms’. Dit gee die kern van die betekenisdefinisie weer. Indien die gekose vertalingsmetode egter slegs een woord toelaat, stel ek voor dat ‘wederkomsopenbaring’ deurgaans gebruik word.
Die telos van die verkondiging van die wederkoms aan die hand van φανερόω
In hierdie afdeling word die telos van die gebruik van φανερόω as wederkomswoord nagegaan, en die openbaringsdoelwitte word geïdentifiseer. Die Griekse begrip τέλος word verklaar as ‘the goal toward which a movement is being directed’ en dit word met ‘end, goal, outcome’ vertaal (Bauer et al. 2000:998). Telos word in hierdie artikel gebruik in die sin van God se doel of einddoel; dit wat God wil bereik met die openbaring of bekendmaking, naamlik dat die Here Jesus weer gaan kom. Die telos van die verkondiging van die wederkoms aan die hand van ’n sekere wederkomswoord, kan dus beskou word as God se openbaringsdoelwit(te) met die gebruik van die woord (Van Rhyn 2021b:2). Ek het reeds voorheen daarop gewys dat die vraag na die telos van die verkondiging van die wederkoms ’n vraag blyk te wees wat selde gevra word (Van Rhyn 2017:1). Die artikel wil dus ook ’n bydrae lewer deur op hierdie vraag te fokus.
Φανερόω kom 49 keer en in 14 Nuwe Testamentiese boeke voor (vgl. Wigram & Winter 1978:783). Bauer et al. (2000:1048), soos reeds gemeld, toon aan dat die wederkoms in die volgende vier Skrifgedeeltes ter sake is: Kolossense 3:4, 1 Petrus 5:4, 1 Johannes 2:28 en 1 Johannes 3:2. Nadat al 49 Skrifgedeeltes nagegaan is, blyk dit dat die opgaaf volledig is.
In die bespreking van hierdie Skrifgedeeltes word die Griekse teks van die UBS4 van Aland et al. (2006) aangehaal, asook die hoofletteruitgawe van die 2020-vertaling van die Bybel. Voorts stel ek ook in die lig van die betekenisdefinisie van φανερόω ’n eie vertaling voor.
Kolossense 3:4
ὅταν ὁ Χριστὸς φανερωθῇ, ἡ ζωὴ ὑμῶν, τότε καὶ ὑμεῖς σὺν αὐτῷ φανερωθήσεσθε ἐν δόξῃ. [Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. (outeur se eie beklemtoning)]
Voorgestelde vertaling: By Christus, wat julle lewe is, se wederkomsopenbaring sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.
Paulus is besig om die Kolossense aan te moedig om hul gedagtes te rig op die dinge daarbo waar Christus is, en nie op aardse dinge nie (Kol 3:1–2). Dit moet hulle doen, aangesien hulle saam met Christus uit die dood opgewek is (Kol 3:1), hulle saam met Hom gesterf het en hul lewens in Hom verborge is (Kol 3:3). Wanneer Christus Homself openbaar (sigbaar en kenbaar), met sy wederkoms, dan sal hulle saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word (sigbaar en kenbaar) (Kol 3:4). Daar is dus ’n teenstelling tussen Kolossense 3:3 en 3:4. Die lewe van die gelowige is saam met Christus verborge in God (Kol 3:3), maar dit sal met die wederkomsopenbaring van Jesus Christus in heerlikheid bekendgemaak word (Kol 3:4). Moo (2008:251) stel dit soos volg: ‘Our identification with Christ, now real but hidden, will one day be manifest’. Die volheid en volkomenheid van die lewe in Christus is in hierdie lewe nog verborge, maar wanneer die Here Jesus Christus kom, sal dit ten volle geopenbaar word (Van Leeuwen s.a.:49).
Φανερόω word twee maal in Kolossense 3:4 gebruik. In Kolossense 3:4a word dit met verwysing na Jesus en sy wederkoms gebruik en in Kolossense 3:4b met verwysing na die gelowiges wat by die wederkoms in heerlikheid geopenbaar sal word. Die wederkoms, en die feit dat gelowiges dan in Christus se heerlikheid sal deel, word hier as motivering gebruik saam met die sterwe en opstanding van Christus (Kol 3:1–3). Dit word as motivering gebruik in die sin, dat gelowiges aangemoedig word om hul gedagtes te rig op hemelse dinge, en nie op aardse dinge nie (Kol3:1).
Dit is veelseggend dat Kolossense 3:5 aan die voorafgaande deur οὖν [dus of derhalwe] verbind word. Die etiese aanmoedigings wat volg, word hiermee verbind aan die voorafgaande in die brief (Bruce 1984:137) en veral aan die wederkomsopenbaring van Christus (Kol 3:4). Die opdrag om die aardse dinge dood te maak (vεκρώσατε οὖν τὰ μέλη τὰ ἐπὶ τῆς γῆς) is verder baie nou verbonde aan die feit dat almal wat aan Christus verbonde is, reeds spreekwoordelik gesterf het (Kol 3:3). Die aardse dinge wat doodgemaak moet word, word pertinent uitgespel in Kolossense 3:5, 8 en 9. Dit kan beskou word as aanmoedigings tot ’n etiese lewenswyse, in die lig daarvan dat die Here op pad is. Die gelowige word dus in die lig van die wederkoms aangemoedig tot ’n etiese lewe, waarin onetiese gedrag uitgeroei word.
Die openbaringsdoelwitte in Kolossense 3:4 kan soos volg saamgevat word:
- Die telos van die openbaring van die wederkoms is, dat gelowiges kan weet dat hoewel die volheid en die volkomenheid van die lewe in Christus nog verborge is, dit ten volle met die wederkoms geopenbaar sal word.
- Die doel van die openbaring van die wederkoms is, om gelowiges aan te moedig om hul gedagtes op hemelse dinge te rig en nie op aardse dinge nie.
- Die telos van die openbaring van die wederkoms is, om gelowiges aan te moedig tot ’n etiese leefstyl.
1 Petrus 5:4
καὶ φανερωθέντος τοῦ ἀρχιποίμενος κομιεῖσθε τὸν ἀμαράντινον τῆς δόξης στέφανον. [En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie. (outeur se eie beklemtoning)]
Voorgestelde vertaling: en by die Groot Herder se wederkomsopenbaring, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit verwelk nie.
Petrus is besig om die ouderlinge vir hul ampswerk op te lei (1 Pet 5:1–3). Hy gee positiewe en negatiewe riglyne oor hoe hulle as herders moet optree. Die kudde behoort immers aan Jesus Christus, en ampsdraers is teenoor Hom verantwoordbaar (Greijdanus s.a.:81). Hulle moet daarom hul ‘dienswerk verrig soos mense wat aan die Opperherder rekenskap moet gee’ (Groenewald 1977:88). Petrus gebruik die wederkoms as aanmoediging: Wanneer Jesus Christus, die Hoofherder, by sy wederkoms geopenbaar word (sienbaar en kenbaar), sal hulle die onverganklike kroon van heerlikheid ontvang (Schreiner 2003:236). Die wederkoms en die heerlikheid wat gelowiges dan sal ontvang, dien dus as katalisator om ampsdraers tot getrouheid in hul dienswerk aan te spoor.
Dieselfde woord, φανερωθέντος, word ook in 1 Petrus 1:20 gebruik om Christus se openbaring met sy menswording aan te dui. In 1 Petrus 1:19 word Hy beskryf as ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is, wat met sy bloed vir ons sonde betaal het. Sy vlekloosheid as lam, is ’n vooruitwysing na sy wederkomsopenbaring in heerlikheid as die Groot Herder (Michaels 1988:287).
Die wederkoms word dus hier in 1 Petrus 5:4 geopenbaar, waarvan die openbaringsdoelwitte is om:
- Ampsdraers te laat besef dat hulle verantwoording aan Jesus Christus met sy koms verskuldig is.
- Ampsdraers hul dienswerk te laat doen soos mense wat weet dat hulle daarvan rekenskap sal moet gee.
- Ampsdraers te bemoedig om in hul dienswerk getrou te bly, met die wete dat hul getroue werk met heerlikheid beloon sal word.
1 Johannes 2:28
Καὶ νῦν, τεκνία, μένετε ἐν αὐτῷ, ἵνα ἐὰν φανερωθῇ σχῶμεν παρρησίαν καὶ μὴ αἰσχυνθῶμεν ἀπʼ αὐτοῦ ἐν τῇ παρουσίᾳ αὐτοῦ. [En nou, kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie met sy wederkoms deur Hom in die skande gestel word nie. (outeur se eie beklemtoning)]
Voorgestelde vertaling: En nou, kinders, julle moet aanhou om in Hom te bly, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy met sy wederkoms geopenbaar sal word, en ons nie dán deur Hom in die skande gestel word nie.
Dit is interessant dat hier ’n dubbele verwysing na die wederkoms is: aan die hand van φανερωθῇ en aan die hand van ἐν τῇ παρουσίᾳ αὐτοῦ. Johannes is besig om die gelowiges teen die koms van die Antichris (1 Joh 2:22) en teen misleiding (1 Joh 2:26) te waarsku. Hy moedig hulle aan om in die Here te bly (1 Joh 2:28). As motivering noem hy dat Christus geopenbaar sal word (sienbaar en kenbaar) en dat hy nie wil hê dat hulle dán beskaamd voor Hom sal staan nie, maar eerder met vrymoedigheid. Die sekerheid en die troos van die ewige lewe is onlosmaaklik aan die sekerheid van die wederkoms van Jesus Christus verbind (Van Rhyn 2017:175).
In 1 Johannes 2:18–27, die Skrifgedeelte wat 2:28 voorafgaan, waarsku Johannes die gelowiges teen die misleiding van die antichris. ‘Die inhoud van die Antichris se misleidende leuen is dat Jesus nie die Christus is nie’ (Van Rhyn 1995:90). Die salwing wat die gelowiges volgens 1 Johannes 2:27 ontvang het en wat in hulle bly, vrywaar hulle egter van die misleiding van die antichris (Marshall 1981:162). Hierdie salwing is ’n verwysing na die Heilige Gees (Coetzee 1979:53; Van der Watt 2013:217–218). ‘Die inwoning deur die Gees in die kerk, in die gelowiges, maak hulle dus weerbaar teen die Antichris se misleidende leuens dat Jesus nie die Christus is nie’ (Van Rhyn 1995:91). 1 Johannes 2:18–27 word afgesluit met ’n opdrag om in die Here Jesus te bly: ‘μένετε ἐν αὐτῷ’. Aangesien die Gees in die gelowiges bly, moet die gelowiges in die Here Jesus bly.
In 1 Johannes 2:28 begin Johannes met ’n nuwe afdeling van sy brief (Marshall 1981:165). Hy lei die afdeling in met dieselfde opdrag waarmee hy die vorige afdeling afgesluit het: ‘μένετε ἐν αὐτῷ’. Die verskil is egter dat hy nou die opdrag motiveer om in die Here te bly. Hy doen dit aan die hand van twee verwysings na die wederkoms (Marshall 1981:165): ‘ἵνα ἐὰν φανερωθῇ σχῶμεν παρρησίαν καὶ μὴ αἰσχυνθῶμεν ἀπʼ αὐτοῦ ἐν τῇ παρουσίᾳ αὐτοῦ’.
Μένετε is die tweedepersoonsmeervoud; dit wil sê die praesens-imperatief van μένω. Die feit dat die werkwoord in die praesens-imperatief is, dui aan dat dit ’n bevel kan wees om met ’n bestaande handeling aan te hou. Voorts kan dit ook dui op ’n bevel tot ’n voortdurende handeling (Jordaan 2014:72). Aangesien gelowiges reeds in Christus is, is die keuse hier dat dit ’n bevel is om met ’n bestaande handeling aan te hou.
Μένω word deur Bauer et al. (2000:630) verklaar as ‘remain, stay’ en ‘a person or thing remains where he, she, or it is’. Met verwysing na 1 Johannes 2:24c; 2:27–28; 3:6, 24a; en 4:13 word dit verklaar as ‘someone who does not leave a certain realm or sphere: remain, continue, abide’ (Bauer et al. 2000:631).
In die lig van bogenoemde, kan μένετε ἐν αὐτῷ vertaal word as: Julle moet aanhou om in Hom te bly.
Volgens Floor (1982:77) beteken die uitdrukking in Christus as ‘behorende tot Christus, betrokke wees op sy kruis en opstanding, begrepe wees in sy heilswerk’. Floor (1982) se gevolgtrekking oor die betekenis van in Christus by Paulus, is insiggewend vir die verstaan van ἐν αὐτῷ in 1 Johannes 2:28:
Met die uitdrukking ‘ons in Christus’ wil Paulus daarop wys dat ons ten nouste betrokke is by wat met Christus gebeur het. Ons is daarin begrepe. Dit is vir die geloof van die allergrootste belang. (pp. 89–90)
Om in Christus te wees en te bly, is dus veel meer as om net ’n subjektiewe belewenis te ervaar; dit is om die status wat jy in Christus het as verloste kind van God, te bewaar. Deur aan te hou om in Christus te bly, kan gelowiges vrymoedigheid of toegangsreg met sy wederkoms hê: ‘Καὶ νῦν, τεκνία, μένετε ἐν αὐτῷ, ἵνα ἐὰν φανερωθῇ σχῶμεν παρρησίαν …’ (1 Joh 2:28a).
Louw en Nida (1996a:306) verklaar παρρησία as: ‘a state of boldness and confidence, sometimes implying intimidating circumstances – “boldness, courage”’. Ek is egter van mening dat dit nie as subjektiewe gevoel of toestant verklaar moet word nie (Van Rhyn 1985:20). Op grond van Hebreërs 10:19 (‘Ἔχοντες οὖν, ἀδελφοί, παρρησίαν εἰς τὴν εἴσοδον τῶν ἁγίων ἐν τῷ αἵματι Ἰησοῦ, …’) is ek oortuig daarvan dat παρρησία verklaar moet word as ’n reg wat deur Christus verworwe is, wat nie ’n subjektiewe gevoel is nie (Van Rhyn 1985:20). Dit is eerder ’n toegangsreg wat deur Christus vir die gelowiges verwerf is (Van Rhyn 1985:20).
Uit Hebreërs 10:19 blyk dit duidelik, dat gelowiges παρρησία, vrye toegangsreg tot God het deur die bloed van Jesus Christus (Van Rhyn 1985:20; Vorster 1971:56). So gesien, is daar ’n baie noue band tussen μένετε ἐν αὐτῷ en σχῶμεν παρρησίαν – beide is slegs moontlik deur die soenverdienste van Jesus Christus, en μένετε ἐν αὐτῷ kan as voorwaarde vir σχῶμεν παρρησίαν beskou word.
Van belang vir hierdie artikel, is dat die opdrag om aan te hou om in Christus te bly, deur die wederkoms van Christus gemotiveer word: ‘Abiding in him prepares believers for his appearing: abiding is our confidence; his appearing is our motivation’ (Akin 2001:126). ‘But now John strengthens this appeal by reminding his readers of the coming revelation of Jesus’ (Marshall 1981:165).
Die opdrag om in Christus te bly, word opgevolg met ’n doelsin. Hier stel die eerste frase dit positief: ‘ἵνα ἐὰν φανερωθῇ σχῶμεν παρρησίαν’. Die tweede frase stel dit egter negatief: ‘καὶ μὴ αἰσχυνθῶμεν ἀπʼ αὐτοῦ ἐν τῇ παρουσίᾳ αὐτοῦ’.
Die antitese tussen σχῶμεν παρρησίαν en αἰσχυνθῶμεν ἀπʼ αὐτοῦ word verder uitgelig deur die omgekeerde parallelisme (vgl. Jordaan 2014:167):
A: ἵνα ἐὰν φανερωθῇ
B: σχῶμεν παρρησίαν
B: καὶ μὴ αἰσχυνθῶμεν ἀπʼ αὐτοῦ
A: ἐν τῇ παρουσίᾳ αὐτοῦ.
Daar kan dus met reg afgelei word dat die wederkoms geopenbaar word as motivering om in Christus te bly, sodat die gelowige toegangsreg tot Hom kan hê en nie deur Hom tot skande gemaak sal word nie. Johannes wil παρρησία by die παρουσία bevorder. Die dubbele paregese, alliterasie: παρρησία – παρουσία, asook assonansie: παρρησία –παρουσία, het die effek ‘dat die betrokke woorde in die kalklig gestel word’ (Jordaan 2014:171). Hieruit kan ook afgelei word dat hulle wat nie in Christus is nie, veroordeel sal word. Die wederkoms, en veral die oordeel wat daarmee gepaard sal gaan, dien dus as aanmoediging tot bekering.
Samevattend kan die volgende openbaringsdoelwitte in 1 Johannes 2:28 geformuleer word:
- Die wederkoms word geopenbaar met die doel dat gelowiges aangemoedig word om met volharding in Christus te bly, en die status te bewaar wat hulle in Christus, as verloste kinders van God het.
- Die doel van die openbaring van die wederkoms, as aansporing om in Christus te bly, is dat gelowiges toegangsreg tot Hom met sy wederkoms kan hê. Die doel is om παρρησία by die παρουσία te bevorder.
- Mense wat egter nie in Christus is wanneer Hy weer kom nie, sal weg van Hom af tot skande gemaak word. Die wederkoms word dus verkondig met die telos, dat dié wat nie in Hom is nie, hulle tot Hom sal bekeer.
1 Johannes 3:2
Ἀγαπητοί, νῦν τέκνα θεοῦ ἐσμεν, καὶ οὔπω ἐφανερώθη τί ἐσόμεθα. οἴδαμεν ὅτι ἐὰν φανερωθῇ, ὅμοιοι αὐτῷ ἐσόμεθα, ὅτι ὀψόμεθα αὐτὸν καθώς ἐστιν. [Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. (outeur se eie beklemtoning)]
Voorgestelde vertaling: Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat ons by sy wederkomsopenbaring soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
Die wederkoms word in 1 Johannes 3:2 geopenbaar met die telos dat gelowiges sal weet dat hulle soos Christus sal wees wanneer Hy kom, en ook dat hulle Hom sal sien soos Hy is.
Wanneer Jesus Christus by sy wederkoms geopenbaar sal word, ἐὰν φανερωθῇ, sal gelowiges Jesus Christus in sy glorie sien, en dan sal hulle ook in sy glorie deel. Die doel van die openbaring van die wederkoms is dus [kerugma], wat tot geloofsekerheid, geloofsvreugde en geloofsversterking lei (Marshall 1981:173).
In 1 Johannes 3:3 word ʼn volgende telos vir die openbaring van die wederkoms gestel: ‘En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou Homself rein, net soos Hy rein is’. Die wat hulself rein hou, leef nie in sonde en wetteloosheid nie. Hulle leef rein in die vaste hoop om soos Christus te word met sy wederkoms. In 1 Johannes 3:3 word dus ’n belangrike telos vir die openbaring van die wederkoms gestel: Die openbaring moet lei tot ’n rein, heilige lewe.
Die volgende openbaringsdoelwitte kan dus uit 1 Johannes 3:2 afgelei word:
- Die wederkoms word as [kerugma] geopenbaar, met die telos, dat gelowiges sal weet dat hulle soos Christus sal wees wanneer Hy kom, en ook dat hulle Hom sal sien soos Hy is.
- Die doel van die openbaring van die wederkoms is [kerugma], wat tot geloofsekerheid, geloofsvreugde en geloofsversterking lei.
- Die telos vir die openbaring van die wederkoms, is dat gelowiges rein, dit is heilig, sal lewe.
Slot
’n Betekenisdefinisie van φανερόω
Op grond van die diakroniese en sinkroniese woordstudie, kan ’n betekenisdefinisie van φανερόω as wederkomswoord soos volg geformuleer word: Dit is die doelbewuste, sigbare selfopenbaring van Jesus Christus in die openbaar met sy wederkoms, sodat God, sy Naam en sy werke, volledig geken, vervul en verwesenlik kan word.
Vertalingsmoontlikhede
Indien die gekose vertalingsmetode ’n kort sinsnede toelaat, stel ek die volgende voor: ‘die openbaring van Jesus Christus met sy wederkoms’. Dit gee die kern van die betekenisdefinisie weer. Indien die gekose vertalingsmetode slegs een woord toelaat, stel ek voor dat ‘wederkomsopenbaring’ deurgaans gebruik word.
Die telos van die openbaring van die wederkoms, aan die hand van φανερόω
Die telos van die openbaring van die wederkoms, aan die hand van φανερόω, kan soos volg aangedui word:
Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges kan weet dat, hoewel die volheid en die volkomenheid van die lewe in Christus nog verborge is, dit ten volle met die wederkoms geopenbaar sal word. So word gelowiges aangemoedig om hul gedagtes op hemelse dinge, en nie op aardse dinge nie, te rig (Kol 3:4).
Petrus verwys na die wederkoms aan die hand van die begrip φανερόω. Hy gebruik hierdie begrip, sodat ampsdraers sal besef dat hulle met Jesus Christus se koms verantwoording aan Hom verskuldig is, en sodat ampsdraers hul dienswerk sal doen soos mense wat weet dat hulle daarvan rekenskap sal moet gee. Sodoende word ampsdraers bemoedig met die feit, dat hul getroue werk met heerlikheid beloon sal word (1 Pet 5:4).
Die wederkoms word verder geopenbaar aan die hand van φανερόω, met die doel dat gelowiges aangemoedig word om met volharding in Christus te bly. Sodoende kan hulle die status bewaar, wat hulle in Christus as verloste kinders van God het. Die doel van die openbaring van die wederkoms, as aansporing om in Christus te bly, is dat gelowiges met sy wederkoms toegangsreg tot Hom kan hê. Die doel is dus om παρρησία by die παρουσία te bevorder. Mense wat egter nie in Christus is wanneer Hy weer kom nie, sal weg van Hom af, tot skande gemaak word. Die wederkoms word dus ook verkondig met die telos, dat diegene wat nie in Hom is nie, hulle tot Hom sal bekeer (1 Joh 2:28).
Die wederkoms word ook as [kerugma] geopenbaar, met die telos, dat gelowiges sal weet dat hulle soos Christus sal wees wanneer Hy kom, en ook dat hulle Hom sal sien soos Hy is. Die doel van die verkondiging van die wederkoms is [kerugma], wat tot geloofsekerheid, geloofsvreugde en geloofsversterking lei. Voorts is die doel van die verkondiging van die wederkoms ook, dat gelowiges rein, dit is heilig, sal lewe (1 Joh 3:2).
Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.
Erkennings
Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op H.P.M.v.R se proefskrif getiteld ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’ vir die graad Doctor Philosophiae in Nuwe Testament, Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus, Mei 2017, met promotor Professor G.J.C. Jordaan. Dit is beskikbaar by: https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/25925/Van_Rhyn_HPM_2017.pdf?sequence=1.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
H.P.M.v.R. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Data beskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Literatuurverwysings
Akin, D.L., 2001, 1, 2, 3 John, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Aland, K., Black, M., Martini, C.M., Metzger, B.M., Robinson, M.A. & Wikgren, A., 2006, The Greek New Testament: The complete text of the United Bible Societies Greek New Testament (with morphology), 4th rev. edn., United Bible Societies, New York, NY.
Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3rd edn., University of Chicago, Chicago, IL.
Bruce, F.F., 1984, The epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Bultmann, R. & Lührmann, D., 1964, φανερόω, eds. K. Friedrich & Bromiley, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Coetzee, J.C., 1979, ‘The Holy Spirit in 1 John’, Neotestamentica 13, 43–67.
Floor, L., 1982, Perspektiewe op die prediking van Paulus, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Greijdanus, S., s.a., Korte verklaring der Heilige Schrift met nieuwe vertaling: I en II Petrus, Kok, Kampen.
Groenewald, E.P., 1977, Die briewe van Petrus: Die brief van Judas, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.
Janse van Rensburg, F.J., De Klerk, B.J., De Wet, F.D.W., Lamprecht, A., Nel, M. & W. Vergeer (reds.), 2011, Preekgeboorte: Van eksegese tot preek, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Pretoria.
Jordaan, G.J.C., 2014, Die binnewerk van Antieke Grieks: Die semantiek van grammatiese konstruksies. Handleiding vir eksegete en ander studente van klassieke en Nuwe-Testamentiese Grieks, Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Kittel, G., Friedrich, G. & Bromiley, G. (eds.), 1964, Theological dictionary of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996a, Greek-English lexicon of the New Testament: Vol. 1. Based on semantic domains, Electronic edn. (2nd edn.), United Bible Societies, New York, NY.
Louw, J.P. & Nida, E.A. (eds.), 1996b, Greek-English lexicon of the New Testament: Vol. 2. Based on semantic domains, United Bible Societies, New York, NY.
Marshall, I.H., 1981, The new international commentary on the New Testament: The Epistles of John, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Michaels, J.R., 1988, 1 Peter, Dallas, TX. (Word Incorporated).
Moo, D.J., 2008, The letters to the Colossians and to Philemon, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Van der Watt, J.G., 2013, ‘Etiese besluitneming volgens 1 Johannes’, Acta Theologica 33(2), 207–225. https://doi.org/10.4314/actat.v33i2.12
Van Leeuwen, J.A.C., s.a., De brief aan de Colossensen; De brieven aan de Thessalonicensen, Kok, Kampen.
Van Rhyn, H.P.M., 1985, ‘Die eskatologiese prediking in Hebreërs 10:19–25: ’n Eksegetiese studie’, ThB-skripsie, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).
Van Rhyn, H.P.M., 1995, ‘Die Antichris as misleier en die opdrag aan die kerk: ’n Nuwe-Testamentiese studie vanuit Openbaring 13:1–10’, ThM-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).
Van Rhyn, H.P.M., 2017, ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.
Van Rhyn, H.P.M., 2021a, ‘Ἀποκάλυψισ en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(3), a2774. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2774
Van Rhyn, H.P.M., 2021b, ‘Ἐπιφάνεια as wederkomswoord in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(3), a2705. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2705
Van Rhyn, H.P.M. & Jordaan, G.J.C., 2020, ‘’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord’, In die Skriflig 54(1), a2479. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2479
Vorster, W.S., 1971, The meaning of parrhesia in the Epistle to the Hebrews, Die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika, Pretoria.
Wigram, G.V. & Winter, R.D., 1978, The word study concordance, Tyndale, Wheaton, IL.
|